- Johann Rossouw skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Die opstel “Rusland is Europa se Rorschach” deur Emmanuel Todd is uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw. Die vertaalde teks verskyn met Emmanuel Todd se toestemming.
Vertalersinleiding
Rondom 11 Augustus verklaar Jeffrey Sachs, direkteur van Columbia-universiteit se Sentrum vir Volhoubare Ontwikkeling, in ’n video-onderhoud dat wat hy geheel en al onbegryplik vind, is dat geen Europese leier vra wat die Amerikaansgeleide Weste se aandeel in die oorlog in Oekraïne is nie. Sachs vind dit eweneens verbysterend dat Rusland konsekwent deur feitlik alle Europese politieke leiers gedemoniseer word sonder dat daar veel blyke van ’n ernstige Europese wil is om die konflik te beëindig.
In onderstaande opstel bied Emmanuel Todd ’n verklaring vir hierdie Europese blindheid jeens Rusland. In die verlenging van sy tese dat die verbrokkeling van nasionale identiteite in die meeste Westerse state lei tot geopolitiese stiksienigheid en ’n onvermoë om die werklikheid onder oë te sien, voer hy in hierdie opstel aan dat wat in veral Frankryk, Duitsland en Brittanje deur die politieke elite oor Rusland voorgehou word, veel meer oor daardie elites as oor Rusland sê – nes ’n persoon wat aan psigiese versteuring ly, in ’n Rorschach eerder iets oor sigself as oor die Rorschach-beeld sien.
*
........
Dit gaan vir u onaangenaam wees om dit te hoor, maar ons Russofobie het niks met u te make nie. Dis ’n fantasie, ’n patologie van die Westerse samelewings, ’n eie noodsaak om ons ’n Russiese monster te verbeel.
........
Terwyl ek April vanjaar deur ’n Russiese TV-stasie uitgevra is oor Westerse Russofobie, het daar skielik vir my ’n lig opgegaan. Ek het min of meer soos volg geantwoord: Dit gaan vir u onaangenaam wees om dit te hoor, maar ons Russofobie het niks met u te make nie. Dis ’n fantasie, ’n patologie van die Westerse samelewings, ’n eie noodsaak om ons ’n Russiese monster te verbeel.
Vir die eerste keer sedert 1993 weer in Moskou ervaar ek toe ’n skok van normaliteit. My gebruiklike aanduiders – syfers van geboortesterftes, selfmoord en moord – het, sonder dat ek my van Parys versit het, vir my aangetoon dat Rusland sigself sedert die agterlating van die kommunisme gered het. Maar om Moskou tot so ’n mate as normaal te beleef was veel meer as wat ek my kon indink. Net daar had ek toe die ingewing dat ons Russofobie ’n siekte is.
Dié ingewing los allerlei vraagstukke op. Ek het byvoorbeeld hardnekkig besluit om in te gaan op die wortels van die hardnekkigste van alle Russofobieë, naamlik die Engelse Russofobie. Die botsing tussen die Britse en Russiese ryke in die 19de eeu skyn so ’n benadering te regverdig. En dit terwyl Groot-Brittanje en Rusland tydens die twee wêreldoorloë bondgenote was wat hul oorlewing in die Tweede Wêreldoorlog aan mekaar te danke het. Van waar dan soveel haat?
Die geopsigiatriese hipotese verskaf aan ons die oplossing. Die Engelse samelewing is die mees Russofobiese – doodeenvoudig omdat dit die siekste samelewing van Europa is. Synde beide die vernaamste akteur én slagoffer van die ultraliberalisme het Engeland uiteindelik die ernstige simptome vertoon – ineenstorting van universiteite en gesondheidsdienste; ondervoeding van bejaardes; en moenie vergeet van Liz Truss nie, die kortstondigste en gekste van Britse premiers – ’n vervlietende lugspieëling in die land van Disraeli, Gladstone en Churchill. Wie sou die tuimeling van belastinginkomste sonder die veiligheid van ’n geldeenheid wat nie slegs nasionaal is nie, maar ook imperiaal, oftewel die wêreld se reserwegeldeenheid was, kon voorspel het? Trump doen wel ook net wat hy wil met sy begroting, maar hy stel nie die dollar in gevaar nie. Altans nie tans nie.
Binne ’n kwessie van dae het Truss Macron op die treffersparade van Westerse absurditeit onttroon. Ek moet bely dat ek veel verwag van die nuwe Duitse Bondskanselier, Friedrich Merz, wie se potensiaal vir anti-Russiese strydlustigheid Duitsland bedreig met veel meer as ’n monetêre ineenstorting. Die vernietiging van Rynrivier-brûe deur Oresjnik-missiele? Ondanks Franse atoombeskerming? In Europa is dit nou elke dag karnaval.
Met Frankryk gaan dit nou al hoe slegter – met sy politieke stelsel geblokkeer, sy ekonomiese en maatskaplike stelsels op krediet en sy geboortesterftesyfer aan die klim. Ons bloei. En siedaar, ’n stygende Russofobie. Macron, die opperbevelvoerder van die weermag en hoof van die Franse buitelandse intelligensiediens, hef die koortjie aan: “Frankryk is Rusland se voorste vyand.” ’n Mens sou dink jy droom. Ons militêre en industriële niksseggendheid maak van Frankryk die minste van Rusland se bekommernisse, wat meer as goed besig is met hul wêreldwye botsing met die VSA.
.......
Die feit bly dat hul openbare, vrye uitdrukking van hul Russofobie ’n skat vir die geopsigiater is.
.......
Laasgenoemde Macroniaanse absurditeit maak ’n toevlug tot die geopsigiatrie onontbeerlik. ’n Diagnose van erotomanie is onvermydelik. Erotomanie is die merendeels (maar geensins uitsluitlik nie) vroulike toestand wat maak dat die een wat daaraan ly, dink hy of sy is alom begeerd en, sal ons sê, bedreig deur die penetrasie van al die mans in die omgewing. Russiese penetrasie bedreig ons; dus …
Ek moet my onwilligheid om Macron voor stok te kry bely (terwyl andere hulle goed daarmee besig hou, ondanks die algemene joernalistieke onderdanigheid). Gelukkig vir my is ons opnuut voorberei vir die Franse president se onlangse toespraak vir ons nasionale dag, 14 Julie, deur twee soldaatjies van die huidige regime, te wete, Thierry Burkhard (hoof van die generale staf) en Nicolas Lerner (hoof van buitelandse intelligensie). Ek is geen grondwetkenner nie en weet dus nie of dit iets goeds vir die demokrasie voorspel as die bestuurders van die staat se legitieme geweld die luggolwe beset in ’n mediakonferensie (Burkhard) of angstige gerammel op die TV-stasie LCI om by voorbaat Franse buitelandse beleid daar te bepaal nie.
Die feit bly dat hul openbare, vrye uitdrukking van hul Russofobie ’n skat vir die geopsigiater is. Ek het hieruit twee wesenlike insigte oor die gemoedstoestand oor die Franse leiersklas afgelei (welke uitsprake deur die grootste gedeelte van die politieke en joernalistieke kringe, oftewel die klas wat ons lei, as normaal ontvang is).
.......
Ons leiers het hul land nie meer lief nie. Vir hulle gaan herbewapening nie soseer oor Frankryk se veiligheid nie, maar eerder oor diens aan ’n ontbindende ryk wat, nadat dit eers die Oekraïners en toe die Israeli’s in die aanslag op die wêreld van soewereine volkere gewerp het, hulself nou daarop voorberei om die Europeërs te mobiliseer om wanorde in Eurasië te saai.
.......
Laat ons eerstens luister na Burkhard. Ek verwys na die transkripsie van die dagblad Le Figaro met sy ooglopende tekortkominge. Ek verander nie ’n woord nie. Hoe omskryf ons hoof van die generale staf Rusland en die Russe? “Dis ook danksy die vermoë van hul bevolking om vas te byt, om uit te hou, selfs al is die situasie ingewikkeld. Maar hier het ons ook geskiedkundig en kultureel te make met ’n volk wat in staat is om dinge te deurstaan wat bowendien vir ons onvoorstelbaar is. Dis ’n belangrike aspek van hul weerstand en hul vermoë om hul staat te ondersteun.” My vertaling: Russiese patriotisme is vir ons militaris ondenkbaar. Dis nie soseer Rusland waarvan hy praat nie, maar van hom en sy naasbestaandes. Hy weet nie, hulle weet nie, wat patriotisme is nie. Danksy dié fantasie oor Rusland ontdek ons waarom Frankryk sy onafhanklikheid verloor het; waarom, synde by Navo geïntegreer, Frankryk ’n gevolmagtigde van die VSA geword het. Ons leiers het hul land nie meer lief nie. Vir hulle gaan herbewapening nie soseer oor Frankryk se veiligheid nie, maar eerder oor diens aan ’n ontbindende ryk wat, nadat dit eers die Oekraïners en toe die Israeli’s in die aanslag op die wêreld van soewereine volkere gewerp het, hulself nou daarop voorberei om die Europeërs te mobiliseer om wanorde in Eurasië te saai. Frankryk is ver van die front. Wat ons sending as gevolmagtigdes betref: As Duitsland ’n Hezbollah is, is ons die Houthi’s van die Empire.
Kom ons beweeg aan na Nicolas Lerner wat sy naam op die TV-kanaal LCI met ’n plank slaan. Dit lyk of die man in intellektuele ellende verkeer. Om Rusland as ’n eksistensiële bedreiging vir Frankryk te beskryf … met ’n dalende bevolking, reeds te klein vir sy 17 miljoen vierkante kilometer. Slegs ’n senulyer kan glo dat Poetin Frankryk wil inval. Rusland vanaf Wladiwostok in sy verre ooste tot Brest in die weste van Frankryk? In sy ellende is Lerner nietemin nuttig om die mentaliteit van die mense wat ons na die afgrond toe sleep te verstaan. Hy sien ’n imperialistiese Rusland waar dit nasionalisties is, vurig verbind tot soewereiniteit. Hy reken die Nuwe Rusland tussen Odessa en die Donbas is eenvoudig die Elsas-Lotharinge van die Russe. Wie sou die Frankryk van 1914 wat gereed is om die Duitse Ryk te weerstaan en te veg om sy verlore provinsies terug te kry as imperiaal beskryf? Burkhard verstaan nie patriotisme nie; Lerner verstaan nie die nasie nie.
.......
Dis wanneer hulle oor Rusland praat dat ons Franse, Britse, Duitse of Sweedse leiers vir ons sê wie hulle is. Russofobie is gewis ’n patologie. Maar Rusland het bowenal ’n formidabele projeksietoets geword.
.......
’n Eksistensiële bedreiging vir Frankryk? Ja, natuurlik; hulle voel dit aan – en hulle is reg – in Rusland. Maar dis in hulself waar hulle moet soek. Die bedreiging is dubbeld. Bedreiging nommer een: Ons elites het hulle land nie meer lief nie. Bedreiging nommer twee: Hulle stel ons land in diens van ’n buitelandse moondheid, die VSA, sonder om ooit ons nasionale belange in ag te neem.
Dis wanneer hulle oor Rusland praat dat ons Franse, Britse, Duitse of Sweedse leiers vir ons sê wie hulle is. Russofobie is gewis ’n patologie. Maar Rusland het bowenal ’n formidabele projeksietoets geword. Sy beeld is soortgelyk aan die vlakke van die Rorschach-toets. In psigiatrie beskryf die subjek wat hy in die onsekere, simmetriese patrone sien. En so projekteer hy die versteekte elemente van sy persoonlikheid. Rusland is ons Rorschach.
Lees ook:
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor Israel se gewelddadige nihilisme – van Gaza tot Iran
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Donald Trump en ’n nuwe wêreldorde?