Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor die aggressiewe drang om te oortuig – en ’n ander soort oortuiging

  • 6

Prent van lotusblom: Canva

  • Johann Rossouw skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

“As my stilte hom nie oortuig nie, waarom sal my woorde?”
– Abba Poemen

Sekerlik een van die brandendste kwessies vir diegene van ons wat openbare debatte volg en/of self daaraan deelneem, is die stygende temperatuur in openbare debatte. Growwe veralgemenings, swartsmeerdery, persoonlike aanvalle, verdagmakery en wat nog van mense wat ’n ander standpunt as jou eie huldig, is vandag toenemend algemeen. ’n Goeie 20 jaar gelede het Breyten Breytenbach op ’n dag aan my gesê dat die openbare gesprek in Afrikaans dikwels meer soos ’n trapskrum as enigiets anders is. Sedertdien het die temperatuur in openbare debatte sodanig gestyg dat dit miskien meer gepas is om te sê die openbare gesprek in Afrikaans is meer soos ’n jagsport (blood sport) as enigiets anders.

’n Hele klompie redes hiervoor is die afgelope jare aangedui: Mense is rou en gatvol, omdat hulle toekomsdrome deur politici gesteel is of omdat hulle weens lidmaatskap van ’n bepaalde groep gedurig tot sondebok gemaak of teen gediskrimineer word; die verskuiwing van die openbare gesprek vanaf die medium van die gedrukte woord na die oudiovisuele en digitale media; en natuurlik die misbruik van algoritmes deur die eienaars van verskillende digitale platforms om negatiewe emosies op te jaag.

Daar is egter nog ’n belangrike faktor wat waarskynlik ook ’n rol hierin speel, naamlik die aggressiewe Afrikanerdrang om te oortuig. Anneliese Burgess het my hieroor aan die dink gesit toe sy in haar weeklikse Sondagrubriek vir Binne+Land van 8 Februarie hieroor geskryf het met verwysing na die onblusbare drang wat sekere gelowiges, asook sekere voormalige gelowiges het om andere van hul standpunt te oortuig. Anneliese het haar eie verklaring vir waarom lede van dié twee groepe dikwels ly aan dié onblusbare drang.

Wat dié drang by sommige gelowiges betref, skryf sy:

My ervaring is baie Christene meen dat om nié hulle God te verdedig in die aangesig van ’n ongelowige nie, gelykstaan aan aandadigheid en verraad: “Wie My voor die mense verloën, hom sal Ek ook verloën voor my Vader.”

Vir sommige Christene voel enige kritiek of alternatiewe perspektief soos ’n aanval wat teengestaan moet word. Om dit onuitgedaag te laat gaan, is vir hulle dieper as net ’n uitdaging vir hulle geloof – dit is ’n “onvergeeflike sonde”.

Laat ek verduidelik. Matteus 12:31–32: “Alle sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal nie vergewe word nie.” Daardie vers het soos ’n rooi lint deur my lewe as kind gevleg, en ek dink dit lê aan die hart van die angs wat ek opmerk in die manier hoe sommige gelowiges reageer.

En, voeg sy by:

Vir hulle – en baie ander – is om iemand se ongeloof onuitgedaag te laat, ’n vorm van aandadigheid aan die “onvergeeflike” sonde. Dit skep angs. Ek weet, want ek het daardie angs my lewe lank saam met my gedra.

Nadat sy erkenning gee aan die soort ateïs wat nie die drang voel om andere van sy standpunt te oortuig nie, verwys sy na die soort voormalige gelowige wat wel daardie drang voel en bespiegel sy oor ’n verklaring daarvoor:

Ek wonder nou al lank oor die drang van ongelowiges om ander te bekeer tot hulle siening – soms met briljante maar kil ontledings van die geskrifte – en gewoonlik sonder enige mensliewendheid of ruimte vir die kompleksiteit van die menslike gees (en dan gewoonlik met ’n groot skeut verkleinering en neerbuigendheid daarby).

Is dit vanweë ’n tipe verwonding? Dit blyk besonder sterk te wees by mense wat óf uit fundamentalistiese tipe geloofsgemeenskappe kom, óf teologie studeer het – met ander woorde, mense wie se “ont-bekering” gevolg het ná hulle groot intellektuele en emosionele energie in godsdiensraamwerke belê het. En wanneer daardie fondament verbrokkel, manifesteer dit as ’n soort aggressiewe opposisie waar hulle ander wil red van die “onwaarheid” waarmee hulle ingeloop voel.

In dié tipe aggressiewe ateïsme, veral van voormalige gelowiges, verbeel ek my ek bespeur ook soms ’n onverwerkte rou wat as minagting manifesteer. Miskien gaan dit op ’n onbewuste vlak oor ’n verlies aan sekerheid, en dan moet daardie ruimte ingekleur word met ’n nuwe, bombastiese sekerheid.

Myns insiens help Anneliese se verklarings vir sowel die gelowige as die voorheen gelowige wat aan die drang tot aggressiewe oortuiging ly om dié drang beter te verstaan. Veral wat sy oor voormalige gelowiges uit fundamentalistiese geloofsgemeenskappe of ’n agtergrond van studie in die teologie (en latere bediening as predikant) skryf, maak sin. Hierby kan ek die volgende voeg aan die hand van my ervaring van my eie en andere se geloofsbesering: Net soos ’n mens eers van ’n groot liefdesteleurstelling begin herstel wanneer jy weer ’n liefde vind en weer die risiko moet neem om jou kwesbaar te maak deur jou oor te gee aan ’n ander wat jy nog leer ken, net so word die geloofsbesering eers genees wanneer jy uiteindelik weer kan glo – wat my betref, wanneer jy weer op ’n geloofwaardige wyse in God kan glo, maar dis ’n ander gesprek.

Daar is egter ’n ander faset tot die aggressiewe drang om te oortuig – oor geloof, ongeloof, maar ook oor alles en nog wat – wat oorweging verg, naamlik die soort kultuur waarmee Afrikaners wat vandag iewers tussen 50 en 80 jaar oud is, grootgemaak is, en waarin die aggressiewe drang om te oortuig aktief gekultiveer is.

As jy rofweg tussen 1946 en 1976 gebore is, het jou jeug saamgeval met die volgende kragte:

  1. Jy sou blootgestel wees aan Afrikanernasionalisme en die apartheidsprojek wat aan ’n toenemend vyandige buitewêreld “verkoop” moes word. Tot vandag toe onthou ek byvoorbeeld uit my jeug in die 1980’s gesagsfigure wat aan ons gesê het die Afrikaners is die muishond van die wêreld en ons moet ons staal daarvoor om ons saak teen die wêreld te verdedig. Ons moes, soos die vierde strofe van “Die stem gelui het, weet wat dit beteken om “teen die hele wêreld vry” te wees.
  2. Jy sou blootgestel wees aan ’n vorm van Christelike geloofsbeoefening waarin die klem op die kognitiewe eerder as die estetiese of die affektiewe geplaas is. Kerkgeboue was nie plekke waarin jou sintuie gestimuleer is nie, en predikante is beoordeel op grond van hoe goed hulle die rede kon voer by wyse van hul preke. Van geloofsbeoefening waarvan oortuiging sagter, subtieler en nie hoofsaaklik kognitief was nie, was daar min tot geen sprake nie.

Namate die destydse (toenemend rasbehepte) Afrikanernasionalisme veral vanaf Soweto 1976 sy drakrag onder Afrikaners verloor het, en dit tesame met die destydse oordrewe kognitiewe geloofsbeoefening vir baie (jong) Afrikaners al hoe benouender geword het, na dieselfde mate was die oorgang wat vanaf 1990 begin het, in alle opsigte aanvanklik verruimend en bevrydend. (Dit sou natuurlik ongelukkig mettertyd duidelik word dat ’n nuwe benoude rasbehepte nasionalisme die land getref het, maar ook dit is ’n ander gesprek.) Van groter belang vir hierdie gesprek is die feit dat dit nie so maklik is om te ontsnap aan die kultuur van jou jeug nie – selfs al is die soort Afrikanernasionalisme en oordrewe kognitiewe geloofsbeoefening waardeur ons gevorm is, lankal iets van die verlede. Of, om dit aan te bied as ’n variasie op die wysheid van die volksmond: Jy kan ’n Afrikaner wat blootgestel is aan die aggressiewe oortuigingsdrang van Afrikanernasionalisme en oordrewe kognitiewe geloofsbeoefening van daardie wêreld bevry, maar dit beteken nie jy is bevry van die aggressiewe drang om te oortuig nie – selfs al het jy daardie vorm van geloofsbeoefening agtergelaat.

Wat die politiek betref, is dit ten ene male by uitstek ’n terrein van idees, debat en oortuiging – sonder die oortuiging van kiesers, gaan niemand vir jou stem nie en gaan jy nie in regering kom om jou idees deur te voer nie.

Wat die geloof betref, is daar egter ’n ander manier van geloofsbeoefening waarin ánders oor die oortuiging van andere gedink word. Dit word saamgevat in die uitspraak van Abba Poemen wat hierbo aangehaal is. Die konteks van die aanhaling is soos volg.

Abba (“Vader” in Aramees) Poemen (340–450) was ’n lid van die eerste Christelike beweging waarin die bewuste toewyding aan stilte en stilgebed as sentraal tot hul geloofsbeoefening beskou is, naamlik daardie Egiptiese gelowiges van die vierde eeu wat ter wille van groter toewyding aan hul geloof uitgewyk het na die woestyn, en mettertyd bekend geword het as die Woestynvaders (ofskoon daar ook vroue in hul geledere was, bekend as die Woestynmoeders).

Per geleentheid, toe Abba Poemen al hoogs bejaard was, het ’n problematiese biskop uit Alexandrië die gemeenskap in die woestyn kom besoek. Van die jonger Woestynvaders, wat raadop met die biskop was, het die hoogs gerespekteerde Abba Poemen genader om by hom te pleit om met die biskop te praat om hom tot ander insigte te bring. Dis in dié konteks dat Abba Poemen sy uitspraak gemaak het: “As my stilte hom nie oortuig nie, hoekom sal my woorde?”

Of, soos ’n ander groot Ortodokse heilige, Serafim van Sarov (1754–1833), dit stel: “Stilte is die kruis waarop ons ons ego moet kruisig.”

Dieselfde benadering tot oortuiging in die geloof kom voor in die beroemde verhaal van die sogenaamde Blompreek van die Boeddha. Naby die einde van sy lewe het hy, pleks daarvan om soos gewoonlik ’n rede vir sy volgelinge te voer, bloot ’n varsgeplukte lotusblom in die lug gehou. Die betekenis van hierdie woordelose preek was dat ware verligting nie in woorde vasgevang kan word nie, maar van gees tot gees geskied – en die enigste van sy volgelinge wat dit verstaan het en sy insig getoon het deur te glimlag, naamlik Mahakasiapa, is daar en dan deur die Boeddha as sy opvolger aangewys.

........
Dieselfde benadering tot oortuiging in die geloof kom voor in die beroemde verhaal van die sogenaamde Blompreek van die Boeddha. Naby die einde van sy lewe het hy, pleks daarvan om soos gewoonlik ’n rede vir sy volgelinge te voer, bloot ’n varsgeplukte lotusblom in die lug gehou. Die betekenis van hierdie woordelose preek was dat ware verligting nie in woorde vasgevang kan word nie, maar van gees tot gees geskied – en die enigste van sy volgelinge wat dit verstaan het en sy insig getoon het deur te glimlag, naamlik Mahakasiapa, is daar en dan deur die Boeddha as sy opvolger aangewys.
........

Soos Daniël Hugo lank gelede uitgewys het, het Karel Schoeman, wat destyds in sy Boeddhistiese fase was, die Blompreek verwerk in die slot van Verkenning (1996), toe die onbenoemde jong Nederlander en hoofkarakter van die roman net voor die dood van sy reisgenoot, Paap, ’n raaiselagtige geskenk ontvang het:

Ons was al gereed om te vertrek en ek het slegs op hom gewag om die teken te gee, volgsaam soos ek in alle dinge geword het, toe hy na my toe kom en my swygend en glimlaggend met uitgestrekte hand ’n blom oorhandig waarop hy skynbaar tussen die klippe afgekom het, ’n klein, helder blom wat ek nie ken nie, met ’n by wat besig was om die nektar uit te suig en nou, versadig en klewerig met stuifmeel, oor die blomblare probeer klim, maar dit nie kon regkry nie en telkens weer terugval in die kelk. Onbegrypend het ek my metgesel aangekyk en op ’n verduideliking van hierdie onverklaarde gebaar gewag, dog het hy dit klaarblyklik nie nodig geag om een te verstrek nie, en moontlik het die gebaar ook geen diepere sin besit nie en was dit slegs ’n veldblom waarop hy onverwags afgekom het en wat met sy ongebruiklike helderheid in hierdie vaal landskap sy aandag getrek het. Met die heraldiese blom in my hand het ek daar bly staan en die trae bewegings van die by gadegeslaan, verras dat die lewe so maklik kon wees, ’n gebaar so eenvoudig, dat ’n blom sonder meer oorhandig en aangeneem kon word sonder dat ’n verklaring daarby benodig of selfs verlang word. (380)

Van hierdie dinge het ek as oorlewende van die kultuur van aggressiewe oortuiging die eerste maal iets begin verstaan toe ek in Oktober 1997 so gelukkig was om in Aix-en-Provence, Frankryk in die gehoor te wees toe JM Coetzee die openingsverhaal van sy bundel filosofiese kortverhale, “What is realism?” in Elizabeth Costello (2003), ritmies in tandem met sy Franse vertaler voorgelees het. Toe ek daarna die geleentheid kry om aan Coetzee te vra waarom hy gekies het om ’n filosofiese argument by wyse van ’n verhaal te voer, was sy antwoord aldus my bedenklike geheue iets soos: “Because I have lost faith in the power of the rational argument.”

Vir iemand opgevoed in ’n kultuur van aggressiewe oortuiging en daarna opgelei in die Westerse filosofie waar baie geloof in die oortuigingskrag van die rasionale argument geplaas is, was Coetzee se antwoord ’n stille donderslag. As iemand wat nou al bykans 40 jaar standpunte met rasionale argumente publiseer, maar wat ook romans skryf en eers Zen-monnik en later Ortodokse priester geword het – oftewel iemand wat lewenslank intens gemoeid is met die vraag na wat dit is wat mense van oortuiging laat verander – het ek oor die jare ’n groeiende lysie gehou van wat dit is wat mense van oortuiging laat verander, veral op die gebied van geloof. Die lysie sien tans soos volg daaruit, vanaf die swakste tot die sterkste krag van oortuiging gelys:

– heel onder is die rasionale argument;

– net bo dit is die goeie verhaal;

– net bo dit is die goeie voorbeeld;

– net bo dit is die gedeelde liturgiese praktyk;

– en heel bo aan die lys is die gedeelde praktyk van stilte, normaalweg ingebed in ’n liturgiese praktyk, byvoorbeeld iets soos kollektiewe meditasie of kollektiewe stilgebed.

Of, soos die ouer skrywer, Dekker, dit in Schoeman se Afskeid en vertrek (1990) teenoor die digter, Adriaan, verwoord:

Daar is iets anderkant liefde, anderkant woorde, anderkant skepping selfs; ek moes ’n ou man word voordat ek dit begin leer het. As jy ver genoeg gekom het, tot by die verste punt waar jy álles agtergelaat het en jy nie verder kan kom nie – dan ontdek jy dat dit eers die beginpunt is van die reis, en dat die pad nie meer vérder gaan nie, weg van jou af, maar binnetoe, in jou in. En dan sluit die stilte óm jou en jy soek niks meer nie, jy bestaan net in jouself, en daar is ’n soort vrede. Maar dit is anderkant woorde, soos ek sê. (185–6)

Die oortuiging waarom dit hier gaan, is nie aggressief nie, maar stilswyend en onbedoeld; en dít omdat die oortuigde self deur so ’n metamorfose is dat die besef intree dat die ware oortuiging nié deur die argument kan kom nie, maar slegs deur die ervaring. Dit is nie die woorde wat die ander se ervaring kan verander nie; dit is slegs die ander wat ná die veranderende ervaring self woorde vir haar verandering moet probeer vind.

Oor die res is dit beter om te swyg.

Lees ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor Afrikaner(on)geloof en ons geloofsbesering

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Die VSA en Venezuela – wanorde of orde?

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Verset teen hierdie era – oor Paul Kingsnorth se Against the machine, on the unmaking of humanity

  • 6

Kommentaar

  • Oortuiging kan slegs plaasvind, dink ek, as die saad in vrugbare grond val. Jin & jang stipuleer dat die kakiebos en pompom sal groei, ewe geregtig as veldlelies en orgideë. So stry hulle ywerig en wederstrewig onder mekaar oor verbeelde waarhede in Plantland. Die hele lot verwelk helaas onverrigter sake. Wel, dalk het een party tydelike die oorhand, dan kom die water en die wind en die vuur en Afrika skeur middeldeur.

    Brommer en by.

    Maar, wag, die mens is die kroon van die skepping (al lyk dit nie so nie). Die siel van die mens lek mettertyd bietjies-bietjies óf eensklaps uit en herenig met die Vader.

    Dis ‘n feit soos ‘n koei. 🤣

  • Waldemar Gouws

    Die Boeddha, woordeloos, se gebaar met die lotus in sy hand, kan ook verklaar word deur na die genuanseerde betekenis van die lotus in Indië te kyk. Die lotusplant se wortels is in die modder (die onderbewussyn), die slank stam gaan op deur die water (die fisiese vlak van bewussyn) en die blom rus “wit en onnat” bo-op die water, gesig na die son (die bo-bewussyn). Vir die ingewydes was die boodskap duidelik met hierdie uitbeelding van die groei na verligting.

    Wat Karel Schoeman doen as hy vir Paap die blom aan die verteller laat gee, is om die verteller self te laat besin oor die moontlike motief daaragter, maar met die besef dat die blom vir hom, diskreet gestel, heraldiese waarde het. Hy, die verteller, moet dus kundig wees aangaande die heraldiek.

  • Johan Herholdt

    Die Boeddha het sy studente aangeraai om nie sy woorde resepmatig aan te haal nie, want, na alles, eet jou gaste nie die resep nie, maar die ervaring wat jy opgebou het deur die resep (oor en oor) voor te berei. En, soos enige kok weet, leer jy telkens iets wat jou dis of lekkerny nog beter kan laat proe. Soms, sonder rym of rede, kry die kok dit reg om harmonie (samarāsa) aan sy/haar eetgenote voor te sit. Dan daal die stilte anderkant woorde (a la Wittgenstein) oor die etery af.
    In hierdie heilige oomblikke ontmoet die resep, die vaardigheid van die kok en die aptyt van die eter mekaar.

  • Julio Agrella

    In 'n tyd waar nuanse beswyk het en elkeen se argument deurspek is van "hoor my stem", is stilte die enigste opsie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top