
...
Heiligmaking het die groot nadeel dat ondersteuners baie onverdraagsaam reageer op enige opponent van die slagoffer.
...
Charles James Kirk (31), die stigter van die Turning Point USA, was ’n polities konserwatiewe aktivis met ’n sterk fundamentalistiese christelike boodskap en is na bewering op 10 September 2025 in ’n sluipmoord geskiet deur Tyler Robinson op die kampus van die Utah Valley-Universiteit. Hy was besig met ’n landswye toer, The American Comeback Tour, en het ’n unieke manier van debat gehad om studente en jongmense weer in die politiek geïnteresseerd te kry. In die proses was sy christelike beskouings ’n integrale deel van sy “Prove me wrong”-benadering.
Die sluipmoord op die Amerikaanse konserwatiewe politieke aktivis en sosiale-media-beïnvloeder Charlie Kirk, en die skokmoord op die Suid-Afrikaanse likwidasieprokureur Bouwer van Niekerk, vervul mens tegelyk met skok en afgryse. In beide die VSA en Suid-Afrika is daar hopeloos te veel moorde en massamoorde, maar die skokdood van hierdie twee bekendes veroorsaak dat samelewings tot stilstand geruk word en verplig word om na te dink. Die sosiale media kan in sy oordeel soms baie wreed wees, soos ons sien met die opponente van Charlie Kirk en in die geval van Bouwer van Niekerk, die geweldige negatiewe reaksie op die staatsmasjinerie om misdaad en korrupsie aan bande te lê.
In hierdie artikel word daar nie op die diagnose van die sluipmoord of blatante moord gefokus nie; daar is nog te veel inligting uitstaande en die polarisasie en opkomende komplotteorieë is reeds aan die ontwikkel! Ek wil eerder kyk na die langertermynimpak van wat hier gebeur het en hoe ’n proses van kanonisering in baie gevalle rondom persoonlikhede soos Charlie Kirk plaasvind.
Politieke kanonisering of heiligmaking
Kanonisering of saligmaking is ’n kerklike proses in veral die Roomse tradisie waar iemand oor ’n periode tot heilige verklaar word. In die politiek is daar nie plek vir heiliges nie, maar prosesse speel dikwels af ná die onnatuurlike dood van ’n gewilde persoon. ’n Paslike voorbeeld is prinses Diana, wat in ’n motorbotsing gesterf het, maar na haar dood ’n baie groter aanhang ontwikkel het en die Britse koningshuis baie meer beïnvloed het om te verander as toe sy ’n jong en gewilde prinses was. Sedert die Eerste Wêreldoorlog het verskeie politici en bekendes in sluipmoorde gesterf en van die bekendstes sluit in die aartshertog Franz Ferdinand (1914), president John F Kennedy (1963), Malcolm X (1965), Hendrik Verwoerd (1966), Robert F Kennedy (1968), Martin Luther King (1968), president Salvador Allende (1973, amptelik as selfmoord aangeteken), lord Louis Mountbatten (1979), John Lennon (1980), president Anwar Sadat (1981), premier Indira Gandhi (1984), premier Olof Palme (1986), premier Rajiv Gandhi (1991), Chris Hani (1993), premier Yitzhak Rabin (1995), Benazir Bhutto (2007) en premier Shinzo Abe (2022). Daar was ook dien mislukte sluipmoord op Donald Trump (2024).
Hoe lyk so ’n politieke heiligmakingsproses? Ondersteuners word oorweldig deur die media met boodskappe van steun en bevestig die status wat die persoon gehad het. Veral word klem gelê op die moed van sy of haar oortuiging. Tweedens word die media oorweldig met boodskappe van ondersteuners en opponente en word daar vir dae net op die gebeure gefokus. Die begrafnis word ’n tweede reusegebeurtenis en dit is hier waar die beeld en die polities-sosiale kapitaal gevorm word. Historiese beelde word vasgelê, soos die saluut van ’n driejarige John Kennedy by sy pa, JF Kennedy, se graf. Vind hierdie kanonisering in die Kirk-geval plaas? Onteenseglik in die Amerikaanse samelewing en vanuit polities konserwatiewe, evangeliese en MAGA-kringe word Charlie Kirk reeds uitgewys as ’n verenigende simbool, nie net vir die Republikeine nie, maar vir alle konserwatiewe christene.
Wat is die nagevolge van sluipmoorde?
Komplekse gebeure. Sluipmoorde op prominente mense genereer voorspelbare, maar komplekse gebeure en dit strek oor godsdienstige, politieke, juridiese en kultureel-etniese grense. Elkeen van die prominente politici, of andersins, het egter ’n unieke voetspoor gelaat en die konteks daarvan is bepaal deur die slagoffer se prominensie en sy motiewe en steun. Histories was daar die volgende tipiese reaksies na ’n sluipmoord. Daar was onmiddellike skok, afgryse en openbare uitstorting van bedroefnis / hartseer. Emosionele tonele het afgespeel en verskeie instansies het daaraan deelgeneem. ’n Onverdraagsaamheid onder ondersteuners verhoog die latente polarisasie ten opsigte van die mense wat as opponente van die slagoffer geïdentifiseer is. Doxxing het in die Kirk-reaksie posgevat – ’n proses waar teenstanders van die slagoffer se name en persoonlike besonderhede bekend gemaak word op sosiale media.
Rol van die sosiale media. Die media beleef ’n storm en die sosiale-media-platforms word oorweldig met boodskappe van verlies en woede. In Kirk se geval het sommige platforms disfunksioneel geraak met al die pogings om boodskappe te stuur en spekulasies te deel, en komplotteorieë was vroeg deel van die patroon. Benewens die versadiging van die hoofstroommedia, het die sosiale-media-platforms die ongefiltreerde boodskappe verder gedra. Amptelike aankondigings sou gou volg en president Trump het onmiddellik die hoogste Amerikaanse orde, die Presidential Medal of Freedom, postuum aan hom toegeken en vlae het halfstok gehang.
’n Volgende stap in baie gevalle was reaksie deur die polisie of owerhede om die skuldiges vas te trek. In Kirk se geval was dit ’n jong man van 22 wat met sy oupa se Mauser K98 in .30-06-kaliber die skoot geskiet het, maar dit het Trump en andere nie daarvan weerhou om die Demokrate en die linkse aktiviste as die gevaar vir Amerika uit te wys nie.
Opvolging. Met politici is opvolging altyd die groot uitdaging, maar met Charlie Kirk het sy weduwee, Erika Kirk, besluit om met sy Turning Point USA-organisasieveldtogte voort te gaan.
Die regsproses. Die regsproses is ook van kardinale belang en dikwels word die sluipmoordenaar ook gedood en dan ontstaan daar vrae wat niemand kan beantwoord nie. Ons ken die bekende komplotteorieë rondom JF Kennedy, HF Verwoerd, Chris Hani en andere. Daar word reeds vrae gevra oor die rol van die sogenaamde Deep State. In die geval van Charlie Kirk sal die verdagte deur ’n verhoor moet gaan en sal die motief vir die moord in alle waarskynlikheid vasgestel word.
Politieke polarisering. ’n Ernstige gevolg van ’n sluipmoord is die politieke polarisering wat dit veroorsaak en die gepaardgaande ideologiese spanningsvelde wat ontstaan. Beskuldigings word wyd en generies gemaak en verwyte word onverantwoordelik rondgeslinger op veral die sosiale media. Ondersteuners gee in ’n kort tydjie martelaarstatus aan die oorledene en so begin ’n proses van politieke heiligmaking. Dit het onder andere gevolg op die sluipmoord op Martin Luther King jr. Die feit dat blaam op mense en groepe geplaas word veroorsaak ook politieke spanning, soos tans gesien kan word dat ’n generiese groep woke ondersteuners die blaam moet dra vir Kirk se dood. In die geval van Indira Gandhi se sluipmoord het duisende Sikhs omgekom in ’n bloedige anti-Sikh-veldtog. Sluipmoordslagoffers bied ook baie geleentheid om polities te mobiliseer. Dit sien ons tans met Kirk en dit was ook sigbaar met die bomdood van lord Mountbatten, toe die IRA die tragiese gebeure gebruik het om fokus op hulle politieke eise te stel.
President Trump en sy politieke binnekring het reeds op die dood van Charlie Kirk begin teer deur aanvalle op sogenaamd liberale instellings, skenkers en stigtings, deur hulle te brandmerk as verraaiers wat eintlik vir die dood van Kirk verantwoordelik is.
Historiese en kulturele effek. Die historiese en kulturele effek wat ’n sluipmoord het, moet ook in berekening gebring word. Standbeelde word opgerig, hoogste toekennings word gemaak en spesiale dae word opsy gesit om die gevalle held te vereer. Chris Hani se dood word steeds elke jaar herdenk en elke jaar is dit duidelik dat sy dood groot oop politieke wonde gelaat het.
Politieke verandering. Sluipmoorde kan ook beleidsveranderinge stimuleer en dit was ’n duidelike uitkoms van die dood van beide Anwar Sadat en Yitzhak Rabin, wat enige verdere vredesonderhandelinge in die Midde-Ooste op die lange baan geskuif het. Kirk se dood gaan beslis bydra tot groter kulturele polarisasie in die VSA. In hierdie konteks word die mitologisering van die slagoffer baie vinnig ontwikkel, soos gesien kon word met Indira Gandhi en Martin Luther King en tot ’n mate president JF Kennedy ook. Die mitologisering lig die slagoffer uit enige kontroversie en daardeur kry sy optrede meer en meer die karakter van ’n urban legend (’n stadslegende, dalk?), en so begin die pad na heiligmaking.
Heiligmaking het die groot nadeel dat ondersteuners baie onverdraagsaam reageer op enige opponent van die slagoffer. Dit sien ons aanhoudend ten opsigte van Charlie Kirk uitspeel, met die doxxing van sy kritici op sosiale media.
Wat is die langtermyneffek van ’n sluipmoord?
Die eerste is die afbreek van vertroue in die staat en staatsagentskappe en dit word sterk gedryf deur komplotteorieë en vals nuus. In die era van die sosiale media en die oombliklikheid van nuus, het vals nuus ’n baie prominente posisie. Daar is ook dikwels verhoogde veiligheidsmaatreëls rondom belangrike persone en in uiterste gevalle het dit aan kommunale konflik en burgeroorlog gegrens. Dit was veral duidelik in Pakistan en Indië na die sluipmoorde op Indira Gandhi en Benazir Bhutto.
Ten slotte
Die politieke saligmaking van Charlie Kirk is in volle swang in ’n gepolariseerde Amerika, waar die volgelinge van Kirk, en by verstek die MAGA-ondersteuners, die morele hoë grond probeer domineer en die Demokrate en hulle sogenaamde links-radikale meelopers die vyand geword het. Kirk word reeds beskou as ’n martelaar vir vryheid van spraak en christelike waardes en vir sy anti-woke-aktivisme. Hieruit gaan nog baie politieke munt geslaan word. Soos ons reeds gesien het hoe Trump sy mislukte sluipmoord in ’n groot oorwinning omgeskakel het, so kan daar verwag word dat Charlie Kirk se tragiese dood in 2026 se middeltermynverkiesing ’n groot rol kan speel en dalk reeds JD Vance ’n groot voordeel besorg het in 2028 se presidensiële verkiesing.
Lees ook:
Wat sê Bettina? Regse op regse geweld in Charlie Kirk se sluipmoord
Persverklaring: PEN Afrikaans veroordeel die sluipmoord op Bouwer van Niekerk ten sterkste


Kommentaar
Op die oog af het die jeug nie langer erg aan kerk, politici en megalomanie nie. Die stembus en die posbus is 'n bietjie gister. Kirk het aktief daaraan gewerk om asem te blaas in 'n stelsel wat duidelike grense neerlê vir hulle met die mag om hul toutjies in die openbaar te trek. [Mens kan seker net spekuleer.]
Die doodskoot het wel tydelike lewe en effense oplewing in n andersins dooie perd geblaas, maar dit is sommer gou weer vergete. Die jeug is besig met 'n Skolstrejk för klimatet.
Samewerking.
My hipotese is dat danksy die ingeboude feedback loop van Gaia, meer bewussyn die speelveld eksponensieel sal binnevloei en al minder boelies voortaan gaan wegkom met 'n geknoei. Minder is nodig vir jin en jang. Ou stelsels gaan verdrink in die see.
Ek hou styf duim vas vir elkeen se regmatige plekkie onder die son.