Die koms en die vertrek van die oom: deel 2

  • 0

Foto: Canva.com

Hansie se skaduagtige teenwoordigheid op Annaleen en Egbert se werf het nooit ’n gewone saak geword nie. Daarvoor was hy te vreemd. ’n Mens wat tegelykertyd teenwoordig en afwesig is en nogtans opgepas en versorg moet word. Hy het jare lank daar in sy woonstel bly woon, met telkens ’n ander butler of oppasser, totdat hy negentig jaar oud was. Oor die jare het sy verhaal in gesprekke en verwysings deurgesypel.

Grootoupa Hans Struwig was twintig toe hy en sy ouer broer, Eberhard, ná die Boereoorlog in 1904 uit ballingskap teruggekom het na die plaas in die ou Wes-Transvaal. Hulle het as penkoppe oorlog toe gegaan en toe alleen oorgebly. Hulle pa is noodlottig gewond in die veldslag waarna hulle gevange geneem is. Hulle ma, twee jonger sussies, en die ouma en oupa aan moederskant is almal in die konsentrasiekamp oorlede. Die twee jong mans was vermaer en verslae, maar hulle was ook taai. Daar was ook in hulle ’n soort oorlewingswoede. Hulle wou die teëspoed oorwin. En hulle kon die stryd aanpak met veel meer in hulle guns as wat vir baie ander mense beskore was. Hulle was groot en sterk en daar het twee plase vir hulle gewag, verwoeste afgebrande plase sonder landerye en diere, maar beskikbaar – hulle pa se plaas en die oupa se plaas so ’n paar myl verder. Met groot determinasie het hulle begin werk en al was dit aanvanklik ’n gespartel om aan die gang te kom, het hulle vasgebyt. Daar was ook ’n vermoede, of dalk was dit ’n skinderstorie, dat hulle pa, of dalk die oupa, iewers geld begrawe het wat hulle ’n hupstoot kon gee, want albei het gou begin floreer. Hulle het geplant en diere gekoop en binne tien jaar was die twee plase produktief. Van die twee was Hans die dinamiese een, die een met die meeste dryfkrag en ondernemingsgees. Hy het ook die vinnigste ryk geword.

In 1907 het grootoupa Hans sy bruid, die mooie Lena, na die plaas toe gebring en in 1909, toe sy hulle eersteling verwag, het hy begin bou aan die huis. Hy het die opstal geplaas ná aan die grens van die plaas aan die dorp se kant. Niemand sou toe kon dink dat die dorp tot teen die plaas se grens sou uitbrei nie, nog minder dat die plaas verkoop sou word en in erwe opgedeel sou word. Oor die huis het hy groot gedink. Die huis is ontwerp deur ’n argitek, die beste bouer in die omgewing het die plek gebou en die afwerking is gedoen met ordentlike hout en goeie metaal.

Alles moes van die beste wees vir sy Lena. Hy was versot op haar en sy op hom. Hulle dogtertjie is gebore net nadat hulle in die huis ingetrek het en drie jaar daarna is daar nog ’n dogtertjie gebore. Hans wou verskriklik graag ’n seun hê, maar daar was gewoon nie meer kinders nie. Eberhard en sy vrou het ’n seun en ’n paar jaar later ’n dogter gehad. Kinders was in hierdie jare die grootste skat wat mense kon hê en vir grootoupa Hans was dit ’n groot teleurstelling dat hulle nie ’n seun gehad het nie.

Die gevolge hiervan, van sy drang om ’n seun te hê, het Annaleen vertel, was glad nie goed nie. Dit sou daarna in die familie van geslag tot geslag as ’n waarskuwing voorgehou word. Niemand is ooit weer toegelaat om eers ’n voorkeur vir die geslag van ’n kind uit te spreek nie. Die kind wat jy kry, is die kind wat jy kry. Maar grootoupa Hans het gedink hy is geregtig daarop om ’n seun te hê. Sonder ’n erfgenaam was alles wat hy opgebou het en nog wou opbou vir hom eenvoudig minder werd. Ouma Lena het mooigepraat, vir haar was dit die wil van die Here, maar grootoupa, goeie Christen en al, was in sy hart eintlik woedend. Hy het ouma Lena selfs verwyt omdat sy nie in staat was om ’n seun in die lewe te bring nie. Agterna was hy dan spyt en het om verskoning gevra, maar woorde wat spontaan uitgespreek is, kan nie ongedaan gemaak word nie. Dit het haar versigtig gemaak en meer ingetoë. Sy het geweet dat hy suksesvol was omdat hy baie hard kon werk en bekwaam was, maar sy het ook geweet dat hy teenstand nie kan verduur nie en baie gefrustreerd kan raak as dinge nie loop soos hy beplan het nie.

Vir sy twee dogters was grootoupa Hans nogtans baie lief. Ena, die oudste, was ’n doodgewone meisietjie, valerig en skamerig en ronderig, maar sy was die liefderike een wat altyd bereid was om te help en te gee. Sy is my vriendin Annaleen se ouma. Rika, die jonger een, was baie mooi, soos haar ma, lenig met blougroen oë en ’n rooierige gloed in haar hare, maar sy was selfversekerd en sprankelend soos haar pa. Die twee susters was baie geheg aan mekaar en het altyd gesê hulle het in ’n huis vol liefde grootgeword. Tog was daardie huis ook ’n plek van leemte; ’n leemte wat nie gevul kon word nie.

Ena het verlief geraak op ’n jong boer, Jan Taljard. Jan was ’n goeie man, baie kleiner as sy indrukwekkende skoonvader, en saggeaard. Dit was wat Ena na hom toe aangetrek het, al was sy erfgrondjie baie kleiner as grootoupa Hans se gronde en sy vooruitsigte en drome baie nederiger. En grootoupa moes instem tot die troue al sou hy graag ’n indrukwekkender bruidegom vir sy dogter wou hê. Kort na Ena se troue het Rika almal onkant gevang toe sy op agtienjarige ouderdom kom aankondig dat sy en haar neef, Eberhard, oom Eberhard se oudste, gaan trou. Sy het nie regtig kom vra nie, eerder kom sê met dieselfde soort vasberadenheid as waarvoor grootoupa self bekend was. En ten spyte van almal se voorbehoude oor introuery kon grootoupa nie anders as om te besef dat hierdie twee saam groot rykdom sou kon konsolideer nie. Ouma Ena het glo gesê almal was baie dankbaar dat Rika en Eberhard se kinders geen sigbare gevolge van die introuery getoon het nie, maar Annaleen se ma, Marlena, en haar susters het soms tersluiks verwys na hulle niggie se verskriklike smal voetjies en na hulle neef wat so gesukkel het om te leer lees. Verder was die kinders tog wel gesond en Rika en Eberhard kon inderdaad die opbrengs van die twee plase saamvoeg.

Jan en Ena was gelukkig op hulle plasie in hulle klein platdakhuis. Totdat hulle oudste kind gebore is. Dit was ’n seuntjie en hy is Hans gedoop, al moes hulle hom volgens die gebruik na Jan se pa vernoem het. Grootoupa Hans het voor die tyd kom vra dat hulle, as dit ’n seuntjie is, die kind na hom vernoem. Hy het gevra op ’n manier wat dit onmoontlik gemaak het om dit nie te doen nie.

Annaleen het op ’n dag vertel: “My ma, Marlena, is my ouma Ena en oupa Jan se tweede kind. Hansie is die oudste.” Daarna het sy eers stilgebly en toe baie stadig bygevoeg: “Dit is ’n ongewone geskiedenis.”

Hansie was vier maande oud toe Ena se melk opraak. Hulle het dorp toe gery om bottels te gaan koop en op pad huis toe het hulle by grootoupa Hans en ouma Lena aangegaan. Die volgende oggend het grootoupa Hans se swart en oranje 1929 Chrysler Tourer met die wit buitebande by die Taljards se plaashek ingery en voor die huis gestop. Ena het vir Jan uit die kraal laat roep en hulle het saam tee gedrink. Toe, so is dit in die familie oorgedra, stoot grootoupa Hans sy stoel agteruit en sê: “Ons is vandag hier oor ’n gewigtige saak. Julle is jonk en julle gaan nog baie kinders hê. Daarom wil ek hê julle moet Hansie vir ons gee. Ek sal hom wettig aanneem. Ons sal hom grootmaak as ons eie kind en hy sal my erfgenaam word. Ons het nie ’n seun nie en ek moet ’n erfgenaam hê. Ena, Ma sal jou help om die kind se klere in te pak en dan kan ons netnou ry.”

Volgens Annaleen het nie een van die vier mense wat daar teenwoordig was ooit agterna oor hierdie saak gepraat nie. Niemand het vertel wat regtig daar gebeur het nie. Oupa Jan het net met groot bitterheid grootoupa Hans se presiese woorde aan Rika en Eberhard oorgedra en so het dit familiebesit geword.

Hoe kan mens jou die verblindende skok van die twee jong mense wat hulle eersteling moes afgee, voorstel? Hoe sal iemand weet in watter oneindige stilte en leegheid hulle daar in hulle huis agterbly het? Want wat grootoupa geëis het, het net so gebeur.

“My ma het altyd gesê my ouma Ena het nooit, maar nooit hieroor gepraat nie,” vertel Lena later. “Tant Rika het vertel dat my oupa Jan gesweer het dat hy nooit weer sy voete in sy skoonpa se huis sou sit nie. En hy het glo ook nie.”

“Maar Annaleen, hoekom het hulle ingestem? Dis mos onmenslik, dis ondenkbaar dat ’n pa sy dogter se kind sal wegneem van haar?”

“Dit was seker ander tye, ek weet ook nie hoe dit kon gebeur nie. Hy het glo onderneem om alles vir die kind te gee en te doen, die beste skoolopleiding, afrigting as ruiter, studie by ’n universiteit, enigiets wat die kind sou wou doen. En grootoupa het hulle ook duidelik laat verstaan dat hulle die kind ’n onreg sou aandoen as hulle dit nie toelaat nie.”

Toe voeg sy by: “Hy was glo ’n dwingende man. En my ouma was nog baie jonk. Sy kon haar nie teen haar pa verweer nie. Hy het waarskynlik regtig gedink sy kan nog baie kinders hê. Sy het wel nog drie kinders gehad, waarvan die oudste eers sewe jaar later gebore is. Al drie dogters.”

Tant Rika het ook vertel dat Ena en Jan se huwelik byna daarmee heen was. Jan was siedend verby. Verbitterd en magteloos. Hy het gevoel hy is deur sowel sy skoonvader as sy vrou verraai. Hy was ontkrag, eintlik simbolies ontman, en hy kon niks daaraan doen nie. Hy het vir ’n paar jaar byna heeltemal opgehou praat. Gewis het hy niks te sê gehad vir sy skoonfamilie nie. Ouma Ena was die soort mens wat nie in staat was om haar pa teë te gaan of te haat nie, maar sy het maklik aan die huil gegaan en die verwydering tussen haar en Jan was ooglopend. Wat natuurlik ’n verdere rede vir die hartseer was.

Uiteindelik het haar beminlike geaardheid Jan weer laat versag teenoor haar. Maar dit was sewe jaar voordat sy weer swanger geraak het. Hierdie dogtertjie is Marlena gedoop. Sy is my vriendin Annaleen se ma.

Intussen het grootouma Lena Hansie met die grootste sorg moontlik grootgemaak. Hy het ’n lieflik toegeruste babakamer gekry met ’n hele baba-uitset wat van Volpes in Port Elizabeth af bestel is. Volgens familie-oorlewering was dit vir haar ’n groot spanning, want sy was tot die dood bang dat die kind sou siek word of iets oorkom omdat sy hom nie reg hanteer of goed genoeg oppas nie. En dit sou grootoupa Hans haar nie vergewe nie. Waar sy haar twee dogters gemaklik en vrolik kon grootmaak, was Hansie ’n verantwoordelikheid. Gevolglik is hy soos ’n kleinood opgepas en byna letterlik in watte toegedraai. Hy is dus eintlik opgepiep, weggehou van ander kinders om nie siektes aan te steek nie, gemaan om versigtig te speel sodat hy nie val en seerkry nie. Hy was in elk geval van die begin af ’n maer, skugter kind, asof hy aangevoel het dat sy blote bestaan ’n probleem was. Hy was lank vir sy ouderdom maar sonder energie of lewenskrag, asof sy liggaam nie besef het dat hy spiere moet vorm om die kind en later die man se lengte te dra nie.

Ouma Ena het van tyd tot tyd by haar ouers gaan kuier, maar sy het nie geweet wat om te doen met Hansie of hoe om teenoor hom op te tree nie. Hy was haar kind en ook nie haar kind nie. En grootouma Lena was ook baie ongemaklik. Oupa Jan kon nie na die kind kyk nie en het dit eenvoudig vermy om hom te sien.

Die kind het grootgeword in die mooi huis vol lig. Hy het op die breë stoepe gespeel, in die sitkamer op die swaar tambotiemeubels gesit en by grootouma Lena in haar werkkamer gesit op die mooi klein stoele met Queen Anne-pootjies. Hy het saam met grootoupa Hans op die plaas rondgery en later ook ’n relatief goeie ruiter geword. Maar hy was versigtig en nie regtig in die boerdery geïnteresseerd nie. Grootoupa het gedink dit sal wel met verloop van tyd regkom.

Hansie was baie lief vir die huis waarin hy gewoon het. Sy kamer het op die westekant se stoep uitgekyk en was dus in die winter heerlik warm terwyl die somerson deur die stoep afgekeer is. Sy geliefkoosde speelplek was tussen die potplante op die stoep en dit was ook die plek waar hy later graag gesit en lees het – verskuil tussen die plante.

Hansie was 12 jaar oud toe grootoupa Hans skielik op 58 ’n dodelike hartaanval kry. Hy het die aand kamer toe gegaan en op die rand van die bed gaan sit. Hy het vir grootouma Lena gesê hy voel sleg. Die volgende oomblik het hy agteroorgeslaan en sy oë het omgedop. Grootouma het agterna vertel dit was asof iemand hom skiet so geweldig het hy agteroor geruk. Sy het Hansie geroep en die kind het die dokter gebel. Hulle het grootoupa Hans hospitaal toe geneem, maar hy is deur die loop van die nag oorlede. Grootouma Lena was verpletter, maar tant Rika het agterna gesê nadat sy die eerste smart oorkom het ná grootoupa Hans se dood, was sy tog ligter van gemoed as wat sy ooit voor dit was.

Almal was egter verlig dat Hansie daar was om by sy ouma Lena te bly. Sy sou in die plaashuis bly woon totdat sy besluit wat om te doen en Hansie was daar om haar te help.

Ses maande later het grootouma Lena besluit om op die dorp te gaan bly. Sy en Hansie het opgepak en almal het kom help trek. Grootoupa Hans se testament was heeltemal duidelik. Dit het bepaal dat ouma Lena vruggebruik van die plaas en die huis sou hê indien sy sou verkies om daar te bly. Anders kon sy in die dorpshuis gaan bly, maar sy moes versorg word uit die opbrengs van die plaas. Ander bepalings het oor die huis gegaan. As grootouma Lena te sterwe sou kom of wil trek, moes Rika en Eberhard in die huis gaan woon. Dit was die enigste teken dat hy daarvan bewus was dat Jan Taljard dit nooit sou doen nie. Die kern van die testament was egter dat al die eiendomme en bates in ’n trust geplaas word totdat Hansie eendag sy erfporsie kon oorneem en opneem. Hansie was ongekwalifiseerd grootoupa Hans se hooferfgenaam.

Die plaas moes intussen bedryf word deur Eberhard, wat dit saam met sy eie grond moes bewerk teen ’n deel van die inkomste. Die res moes na die trust gaan waaruit grootouma Lena en Hansie versorg moes word. Daar was ’n eenmalige uitbetaling aan Ena. Jan Taljard se naam is nie in die testament genoem nie.

“My ouma Ena en oupa Jan, wat hulle kind vir my grootoupa gegee het, het in verhouding met die ander net ’n aalmoes gekry. My oupa Jan het nie omgegee nie – hy wou vir homself en sy gesin sorg en dit het hy goed gedoen. My ouers woon nou op oupa Jan se plaas in die huis wat hy met sy eie hande later vir ouma Ena gebou het. My pa het altyd gesê hy het die grootste respek vir oupa Jan wat staande kon bly en homself uiteindelik gehandhaaf het al het sy skoonpa hom sleg behandel.”

As Annaleen so vertel, kon ek sien dat hierdie familiegeskiedenis steeds lewendig is en almal wat daarby betrokke is, kwesbaar. En Hansie was die voortdurende herinnering daaraan.

Want vir Hansie was sy oupa se dood het einde niet. Grootouma Lena en Hansie het lekker gewoon in die dorpshuis. Hy kon nou skool toe loop en in die middae, as sy huiswerk klaar was, het hulle tuin gemaak. Somertyd was daar die mooiste rose en dahlias in die tuin en in die winter het die Namakwalandse magrietjies die hele erf volgestaan. Grootouma het onvermoeid in elke seisoen geplant en gesaai: in die lente petunias en jakobregops en groot afrikaners; in die herfs al die soorte bolle wat in die lente kon blom. Die groentetuin en vrugteboord het ook deurentyd vir ’n vol spens gesorg; wat nie vars gebruik kon word nie, is ingelê en gedroog. Vir twee jaar het dit goed gegaan en almal het gedink Hansie begin darem meer selfstandig raak en dat sy persoonlikheid ontwikkel.

Maar grootouma Lena was ’n baie mooi vrou en sy was maar 53 toe grootoupa oorlede is. Sy het legendariese mooi bene gehad en haar dogters en kleindogters wou almal bene soos hare gehad het. Uiteraard sou ander mans haar raaksien. Aanvanklik het sy almal gewoon duidelik laat verstaan dat sy nie belangstel nie. Maar toe verskyn oom Gert de Lange op die toneel. Self ’n gegoede boer het hy haar beïndruk met sy kalmte en selfversekering en sjarme. Hy was ook haastig, en het gesê: “Jy is 55 en ek 58. Waarvoor sal ons wag? Ons word nie jonger nie en ons het mekaar nou nodig. Ons kan nog baie dinge saam geniet.”

Aanvanklik het hy gedink Hansie is ’n kleinkind wat net by grootouma Lena kuier, maar toe hy sy intensies duidelik gemaak het en grootouma haarself ontvanklik getoon het, het hy begin uitvra oor die kind. Hansie was toe 14, lank en baie maer en uiters skugter. As oom Gert kom kuier, het hy vinnig verdwyn en eers weer uit sy kamer of die tuin verskyn as oom Gert weg is.

Oom Gert kon nie glo wat hy hoor toe grootouma hom vertel waarom Hansie by haar bly nie.

“Dit is ’n gruwelike ding. Ek kan dit byna nie glo nie.” Vir hom was die implikasies gans anders. “Hoe kan daar van jou verwag word om verantwoordelikheid te vat vir ’n kind? Nee, Lena, hierdie saak moet weer bedink word. Dit is ’n fout wat reggemaak moet word.”

Maar hoe maak jy so ’n fout reg? Hoe kry mens lewe en warmte in verhoudinge wat nie bestaan nie? Hoe verskuif jy vertroue van een mens na ’n ander as daar vervreemding en verwerping ter sprake is?

Oom Gert het gewoon sy voet neergesit en gesê grootouma moet kies, óf hy óf Hansie, want hy sien nie kans vir die kind in hulle huis nie. Hierdie sku en onleesbare kind was nie deel van sy planne nie. Veral nie onder sulke onnatuurlike omstandighede nie. Die kind het dan sy eie ouers hier naby.

Grootouma was toe reeds verlief en sy het ook die saak anders begin sien. Sy het besef sy kan nie uiteindelik vir Hansie bly instaan nie en sy het begin dink sy sal nie weet hoe om die kind te begelei om ’n grootmens te word nie. Sy het met ouma Ena gepraat en verduidelik. Die gesprek het net meer stiltes teweeggebring, tussen grootouma Lena en haar dogter, tussen ouma Ena en oupa Jan. En tussen Hansie en almal in die familie. Annaleen se ma het vertel hoe verslae hulle almal was toe haar ma kom sê dat Hansie terugkom. Oupa Jan het in ’n intense stilstuipe ingegaan. Dit het weer ’n stil en moeilike tyd geword.

Hansie self het die minste gesê. Dit was so goed asof hy na vreemde mense toe gestuur is. Vreemde mense sou egter nie soveel bagasie oor die verlede gedra het nie en dit sou waarskynlik makliker gewees het. Annaleen se ma, Marlena, het vertel hy het in ’n stoepkamer ingetrek en het soos ’n spokie verskyn en verdwyn. Hy het so min tyd as moontlik saam met die gesin deurgebring. Oupa Jan was met ’n soort magteloosheid geslaan; hy kon net nie ’n manier kry om met die seun ’n verhouding op te bou nie. Ouma Ena het tegelykertyd skuldig en dankbaar gevoel en was die hele tyd besig om goeie verhoudinge tussen almal te probeer bewaar. Sy was soos ’n amoebe wat punte gemaak het waar daar ’n holte ontstaan en ’n holte gevorm het waar daar ’n uitstulping ontstaan het tussen die lede van haar gesin.

Annaleen se ma en haar sussies het Hansie aanvaar en wou graag met hom maats wees, maar hy was sewe jaar ouer. Hy was so onseker van homself dat hy nooit hulle toenadering kon beantwoord nie. Die kinders in die gesin het nooit gemaklik geraak met mekaar nie. As ouma Ena hom in die familiekring probeer intrek, het hy hoflik gebly, maar daar het geen warmte in die verhoudinge gekom nie. Hansie het haar nie as sy ma geken nie. En hy het ook van grootouma Lena afskeid geneem. Hy moes. Vir sy selfbehoud moes hy haar afskryf. Sy was sigbaar gelukkig saam met oom Gert.

Hansie het uiteraard nie graag by grootouma Lena en oom Gert gekom nie en by sy eie ma en pa was dit nie vir hom lekker nie. Hy was ’n mens sonder allernaaste.

Lees ook:

Die koms en die vertrek van die oom: deel 1

Die koms en die vertrek van die oom: deel 3

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top