Die reus uit die bos deur Piet van Rooyen: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Die reus uit die bos
Skrywer: Piet van Rooyen
Uitgewer: Imprimatur
ISBN: 9781049206721

Piet van Rooyen se jongste roman, Die reus uit die bos wat pas gepubliseer is, is nie vir die wankelrige hart nie. Hier is die verbeelding die laaste om te sterf. Van Rooyen skets ’n distopiese tyd en wêreld grootliks gevorm deur die uitskot van die digitale ekonomie, korrupte regerings en state in ’n antisosiale tydsgewrig waar die “naakte vrees” loop. Die Engelse filosoof Thomas Hobbes (1588–1679) skryf in sy Leviathan dat hy en vrees “’n tweeling” was. Franz Kafka (1883–1924) praat in sy boeiende werk Metamorphosis van ’n realiteit wat te moeilik is vir die meeste mense om te dra, dus onttrek hulle maar in hulle drome om te kan oorleef.

Dit is die postkoloniale, postindustriële en postmonetêre konteks wat Die reus uit die bos ontgin deur die skepping van ’n gestalte in die vorm van ’n “reus”.

Rassisme?

Oppervlakkig gelees wil dit voorkom of die skrywer met rassistiese en stereotiepe karakteruitbeelding en taalgebruik smous. Hier is enkele voorbeelde daarvan: “primordiale wesens”; “die bos” (41); “Daai moerse slungel van ’n lyf” (41); “ondier; die reus” (74); “hy is egter donker van velkleur soos Doepie kan uitmaak, of hy het ten minste heelwat negroïede-bloed in voorgeslagte” (102); “een van die dames, ’n pikswarte met swaar borste en ’n oermensagtige gesig” (126); en die gebruik van die word “toordokter”, byvoorbeeld op bladsy 153. Dan is daar die verwysings na die “aapman” (114) met “sy geweldige hitsigheid” en “sy wrede orgaan” (137), en die “kroes” hare van die sokkerspelers met hulle groen toegetrekte balaklawas.

Ras ’n onvolledige verkenning

Dit sou egter ’n growwe mistasting wees om rassisme in die verhaal in te lees. Die gebruik van polities onvanpaste taal werk funksioneel vir die distopiese konteks waarin die metaforiese gestalte van die reus geskets word. Die sentrale teks is ’n ode aan die primitiewe Afrika-mens wat die skrywer goed ken en vir wie hy diep begrip en deernis het. Die vinnige naderkom van die dag van afrekening vir die mensdom in sy ontwrigte bestaan met sy Orwelliaanse nagmerrie van beskawing, ontmagtiging, vervreemding en geweld vorm die ruggraat van die teks. Die megastad Kaapstad, met sy donker onderwêreld, gewelddadige bendekultuur en korrupte wetstoepassers, is die geografiese ruimte waarbinne die nagmerrie afspeel.1

Alhoewel vele van LitNet se lesers bekend sal wees met die gevleuelde woorde van William Edward B du Bois tydens die eerste Pan-Afrika-konferensie in Londen in 1900 in sy “Address to the nations of the world” toe hy verklaar het dat die kleurskeidslyn, die “colour line”, dié probleem van die 20ste eeu is. Du Bois het nie slegs rasseverhoudinge in die VSA in gedagte gehad nie, maar ook die koloniale oorheersing en ekonomiese uitbuiting van Afrika, Latyns-Amerika en Asië.2

Histories gesien het Du Bois se argument veel om die lyf. Die geskiedenis wys dat rassisme egter nie die eksklusiewe domein of monopolie van Europeërs is/was nie. Dink maar aan die Japannese brutaliteit teenoor die Koreane en die Chinese gedurende die Tweede Wêreldoorlog en die Arabiere se betrokkenheid by die slawehandel in Afrika.

Du Bois se befaamde toespraak was ’n uitnodiging tot ’n globale debat oor die “politiek van ras”, een waarin Afrika se mense saam met ander gekleurdes ’n einde kon maak aan wit heerskappy. Du Bois se droom het nie heeltemal waar geword nie (navorsers en akademici in verskeie vakgebiede, waaronder Klassieke studies, geskiedenis, estetika en literatuurstudies, filologie, filosofie, die natuur- en sosiale wetenskappe) was oortuig dat bioloë met behulp van “wetenskaplike metodes”, ’n aantal primêre “rasse” kon identifiseer. Die meeste het hulle lys van “rasse” begin met die swart, wit en geel “rasse”, terwyl ander die Semitiese ras(se) (Jode en Arabiere), ’n Amerikaans-Indiese ras en andere geïdentifiseer het. Hierdie vorm van essensialisme – die idee dat menslike groepe bepalende of kerneienskappe dra – het nie slegs hulle fisieke voorkoms, maar ook hulle dieper morele, kognitiewe en kulturele lewens bepaal. Dit is naakte rassisme waarin die potensiaal van “die ander” ontken word binne ’n raamwerk wat Europese waardes as universeel sien. So skryf en dink Van Rooyen nie! Dink maar aan die oeroue wortels in die geskiedskrywing van Herodotus in die Hebreeuse Bybel, wat Ethiopiërs en Perse as fundamenteel anders en as minderwaardig beskou het.

In die 19de eeu het die debat oor ras en rassisme ’n nuwe wending geneem. Toe is daar toenemend gepraat van “rasse” as die boustene van nasies en volke. Die Skotse filosoof David Hume het in sy invloedryke werk A treatise on human nature (1739–40) gepraat van ’n “national character” gebou op taal en uitnemendheid. Daarna is nasionalisme – insluitende Afrikaner- en Duitse nasionalisme – onder meer gesien as die sluitstuk tot nasie- en staatsbou.3 Sekere “rasse” was deel van die proses, ander is spreekwoordelik in die duisternis van “onbeskaafdheid” verdoem.  In die dekade na Du Bois se toespraak, het ’n ander ontwikkeling gevolg – die premie wat op kultuur geplaas is as die belangrikste bousteen vir identiteit en nasiebou.4

Die 19de en 20ste eeue is verder gekenmerk deur die ontwikkeling van “rassewetenskap” met sy sosiaal-darwinistiese onderbou, ook hier in my eie land, Namibië.3 Terselfdertyd het natuurwetenskaplikes geargumenteer dat die “rasse” wat in sosiale kontekste sou voorkom, niks meer was as natuurlike biologiese groeperinge nie. Vir sosiaal wetenskaplikes is ’n gedeelde kultuur eerder as ’n gemeenskaplike biologiese herkoms as bepalend gesien. Dit het Charles Robert Darwin (1809–82) versterk in sy siening rondom die “seleksie van spesies”. Gregor Johann Mendel (1822–84) se bevolkingsgenetika het getoon dat die verskille tussen bevolkingsgroepe statisties eerder as “rasdeterminerend” was. Beide Darwin en Mendel het die nuttigheid van “ras” as ’n betekenisvolle sosiale kategorie bevraagteken.

Na die volksmoord op die Jode en ander minderhede deur die Nazi’s het Unesco die eerste keer in 1950 verklaar dat nasionale, godsdienstige, geografiese, taalkundige en kulturele groeperinge nie noodwendig met rassegroeperinge saamval nie. Daar bestaan geen genetiese verbintenis tussen sulke groeperinge en “raskenmerke” nie.4

Vandag word die term ras gebruik grootliks as ’n byproduk of die gevolg van sosio-ekonomiese kontekste wat deur historiese prosesse gevorm is waarin die biologiese verskille tussen mense saak maak slegs indien mense so besluit. Biologiese kenmerke soos velkleur, gesigsvorm en die kleur en tekstuur van hare kan sosiale grense trek indien mense verkies dat dit so moet wees. Daar is egter geen wetenskaplike rede vir sulke denke en gedrag nie. Soos die Unesco-verklaring van 1950 dit in die laaste paragraaf stel: “Racial prejudice and discrimination in the world today arise from historical and social phenomena and falsely claim the sanction of science.”5

In die 1960’s het die term genetiese geografie sy verskyning gemaak. Natuurwetenskaplikes soos die genetikus Luigi Luca Cavalli-Sforza het aangevoer dat die konsep van “ras” geen plek het in menslike evolusie en biologie nie, en sosiaal-wetenskaplikes het toenemend sosiale groeperinge wat vroeër “rasse” genoem is, as “sosiale konstruksies” gesien. In samehang hiermee het veral antropoloë die terme etnisiteit en etniese groepe verkies bo die omstrede term ras. Die antropoloog Benedict Anderson het die term imagined communities gebruik en nie na “rasse” verwys nie.  Gegewe sy akademiese onderbou en lewenservaring met “swart mense” in Suid-Afrika en Namibië, sluit Van Rooyen hierby aan.

Die reus uit die bos het dit my half ironies herinner aan twee betekenisvolle Suid-Afrikaanse skrywers se werk wat deur enkele kritici as “rassisties” bestempel is: die profetiese epos Raka van NP Van Wyk Louw wat in 1941 verskyn het, en meer onlangs, John Maxwell Coetzee se Waiting for the barbarians.

Reus

Met hierdie beknopte en onvolledige oorsig ontstaan die vraag: Waar laat dit Piet van Rooyen se Die reus uit die bos?

Van Rooyen is nie met rassisme besig nie. Die roman moet kontraïntuïtief gelees word en teken kulturele en sosiale grense wat oor tyd gevorm is binne ’n historisiteit wat nie geografies begrens is nie. Die “primitiewe” mense se voortbestaan is oral in die gedrang, en daarmee saam die verlies aan agentskap, identiteit, ’n sin vir plek, terwyl bioakoestiek (die klanke van die natuur) en omgewingsetiek vervang word deur biofobie, vrees vir die natuur. Die Kalahari-jagveld is een van die min plekke waar die “primitiewe” jaginstink nog vir ’n handjievol jagters beskore is. Die verwysing na historiese momente in en om Kaapstad, die nalees in die argief “wat deesdae ’n verlate plek is” (108), die soeke na en ontdekking van “brokstukke van ’n antieke muur” (met behulp van forensiese argitektuur) (115) in die Kompanjiestuin in Kaapstad, en die teruggryp na //Kabbo en tekste deur Wilhelm Bleek, is kosbare oomblikke in ’n geskiedenis wat snel aan die ontrafel is. Selfs die reus word as ’n “verlore siel” gesien (141).

Die inferno in die vorm van ’n verswelgende vuur waarmee die roman eindig, is ’n metafoor vir die ondergang van die menslike spesie, maar dui ook die begin van ’n nuwe fase in die geskiedenis aan. Die erkenning van verskille is deel van ’n groter projek – die projek van ’n nuwe wêreld met ’n universele bestemming waarbinne die las en gekrenktheid van ras en die soeke na weerwraak deur die onderdruktes oorkom sal word6 indien die mensdom na grondwaardes van die primitiewe mense sou terugkeer.

Notas

1 Sien Don Pinnock se uitnemende konteksspesifieke werk Gang Town met die groter Kaapstad as studieveld wat in 2016 deur Tafelberg in Kaapstad gepubliseer is.

2 Kwame Anthony Appiah. Race in the modern world the problem of the colour line. The Namibian, Vrydag 17 April 2015. Vir verdere toeligting, sien: Kwame Anthony Appia, Race: an interpretation, in Kwame Anthony Appiah en Henry Louis Gates, Africana. The Encyclopedia of the African and African American Experience. New York: Basic Books, 1999, ble 1575–80.

3 Biologiese sieninge van “ras” was aan die wortel van Afrikaner-nasionalisme en Sosiale Darwinisme soos byvoorbeeld in die geskrifte van Francis Galton en Eugen Fischer se Die Rehobother Bastards und das Bastardierungsproblem beim Menschen. Graz: Akademische Druck-U. Verlagsantalt, 1961 is voorbeelde van “rassewetenskap” in my geboorteland.

4 Derek Hook. Freud and the Non-European by Edward Said (Verso), Mail & Guardian, 8–14 Oktober 2004, bl 3.

5 Unesco. Race. Parys, 1950.

6 Achille Mbembe. Critique of black reason. Johannesburg: Wits University Press, 2017, bl 183.

Lees ook:

Reus en Raka? ’n Lesersindruk van Die reus uit die bos deur Piet van Rooyen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top