Die Lasarus-effek: DF Malherbe (1881–1969)

  • 0

Jannie Pretorius lees graag oor die verlede en gebruik KI om ou foto’s ’n nuwe lewe te gee. Klik op die kleurfoto om dit te vergroot en sien die video hier onder.

Daniël François Malherbe was ’n kolos in die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Hy is in 1881 gebore en was as skoolseun al geesdriftig oor Afrikaans, en het toe reeds ’n taalkongres in die Paarl bygewoon. Hy was ook tydgenoot van Totius en AG Visser en hulle het saam gretig vir die poskar gewag om Di Patriot en Ons Klyntji te ontvang.

Nadat hy in 1907 uit Duitsland terugkeer met ’n doktorsgraad in filosofie, werp hy hom dadelik voluit in die stryd om Afrikaans. Sy akademiese leierskap was deurslaggewend: In 1918 word hy die eerste professor in Afrikaans aan die Grey-universiteitskollege (UFS), waar hy Afrikaans as universiteitstaal vestig. Sy wetenskaplike bydraes sluit in die eerste taalwetenskaplike boek oor Afrikaans (1917) en reuse werke soos die een oor Afrikaanse spreekwoorde en verwante vorme (1923). Hy was ook ’n jare lange lid en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie.

Ek sal sy naam altyd assosieer met Hans-die-Skipper, wat ons voorgeskrewe boek in matriek was. Ek onthou sy beskrywing van Hans op see: Hans se gesig was die ene besieling, die ene liefde, die ene vreugde.

’n Rolprent oor die boek, verwerk deur regisseur Bladon Peake,  is op 31 Desember 1952 vrygestel. Die hoofrolspelers was André Huguenet as Hans-die-Skipper, Albie van der Bijl as Meester, Wena Naudé as Trynie, Gert van den Bergh as Johan en Leonie Ross as Nelie.

Hy is drie maal met die Hertzogprys bekroon. Hy was ook die voorsitter van die reëlingskomitee by die stigting van die FAK in 1929. Malherbe, wat vier eredoktorsgrade en talle ander eerbewyse ontvang het, is kort voor sy 88ste verjaarsdag op 12 April 1969 oorlede.

Wil jy hom sien beweeg? Klik op die knoppie.

(Só lyk die oorspronklike foto.)

Bronne:

Anon. S j. DF Malherbe (1881–1969). https://afrikanergeskiedenis.co.za/df-malherbe-1881-1969 (18 November 2025 geraadpleeg).

Anon. S j. Hans-die-Skipper. https://af.wikipedia.org/wiki/Hans-die-Skipper (18 November 2025 geraadpleeg).

Lees ook:

Die Lasarus-effek: Anna M Louw (1912–2003)

Die Lasarus-effek: Tant Miem Rothmann (MER): (1875–1975)

Die Lasarus-effek: Jan FE Celliers (1865–1940)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top