Die televisiereeks The tattooist of Auschwitz herinner ons aan die tragiek van die Joodse uitwissing tydens Hitler se bewind. Ons word aangrypend daaraan herinner dat die mense in die strafkampe nie net statistieke was nie, maar volronde persone wat kon liefhê, vrees en hoop, en wou oorleef.
Shakespeare se The merchant of Venice herinner ons dat Jode ook wraaksugtig kan wees. Shakespeare se eie vooroordele teenoor Jode had natuurlik ’n groot rol te speel in die wyse waarop hy Shylock uitgebeeld het. Ek was op hoërskool toe ek die eerste keer Merchant gelees het, alhoewel ek bekend was met die storie. Ek kan onthou hoe ek toe reeds gevoel het dat Shylock, sy foute ten spyt, onregverdig behandel was. Sy bekende monoloog waar hy in effek pleit vir gelykheid tussen Jood en Christen, gee my nou nog hoendervleis wanneer ek dit lees. Natuurlik is hierdie drama lank voor die Wêreldoorloë geskryf.
Schindler’s list gee ons ’n ander perspektief op die Nazi-bewind se pogings om Jode uit te wis. En dan is daar The diary of Anne Frank. Met ’n bietjie navorsing sou ek heelparty ander voorbeelde kon noem van werke, beide fiksie en niefiksie, wat die onmenslike wyse waarop Jode behandel is, uitbeeld en veroordeel. Daar is wetgewing uitgevaardig om seker te maak dat daardie misdrywe nooit weer kan plaasvind nie.
Hoe ironies dan dat ’n Joodse regering presies dieselfde doen as wat aan hulle gedoen was. Hulle metodes is meer gesofistikeerd, en daar is dalk nie gaskamers nie, maar die uitwissing van Palestyne op groot skaal is ewe onmenslik. En net soos destyds maak die res van die wêreld of hulle niks sien nie, of in die geval van Amerika, doen hulle aktief mee deur wapens en geld te verskaf om die waansin te befonds.
Wat beteken dit dat Iran missiele op Israel afgevuur het, en Israel dadelik entoesiasties reageer het? Dit is wat ek dink: Iran se aanval was die grootste geskenk waarop Netanyahu kon hoop. Israel is nou besig met gevegte aan drie fronte: Gaza, Libanon en nou Iran. Israel kan dit nie op lang termyn volhou nie, maar hulle weet hulle kan staatmaak op Sionis Biden se lojaliteit en ondersteuning. Met die Amerikaanse verkiesing net weke in die toekoms, is Israel natuurlik ook onder tydsdruk. Hulle is seker van Biden, maar hulle kan nie seker wees dat Trump of Harris hulle in hulle oorlog sal ondersteun nie. Wat ook al gebeur en gaan gebeur, moet dus gebeur terwyl Biden in die saal is. Die geluide wat Biden tans maak, is dat Israel moet wegbly van aanvalle op Iran se kernfasiliteite.
........
Die term mutually assured destruction het nie in ’n vakuum ontstaan nie.
........
Het Iran atoombomme? Niemand is seker nie. Wat wel seker is, is dat indien Israel hulle fasiliteite teiken, en hulle het bomme, sal hulle gedwing word om dit te gebruik. Die oomblik dat dit gebeur, bars die Derde Wêreldoorlog uit, want Israel het waarskynlik ook atoombomme, alhoewel hulle dit nooit verklaar het nie. Boonop sal die VSA uit vrees dat hulle geteiken mag word, ook toetree. Die term mutually assured destruction het nie in ʼn vakuum ontstaan nie.
Oorlog sal Trump se kanse in die verkiesing drasties verhoog – nie omdat hy ’n beter strateeg of diplomaat is nie, want hy is nie, maar omdat die Amerikaners waarskynlik nie veilig sal voel met ’n vrou in beheer van atoomkrag nie. Dit beteken natuurlik nie sonder meer dat Trump as president Israel sal ondersteun nie. HY het alreeds aangedui dat hy op Dag Een van sy presidentskap ’n diktator sal wees. Dag Twee sal hy maak net wat hy wil, wat waarskynlik beteken dat hy eers binnelands sy ysterhand sal laat geld. As oorlog hom ryker maak, sal hy oorlog voer. Maar dis onseker of dit beteken hy sal Israel ondersteun.
Hy en Netanyahu is te eenders – opportuniste wat albei sluipmoordaanvalle oorleef het. Maar sal dit hulle nader aan mekaar bring, of laat vrees vir wat die ander een kan doen? Dis die vraag.
Israel het alreeds die Verenigde Nasies verwerp toe hy António Guterres persona non grata verklaar het. Europa hou die oorlog in Oekraïne senuweeagtig dop. Wil hulle in nog ’n oorlog ingetrek word? Waarskynlik nie.
En waar laat dit Suid-Afrika? Iran is sedert Januarie vanjaar lid van Brics. Hulle het reeds regsaksie teen Israel ingestel. Is daar oorlog, gaan ons dus aan Iran se kant veg.
.........
En waar laat dit Suid-Afrika? Iran is sedert Januarie vanjaar lid van Brics. Hulle het reeds regsaksie teen Israel ingestel. Is daar oorlog, gaan ons dus aan Iran se kant veg.Wat het die Brics-lande? Rusland het gas. Saoedi-Arabië het olie. China en Indië het tegnologie. As Afrika as ’n kontinent besluit om Suid-Afrika te ondersteun, en uitvoere van alle minerale en metale staak, dan sit die Weste met ’n groot probleem. Dit kan die ekonomiese en magsbalans van die wêreld skuif.
.........
Die vraag is of die Brics-lande sal saamstaan indien daar oorlog kom. Ek reken so. Saoedi-Arabië is nog nie deel van Brics nie, maar hulle neem aan gesprekke deel. Boonop erken hulle Israel nie as ’n soewereine staat nie. Dis onwaarskynlik dat hulle aan Israel se kant sal veg. Wat het die Brics-lande? Rusland het gas. Saoedi-Arabië het olie. China en Indië het tegnologie. As Afrika as ’n kontinent besluit om Suid-Afrika te ondersteun, en uitvoere van alle minerale en metale staak, dan sit die Weste met ’n groot probleem. Dit kan die ekonomiese en magsbalans van die wêreld skuif.
Het die politieke leiers van al die lande daardie som gemaak? Natuurlik sou hulle. Afrika is destyds gekoloniseer om die Weste toegang tot die minerale en metale te gee. Hulle sal dit nie sonder meer prysgee nie. Afrika sal nie sommer weer teruggaan na koloniale tye toe nie. Dan gebeur die Derde Wêreldoorlog. Ons is nie gereed daarvoor nie. Niemand wen oorloë nie; mense oorleef dit net.
Die oorsaak: ego en arrogansie, soos met elke ander oorlog. Maak nie saak wat die verskoning is wat aangebied word nie, die oorsaak is altyd ego en arrogansie.
Dit het tyd geword dat ons iets nuuts probeer as ons die wêreld soos ons dit ken, wil probeer red.
Lees ook:
Power politics in the Middle East: How the global North-South divide capitalises on trauma