
PJO Jonker (Foto en grafika deur Elsabé Welman)
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Die onsigbare
Skrywer: PJO Jonker
Uitgewer: Tafelberg (2024)
ISBN: 9780624095439
Dit het my ’n week gevat, eerder twee, voordat ek ’n ander boek na Die onsigbare wou oopmaak. “Want hoekom?” sou Lucky van Duiwelspiek vra.
Vanaf die eerste bladsy het Jada, Erfdeel en Jonker se manier van skryf, deel van my geword – hierdie is nie ’n gewone liefdesverhaal nie. Nie ’n spannings- of speurroman nie. Die boek het sy eie stasie.
Jada, die stille gees van Erfdeel. Hy is nie die tipe held wat met groot woorde of dramatiese gebare vorendag kom nie. Hy hou nie van baie woorde nie. Het ’n spraakgebrek. Tog is hy die sagte ontfermer in die verhaal. Vir die rooikat – al wat boer is se vyand. Vir mense wat deur die samelewing misgekyk word. Duiwelspiek, straatmense, ’n prostituut. Maar selfs ook die kerkmense en gemeenskap kon onder sy vlerk inklim. Geen onderskeid nie. Van spraak gepraat: Wanneer dit nodig is, het sy tong woorde van wysheid gevorm.
Deur Jada kry onsigbare mense ’n stem.
Die rooikat, Meisiekind, is veel meer as net ’n dier in die verhaal. Soos Jada leef die kat op die grens tussen sigbaar en onsigbaar – altyd teenwoordig, maar selde werklik raakgesien. Jada en sy vreemde troeteldier was baie ongewild onder die gemeenskap, maar dit het hom nie afgeskrik nie. Moontlik omdat beide buite die gewone reëls wou leef, sagter is as wat die wêreld dink, maar gevaarlik om verkeerd te hanteer. Die rooikatdraad word tot die einde deurgetrek as ons Katryn ontmoet: wild, moeilik om te verstaan, ontwykend, nie iemand wat maklik besit of beheer wil word nie.
Wat hierdie verhaal so sterk maak, is dat Jada se goedhartigheid nie altyd beloon word nie. Die ontfermer word ingeloop. Gekonfronteer deur die stasiemeester, die buitelandse vennote, diefstal en ook mense wat hy vertrou. Selfs sy eie plaasmense bring teleurstellings. Dit maak sy karakter net soveel meer menslik en geloofwaardig.
Die Karoo vorm ’n sterk agtergrond vir die verhaal. Die landskap is nie bloot agtergronddekor nie. Net soos Meisiekind, die rooikat, is Erfdeel ’n karakter op sy eie.
Jonker se karakters is besonder sterk geskryf. Nie net die hoofkarakters nie. Elkeen het sy eie stem, eie manier van praat en eie persoonlikheid. Ná ’n ruk weet jy sommer wie aan die woord is sonder dat die naam genoem hoef te word, byvoorbeeld Anys se Heegert. In ’n onderhoud met Trisa Hugo sê Jonker tereg: “Karakters is vir my selfs belangriker as die storie. Dis immers húlle storie, nie my storie nie.”
Waarvan ek deurgaans bewus was, was die seuntjie wat grootword sonder om sy sagte hart te verloor. Dit begin by die rooikat en sy ouers wat dit toelaat. Hy kom tot bekering en sy innerlike groei is heerlik om te lees. Ek het soos ’n trotse ouer gevoel toe Jada, ten spyte van die gemeenskap se opmerkings, wel die plaas sonder sy ouers kon bedryf. In sy eenvoud, in sy gehoorsaamheid aan God, staan hy uit. Sy uitgangspunt oor sy lewensmaat het my herinner aan Francine Rivers se boek Verlos deur genade, gegrond op die Bybelboek Hosea.
Die einde het my siel geraak. Boetie van die buurplaas wat nog heeltyd agter Erfdeel aan was, het nou langs Jada op sy knieë gestaan toe die swaard oor Erfdeel val. Ek wou getroos word na hierdie toneel, maar ... die einde was nou te vinnig op my. Na 350 bladsye wou ek nog ’n hoofstuk hê. Of meer. “Want wat van Katryn, en Jada?” wou ek tydens ’n boekbespreking op Kleinmond van die skrywer weet. ’n Tipiese vraag van ’n liefdesverhaalskrywer. “Die leser moet maar self die storie verder skryf,” het Jonker met ’n glimlag geantwoord.
Wyse woorde, nes Jada.
Juis daarom is die boek ’n sukses. PJO Jonker het geweet waar om op te hou skryf, sodat die leser die storie nie kan laat gaan nie.
Skitterende leesstof.
Lees ook:
Die onsigbare deur PJO Jonker: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: In gesprek met PJO Jonker, ’n video-onderhoud oor Die onsigbare


