Die klein jakkalsies wat die wingerd vreet: Hoe Engelse taalhegemonie stil-stil insluip

  • 6

......

“Dit blyk dat Engelse onderskrifte soos ’n koloniale grenslyn op Afrikaanse films ingebrand word; soos ’n tatoe van onderdanigheid.
’n Vlaggie van meerderwaardigheid wat wapper oor die ‘onverstaanbare’ brabbeltaal van die Afrikaanssprekende koloniale onderdane.”

......

’n Week gelede kyk ek vir die eerste keer die hoog-aangeskrewe Afrikaanse film Kanarie (2018) met Schalk Bezuidenhout. Ek is nie die mees danige fliekvlooi nie, en verkies eerder die langer, verwikkelde storielyne van ’n goeie reeks. Nietemin, ek het groot waardering vir die Afrikaanse filmbedryf, wat met regisseurs soos Christiaan Olwagen en Daryne Joshua (Noem my skollie, 2016; Die storie van Ellen Pakkies, 2018) en akteurs soos die ontslape Elize Cawood met die grootstes in die wêreldfilmbedryf kan skouer skuur.

Terloops, mense wat die bedryf se films as amateurwerk afskiet, het nie begrip vir die kort geskiedenis van die Afrikaanse filmbedryf nie. Hollywood het die oordonderdende materiële kragte van Amerikaanse ekonomiese mag en sy uitvoerproduk van Amerikaanse fliek-Engels, wat vir filmkykers wêreldwyd oor die jare ’n standaard geword het. Die filmbedryf in Amerika kom boonop al vir meer as ’n eeu aan, terwyl Afrikaans nog in haar letterkundige kinderskoene was. Natuurlik gaan die Afrikaanse filmbedryf nog lank neem om wasdom te bereik, en niemand kan die vordering ignoreer nie. Diegene wat dit doen, is oningelig of moedswillig blind.

Terug by Kanarie. Die film is ’n belangrike voorbeeld van Afrikaanse films oor die laaste vyf jaar wat voorheen onoorkombare grense oorgesteek het. Kanarie verryk Afrikaans met ’n belangrike filmgedrewe ontdekking van queer-identiteit, in besonder binne die Afrikaner-Afrikaanssprekende gemeenskap. Dit verdien om heel eerstens as ’n fyn opgawe van sosiale dinamiek en maatskaplike verhoudings binne die Afrikaanssprekende wêreld te vertoon.

Terwyl ek die film kyk, raak ek geïrriteerd met die onderskrifte, wat in Engels voorkom. Die dikwels onvertaalbare aspekte van die dialoog flikker heeltyd in my oë en trek my aandag van Bezuidenhout, Jacques Bessenger, Beer Adriaanse en Hannes Otto se uitstaande akteurswerk af.

Ek kliek op die stroomdiens se skakeltjie om die onderskrifte af te sit. Dit werk nie. Die wit Engelse skriffie hou aan rol. Ek soek nog skakels, druk nog knoppies. Niks verander nie. Ek soek vinnig na ander Afrikaanse films en reekse: Die regsreeks Fynskrif en die Grensoorlog-film Seun het ook onverwyderbare Engelse onderskrifte.

Die hele petalje het my weer aan die dink gekry oor die indringende oorheersing van Engels in Suid-Afrika. Waarom kan ek op soveel Hollywood- of buitelandse films die onderskrifte na willekeur aan- en afskakel? Ek skakel oor na ’n Russiese reeks, Khozhdeniye po mukam (2017), en die Vlaamse De Bende van Jan de Lichte (2018). In daardie reekse kan jy na willekeur tussen ander tale en onderskeidelik Russiese en Vlaamse onderskrifte, selfs gesproke taal, verander. Beide reekse het Engelse, Spaanse en Franse opsies vir onderskrifte of dialoog.

Dit blyk dat Engelse onderskrifte soos ’n koloniale grenslyn op Afrikaanse films ingebrand word; soos ’n tatoe van onderdanigheid. ’n Vlaggie van meerderwaardigheid wat wapper oor die “onverstaanbare” brabbeltaal van die Afrikaanssprekende koloniale onderdane.

......

“Ons word stadig maar seker ’n buitepos van koloniale Engelstalige hegemonie, wat self ’n toeval van die geskiedenis is. ’n Toeval wat Suid-Afrikaners met selfvertroue in ons moedertale moet teenstaan. Anders klink Suid-Afrika oor ’n paar eeue, of dalk selfs dekades, soos die arme Ierland, waar net ’n fraksie mense die inheemse Ierse taal Gaelies kan praat, tot ’n hele nasie se ongemak. Dieselfde gebeur in Belarus, ’n buurland van Rusland, waar jare se Russiese taal- en politieke hegemonie tot ’n absurde taaltoestand gelei het waar net omtrent 20% van die nasie Belarussies praat.”

......

In ’n land met ’n gedetailleerde taalklousule in haar Grondwet sou ’n mens hoop dat ’n soeke na gelykwaardige balans en verteenwoordiging van amptelike tale in die openbare ruimtes nagestreef sou word. Ek het al op hierdie forum geskryf oor hoe die voortgesette oorheersing van Engelstaligheid hierdie grondwetlike strewe na veeltaligheid ondermyn. Ek het dikwels al geswets oor hoe openbare universiteite, soos die Universiteit Stellenbosch waar ek studeer het en steeds by betrokke is, lippediens aan veeltaligheid bewys en geen proaktiewe stappe doen om die grootste streekstaal in die provinsie, Afrikaans, en die groeiende Afrika-taal Xhosa in die akademie in te burger nie.

Ek het ook al probeer diagnoseer waarom Suid-Afrikaners so slaafs is vir Engelstaligheid. Die regerende party het beslis ’n kragtige historiese verbintenis met Engels. Die vroegste stigterslede van die ANC was die alumni van ’n Engelstalige koloniale opvoedingstelsel, veral die Anglikaanse en ander sendinggemeenskappe. Hulle het Engels, heel ironies, as gunstige instrument in ’n omgewing van Britse imperiale kolonialisme en groeiende geïnstitusionaliseerde rassediskriminasie beskou. Hierdie ou verbintenis met Engels, wat boonop die nemesis van die vroeë Afrikanernasionalisme was, het beslis ook vir ANC-lede in ballingskap ’n sekere problematiese “status” in die oë van Engelssprekende weldoeners en mede-aktiviste in Brittanje en elders gegee. Die houding dat ’n swart Afrikaan wat goed met die koloniale taal kan omgaan, ’n “opgevoede” of “beskaafde” individu is, is tot die wortel toe besmet met koloniale rassisme, ’n feit wat verskeie van die ou amaRespectables en hul nadoeners soos die jintelman Thabo Mbeki (en sekerlik Panyaza Lesufi) klaarblyklik ontgaan het.

Onder Afrikaners spesifiek het daar iewers tussen die einde van die sanksies en die oopstelling van internasionale markte ’n nougesette houding posgevat dat ’n taal net daarvoor goed is om die individu te kan help om ekonomies suksesvol te word. Engels oorheers wêreldmarkte, en dit volg dus logies dat Engels jou gaan ryk maak. Diegene wat geëmigreer het, sit in voormalige Britse kolonies soos Kanada, Nieu-Seeland en Australië. Te min mense skenk aandag aan die gemeenskaplike aard van taal: Die Afrikaanse taal is nie bloot ’n instrument nie, maar ’n dinamiese sameskepping en opgaaf van kennis deur mense wat sekere lewenservaringe deel. Ons skep saam aan Afrikaans. Die taal weerspieël haar sprekers, van alle kleure en geure, se versugtinge, insigte en ervaring van die realiteit. Sy is terselfdertyd ’n tikmasjien en ’n argief.

Om Engels as meerderwaardig te ag “vir werksdoeleindes” word blitsvinnig ’n domino wat omslaan op tersiêre onderrig, hoërskoolonderwys, laerskole, voorskooltjies. Gemeenskapskoerante, soos die eens tweetalige Laevelder/Lowvelder uit my tuisstreek, word deur Afrikaanssprekende joernaliste se toedoen feitlik geheel en al verengels. Afrikaans is nou net af en toe goed genoeg vir enkele klessefaaids en die sportblaaie. Jong Afrikaanse dokters weet nie meer wat om jou diagnose in Afrikaans te noem nie. Prokureurs in die oorwegend Afrikaanse Wes-Kaap kan nie eens meer ’n aansoek op landdroshofvlak, die mees basiese forum van geregtigheid, in Afrikaans bring nie.

Ons word stadig maar seker ’n buitepos van koloniale Engelstalige hegemonie, wat self ’n toeval van die geskiedenis is. ’n Toeval wat Suid-Afrikaners met selfvertroue in ons moedertale moet teenstaan. Anders klink Suid-Afrika oor ’n paar eeue, of dalk selfs dekades, soos die arme Ierland, waar net ’n fraksie mense die inheemse Ierse taal Gaelies kan praat, tot ’n hele nasie se ongemak. Dieselfde gebeur in Belarus, ’n buurland van Rusland, waar jare se Russiese taal- en politieke hegemonie tot ’n absurde taaltoestand gelei het waar net omtrent 20% van die nasie Belarussies praat.

Ons is regtig ons eie grootste vyand, want as Afrikaanssprekendes is ons deel van die stilswyende kabaal wat die klein jakkalsies toelaat om ons taalwingerd stukkie vir stukkie te verwoes. Afrikaanstaligheid gaan waarskynlik nie veld verloor deur dramatiese, drakoniese regerings of wette nie; dit gebeur eerder deur hierdie klein treetjies agteruit, om die metafoor by Waldimar Pelser van Rapport te leen.

Dit is waarom onverwyderbare Engelse onderskrifte op Afrikaanse films ’n stille teken van onderdanigheid en meerderwaardigheid is.

Daar is wesenlik niks minder aan die Afrikaanse taal nie. ’n Toekoms van digverweefde, gedekolonialiseerde veeltalige regverdigheid is heeltemal moontlik as ons kreatief en proaktief te werk gaan.

Maar dan moet elke Afrikaanssprekende sy en haar oë vir die klein jakkalsies en mikro-aggressie van koloniale Engelstaligheid open.

  • 6

Kommentaar

  • In 2010 het die toe 14-jarige Frederik 'n briesende leserstorm ontketen met sy gereelde sosiale, kulturele en politieke kommentare in Beeld se briewe-kolom: suurknolle het hardop gewonder "hoe 'n ouer so selfsugtig/wreed/lafhartig kan wees om sy/haar standpunte in sy/haar kind se naam te publiseer", totdat 'n skoolkind die debat abrupt stopgesit het met die volgende one-liner: "Frederik, ek is in Graad 11 - sal jy my met my opstelle help asseblief?" Dis 'n dekade later, en Frederik se kommentare, resensies en menings kloof toenemend tot op die been, tot in die hart van ons samelewing se komplekse sosiaal-politieke en kulturele brandpunte. Welbelese, welbewoord, weldeurdenk, welgestaaf. Geluk met die passie waarmee jy vir ons kultuurgoed intree.

  • Avatar
    Corlia Fourie

    Dis nie net in Suid-Afrika waar Engels so belangrik is/geword het nie. Ek weet van ’n Afrikaanssprekende lektor in regte wat in Nederland deur middel van Engels klas gee en in die Duitssprekende deel van Switserland is daar PhD-studente in filosofie wat hul proefskrif in Engels skryf sodat “meer mense dit sal kan lees”. ’n Suid-Afrikaanse lektor in filosofie gee ook in Duitsland deur middel van Engels klas hoewel sy Duits kan praat. So Engels het doodgewoon ’n moderne lingua franca geword soos wat Latyn in ’n ander tyd was.

  • Avatar
    Corlia Fourie

    Die Engelse byskrifte is nie net daar sodat dit deur mense van ander tale in Suid-Afrika gevolg kan word nie, maar sekerlik ook om dit oorsee te verkoop. Ja, dis dalk ’n fout dat dit nie afgeskakel kan word nie, maar as mens ouer is – soos ek – vind jy dikwels die byskrifte nuttig omdat mens sekere gemompelde dialoog nie goed kan hoor nie.

  • Fanie Olivier
    Fanie Olivier

    Dankie vir die lekker bydrae. Natuurlik onaanvaarbaar dat onderskrifte nie verwyder kan word nie en dit sou seker ook wonderlik wees as daar eendag ook hier en daar moeite gedoen word om onderskrifkeuses in ander Suid-Afrikaanse tale as opsies te kry.
    Maar daar is ander “gedienstighede” wat ek nie verstaan nie. Waarom die Engelse uitspraak van plekname soos Stellenbosch, Rondebosch, “Ruiterbosch” en Franschhoek nou skielik in Afrikaanse monde op Afrikaanse TV-kanale?
    En dan gebeur daar dinge wat Afrikaans net eenvoudig verskraal omdat Engels onvolledig nagevolg word. Ek praat van die ritse met “dit” met dit, oor dit, deur dit, onder dit, ens omdat Engels so lyk. Maar die taalgebruikers vergeet dat Engels onderskei tussen “this” en “that” en omdat ons lank nie meer “dat” so gebruik nie, raak daardie funksie, ’n belangrike onderskeiding, verlore. Hoe lyk dit met ’n terugkeer na maklike en goeie Afrikaans: hiermee, hieroor, hierdeur, hieronder [en, natuurlik] daarmee, daaroor, daardeur, daaronder? Sal natuurlik harde werk kos, want feitlik geen jongerige akteur, stemkunstenaar, omroeper of aanbieder besef blykbaar wat verlore raak nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top