Die koms en die vertrek van die oom: deel 3

  • 0

Foto: Canva.com

Terugskouend het die familie besef dat Hansie in hierdie tyd van homself vervreem geraak het, want niemand kon tot hom deurdring nie. Al het hy fisies en materieel genoeg van alles gehad en al was hy omring deur familie, was hy swewend. Emosioneel en sielkundig was sy lewensdrang geknou. En grootoupa was dood en die testament ’n onomstootlike werklikheid. Niemand het geweet hoe om die saak te beredder nie. Grootoupa Hans se durende afwesige aanwesigheid het almal ontmagtig. As grootoupa sou kon weet hoe Hansie sou ontwikkel, sou hy hom dalk bedink het oor die testament, maar die dood steur hom nie aan ’n gepaste tyd nie en alles was gedane sake.

Na skool wou Hansie nie gaan studeer nie. Sy toelaag uit die familietrust was ruim genoeg dat hy vir homself kon sorg. Hy het homself vir ’n haarkapperkursus ingeskryf en na voltooiing van sy opleiding ’n klein salon gekoop. Op 21 het hy sy erfporsie gekry, wat natuurlik die plaas en die opstal ingesluit het. Hy het egter gevra dat sy tant Rika en oom Eberhard in die huis aanbly en dat die bepalings van die trust gewoon voortgaan. Van sy erfgeld het hy twee haarsalonne in Pretoria gekoop, die plekke smaakvol ingerig, haarkappers aangestel en self die bestuurder van die besighede geword. Sy sake het floreer en hy het al hoe meer op sy eie begin lewe. Sy blyplek was altyd luuks en volgens die jongste modestyl versier en hy het ’n versamelaar van kunswerke en juwele geword.

Hy het soms, maar baie selde, sy drie susters genooi om by hom te kom eet. Dan kry hy ’n spysenier en onthaal hulle in styl. Hulle het altyd agterna gelag omdat hulle so hard probeer het om gesellig te wees terwyl Hansie hulle in absolute stilswye betrag.

Wanneer nodig het Hansie wel met sy ma en, toe hulle nog geleef het, grootouma Lena en tant Rika, en hulle prokureur vergader oor trustaangeleenthede en hy het weldeeglik geweet wat op die plaas aangaan. Hy het die hele verkooptransaksie van die grond aan die munisipaliteit hanteer asook die verdeling van die grond sodat die huis behoue kon bly. Toe tant Rika en oom Eberhard sê hulle wil trek, is daar tussen Hansie, sy ma en tant Rika besluit dat Marlena se dogter Annaleen en haar Egbert ’n goeie keuse sal wees om die huis oor te neem. Hy het die reg voorbehou om in die skuurwoonstel te mag woon as hy nie meer in die stad wil bly nie.

Dwarsdeur alles het die huis sy vriendelike mooi self gebly. Hansie het dikwels voor sy skuurwoonstel se deur gestaan of onder die boom gesit en gekyk na die groot huis met die son op sy stoepe teen die agtergrond van die ou bome. So het ek hom ook dikwels gesien as ek daar kom.

Nadat Hansie byna tien jaar by Annaleen en Egbert op die werf gebly het, sien Annaleen een Vrydagoggend hoe ’n blomafleweringswaentjie by die hek inry en voor Hansie se woonstel stop. Sy sien toe ook hoe daar ’n hele klomp emmers met groot bosse blomme afgelewer word. Omdat sy geweet het dat Hansie se butler vir die naweek weg was, het sy later oorgestap om te hoor of alles reg is en of sy vir hom ’n ete kan oorstuur.

Hansie het die deur net op ’n skrefie oopgemaak en toe sy vra hoe dit gaan en of hy iets nodig het, gesê: “Goed met my, alles is doodreg. Maurice het etes en tee en koekies vir my reggesit en ek sal regkom. Wees maar rustig.”

“En die blomme?” vra sy.

“Ag, ek was sommer lus vir blomme.”

Sy het gedink hy wil dalk die lente vier. Hy is immers gesond, is trouens nooit siek nie en kla nooit.

Die volgende middag bel Annaleen my in groot ontsteltenis.

“Heleen, kom asseblief hiernatoe. Ek het nou iemand nodig.”

Daar gekom, kry ek Annaleen waar sy in die kombuis met haar hande voor haar mond staan, asof sy versteen het.

Egbert kom toe ook net daar aan van die gholfbaan af.

“Wat het gebeur?” vra ons byna gelyk.

“Dis Hansie. Sy versorger is mos weg en hy het gesê hy sal regkom. Maar alles is toe so doodstil daar by hom dat ek maar weer oorgestap het om te gaan kyk. Toe kry ek hom.”

“Waar kry jy hom?” vra Egbert.

“In sy kamer. Op sy bed.”

Saam stap ons drie na die woonstel. In die tuintjie blom alles wat moontlik kan blom, want dis laat lente en die beste blommetyd. Die woonstel is blinkskoon – die stoep, die vensters en die houtvloer binne. Alles is kraaknetjies.

Annaleen loop voor, verby die eerste slaapkamer waar die butler bly, na die groot slaapkamer. Die hele kamer is vol blomme. Op die spieëlkas, op die laaikas, op die boekrak, oral is daar vase en melkbekers en emmertjies met blomme: St Josefslelies, lycianthes, rose, angeliere tussen groot bosse gipsblom ingesteek en swaar dieprooi amarillis in ’n groot erdehouer. Op die vloer al langs die mure staan daar ook houers met blomme en loof van verskillende kleure en skakerings. Op die bedkassies staan daar weerskante twee groot glasvase vol stargazer-lelies en al op die rand van die bed langs lê daar nog lelies gepak. ’n Swaar speseryagtige geur hang in die kamer.

In die middel van die bed lê Hansie. Hy het ’n aandpak met satynlapelle aan en ’n wit formele hemp met fyn opnaaiseltjies. Hy het ’n donkerblou en silwer strikdas aan en blink skoene. Hy lyk of hy slaap.

“Ek kon nie aan hom raak nie,” sê Annaleen.

Egbert buig oor en voel teen Hansie se nek.

“Geen pols wat ek kan voel nie.”

Hansie was dood. Net dood. Die nadoodse ondersoek het niks verdags getoon nie. Daar was geen teken van iets onnatuurliks in sy bloed nie, net lae vlakke van ’n slaapmidddel, gewoon soos by iemand wat die vorige aand ’n slaappil gedrink het. Hy het net, asof hy so besluit het, weggegaan.

Annaleen en haar gesin, haar ma, Marlena, en die ander twee susters het Hansie begrawe. Na die begrafnis sit almal stil en somber met koffie op die stoep. Toe sê ma Marlena met ’n bewerige stem: “Hansie het seker gevoel dit was genoeg. My pa Jan het eenkeer gesê grootoupa Hans het vir hom wat Jan Taljard is, dubbeld ontman – hy het nie net sy kind opgeëis en weggeneem nie, hy het hom ook verlam deur hom te verhoed om vir sy gesin en sy vrou op te staan. Ek meen, pa Jan het uiteindelik ook nie ’n seun gehad wat ’n erfgenaam kon wees nie, want Hansie was uiteindelik niemand se seun nie. Pa Jan kon nooit met Hansie gemaklik raak nie, nie een van hulle twee kon die verwydering oorkom nie. Dit was soos ’n aanhoudende ontkragting wat eers met pa Jan se dood tot ’n einde gekom het.”

Sy het ’n paar oomblikke stilgebly en toe bygevoeg: “Nog erger was wat grootoupa in die naam van liefde aan Hansie gedoen het. Hansie was nie ontman nie, hy was ontmens. Hy het nooit gehoort nie, nie gevoel hy behoort iewers nie. Hy het self nooit in sy eie bestaan geglo nie. Hy het nie van iemand anders verwag om te glo dat hy bestaan nie. Hy was ontmens.

“En so het hy sowaar 90 eensame jare oud geword.”

Teen skemer het ons gery. Ek het omgekyk en in die laat lig het die huis se dak gegloei asof daar lig van binne af uitstraal, maar op die stoepe was die skaduwees reeds diep en donker.

Lees ook

Die koms en die vertrek van die oom: deel 1

Die koms en die vertrek van die oom: deel 2

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top