"Die hele wêreld is op Erfdeel vandag."

  • 1

Hierdie lesing (sien die video) is op Vrydag 25 Julie 2025 te Cradock/Nxuba gelewer tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée. Die teks verskyn hier onder.

Wanneer die spraakstramme skaapboer Jada Olivier met die bewustelose, gebroke liggaam van ’n vreemdeling op sy Karooplaas Erfdeel aankom, sluit hy die ketting van die plaashek en raak ’n gevangene van sy besluit.

Op die voorblad is die profiel van ’n rooikat en ’n kaalrug vrou.

Resensies en boekbesprekings maak dit duidelik dat die verhaal met ’n verskeidenheid lense gelees word, en my doel met hierdie gesprek is nie om al die lae af te stroop en die roman kaal uit te trek nie. Net ’n bolangse kennismaking in die Karoo.

Die verhaal van Die onsigbare begin voor die geboorte van demokrasie en span oor die eerste dekade van die Nuwe Suid-Afrika. Dis die milieu van plattelandse landbou en maatskaplike werklikhede van armoede in kontras met welvaart, grootliks aparte rassebelewing, kultuurkontraste en spanninge.

Dit is ’n roue uitbeelding van die onverkwiklikheid van apart wees en die ongemaklikheid van saam wees.

Maar in Die onsigbare is politieke kommentaar nie primêr die punt nie. Dis bloot ’n werklike konteks en milieu vir die storie, die dekor, die rou gebrokenheid van die tyd, die donker doek waarteen ’n helder lig van verlossing en heelmaking geprojekteer word.”

Aan leserskommentaar te oordeel vra die verhaal wel ongemaklike vrae, byvoorbeeld die vraag oor ons hantering van ons elkeen se probleemdiere, daardie onsigbares wat nie tel nie, die “ongediertes”s wat ons pla, mense wat nie soos ons is nie (van wie ons dalk liewer ontslae sou wou wees), hulle wat vir ons weens andersheid afstootlik lelik is.

Kan ons hulle liefhê totdat hulle vir ons mooi is?

Die onsigbare sou met die lens van die sielkunde en filosofie gelees kon word, die psigologiese tipering van karakters en die diagnose van onder andere elkeen se handeling en geestestoestand.

Die plaasroman as genre en die moontlike voortsetting van geskiedkundige werke en intertekstuele knooplusse kom onder die vergrootglas. Is daar dramaturgiese eienskappe van groter rolle en argetipes?

Die twee openingsreëls van die roman verklap reeds onsekerheid. Diep in die nag het dit gereeld gebeur. Hy droom hy val.” Die emosie van oorweldig voel.

Jada het valvrees. Hoogtevrees. Maar ook vrees om te val as mens. Die gewig van die mantel van die vierdegeslagskoene wat hy moet volstaan as boer van Erfdeel.

Jada skryf enkelwoorde in sy dagboek. Woorde soos: Golwevrees. Reperkussies. Rou. Hy skryf met ’n klein stomp potlood wat al korter geskryf word en die uitveër wat later net onsigbare mote op sy dagboek los, ’n teken van totnietgang.

Sommige lesers wonder hoeveel van dit wat Jada waarneem, waar is, hoeveel psigose is.

Daar is die grafiese besonderhede hoe hy in die kouete ’n springbokkarkas slag en uitmekaar haal, die raaksny, die bloed; en die leser besef die karkas en hy is een.

Die onsigbare is funksioneel-filmies met allegoriese tonele. Baie simbole.

Die mosaïek gemaak met skerwe van ou teestelle en damklei, Anys se natte beslag, die boontjies wat gekerf word, die doodgebore lammers, die breipatrone, die bloedspore – alles nooi die leser deur die loop van die roman om temas van progressie en regressie van karakters uit te pluis.

Verskeie karakters se geloofsbelewing word ook uitgebeeld.

Ons lees: “Anys twyfel nie. Sy stik weekliks die verandering in die wolke en die voëlsang en die miere se gedrag en die leraar in die sinkkerkie se preke aan mekaar vas en is dan oortuig van wat God vir haar wil sê. Sy gryp die geringste ingewing met ’n gretige gees, ’n onsigbare betrokkenheid van die hemele in Erfdeel se kombuis.”

Ook Jada ervaar ’n geestelike weergeboorte, wat hy sy sinjaalswenk noem, en dit verander en bepaal sy lewensloop van daardie punt af enduit.

Na die sinjaalswenk raak sy lewenspoor haaks met sy ou selfbeheptheid. Hy raak uit wans met sy vorige self. Hy word miskien ’n The Idiot-tipe karakter soos van Fiodor Dostoiévski.

Na sy sinjaalswenk word hy toenemend deur loutering verskraal tot ’n naïewe idioot, onbetroubare fokalisator, een wie se oordele verdag is. Hy is die idioot wat op ingewing reageer. Godspraak. Hy noem dit ’n aweregse Gees. Wanneer dit vir hom beter sou wees om stil te bly, dan praat die gewoonlik spraakstramme. Wanneer hy homself behoort te verdedig, dan bly hy die swyger.

Hy word gedring deur ’n voetstootse liefde. ’n Reddingsgenooptheid laat hom oor grense tree, en hy bevind hom ver buite sy ou gemaksone. Hy assosieer met die eenvoudiges. Die randfigure. Die uitgestote onsigbares. Hy sien hulle raak. Hy bied vir hulle die Jesus-sleutel aan wat sy eie spoor laat swenk het.

Een van die transformasies wat Jada na sy sinjaalswenk beleef, is dat almal nou vir hom waarde het; hy is beskonke van voetstootse liefde. Dis ’n ingewing. Hy weet dit kom nie van nature nie. Hy meet nie meer aan die uiterlike nie. Daarom sien hy mense nou anders en val grense weg.

Hy besoek nie die mense in Duiwelskamp as ’n meerdere nie. Hy buig nie af nie. Hy gaan sit in die stof en kyk op na hulle as sy meerdere. Hy raak al meer onsigbaar, en Jesus die Vriend van sondaars, al meer sigbaar.

Jada is nie iemand met ’n omvattende geloofsbelydenis, teologie en standpunte nie. Hy is ’n stamelende swyger met valvrees wat reageer op ingewing van God. ’n Fool. Met foute.

Hy is op ’n tipe weg van lyding tot neerlegging en ligterwording. Hy lê sy stamboom neer, sy kultuur, sy bekende kerkwyse, sy reputasie, sy sukses, uiteindelik ook sy te kosbare plaas Erfdeel en geliefde Katryn. By die Kersnagtoneel in die hok in Duiwelskamp lê hy ook byvoorbeeld die goue Mont Blanc-pen langs die gebreekte glimmende kitaarsnaar neer, die goue Mont Blanc ’n simbool van hoop op finansiële redding. Hy los sy baadjie daar.

Daar vind ook ’n kroonuitruiling plaas. Die grond Erfdeel, die stambome, Koning die eland, Prinses die perd – alles wat kosbaar is, kom tot neerlegging in ruil vir die goue partytjiekrone wat in doringbosse vashaak. Tot uiteindelik die finale karnavaleske optog deur Klippoort.

Kom ons gebruik die wyehoeklens en ondersoek die universele, kosmiese, groter prentjie van Die onsigbare.

In die aanloop tydens die finale drama by die veiling hoor mens iemand sê: “Die hele wêreld is op Erfdeel vandag.”

Hierdie sin plaas ons almal potensieel iewers in die universele vesels van die verhaal.

Frederik de Jager skryf oor “Jada se plek in die universum, ’n besondere instansie van die literêre device van die Christusfiguur”. As mens Die onsigbare so lees, met Jada as Christus-tipe, is Katryn dan dalk die kerk?

Jesus se onvolmaakte kaalvoetbruid, ongekunsteld. Dis na haar wat Jongdominee in sy intreepreek verwys, die eintlike kerk soos aan die heel begin, ’n familie van onwaarskynlikes – verbeeld deur die kiepersolstam wat onder die sement van die kerkgebou uitgroei, al 2 000 jaar oud, nederig, eg en eenvoudig, krom en skeef met haar skurwe bas, maar die kroon uitgestrek na God.

In teenstelling daarmee staan dit wat bo-oor die kiepersolwortel deur dierbaar-menslike karakters staangemaak word en wat in die roman met baie humor lig gemaak word: Jongdominee wat deur die blommerangskikking op die kansel verdwerg word, dr SW Joubert se gevormdheid en oordele, die kerkraadsbesluite om die kerkgebou se aansig weer ’n keer wit te verf, die waterarm kerktuin wat moet vernuwe met watervriendelike potte en balle (oor die hoë waterrekening, maar dis al die tyd die konsistorietoilet wat nie behoorlik afsluit nie en die gevolg ’n pappery van ’n versadigde stapeldrein van riool).

Die kiepersolwortel word in die storie onder die fondasies van die kerktrappe uitgegrawe en op Jada se skof berg-op gedra, weg van die lewelose mensgemaakte, om by Katryn se hut geplant te gaan word, maar sonder tekens van lewe. Daar gaan gooi hy dit telkens met helder bergwater nat. In geloof dat dit weer sal bot. Maar tot aan die einde van die verhaal bly dit onbeantwoorde hoop. Die onsigbare.

Met die kiepersol en die kerk en Katryn dalk een, is die letsel op haar lip moontlik simbool van gelowiges as onvolmaakte spreekbuis van God. Aanvanklik dra die letsel by tot Jada se afsku in haar, maar met genesing gee die vasbytlip indrukke van onskuld, ’n herstelde skaamheid wat in die herontmoeting in die ligspel van die laatmiddagson sigbaar is.

Daar is dalk ook ’n ironiese verband tussen die letsel op haar lip en Jada se spraakstramheid, ’n teken van eenwees deur gebrokenheid.

Katryn is ’n produk van seerkry en rebellie. Soos ons almal. Dit is as gevolg van die rou seerte wat ons graag ons rug wil draai, en met ons skerpste kloue geloof wil wegklap. Liewer daarmee sal spot. Maar deur die hele roman wens mens tog net sy wil terugkom en haar hart sag maak vir hom. Meer as enige van die ander karakters is ek en jy dalk Katryn.

En hierdie is moontlik die universele: Die hele wêreld is op Erfdeel vandag. Die onsigbare laat val ’n soeklig op ons harte en ontbloot dat ons nie werklik weet hoe om saam te leef nie. Opinies raak al sterker. Ons raak toenemend terminaal en akuut verknog aan die eie en versot op onsself.

Dis net die verstoteling wat nog glo dat verlossing nie in onsself lê nie. Net die uitgeworpenes wat glo in die nodigheid van ’n sinjaalswenk en ’n aweregse Gees sodat ons ander voetstoots kan liefhê.

Mens hoor dit toenemend in die lirieke van die koortjies na die storie se einde toe: “Sizalelwe Indodana, Igama layo nguJesu, Iyo yodwa Umsindisi (Vir ons is ’n Kind gebore. Sy naam is Jesus. Net Hy is ons Verlosser).”

Louise Viljoen beskryf dan ook Die onsigbare as “’n optekening van die universele ... ’n visionêre slot wat volkome in pas is met die toon en geestelike waardes van die roman. Dis ’n moment wat die materiële oorstyg en aan al die verskillende soort behoeftiges van die wêreld ’n plek gee in die lig. Hier word die “drenkeling, afskraapsels en geknakte riete” saamgesnoer tot ’n “familie van onwaarskynlikes”.

Naby die einde beland Jada op sy knieë tussen ander mense wat dans en riel in die klein vensterlose sinkgebou in die veld op Erfdeel. Tuimelend in hierdie chaos dryf skaapkraalstof en antrasietdeeltjies soos planete, asteroïede, sterre en hemelligte diagonaal opwaarts in die goue ligspeke wat deur dakskroefgate inval. Dis ’n amper skeppingsagtige toneel waar Jada se stropingsproses vir ’n algehele oorbegin volbring is. ’n Finale einde aan self, en bevryding van self. Hy word weer ’n idioot. En in daardie dwaasheid vind hy vryheid.

Lees en kyk ook:

Die onsigbare deur PJO Jonker: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: In gesprek met PJO Jonker, ’n video-onderhoud oor Die onsigbare

Onsigbares en gelukkige eindes: ’n gesprek tussen PJO Jonker en Hennie Aucamp

Die LitNet25-skrywersberaad en die Etienne van Heerden Veldsoirée 2025 in ’n aantal kiekies verbeeld

Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors

ATKV-Skryfskool

Die Tuishuise & Victoria Manor

Buffelshoek DiRosie Lodge

Afrikaans Amptelik 100

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top