
Boekomslag: https://praag.tv/products/die-ommegang-deur-jan-van-aken
Die ommegang
Jan van Aken
Uit die Nederlands vertaal deur Dan Roodt
Dainfern: Praag-uitgewery, 2025
Inleiding: Samizdat
In die voormalige Sowjet-unie en sy sogenaamde satellietstate – ook bekend as die Oosbloklande – was ’n beroemde strategie om die streng sensuur teen te werk, dié bekend as samizdat, wat die Russiese woord vir “selfpublikasie” is. In wese het dit daarop neergekom om verbode publikasies met verskillende handtegnieke te reproduseer en in die geheim te versprei.
Gedurende wat stellig die onderdrukkendste fase van die apartheidsbedeling was, naamlik vanaf die middel 1970’s tot die laat 1980’s, het iets soos die Afrikaanse (en plaaslike Engelse) weergawe van samizdat voorgekom in die vorm van talle selfgepubliseerde literêre tydskrifte, oftewel little magazines, met titels soos Ensovoort, Graffier, Stet, Karring en Kabelkarnimfe. Dit is sekerlik ook nie vergesog nie om aan te voer dat hierdie tydskrifte met hul rebelsheid, pretensieloosheid en sin vir selfdoen ’n plaaslike literêre vorm van die tydgenootlike punks in die destydse Brittanje was: Die establishment was die teiken en geen koei te heilig om geslag te word nie.
Dan Roodt (1957– ) is een van die Afrikaanse skrywers wat in die laat 1970’s en 1980’s naam begin maak het met werk in van hierdie tydskrifte. Roodt se rebelse punkhouding is goed verwoord deur die titel van sy debuutroman, Sonneskyn en Chevrolet (Taurus, 1980); soos ook die titel van sy eerste en enigste poësiebundel, Kommas uit ’n boomzol (Uitgewery Pannevis, 1980) wat DJ Opperman se laat meesterwerk, Komas uit ’n bamboesstok (1979), satiriseer.
Roodt het sedert hy PRAAG, oftewel die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, in 2000 gestig het heelwat energie in sy politieke aktivisme gestort, wat hom soms erge openbare kritiek op die hals gehaal het. Nietemin gaan hy vanaf die vroeë 2000’s stellig in dieselfde alternatiewe gees as waarmee hy sy literêre loopbaan begin het, voort om deur middel van die uitgewersbeen van PRAAG die een ná die ander prikkelende publikasie die lig te laat sien, wat allermins as hoofstroom beskryf kan word, maar tegelyk onteenseglik die Afrikaanse literêre horison verruim. Wat oorspronklike Afrikaanse publikasies deur PRAAG betref, is Kleinboer se debuutroman, Kontrei (2003), ’n baken in die Afrikaanse letterkunde. Terselfdertyd verskyn die een ná die ander Afrikaanse vertaling van prominente en minder prominente Europese skrywers ook sporadies by Praag-uitgewery, waaronder Albert Camus se Die buitestaander (2004) en Günther Grass se Kreeftegang (2005).
Nadat Praag-uitgewery se laaste gepubliseerde vertaling in 2016 die lig gesien het, naamlik Jean-Philippe Toussaint se Die badkamer, verloop ’n volle nege jaar voor die uitgewery weer in 2025 twee vertalings uitgee, naamlik Fransi Phillips se vertaling van Joseph Conrad se Hart van duisternis en toe, laat in 2025, Roodt se vertaling van die Nederlandse romansier, Jan van Aken, se 2018-roman, Die ommegang, wat in die Afrikaanse weergawe ’n volle 742 bladsye bestaan.
Oorsig oor Die ommegang
........
Die ommegang speel af in die laat 1300’s en vroeë 1400’s, oftewel in Europa se laat-Middeleeue, wat ’n tyd was waartydens die eerste beroeringe voorkom wat uiteindelik die weg sou baan vir die oorgang vanaf die tradisionele wêreld na die moderniteit – ’n soort samelewing wat vanaf aanvang in die 1500’s tot vandag intens omstrede is
........
Die ommegang speel af in die laat 1300’s en vroeë 1400’s, oftewel in Europa se laat-Middeleeue, wat ’n tyd was waartydens die eerste beroeringe voorkom wat uiteindelik die weg sou baan vir die oorgang vanaf die tradisionele wêreld na die moderniteit – ’n soort samelewing wat vanaf aanvang in die 1500’s tot vandag intens omstrede is.
Die boek vertel die verhaal van Isidoor van Rillington, ’n begaafde proto-moderne wetenskaplike, polimaat en poligloot wat verskeie wetenskappe en tale baasraak; praktiseer as geneesheer op verskillende plekke in Europa en Asië; en droom daarvan om uiteindelik ’n meesterbouer te word in ’n era toe die rol van argitek en bouer nog nie geskei was soos dit vandag is nie.
Wat die tegniese en strukturele aspekte van die roman betref, bestaan die roman uit ’n proloog, sewe dele in 56 hoofstukke en ’n epiloog. Die sewe dele behandel, onderskeidelik, Isidoor se vorming as kind in ’n Engelse klooster genaamd Bellalanda (±1373–88); sy jare as student in Oxford (1388–90), Parys (1390–93) en Bologna (1393–98); sy eerste jare as geneesheer in die klein keiserryk, Trebizonde, aan die Swartsee (1401–04); sy reis na en uiteindelike gevangenskap in Samarkand, destyds onder regering van die beroemde Turks-Mongoolse rykbouer en beskermheer van die kunste en die wetenskap, Timoer Lenk (1404); en sy kortstondige verblyf in Konstanz, waar hy sy praktyk as geneesheer hervat, sy lewenslange ideaal om meesterbouer te wees byna vervul, en uiteindelik vasgevang raak in onverkwiklike kerklike politiek teen die agtergrond van die Katolieke Kerk se Eerste Ekumeniese Konsilie, wat tussen 1414 en 1418 in die stad gehou is, en waar veral twee sake die agenda oorheers het. Eerstens was daar die poging om verskillende aanspraakmakers op die pouslike stoel te neutraliseer en uiteindelik oor te gaan tot die verkiesing van ’n konsensuskandidaat, Pous Marthinus die Vyfde; tweedens die ekskommunikasie en verdoeming tot die brandstapel van die twee proto-Protestantse Boheemse kerkhervormers, Johannes Hus en Hieronymus van Praag.
In een opsig is die roman Isidoor se eerstepersoonsvertelling van sy lewe, vandat hy as vondeling buite die vervalle klooster van Bellalanda deur die poortwagter aangetref en aangeneem is, tot met sy uiteindelike opsluiting in ’n donker ondergrondse sel in Konstanz saam met ’n nooit benoemde, onsigbare medegevangene. Buiten vir deel VII, “Ketterhof of: Heilige onskuld (1415–17)”, word Isidoor se vertelling in die verlede tyd van sy lewensloop afgewissel met sporadiese hoofstukke nader aan die teenswoordige, waarin die laaste deel van Isidoor se reis na Konstanz vertel word. Dit word óók in die verlede tyd vertel en betrek ’n belangrike vriend en medewetenskaplike uit sy jare in Trebizonde, die nou blinde Maelgys en sy aantreklike dogter, Lorea (wat in die Italiaans “blom” beteken en verwys na oorwinning). Hierdie deel van die vertelling is waar Isidoor in gesprek met sy twee reisgenote kom tot iets soos ’n filosofiese besinning oor die/ sy lewe, kennis, wetenskap, godsdiens, teologie, ensovoorts – en waarin Maelgys ’n sonderlinge geheim met hom deel wat hom in staat stel om as’t ware ’n boweblik oor die werklikheid, asook insig in en selfs ’n mate van beheer oor die gedagtes van ander mense in ’n gegewe situasie te kry.
Die geheim wat Isidoor van Maelgys ontvang, en waarvan die aard nooit heeltemal duidelik gemaak word aan die leser nie, gee ’n ekstra laag betekenis aan die titel van die roman, naamlik dat Isidoor skynbaar op ’n soort telepatiese wyse kan beweeg deur die gemoed van een of meer persone waarmee hy in ’n gegewe situasie beheer kry. Die minstens twee ander betekenisse van die titel is, onderskeidelik, die wye tog wat sy lewensverhaal verteenwoordig en, tweedens, die merkwaardige herinnerings- en verbeeldingstegnieke beskryf in die Romeinse denker en staatsman, (Marcus Tullius) Cicero (106–43 v.C.), se Rhetorica ad Herennium “wat in hierdie epistel uiteensit hoe jy feite wat die moeite werd is om te onthou, op plekke wat slegs in die gees bestaan, plaas.” (28) Dit stel Isidoor in staat om mettertyd “’n sistematiese geheue” (29) op te bou, wat die intellektueel begaafde Isidoor help om talle klassieke boeke te memoriseer.
Moderne lesers wat met die gedrukte woord as vernaamste vorm van geheuetegniek grootgeword het mag oor Isidoor se geheuetegnieke skepties staan, maar dit is die moeite werd om te onthou dat in kulture waarin kennis mondeling en geskrewe oorgedra is – byvoorbeeld die wêreld van die vier Bybelse Evangeliste of die Middeleeue – die intelligentsia uiters geoefen was in sulke tegnieke. So word daar vertel dat studente van Albertus Magnus aan die Universiteit van Parys in die dertiende eeu tien jaar ná die bywoning van ’n lesing nog die lesing woordeliks kon weergee.
........
As roman sluit Die ommegang regstreeks aan by die laat-Middeleeuse literêre tradisie van die romanse, waarin die hoofkarakter in sy lewenstog op die een ná die ander avontuur gaan om uiteindelik sy bestemming te bereik – presies die soort literatuur wat Don Quixote in die vroeë sewentiende eeu in De Cervantes se roman so besiel het dat hy besluit om in sy eie vroeg-moderne era op ’n laat-Middeleeuse ridderlike tog te gaan – ’n ridder in ’n era waarin die tyd van die ridders lank reeds verby was, wat tot ’n mengsel van melancholie en komedie lei, maar waarin die tema van die tog na die lewensbestemming tog nog op grootse wyse behoue bly.
........
As roman sluit Die ommegang regstreeks aan by die laat-Middeleeuse literêre tradisie van die romanse, waarin die hoofkarakter in sy lewenstog op die een ná die ander avontuur gaan om uiteindelik sy bestemming te bereik – presies die soort literatuur wat Don Quixote in die vroeë sewentiende eeu in De Cervantes se roman so besiel het dat hy besluit om in sy eie vroeg-moderne era op ’n laat-Middeleeuse ridderlike tog te gaan – ’n ridder in ’n era waarin die tyd van die ridders lank reeds verby was, wat tot ’n mengsel van melancholie en komedie lei, maar waarin die tema van die tog na die lewensbestemming tog nog op grootse wyse behoue bly.
Inisiasie in die wetenskap en die liggaam
Ofskoon Isidoor se vorming geskied in die (soms vervallende of vervalle) instellings van die magtige Middeleeuse Latynse Christendom, is die kennis van die opkomende moderne wetenskap vir hom van meet af en dwarsdeur die roman van veel groter belang as die geloof, die teologie of die breër tradisie. As produk van die Latyns-Christelike tradisie wat die tradisie in sy strewe na wetenskaplike kennis wil oorstyg, is hy deur en deur ’n proto-moderne figuur. Reeds vroeg in die roman in gesprek met sy eerste mentor, Giles die Poortwagter, word die volgende gesprek tussen hulle gerapporteer, wat dan ook die eerste motivering is vir sy ommegang, en wel in die sin van sy lewenstog na kennis:
“Het ek jou al vertel dat die meeste geleerdes daarvan uitgaan dat die aarde rond is?”
Ek het na sy verduideliking geluister en die name onthou wat hy genoem het sodat ek dit later self kon ondersoek. Eratosthenes, Ptolemaeus, Augustinus, Beda Venerabilis. My naamgenoot Isidorus van Sevilla was ook daarby. “Die geleerdes se vertrekpunt is berekeninge en waarneming,” sê Giles. “En die enkelinge wat op teologiese gronde veronderstel dat die aarde plat is, is verkeerd.”
Toe hy klaar gepraat het, het ek gesê: “Miskien kan ek dit eendag bewys deur óf tot by die einde van die aarde te loop, óf heeltemal rondom.” (40–1)
Sy lewenstog en bestemming as proto-moderne wetenskaplike word ook deur Giles aan hom voorspel nadat Isidoor as tienerseun tot die verbasing van die ab van die vervalle klooster hul vergete biblioteek herontdek:
"Ek dink dat jy jou deur niemand sal terughou nie. Jy sal bou en genees, en tussendeur dalk na die einde van die aarde loop, of selfs reg rondom." (59)
Waar Giles, wat kort hierna te sterwe kom, Isidoor inisieer in die wêreld van die gees en van wetenskaplike kennis, is dit die jong Osbert, die calefactor wat vir die verhitting van die klooster verantwoordelik is, wat Isidoor in die wêreld buite die klooster en die weë van die vlees inisieer wanneer hy hom op ’n besoek aan die nabygeleë mark van Easingwold neem – wat dan ook die eerste maal in sy lewe is wat Isidoor sy voete buite die klooster sit en vroue sien.
Waar Van Aken die ietwat stugge kloosterbestaan van monnike in ’n klooster verby sy beste jare pragtig herskep in die eerste deel van die roman, gaan hy in deel II van die roman, “Oxford”, oor tot ’n ewe lieflike herskepping van die burleske, die feestelike en die komiese van die laat-Middeleeue waarvan moderne lesers gevoer met moderne propaganda oor die sogenaamde donker Middeleeue waarskynlik min tot niks weet. Isidoor bevind hom in die een ná die ander studentedrinkparty of godsdienstige fees – wat ietwat uitbundiger en lyfliker as die kerkbasaars van ’n Afrikaanse jeug in die 1960’s tot 1980’s was.
Ook in hierdie deel van die roman word die groot tema van die opbouende konflik in die toenemend verdeelde en destyds toenemend dekadente Katolieke Kerk, wat uiteindelik sou lei tot die Protestantse opstand van Martin Luther, Calvyn en andere in die vroeë sestiende eeu en die daaropvolgende skeuring tussen Katoliek en Protestant, aan die orde gestel – hier in die vorm van ’n gesprek in Oxford tussen Isidoor en die dosent wat daar die grootste bydrae tot sy vorming sou lewer, die Fransman Guiscard:
Guiscard het stadig geknik en my soekend aangekyk. Ná ’n rukkie het hy gesê: “Ek het al gewonder of jy enige besware teen ons kerk het, of teen die kerk in die algemeen.”
Hierdie keer was dit nie nodig om myself dom te hou nie. “Ek glo nie ...” het ek begin.
Hy het sagter gepraat. “’n Wantrouender man as ek sou jou van lollardisme kon verdink.” Ek het geweet hy wou my reaksie op hierdie laaste woord peil, wat ek maar een keer voorheen uit die mond van ab Robert gehoor het.
“Wat,” het ek gevra, “is lollardisme?”
Dit het gelyk of hy van onkunde gehou het. “Dit is nie so vreemd vir ’n kloosterseun uit Yorkshire nie,” het hy gesê, “en jy het nog nooit van Wycliffe gehoor nie?”
Ek het nie.
Wycliffe, het hy gesê, eens ’n dokter in Oxford, is uit die universiteit geskors vir sy ketterse geskrifte. Die lollaards of lollaardiste was sy volgelinge. “Hulle verset hulle teen die rykdom en praal van die kerk, hulle is teen heiligebeelde, teen die selibaat, en hul verset strek tot by die pous.” (117–8)
Anders gestel: Die opsomming van opbouende griewe in die Katolieke Kerk wat Guiscard hier rondom 1388 in die laaste sin van die aanhaling hier bo gee, sou voortgedra word deur die Boheemse proto-Protestantse beweging van Johannes Hus en Hieronymus van Praag (vir wie aanbidding in die moedertaal pleks van in Latyn ook ’n kwessie was) en uiteindelik uitmond in die skeuring tussen Katolieke en Protestante onder leiding van Calvyn en Luther (sonder dat sodanige skeuring hul aanvanklike oogmerk was).
Verdere blyke van Isidoor se proto-moderne Prometeïese gees, waar die moderne mens uiteindelik daarna streef om God te vervang, word gegee in ’n gesprek tussen Isidoor en Lorea onderweg na Konstanz:
“Hoe stel jy jou God voor?” het sy my gevra.
“Ek dink nie daaroor nie.”
Sy het gelag en liggies op haar tone gestaan om haar lippe by myne te bring. “Dink jy dan nou daaroor?” het sy gesê.
Ek het probeer om my ’n God voor te stel. “As myself,” het ek toe gesê. “Ek het my eie wêreld geskep, al het ek na baie voorbeelde gekyk. En verder het Hy die mens na sy beeld geskep.” (145)
Proto-moderniteit
Die laaste sin in bostaande aanhaling wys vooruit na die vroegmoderne denkstrategie om telkens ’n heel nuwe blik op die werklikheid of op ’n aspek daarvan, wat van die tradisie afwyk, as normatief aan te bied deur ’n Christelike idee – byvoorbeeld die mens geskape na die beeld van God – ietwat idiosinkraties te hervertolk. ’n Bekende voorbeeld hiervan, en wat aansluit by bostaande aanhaling, is hoe Thomas Hobbes in een van die groot boeke wat die sentralistiese aard van die moderne staat legitimeer, naamlik sy Leviathan (1651), aanvoer dat aangesien God se belangrikste attribuut God se almag is, en aangesien die mens na die beeld van God geskape is, die soewerein as verteenwoordiger van God absolute mag oor sy onderdane behoort te geniet.
’n Ander belangrike element van die proto-moderniteit in die laat veertiende eeu, naamlik die moderne opvatting van tyd as meetbaar en lineêr, word aan die orde gestel wanneer Isidoor een middag in Oxford vol bewondering die katedraal van St Mary betree en onverwags op ’n vreemde instrument afkom:
In die lig van ’n olielamp kon ek ’n vreemde konstruksie in die middel van die ruimte onderskei ... Dit was ’n samestelling van metale, yster, koper so te sien. Wiele met tandjies soos klein kanteltjies, wiele met saagtande, asse en stawe en ’n jukvormige metaalgedeelte wat op reëlmatige wyse heen en weer beweeg het. Ook een van die wiele het beweeg, uiters stadig en met baie klein rukke.
“Wat is dit?” het ek gevra. En eintlik het ek al geweet voor hy dit gesê het. Ek het verstaan dat hierdie hele komplekse outomaton bestaan het uit onderdele wat met mekaar saamgewerk het, saamgehang het om die onmeetbare te meet: die gang van tyd. Die klein stappies het in groteres oorgegaan, die ure in dae. Met hierdie masjien sou die tyd absoluut wees, ure en dae was nie langer rekbaar, relatief en seisoengebonde nie.
“Dit is ’n horologium,” het die grysaard gesê. (153–4)
Isidoor se vorming as proto-moderne wetenskaplike word voortgesit in deel III, waar dit gaan om sy opleiding as geneesheer aan die Universiteit van Parys, maar waar hy ook met die oog op sy droom van boumeesterskap leer hoe om klippe te kap, asook Grieks en Frans onder die knie kry. Terwyl die grootste denker van die Middeleeuse Latynse Christendom, Thomas van Aquinas, nog voorspraak gemaak het vir die logiese stelling (sillogisme) oor ’n aspek van die werklikheid aan die hand waarvan ons kennis van die redelik kenbare, ordelike werklikheid kan verwerf, verwerp Willem van Ockham (1290/1296?–1348) die aanname van ’n redelik kenbare, ordelike werklikheid. Hiermee lê Ockham onbedoeld die grondslag vir die kennisopvatting van die moderne wetenskap, naamlik dat die werklikheid slegs op grond van ervaring (empiries) geken en met behulp van die hipotese verklaar kan word. So verklaar Isidoor in ’n gesprek met een van sy studentevriende, Piers:
“... Ek kan jou die boeke oor sjirurgie van Theodoric Borgognoni aanbeveel. Hy het toe reeds ingesien dat ons nooit verder sal kom in die wetenskappe as ons net die tekste van die oues navolg sonder om self ervaring op te doen, te ondersoek en waar te neem nie.” (242)
Twee kennisbenaderings
Dit sou sekerlik nie vergesog wees nie om te sê dat twee kennisbenaderings teen die einde van die Middeleeue in die Latynse Christendom in omgang was: die een, wat sy ontstaan by Plato in die Oudheid vind, waarvolgens ons iets beter leer ken omdat ons dit in die eerste plek lief het; die ander, die proto-moderne siening, waarvolgens ons iets lief kry omdat ons dit leer ken. Dit is in deel V, wat handel oor Isidoor se verblyf van drie jaar as geneesheer in die klein keiserryk van Trebizonde, waar hierdie twee benaderings mekaar in Isidoor ontmoet. Wat kennis deur die liefde betref – en dit gaan hier om die groot liefde van sy lewe, Sotiria (“verlossing” in die Grieks) – word die tema soos volg aangekondig in die slotparagraaf van deel IV, in gesprek met Lorea onderweg na Konstanz:
Ek het haar vertel dat my lewe eers verander het op die dag wat ek haar vader Maelgys en haar moeder Sotiria in die keiserryk van Trebizonde ontmoet het. (260, my klem)
Wat die ander kennisopvatting betref – liefde wat danksy kennis oor iets kom – word ’n gesprek tussen Isidoor en Maelgys gerapporteer waar die kwessie ter sprake kom na aanleiding van die groot Katalaanse geleerde, Ramon Llull (c.1232–1316) se ideaal om alle beskikbare kennis visueel uit te beeld. Maelgys pak die ideaal aan deur ’n reuseboom met talle vertakkings te teken, wat elk die een of ander aspek van alle beskikbare kennis uitbeeld. Dit blyk dat Isidoor reeds oor jare danksy die geheuetegnieke van Cicero besig is om iets soortgelyks in sy binnewêreld te skep:
“... Ek het my eie geheue gebou volgens die aanwysings van [die Ad Herennium]. Dit is strate met tempels en huise en paleise waarin ek alles weggesteek het. Oor die jare het dit woonwyke geword en intussen dra ek ’n stad in my saam wat, as dit werklik sou bestaan, plek kon bied aan tienduisende inwoners. Ek loop deur my strate en sorg dat alles onveranderd bly deur steeds weer daardie kennis te proe wat ek gestoor het. Dit kan net gebeur as my innerlike bouwerke geloofwaardig bly. Maar ’n boom moet, om geloofwaardig te wees, noodwendig lewe, beweeg, groei. Hy moet vertak, blare dra en bloeisels. Hy ruis en ritsel en woel. Lewe kronkel, ritsel, woeker. En daardie vertakkings, hoe kan jy dit uitmekaar hou? Hoe kan jy die kompleksiteit van kennis in duisende takke en tienduisende lote vasvang?”
Maelgys het sy kop geskud. “Ek ken Ad Herennium,” het hy glimlaggend gesê. “Ek het dit self ook baie gebruik, maar duidelik nie in dieselfde mate as jy nie. ’n Innerlike stad! En jy as God in jou eie stad!” (285–6)
Hiermee loop Isidoor reeds René Descartes (1596–1648), die grondlegger van die moderne wetenskaplike metode en kennisopvatting, se ideale stad vooruit, naamlik die volmaakte simmetriese stad waarin die kennende subjek inderwaarheid die plek van God inneem, soos Catherine Pickstock hieroor skryf in haar eietydse klassieke boek, After Writing (1998):
Thus, physical space is replaced by a purely rational, homogenous substrate which houses not “things,” but idealized figures or signs which, as interior, appear to “get outside” language itself ... [T]he Cartesian gaze is inward and reflexive, gazing only at its own projection and sign, as if in its own mirrored reflection. (69)
Anders gestel: Terwyl dit vir Llull en sy opvolgers, soos Isidoor, nog moontlik was om te dink dat ’n visuele uitbeelding van alle beskikbare kennis nog die lewendheid van kennis sou kultiveer – soos met Isidoor se boom wat lewe en groei – was dit in die era van Descartes al hoe duideliker dat vir so ’n ruimtelike voorstelling om te slaag, die werklikheid waarop dit gegrond is wesenlik as manipuleerbaar en inderwaarheid doods beskou moes word. Dog, in die geval van Isidoor, lei sy liefde vir Sotiria en sy ervaring van kennis wat kom danksy die liefde, tot ’n besef van hoe beperk die vermoë van die proto-Cartesiese wetenskaplike is om ’n beheerste ruimtelike voorstelling van alle kennis te maak. Later in deel IV, deels onder die invloed en deels dronk van verlange, maak hy aan haar die aanbod om haar en haar klein dogtertjie, Lorea, saam met hom na Konstantinopel te neem en vir hulle te sorg. Sy behou haar teenwoordigheid van gees, wys dit van die hand en pleit by hom dat hy nie homself is nie. Hierop lees ons van wat daarna met hom gebeur:
Ek het wankelend by die poort uitgegaan en myself vervloek omdat ek beskonke na daardie huis gegaan en my selfbeheersing verloor het. Ek het my vuiste gebal en wild met myself gepraat, iets wat ek nog nooit tevore gedoen het nie. ’n Rukkie later het ek myself betrap op ’n innerlike dialoog met haar, waarin ek verduidelik, verskoon en toelig, waarin ek my fout toeskryf aan dronkenskap en tydelike verstandsverbystering. (294)
Insig belangriker as kennis
Gedryf deur sy grootliks verbeelde en dus wesenlik arrogante ideaal van meesterbouerskap, sou Isidoor uiteindelik om sy lewe uit Samarkand moes vlug. Na aanleiding van sy wedervaringe aldaar word ’n gesprek tussen hom en die nou hoogs bejaarde, blinde Maelgys onderweg na Konstanz gerapporteer. Hierin word dit duidelik dat Isidoor se ervaring in Samarkand hom geleidelik laat begin besef het daar is iets belangriker as proto-moderne wetenskaplike kennis, naamlik insig – en dat meer kennis nie noodwendig gelykstaande is aan meer insig nie, inteendeel:
Die ou man het sy oë gesluit en sy kop ’n bietjie gewaggel. Net toe ek gedink het dat hy ingesluimer het, het hy gesê: “En wat, my seun, het jy geleer in al jou jare in die Ooste?”
“Dat kennis oneindig uitgebrei kan word,” het ek gesê, “sonder dat dit noodwendig tot nuwe insigte hoef te lei.”
Hy het sy oë weer oopgemaak en daar was geen spoor van slaap in sy stem nie. “So jy het nie gevind waarna jy gesoek het nie?”
Die vreemde gedagte het by my opgekom dat ek nog nooit iemand gesien het wat so wakker was soos hierdie ou man nie.
“Ek weet nie waarna ek alles gesoek het nie,” het ek gesê. “Dit lyk nou alles futiel.”
“Is dit ’n nuwe insig?”
Ek het my kop geskud, en toe besef dat hy my nie kon sien nie. “Ek dink al vir jare so,” het ek gesê.
Oplaas is dit van die bejaarde, blinde Maelgys wat Isidoor onderweg na Konstanz die insig ontvang “waarna ek my lewe lank op soek was sonder om daarvan te weet”. (416) Wat so wonderlik oor hierdie sleuteloomblik in die roman en in Isidoor se tog is, is dat Van Aken nie hierdie insig vir die leser uitspel nie, maar dit slegs nie-regstreeks voorhou. Hoe kan dit dan ook anders indien die insig anderkant taal, logika en die (proto-)moderne wetenskap se obsessie met die afbreek van die werklikheid tot in die kleinste deeltjies lê? Wat Maelgys inderwaarheid aan Isidoor oordra, is die noodsaak daarvan om die geheel te aanskou. Die lewensveranderende uitwerking hiervan op Maelgys word beskryf, en daarvoor word eksplisiet aansluiting gevind by miskien die grootste van die mistici van die Middeleeuse Latynse Christendom, Meister Eckhart (1260–1328) – deels ’n tydgenoot van Ockham wat, terwyl Ockham die weg vir die moderne wetenskaplike obsessie met die dele van die werklikheid gebaan het, die allerbelangrike klem op insig in die geheel as voorwaarde vir sinvolle kennis van die dele van die werklikheid neergelê het:
In die oggend het ek voortgegaan en die pad het hom in al sy kompleksiteit aan my geopenbaar, ek het die wêreld om my in ’n duisend skakerings en in oneindige besonderhede wat my nie voorheen opgeval het nie, ervaar. Die land het soos ’n stormwind teen my aangeloei, ek het my verset teen die menigte en eers laat gaan toe ek ’n vlug trekvoëls sien verbykom en gefassineer geraak het deur die gemak waarmee hulle gevlieg het. Dit was toe asof ek self die wind onder my vlerke gehad het en ek het opgehef tot hoogtes gevoel van waar ek kon afkyk na afstande wat in die verte in mistigheid oplos, maar selfs verder het ek gesien, en wat eers soos mis gelyk het, was ’n oneindige perspektief van vervloeiende, verskietende lewe.
Ek het dit nie teen my ommegang getoets nie, maar een woord het by my opgekom, waarin die mistikus Meister Eckhart net meer as ’n eeu gelede hierdie verweefde dinamiek vasgevang het: Wirklichkeit. Nou het ek eers begryp wat hy gesien het. (417)
Ná hierdie eerste groot hoogtepunt van die roman, wat inderwaarheid ’n voorspraak vir die mistiek is, word die grootste gedeelte van deel VII gewy aan die kerklike stryd wat tussen 1415 en 1417 in Konstanz afgespeel het met betrekking tot wie inderwaarheid pous moes wees, asook met betrekking tot die proto-Protestantse rebellie van Boheme onder leiding van Johannes Hus en Hieronymus van Praag. Soos reeds hierbo vermeld, word Isidoor ondanks sy pogings om hom apart van dit alles te hou, op noodlottige wyse hierby betrek, wat hom weer eens so byna-byna sy lewe kos. Die intriges hier rondom lei tot ’n tweede hoogtepunt in die roman, wat weer eens ’n voorspraak vir die mistiek is – nadat Koning Sigismund ingryp om Isidoor te red van die kerklike heksejag waaraan hy uitgelewer is, hang Isidoor se lot daarvan af of hy die mistiese insig wat hy van Maelgys ontvang het met Sigismund kan deel. Op die kritieke oomblik besef hy dat die insig slegs te dele is met diegene wat werklik daarvoor ontvanklik is, wat verhewe bo magspele is, en deins hy teen groot persoonlike risiko daarvan terug om die insig met Sigismund te probeer deel. (738) So word Isidoor, nou opgesluit in ’n donker kerker sonder lig, waarin dit blyk hy nog al die tyd was terwyl hy die leser op sy tog geneem het, bevry van sy ydele drome van grootsheid, gestroop van álles en nou finaal bevry, gevoer tot die besef dat die mistiese geheelbeeld op die werklikheid ten slotte is waarom die lewe gaan:
... [E]k sal my groot insig aanstons onthou. Dit lê immers net anderkant die drempel van my waarneming. Dit is ’n klein verskuiwing, ’n minimale sprongetjie van die gees.
Dit is altyd daar, maar jy moet dit sien. (742)
Beoordeling
Die ommegang is ’n grootse, ensiklopediese roman – die soort waarvan daar oënskynlik in ons tyd van versplintering en skerwe en flitse van inligting al hoe minder geskryf word. As Afrikaanse vertaler van hierdie grootse roman het Roodt monnikewerk gedoen om die Afrikaanse leser wat bereid is om geduldig saam met Isidoor op sy tog van onkunde na kennis na insig te reis, te betower. As sodanig bied dit ’n meesleurende beeld van die bruisende wêreld van die laat-Middeleeue toe die Middeleeuse Latynse Christendom sy laaste oomblikke van grootsheid beleef het terwyl dit reeds sterwend was sonder dat dié wete algemeen was, op die vooraand van die rewolusie van die moderniteit in sy godsdienstige (Protestantse), wetenskaplike en politieke gedaante. En dit strek Van Aken tot eer dat hy sy leser via Meister Eckhart daaraan herinner dat toe hierdie versplinterende rewolusie onbedoeld aangevoor deur Ockham nog skaars ’n sluimering was, die noodsaak om die geheel meer as ooit misties in aanskouing te neem, al hoe dringender sou word namate die rewolusie van die moderniteit sig sou voltrek en die werklikheid in ontelbare stukkies sou versplinter.
Lees ook:
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Die VSA en Venezuela – wanorde of orde?


Kommentaar
Die Gnostiese geskrifte, soos by Nag Hammadi ontdek, is oënskynlik ook 'selfpublikasie'.
Terence Mckenna se gespreksreeks is onortodoks, maar interessant.
https://youtu.be/sNR7CmN3ZiM?si=5tKQ85qEzlhKehPH