
Prent: Canva
........
Ons grondwetlike demokrasie se toekoms hang af van ons nasie se aptyt om mede-eienaarskap daarvan te neem en seker te maak dat die doen en late van elke staatsamptenaar en politikus voldoen aan die vereistes van verantwoordbaarheid, responsiwiteit en deursigtigheid. In dié opsig is die bal laat val.
........
Sedert die Madlanga-kommissie van Ondersoek, gelei deur afgetrede Konstitusionele Hof-regter Mbuyiseli Madlanga, hul werksaamhede begin het, word geen steen onaangeroer gelaat om korrupsie en kriminele netwerke wat Suid-Afrika se wetstoepassingsagentskappe geïnfiltreer het, bloot te lê nie.
Wat begin het as ’n ondersoek na politieke inmenging, het nou tot ’n volskaalse ondersoek van senior amptenare in die polisie, munisipaliteite en ander staatsinstellings ontwikkel. Terwyl die Zondo-kommissie op die kaping van staatsbeheerde ondernemings gefokus het, teiken die Madlanga-kommissie die intelligensie- en veiligheidsnetwerke wat veronderstel is om die publiek te beskerm. Hulle staan nou self in die beskuldigdebank, terwyl dit juis hul werk is om die kriminele en korruptes te vervolg.
Die getuienis wat in Pretoria aangehoor en wyd en syd gebeeldsend word, ontbloot ‘n sisteem wat vanaf die hoogste vlak besig is om in te plof. Dit word duidelik dat wetstoepassingshulpbronne wat bestem is om die publiek te beveilig en die staat teen korrupsie te beskerm, nou aangewend word om die kriminele belange van oënskynlik gewetenlose amptenare en kriminele te dien. Gespesialiseerde taakspanne en misdaadintelligensie-eenhede word na bewering gebruik om georganiseerdemisdaadbase te beskerm terwyl fluitjieblasers geïntimideer of selfs vermoor word. Dit lyk ook asof senior politieke figure by ondersoeke inmeng om hul bondgenote te beskerm.
Die nuuskonferensie deur luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi verlede jaar het die mees bisarre onthullings tot op hede tot gevolg gehad. Die land is inderdaad baie verskuldig aan hom.
Een van die ontstellendste onthullings deur die kommissie hou verband met ’n gesofistikeerde kriminele sindikaat wat binne die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit en sy Metropolisie-departement (EMPD) beslag gekry het. Hierdie netwerk was nie net betrokke by finansiële bedrog nie, maar het glo ook as ’n privaat sekuriteitsmaatskappy gefunksioneer wat blykbaar nie geskroom het om te martel en moor om hul onwettige besigheidsbelange te bedryf nie.
In die proses word staatsinstellings rot en kaal besteel. Die finansiële vergrype wat deur die kommissie ontbloot word, is verstommend. Diegene wat in die beskuldigdebank staan, probeer allerlei taktieke om hulself te verontskuldig en dit te laat lyk asof hulle nou die slagoffers is. ‘n Stelsel van direkteverkrygingsbedrog waarvan hulle in beheer was en waar hulle nie geskroom het om op allerlei onderduimse wyses tenders aan hul “vriende” goed te keur nie, onthul egter omvangryke wanpraktyke en grootskaalse diefstal van belastinggeld.
Onder andere behels dit na bewering tenders ter waarde van R360 miljoen, spesifiek glo die waarde van die bedrieglike SAPD-Medicare24-gesondheidstender; R200 miljoen se kokaïen (541 kg) gesteel uit die Port Shepstone-Valke-kantoor, blykbaar deur amptenare self; R1 miljoen se maandelikse betalings na bewering aan senior polisiebeamptes vir allerlei gunsies, soos private beskerming; R180 miljard se Nasionale Lotto-tender wat ook ondersoek word vir die moontlikheid dat misdaadnetwerke betrokke is.
Die omvang van die finansiële impak beloop miljarde. Volgens die kommissie is die staat geïnfiltreer met behulp van die staat se eie geld. Openbare fondse is gebruik om “agente” te betaal, wat op hul beurt daardie geld gebruik het om die beamptes wat hulle moes ondersoek, om te koop. Hierdie siklus het gelei tot ’n totale ineenstorting van openbare vertroue en die tragiese verlies van lewens, insluitend dié van die privaat sekuriteitsbeampte Marius van der Merwe, wat kort ná sy getuienis oor polisiebrutaliteit vermoor is.
Sentraal tot hierdie toksiese web is die sakeman Vusimuzi "Cat" Matlala en Suliman Carrim. Matlala, ook bekend as die leier van die "Groot Vyf"-kartel, het na bewering die SAPD as sy persoonlike trog misbruik en homself in die proses verryk. Sy maatskappy, Medicare24, het glo ’n kontrak van R360 miljoen losgeslaan ondanks vele tekortkominge.
Matlala se "betaalstaat" van sekere generaals en ander senior beamptes was na bewering die hefboom. Daar word beweer dat hy luitenant-generaal Shadrack Sibiya tot R1 miljoen per maand kontant betaal het. Intussen het Suliman Carrim na bewering as die deurslaggewende skakel tussen die onderwêreld en hoëvlakverkryging opgetree. Alhoewel Carrim onlangs beweer het hy is deur Matlala mislei, is daar getuig dat hy ‘n direkte verbintenis het met die sindikaat se dwelmverspreiding- en tenderbedrog-operasies.
Die kommissie se intensiewe kruisverhoor hou al wat leef en beef vasgenael voor die televisie. Dit het nou ‘n kritieke fase betree. Forensiese bewyse en leefstyloudits word nou ingespan om vervolgings van senior polisielede van stapel te stuur.
Luitenant-generaal Shadrack Sibiya is gekonfronteer met WhatsApp-boodskappe wat glo wys dat hy vertroulike dokumente aan Matlala se medewerkers gelek het. Majoor-generaal Richard Shibiri het erken dat hy "sosiale lenings" van Matlala ontvang het, maar word ook daarvan beskuldig dat hy ondersoekers omgekoop het om moordsake teen kartellede te laat vaar. Brigadier Rachel Matjeng word glo ondersoek vir haar rol in die Medicare24-tender terwyl sy in ’n romantiese verhouding met Matlala was. Daar is sprake van vele geskenke wat sy ontvang het – onder andere verslankingsmiddels en ‘n kosmetiese operasie aan haar agterstewe.
Die omvang van die korrupsie het president Ramaphosa gedwing om die kommissie se werksaamhede tot 31 Augustus 2026 te verleng. Die doel is om die SAPD, EMPD en ander agentskappe soos die Valke te suiwer. Tyd sal ons leer of dit wel gaan gebeur. ‘n Positiewe stap is dat die staat reeds begin het om die sekuriteitsklarings van diegene wie se betrokkenheid by korrupte bedrywighede blootgelê is, op te hef. Dit kan egter nie hier eindig nie.
Die Madlanga-kommissie dien as ’n desperate poging om die skadustaat te ontbloot voordat dit die land heeltemal verslind. Daily Maverick het onlangs geskryf dat senior leierskap moet pa staan vir die kultuur van onverantwoordbaarheid en straffeloosheid. Hulle het toegelaat dat korrupsie die norm geword het. Landsburgers moet daarom op groot skaal medeverantwoordbaarheid neem vir wat in die land gebeur.
Ons grondwetlike demokrasie se toekoms hang af van ons nasie se aptyt om mede-eienaarskap daarvan te neem en seker te maak dat die doen en late van elke staatsamptenaar en politikus voldoen aan die vereistes van verantwoordbaarheid, responsiwiteit en deursigtigheid. In dié opsig is die bal laat val. Geen wonder die land word rot en kaal besteel nie.
Lees ook:
Our poisoned land: living in the shadows of Zuma’s keepers deur Jacques Pauw – ’n resensie


Kommentaar
Lt-Generaal Mkhwanazi behoort die hoogste toekenning, sê maar 'n Suid-Afrikaanse Nobelprys, te kry vir die moed wat hy aan die dag gelê het om die skelmstreke te ontbloot.