Die koms en die vertrek van die oom: deel 1

  • 0

’n Castrato was ’n manlike sanger met ’n sopraan- of kontraltostem wat in Europa veral vanaf die sestiende eeu gewild was. Die sewentiende en agtiende eeu was die goue era van die castrati op die operaverhoog en hulle het ook dikwels kerkmusiek uitgevoer. Hierdie sangers is, hoewel dit onwettig en onmenslik was, voor puberteit gekastreer sodat hulle die suiwer kwaliteit, groot reikwydte en veelsydigheid van ’n onvolwasse stem behou het, maar oor die longkapasiteit en die resonansie van ’n volwasse liggaam beskik het. In 1878 het Pous Leo XIII die kerk verbied om castrati in diens te neem as sangers en in 1903 het Pous Pius X die gebruik amptelik beëindig. (Encyclopedia Britannica)

Deur hierdie verhaal te vertel, ’n verhaal wat welbekend is in Italië, was ek in staat om vir jou ’n goeie voorbeeld te gee van die vooruitgang wat die beskawing tot vandag toe gemaak het. Hulle maak nie meer hierdie ongelukkige wesens nie. (Uit Sarrasine deur Honoré de Balzac)

In ’n meerdere of mindere mate is elke mens afhanklik van stories, van romans, wat die meervoudigheid van die lewe aan hom openbaar. Slegs hierdie verhale, wat dikwels soos ’n soort droom gelees word, bring iemand te staan voor sy eie lotsbestemming. Daarom moet ons met volle oorgawe probeer uitvind waaroor sulke verhale gaan.

Die verhaal wat die menigvuldigheid van moontlikhede van die lewe toon, val nie altyd in die smaak nie, maar dit ontlok ’n oomblik van raserny waarsonder die skrywer blind sou wees vir die veelvuldige moontlikhede wat dit inhou. (Georges Bataille in die voorwoord by Le Bleu du Ciel)

............

GESLAGSREGISTER VAN DIE FAMILIE STRUWIG

............

Foto: Canva.com

My vriendin Annaleen en haar gesin woon in ’n ou huis van meer as ’n honderd jaar oud. Die huis staan aan die rand van die dorp en was die opstal van ’n plaas wat in die laaste dekades van die twintigste eeu dorpsgebied geword het. Die huis self en die stuk grond waarop dit staan, dit wat vroeër die ou werf was, is egter deur die familie uitgehou en daarom staan die lieflike ou plek nou op ’n groot erf tussen gewone huise en meenthuiskomplekse.

Annaleen se gesin is die vierde generasie van die familie wat in die huis woon. Haar eie grootouers en ouers het nooit in die huis gewoon nie – nadat haar grootouma Lena dorp toe getrek het, het haar ouma se jonger suster, Rika, en haar man daar gewoon totdat hulle na ’n aftreeoord getrek het. Intussen het Annaleen en haar man na die dorp toe teruggekom en toe haar groottante Rika en haar man nie meer vir die groot huis en erf kans gesien het nie, het Annaleen en Egbert in die huis ingetrek. Daar is van hulle verwag om daar te gaan woon. Annaleen se ma, Marlena, en dié se twee susters het kom kuier en Annaleen en Egbert indirek opdrag gegee om daar te gaan woon. Annaleen het dit so aan my verduidelik en bygevoeg dat dit iets met ’n trust en ’n testament te make het, maar toe haar mond toegemaak en niks verder gesê nie. Die manier waarop sy stilgebly het, het my aan die wonder gesit.

Gelukkig kon Annaleen en Egbert aan die huis verander, hoewel met beperkinge. Hulle kon slegs die kombuis en badkamers moderniseer, maar aan die mure van die huis mog nie verander word nie, nie afgebreek of bygebou word nie. Aan die mooi geelhoutvloere, die staalplafonne, die swaar deure met koperhandvatsels, alles nog oorspronklik, mog hulle nie raak nie. Hulle moes die ou werf in stand hou soos dit was; die huis self en die ou skuur wat so vyftien meter van die huis af in die agterste hoek van die erf staan.

Nadat die plaas vir erwe verkoop is, is die skuur in ’n woonstel omskep – dit was wel toelaatbaar, maar wie daaroor die laaste sê gehad het, was vir my nie duidelik nie. Die hele opstal sou seker as ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar kon word, maar die familie wou dit vir eie gebruik hou. Met die groot vensters en breë stoepe aan drie kante, ruim vertrekke en die nuwe moderne kombuis was die eiendom vanselfsprekend baie waardevol. En baie mooi, die waardige huis teen die agtergrond van ou akkerbome. Wat ek wel tussen die reëls kon aflei, was dat die familie as ’n groep vir die huis verantwoordelik was en dat hulle Annaleen en haar man gekies het om die verantwoordelikheid uit te oefen.

Op ’n dag vertel Annaleen dat haar oom, ’n hoogbejaarde man, in die skuurwoonstel kom intrek. As Annaleen se vriendin en vertroueling het ek die hele proses vandat sy gehoor het dat die oom daar kom woon, meegemaak. Dit was weer soos ’n opdrag. Gelukkig was Egbert ’n gelykmatige mens en as ’n plattelandse prokureur wat vertroud is met die rariteite van familietrusts, het hy alles so aanvaar.

Die koms van die oom was op verskillende maniere vreemd. Ek en Annaleen ken mekaar al lank en ek kon nie onthou dat sy ooit vroeër van die oom gepraat het nie, nie eers een keer nie. Ek ken haar ma en tantes goed, want hulle woon op die dorp en kuier gereeld saam. Maar van hierdie oom het ek nog nooit gehoor nie. Waarom kom hy juis by Annaleen en Egbert bly? het ek gewonder. As ek vra, het Annaleen so vagerig geantwoord dat die woonstel in die skuur in werklikheid syne is en dat dit vir hulle moontlik is om hom te akkommodeer. Nie help nie, nie versorg nie, akkommodeer. Die woonstel is volgens sy instruksies opnuut verander en verbeter. Daar is ’n ekstra slaapkamer met ’n groot noordvenster en ’n badkamer aangebou. Die klein kombuisie en die twee badkamers is gemoderniseer en ondervloerse verhitting is geïnstalleer. Niemand het ’n woord oor koste gesê nie en die opdragte is noukeurig uitgevoer.

Terwyl Egbert oor die bouery moes toesig hou en kyk dat alles perfek reg is, het Annaleen verduidelik: “Hansie het werklik geen kind of kraai nie.”

In die loop van ons gewone gesprekke het meer dinge na vore gekom. Die oom was haar ma, Marlena, se oudste broer, maar almal noem hom net Hansie. Hy verdra dit glad nie om “oom” genoem te word nie. As kinders het Annaleen en haar sussies Hansie net gesien as hy by hulle ouma Ena gekuier het en hulle ook daar was. Dit was maar min. Dan het hulle agter sy rug gelag en grappies gemaak oor hom. Omdat hy so maer was. Omdat sy stem so krakerig was.

“Dis oor hy so min praat. Sy stem het geroes,” het hulle dan gespot. Die vreemdste was dat dit gelyk het asof hy wegskram as hulle nader kom, asof hy vir hulle bang is. “Is hy bang ons doen iets aan hom?” het hulle dan gegiggel.

Annaleen was nogtans baie beskermend teenoor hom en het verduidelik: “Ons hoef hom darem nie regtig te versorg nie, net ’n ogie hou. Hy is heelwat ouer as my ma, ek dink hy is al in die tagtig, maar hy is selfversorgend. Hy wil om de dood in geen aftreeoord gaan bly nie. Hy het al vir jare lank opgeleide butlers; die een na die ander wat hy met die hand uitsoek. So ’n butler moet hom versorg, maar moet ook mediese kennis hê, wil jy glo – waar kry mens so iemand? Hy moet van dag tot dag vir hom kos maak, sy wasgoed doen en na sy klere omsien, sy huishouding bestuur en hom oppas en dokter as hy sou siek word. Hy moet hom ook rondry waar hy wil wees.”

Ons het nie geweet wanneer die oom ingetrek het nie, maar toe ek en my man, John, op ’n keer weer daar kuier, het ek lig in die woonstel gesien en ook beweging agter die vensters.

“Het die luisterryke oom toe opgedaag?” vra ek toe ons elkeen met ’n glasie in die hand op die stoep sit en na die sonsondergang kyk.

“Ja,” antwoord Annaleen. “Maar die dae is lank vir hom. Saans is hy maar moeg. Julle sal hom wel later ontmoet.”

Die ontmoeting het eers omtrent ’n maand later met Egbert se verjaarsdag plaasgevind. Dit was lente en die verjaarsdaggaste het oral op die ou huis se stoepe rondgestaan in die lig wat deur die vensters skyn. Uit die sitkamer en eetkamer was groot glasdeure na die stoep toe oop en almal het heen en weer beweeg met glasies en bordjies eetgoed. Ons was in die eetkamer naby die buitedeure toe ek aan die ander kant van die vertrek iemand uit die gang die eetkamer sien binnekom. Die man se kop het bo die mense uitgesteek. Dit was ’n lang man; ’n baie lang, baie skraal man in ’n swart rolnektrui. Dit was asof sy kop te groot was bo die smal skouers en sy nek het effens eenkant toe geknak.

My eerste gedagte was dat hy soos ’n Egon Schiele-tekening lyk. Sy gesig was donker en somber en baie oud, sy oë diep in hulle kaste in die gevlekte gesig. Hy het by die deur ingekom, ’n tree eenkant toe gegee en teen die muur bly staan. Almal om hom het in sy rigting geknik en dan weggeskuif. Dit was asof almal probeer het om normaal verder te gesels en nie na hom te kyk nie op ’n manier wat so duidelik ’n doelbewuste poging was dat dit juis opvallend was. Annaleen het nader gestap en met hom gepraat, maar hy het net sy kop effens geskud en tot in die hoek van die vertrek, waar daar minder lig was, geskuifel. Ek het gedink dit is net goeie maniere om hom te gaan ontmoet en het John aan die hand saamgetrek.

Van naby was die hoekigheid aan sy gesig en sy hele figuur nog meer opvallend. Sy voorkop was breed en swaar en die onderste deel van die gesig so smal en maer dat sy wange tussen sy bo- en ondertande ingeduik het. Daar was ’n soort bewegingloosheid aan hom asof hy eerder ’n beeld as ’n mens was. Annaleen het ons vinnig voorgestel.

“Hansie, dis ons goeie vriende Heleen en John. En dit is Hansie.”

Hy het nie ’n hand na ons uitgesteek nie. Trouens, sy hande, lang benerige bleek hande, het soos groot rustelose vlinders langs sy sye gesidder. Hy het net geknik en weer verder om die hoek aangeskuif. Geen woord het oor sy lippe gekom nie. Verder as “aangename kennis” het ons ook nie gekom nie.

Dit was asof hy beweeg sonder dat mens sien hoe hy beweeg, asof niks aan hom roer nie. Dit was asof hy die lug om hom nie versteur nie.

Ek en John het agterna vir mekaar vertel hoe ons al twee ’n koue gevoel gekry het toe ons daar by hom staan. Ons het albei die indruk gekry dat hy ’n somber koelheid uitstraal in die louerige lenteaand. Diep ongemaklik het ons ongemerk probeer wegbeweeg. En toe ek ’n rukkie later weer versigtig in sy rigting kyk, sien ek ’n sterk middeljarige man wat saam met hom in die gang inbeweeg. Die man het half voor hom geloop om vir hom plek te maak tussen die mense deur en om hom te beskerm, maar dit het my opgeval dat hy glad nie aan hom geraak het om hom te ondersteun nie.

Tuis sê ek vir John: “Wat sê mens vir Annaleen en Egbert? Die ou man is werklik ’n vreemde figuur.”

John se antwoord was: “Hy staan en hy beweeg, maar dit is asof daar byna geen lewe in hom oor is nie.”

Voor ons die lig afsit, sê John: “Is dit nou my verbeelding? Dit was vir my asof die ou man vir homself afwesig is. Is hy nog heeltemal compos mentis? Hy registreer ons, maar dit lyk of hy dink ons sien hom nie.”

Om een of ander rede kon ek Annaleen nie verder uitvra oor die oom nie. Een middag drink ons gou ’n koppie tee saam toe haar jongste dogter, vir ’n naweek tuis van die universiteit af, inkom en sê: “Ma, kyk wat gee Hansie vir my.”

Sy het haar hand uitgehou. Daar was ’n buitengewoon mooi en groot akwamarynring aan haar middelvinger. Die steen was pragtig geslyp in die vorm van ’n skraal ruit en geset in goud. Dit het vir my gelyk na ’n versamelaarstuk.

“Ek het probeer keer, maar hy wou nie nee vir ’n antwoord vat nie. Hy sê hy het dit lankal gekoop omdat dit mooi was en ek moet dit nou kry. Is dit nie lieflik nie? Ek moet dit net bietjie kleiner laat maak.”

“Dis nou Hansie daai,” sê Annaleen. “Jy sal dit maar moet vat en geniet.”

Later vra ek versigtig: “Lyk my Hansie het baie geld?”

“Ja,” het sy met ’n sug geantwoord. “Hansie … ja kyk, Hansie het … hy het baie geld en hy het nog altyd baie geld gehad. Van dit geërf, die res met sy besighede verdien. Hy het ’n hele reeks haarkappersalonne in Pretoria en Johannesburg besit. Hy was snaaks genoeg ’n baie goeie sakeman. Die kliënte het hom nooit gesien nie, hy het net die besighede gekoop en bestuur vanuit ’n kantoor agter een van die mooiste salonne in Pretoria se ou middestad. My ma het altyd gesê Hansie voel die gemaklikste tussen vrouens, maar selfs by hulle hou hy sy afstand.”

“Waar het hy gewoon?” het ek gevra.

“In ’n penthouse bo-op ’n groot woonstelblok in Arcadia. En later in Sandton. Totdat hy nou hierheen gekom het.”

“Weet jy, Heleen,” het sy na ’n rukkie aangegaan. “Ek weet nie van iemand wat meer teenstrydighede in homself het as Hansie nie. Hy het baie geld en hy het dit geniet en gebruik, Boheems en gewaagd gelewe. Hy was vir ’n tyd lank verslaaf aan iets. Vra my aan wat en ek weet nie. Ek weet net my ma-hulle het toe nog minder oor hom gepraat en hulle stilletjies byna dood bekommer oor hom. Hy was in daardie jare lang tye in rehabilitasieplekke. Tog het hy deur sy hele lewe op luukse reise gegaan; bootreise na eksotiese plekke toe of na wêreldstede waar hy dan aand na aand uitvoerings en opvoerings bygewoon het. Die programme staan die rakke vol daar in die woonstel.”

Sy het lank stilgebly.

“Hy het hierdie ketting ook nou die dag vir my gegee,” het sy aangegaan en aan ’n swaar goue ketting om haar nek gevat. “Mens verstaan dit nie. Hy vermy ons, al woon ons hier langs mekaar, maar dan doen hy sulke goed. Ons kan hom glad nie daarin teëgaan nie. Die ding is eintlik, Hansie is … man, hy is … hy is ons familie se gewete. Hy lê op ons gewete, hy is ’n soort oorgeërfde skuld in ons familie. Hy is soos ’n las wat ons moet dra, nou al vir drie generasies, en dit is nie een van ons se skuld nie.

“Dit is ook hoekom hierdie huis so belangrik vir ons almal is. Dis ’n bose herinnering sowel as ’n kleinood en ’n versoening. Per slot van rekening is dit Hansie se eiendom.”

Later in die gesprek het sy weer oor Hansie gepraat.

“Ons kan Hansie nie opgee of laat verwaarloos nie. Dis ’n treurige storie wat lank terug begin het, by ’n oupagrootjie wat regtig steeds uit die graf regeer. Egbert sê dis die verskriklikste ding wat iemand aan sy familie kan doen. En in ons familie is Hansie, hoe sal ek sê … hy het soort van die slagoffer daarvan geword, al lyk dit van buite af nie so nie. Hy het alles van sy oupa geërf, maar niemand wil ’n lewe soos syne hê nie. Dis ingewikkeld …”

Lees ook

Die koms en die vertrek van die oom: deel 2

Die koms en die vertrek van die oom: deel 3

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top