Jannie Pretorius lees graag oor die verlede en gebruik KI om ou foto’s ’n nuwe lewe te gee. Klik op die kleurfoto om dit te vergroot en sien die video hier onder.

Anna M Louw is een van Afrikaans se belangrikste prosaïste, ’n “eenloper” wat geweier het om deel van enige literêre beweging te wees. Haar jeug op ’n Karooplaas in die Calvinia-distrik, ’n plek van “lug-mense” en “ver-kyk-mense”, het haar filosofiese insig en liefde vir die natuur gevorm.
Haar skryfdwang was ’n “ondefinieerbare innerlike krag”, ’n Godgegewe talent wat sy voluit nagestreef het eers nadat haar kinders groot was, en deels om den brode. Sy het haarself nie as ’n woordkunstenaar beskou nie, maar wel as ’n filosoof wat wou hê dat elke sin iets moet sê, hoewel sy nie noulettend op elke woordjie was nie – sy het net geskryf.
Louw het in verskeie genres uitgeblink, van reisverhale soos Agter my ’n albatros tot historiese romans oor Paul Kruger: Die banneling: die lyfwag en Die groot gryse. Haar deurbraakwerk, die sielkundig-politieke roman 20 days that autumn (oor die nasleep van Sharpeville), is in 1964 met die Olive Schreiner-prys bekroon. Haar magnum opus bly egter Kroniek van Perdepoort (1975), ’n allegoriese en realistiese verkenning van die sewe doodsondes, waarvoor sy die Hertzogprys, CNA-prys én WA Hofmeyr-prys ontvang het.
Haar Christenskap en die misterie van die mens as verskynsel was die kern van haar werk, waar morele integriteit en karakter in menslike verhoudinge vir haar die deurslag gegee het.
Wil jy haar sien beweeg? Klik op die knoppie.

(Só lyk die oorspronklike foto.)
Bron
Terblanche, E. 2015. Anna M Louw (1912–2003). LitNet. https://www.litnet.co.za/anna-m-louw-1913-2003 (23 November 2025 geraadpleeg).
Lees ook:
Die Lasarus-effek: Solomon Tshekisho (Sol) Plaatje (1876–1932)


