Taalbestuur in Suid-Afrika: ’n oorgangspolitieke dinosourus

  • 3

.....

“Wat veeltaligheidsbestuur in Suid-Afrika betref, het die oorgangspolitieke skikking geen bolwerk teen Engelstalige oorheersing op alle vlakke van die samelewing gebied nie ... Taalaktiviste sal veel groter protesstappe moet doen om aan te dring op meer as net ’n afgewaterde estetiese veeltaligheid.”

.....

Suid-Afrika se fundamentele politieke aardplate is besig om te kraak en te knars. In ’n kwessie van ’n paar maande het verskeie gebeure bevestig dat ons toenemend, soos die politieke ontleder Piet Croucamp al in Vrye Weekblad opgemerk het, besig is om Suid-Afrika se politieke skikking van 1994 weer te bekyk. Die verreikendste van hierdie “herbesoeke” aan ons sosiale kontrak is seker die debat oor grondonteiening sonder vergoeding. Voeg hierby die kommer wat heers oor die Regterlike Dienskommissie se oorsig oor regters (die Hlope-sage), die regering se skynbare institusionele onvermoë om staatskaping te verhoed en beveg, en die openbare “ontwaking” oor voortgesette bevoorregting en ongelykheid volgens ras en geslag.

Die sosiale kontrak van die 1990’s vind neerslag in verskeie staatsvormende verskuiwings: Daar was Kodesa en die Veelparty-onderhandelingsforum, die Interim Grondwet, die stigting van die Konstitusionele Hof, die regering van nasionale eenheid en die finale Grondwet van 1996.

Maar die skikking wat die Nuwe Suid-Afrika ingelui het, was nie bloot ’n magsoorgang nie. Dit het ook veronderstel dat die grondwetlike bestel die land oor tyd na ’n beter bedeling sou stuur, veral deur die infasering van fundamentele waardes soos gelykheid en menswaardigheid.

Die tyd is daarom nie net ryp om ’n nasionale diskoers oor ons staatsregtelike skikkings te hê nie, maar ook om die kultuur van oppervlakkige oorgangspolitiek om te skakel na diep demokrasie vir individue én gemeenskappe.

Suid-Afrikaners het al skikkende die fondamente van die nuwe staat gelê. In die 1990’s is die politieke kultuur verander van ’n outoritêre zero-som na onderhandelingspolitiek. Cyril Ramaphosa en Roelf Meyer se onderhandelingsmetodiek het telkens om groot kompromieë gedraai wat deur talle geprys, maar ook met ’n skeptisisme bejeën is, soos deur die oud-NI-hoof, Neil Barnard, in sy boek Vreedsame revolusie.

Een van die onderwerpe waaroor Barnard besin, is die skikkingsgesprek oor taal in die nuwe Suid-Afrika. Dit is welbekend dat die ANC, op die ironiese wyse van ander Suider-Afrikaanse bevrydingsbewegings, die voormalige koloniale oppergesag se taal as nasionale amptelike taal aangehang het. Engels was lankal reeds die kommunikasiemiddel van die ANC en inderwaarheid die groter bevrydingsbeweging, te wete die vakbonde en die SAKP, maar die gebruik van Engels as taal van die vryheidstryd was nie slegs weens die oorspronklike SAKP se identiteit as ’n “wit, nie-Afrikaanssprekende beweging” nie. Die ou geslag swart nasionalistiese intellektuele het ’n welbekende affiniteit vir die Engelse taal en kultuur gehad. Tembeka Ngcukaitobi vertel in sy boek The land is ours (2018) hoe die amaRespectables soos Pixley ka Seme, George Montsioa, Alfred Mangena, Richard Msimang en Ngcubu Poswayo in die eerste helfte van die 20ste eeu aan Engelse sendingskole en Britse universiteite opgevoed is.

.....

“Oorgangspolitiek bied estetiese oplossings vir baie meer komplekse probleme en plak pleisters sodat die wonde weggesteek is. Dit is egter nie vitamien E-olie wat die sny help gesond maak, die vel laat teruggroei en gesondheid laat floreer nie.”

.....

Die meeste van hierdie mans was deel van Suid-Afrika se eerste korps swart regsgeleerdes, en het ’n weergawe van die Engelse gentleman-kultuur na swart gemeenskappe in Suid-Afrika gebring. Die hegemoniese Engelse standaarde van Britse kolonialisme het oplaas ook hul weg gevind na die nuwe klas swart intellektuele wat in die koloniale moedernasie opgevoed is. Die ANC het, ten spyte van hul identiteit as ’n swart nasionalistiese beweging, van meet af reeds Engelsheid as ’n tipe sametrekkende standaard aangeneem wat swart mense bo-oor etniese en taal verskille kon saamsnoer.

Vir die ANC was veeltaligheid nog nooit ’n hulpbron of die onderwerp van ’n mensereg nie. Vir die ANC was taal nog altyd ’n probleem.

Engels is in die Suid-Afrikaanse bevrydingspolitiek gebied, want die taal het nie slegs vir gemaklike politieke onderskeiding met Afrikaner-nasionalisme se monopolisering van Afrikaans gesorg nie, dit het ook tred gehou met die ANC se institusionele geskiedenis as breinkind van Brits-opgevoede regslui. Gevolglik is die Zoeloe-tradisionalisme van oudpresident Jacob Zuma eintlik ’n buiteperdverskynsel.

Die onderhandelingspolitiek wat Suid-Afrika tot vandag toe kenmerk, het sy voordele. Maar die onderhandelings oor taal het presies die beperkinge van hierdie tipe politiek blootgelê.  Die Nasionale Party het gepoog (volgens Neil Barnard nie op ’n baie strategiese wyse nie) om Afrikaans se plek as amptelike taal te behou. Op aanbeveling van Neville Alexander was daar die moontlikheid van ’n “2 plus 2”-uiteinde: Engels, Afrikaans, een Nguni-taal en een Sotho-taal. Maar hiermee was die ANC nie tevrede nie, waarskynlik omdat dit vir sommige na Zoeloe-oorheersing geruik het. Ter elfder uur het die partye op die esteties indrukwekkende maar prakties bevraagtekenbare 11 amptelike tale besluit.

.....

“Dit is waarom ons op Maties besig is om die waters te toets vir organiese bewusmaking en mobilisering op ’n veeltalige streekskampus. Hierdie universiteit is ’n goeie voorbeeld van ’n plek wat vensterversierings en lippediens aan veeltaligheid gee, en wat aandring dat studente nie in Afrikaanse studie belang stel nie.”

.....

Die sterkpunt van die onderhandelingspolitiek was, in hierdie verband, om vir al die partye te gee wat hulle wil hê. Die 11 amptelike tale stel gelykheid aan die wêreld ten toon en gee ’n grondwetlike status aan elkeen van ons 11 grootste streektale. Maar die swakpunt is dat die skikking nie diep demokrasie – die vestiging en uitbou van fundamentele regte oor tyd – kon verseker nie.

Oorgangspolitiek bied estetiese oplossings vir baie meer komplekse probleme en plak pleisters sodat die wonde weggesteek is. Dit is egter nie vitamien E-olie wat die sny help gesond maak, die vel laat teruggroei en gesondheid laat floreer nie. Wat veeltaligheidsbestuur in Suid-Afrika betref, het die oorgangspolitieke skikking geen bolwerk teen Engelstalige oorheersing op alle vlakke van die samelewing gebied nie. Die ANC (wan)bestuur ’n de facto- eentalige staat en doen geen moeite met veeltaligheid nie. Hulle kritiseer en breek dit eerder af. Dit was in elk geval nooit deel van hul politieke DNS nie. Hulle weet ook goed dat die impak van globale Engelssprekende kapitaal veroorsaak dat taalregte baie laag op mense se agendas is.

Daar word dikwels ook heel sinies gesê dat die nasionale verengelsing wat op die taalskikking gevolg het, bloot realpolitik is waarsonder ons gaan sukkel om ’n verdeelde samelewing ietwat bymekaar te hou.

Ek verwerp egter hierdie sinisme oor die integriteit van ons samelewing. Nie net kan Suid-Afrikaners diversiteit hanteer en selfs geniet nie, maar ons staan op baie wankelrige pilare as ons verstandhouding vir altyd gaan wees dat kulturele en taaluniekheid onderdruk en beperk moet word om ewige konflik te voorkom.

.....

“Die [Matiestudente] met wie ek werk, vertel ... rillerverhale van akademiese en steundienstepersoneel wat weens ‘opdragte van bo’ die laaste bietjie akademiese Afrikaans uitdryf.”

.....

Vir diep taaldemokrasie om te seëvier moet ons besef dat skikkingspolitiek nie gaan help om veeltaligheid proaktief aan te moedig en totale verengelsing hok te slaan nie. Taalaktiviste sal veel groter protesstappe moet doen om aan te dring op meer as net ’n afgewaterde estetiese veeltaligheid.

Dit is waarom ons op Maties besig is om die waters te toets vir organiese bewusmaking en mobilisering op ’n veeltalige streekskampus. Hierdie universiteit is ’n goeie voorbeeld van ’n plek wat vensterversierings en lippediens aan veeltaligheid gee, en wat aandring dat studente nie in Afrikaanse studie belang stel nie.

Asof Matiestudente ’n werklike keuse het, te midde van die tekort aan institusionele verskansing teen die oordrewe materiële oorheersing van globale Engelstaligheid.

Die studente met wie ek werk, vertel buitendien rillerverhale van akademiese en steundienstepersoneel wat weens “opdragte van bo” die laaste bietjie akademiese Afrikaans uitdryf. As ons diep taaldemokrasie wil hê, moet dit self deur die mense van onder ontwikkel word. Ons kan nie onderhandelaars vertrou om meer as net tydelike oplossings te bied en oorgangspolitiek te beoefen nie.

  • 3

Kommentaar

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Die politici het vir die kiesers gelieg tydens die oorgang van 1994. Ook met die 1992 referendum. ’n Suksesvolle politikus is ’n suksesvolle leuenaar. Baie mense het op die leuens ingekoop. Dit help nie veel help om vandag te kla oor die oorheersing van Engels nie. Dit is wat die land se mense gekies het. Een nasie met een taal. Of hulle dit nou eers besef of nie, dit is waarvoor hulle gestem het.

  • Indien ons Afrikaans wil uitbou, sal ons verby die formele strukture moet werk. Soos die artikel meld, sal die grondwet ons nie red nie. Grondwette was nog nooit in staat om drastiese sosiale strominge te temper nie – te vertraag, ja, maar nie te verander nie. Dit is juis een van my punte van kritiek op die onderhandelinge en die model grondwet. Dit was kinderlik naïef om te dink dat die grondwetlike waarborge en reëls die onderlinge strominge sou kon in toom hou. Daarvoor was praktiese teenvoeters nodig – soos ’n mate van beheer oor die weermag en regstelsel, die betrokkenheid van groot oorsese moondhede wat vergrype sou kon hokslaan. Niks hiervan is gedoen nie.

  • Avatar
    Theodorus du Plessis

    En die enkelinge wat nog probeer om taaldemokrasie “van onder [te] ontwikkel” word natuurlik meestal as ultra- [noem maar op] gestigmatiseer. Natuurlik omdat hulle meestal Afrikaanstalig is en dus uit ’n bepaalde linguistiese kultuur kom; die een wat van die onderhandelaars by Kemptonpark in die Grondwet probeer inskryf het en natuurlik mee misluk het. Terwyl ons hele grondwetlike skikking skynbaar nou weer oop is vir heronderhandeling sou ’n mens dan tog maar van die “beter” voorstelle wat destyds weens populisme van die tafel gevee is, dalk weer wou afstof. Van hulle hou dalk meer belofte in vir die vestiging van ’n taaldemokrasie in Suid-Afrika, maar ai, dan moet ons ou koeie uit die sloot grawe en gaan ons al die met-diepe-skuld-belaaides aan veral Maties oneindig ontstig. Maar dit is darem seker nie te erg nie, of hoe?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top