Vredestromme uit die Afrika-kontinent: futiel?

  • 1

...
Die sinisme het grootliks gespruit uit Afrika se onervare blootstelling aan die konflik tussen Oekraïne en Rusland; en die verbasing het gespruit uit Suid-Afrika se rol as sameroeper van die Afrika-fasiliteringsgroep, terwyl Suid-Afrika se neutraliteit in die konflik as baie dubbelsinnig en beoordelend ten gunste van Rusland beskou word.
...

Die besoek van ’n Afrika-vredesmissie aan die konflikgeteisterde Oekraïne en Rusland om voorstelle vir ’n blywende vrede te maak, is uit baie oorde met sinisme en verbasing begroet. Die sinisme het grootliks gespruit uit Afrika se onervare blootstelling aan die konflik tussen Oekraïne en Rusland; en die verbasing het gespruit uit Suid-Afrika se rol as sameroeper van die Afrika-fasiliteringsgroep, terwyl Suid-Afrika se neutraliteit in die konflik as baie dubbelsinnig en beoordelend ten gunste van Rusland beskou word. Die sending het onder die leierskap van president Cyril Ramaphosa gestaan en afgevaardigdes van die Comore, Zambië, Angola, die Kongo, Uganda en Egipte was ook deel van die inisiatief. Ramaphosa is bygestaan deur president Macky Sall van Senegal, president Hakainde Hichilema van Zambië en president Azali Assoumani van die Comore, as huidige voorsitter van die Afrika- Unie.

Die konteks van hierdie besoek is baie belangrik. Minstens ses faktore moet hier in oënskou geneem word wat ook elders in die artikel aandag sal kry.

  • Suid-Afrika se amptelike posisie met betrekking tot die konflik is neutraliteit. Dit kan egter hoogstens as subjektiewe of paradoksale neutraliteit beskou word indien Suid-Afrika se optrede by die VN en ander platforms in aanmerking geneem word. Daar is ’n algemene persepsie dat Suid-Afrika sydig staan ten opsigte van Rusland en nie die algemene en oorwoë mening deel dat Rusland die aggressor in hierdie konfliksituasie is nie.
  • Dit is ook belangrik om die historiese feit te onthou dat Suid-Afrika Rusland nie ten sterkste gekritiseer het met die eensydige besetting en anneksasie van die Krimskiereiland in 2014 nie. Anneksasie is ’n ou koloniale tegniek, terwyl Suid-Afrikaanse buitelandse beleid geheel en al gekant is teen enige vorm van kolonialisasie.
  • Die besoek van die Russiese skip Lady R op 6 Desember 2022 het ook direk betrekking op die aangeleentheid. Dit wil voorkom asof daar tydens die besoek van die skip Russiese militêre toerusting afgelaai is in Simonstad, maar Amerikaanse bronne beweer daar is ook militêre toerusting na Rusland verskeep. Dit is tans die onderwerp van die ondersoek onder leiding van oudregter Phineas Mojapelo.
  • Russiese en Chinese vlootoefeninge in die Indiese Oseaan het Suid-Afrika se neutraliteit verder onder verdenking geplaas.
  • Dreigemente uit die VSA dat die voorkeurhandelstatus wat Suid-Afrika onder AGOA (African Growth and Opportunity Act) het, weer bekyk sal moet word. Dit word allerweë as ’n diplomatieke dreigement beskou as gevolg van Suid-Afrika se sydigheid met betrekking tot Rusland.
  • Die Brics-beraad wat in Augustus 2023 in Suid-Afrika moet plaasvind en die uitnodiging aan president Poetin om dit by te woon, word ook ’n diplomatieke kopseer. Suid-Afrika is tans die voorsitter van Brics en nooi alle Brics-lede uit na die jaarlikse beraad wat vanjaar in Suid-Afrika sal plaasvind. Die vraagstuk is egter wat Suid-Afrika te doen staan met die Poetin-tameletjie. Poetin is op 17 Maart 2023 deur die Wêreldhof in Den Haag as ’n oorlogsmisdadiger verklaar en ’n dagvaarding vir sy arrestasie is uitgereik. Hierdie kwessie, en die vraag of Suid-Afrika hom in hegtenis sal neem, maak alles deel uit van die paradoksale neutraliteit van Suid-Afrika in die konflik in Oekraïne.

Die groot nuus met die aanvang van die besoek was egter dat die presidensiële beskermingsdienste, onder leiding van generaal-majoor Wally Rhoode (wat ook met Phala Phala geassosieer word), asook verskeie joernaliste, nie uit die Poolse Chopin-lughawe kon vertrek om hulle in Kijif by die gespreksgroep aan te sluit of selfs in St Petersburg op die Russiese been te wees nie. Die onbeholpenheid met betrekking tot die diplomatieke reëlings is deur Pole eenvoudig as onvoldoende permitte en toestemming afgemaak, maar Pole is deur Rhoode en sommige joernaliste van rassisme beskuldig. In die Suid-Afrikaanse konteks is die beskuldiging van rassisme ’n ernstige aanklag, maar in die ongenaakbare wêreld van magspolitiek en diplomatieke toutrekkery word daar nie baie ver met dié beskuldiging gekom nie. Dit is nie vreemd dat Pole in hierdie geval op tegniese en burokratiese wyse ’n vertraging bewerkstellig het nie, veral as in aanmerking geneem word dat Pole aangrensend aan Oekraïne is en die grootste deel van die vlugtelinggemeenskap uit Oekraïne moes hanteer en akkommodeer. Veral ook as in aanmerking geneem word dat Suid-Afrika se neutraliteit in die konflik hoogstens as subjektiewe neutraliteit beskou word.

...
Albei die ontknopers, Jean-Yves Ollivier and Ivor Ichikowitz, is ook bekende vriende van Wladimir Poetin.
...

Dit het sedertdien bekend geword dat die organisering en reëlings van die besoek interessante figure in die wêreld van wapenhandel ingesluit het. Dit het in verskeie media groot opslae gemaak, maar daar word redelik wyd aanvaar dat dié soort intervensies gewoonlik onkonvensionele “ontknopers” insluit, veral mense uit die skaduwêreld van wapenhandel en -voorsiening. Albei die ontknopers, Jean-Yves Ollivier and Ivor Ichikowitz, is ook bekende vriende van Wladimir Poetin.

Wat het die voorstelle van die Afrika-vredesmissie behels?

Die Afrika-leiers het die volgende 10 hoofpunte voorgestel vir ’n vredesgesprek:

  • Die twee leiers moet na mekaar luister.
  • Die konflik moet deur onderhandelinge en diplomatieke meganismes besleg word.
  • Die konflik moet aan beide kante gedeëskaleer word.
  • Die soewereiniteit van beide lande moet in terme van die VN-handves en internasionaal aanvaarde beginsels erken word.
  • Daar moet ’n waarborg wees vir die nasionale veiligheid vir al die lande wat betrokke is.
  • Graan moet deur die Swart See kan beweeg en alle blokkasies en beperkinge moet opgehef word.
  • Humanitêre pogings moet van stapel gestuur word vir almal wat deur die konflik geraak word.
  • Krygsgevangenes moet vrygelaat word en kinders moet na Oekraïne kan terugkeer.
  • Postkonflik rekonstruksie moet begin word om die skade wat die oorlog aangerig het, te herstel.
  • Verdere ontmoetings moet plaasvind om dialoog aan te moedig met die Afrika-vredesmissie as fasiliteerder.

Die vredesplan wat die Chinese vroeër reeds bekend gemaak het, toon baie ooreenkoms met hierdie inisiatief, maar plaas ook sterk klem op die beëindiging van sanksies teen Rusland, versekering oor ’n moontlike kernkonflik, en dat alle handel en handelsooreenkomste terugkeer na normaal. Afrika se 10-punt-plan het beslis meriete, maar die spilpunt van enige van die gesprekke gaan die toekoms van die oostelike Donesk-streek van Oekraïne wees. Gaan die Russe dit in onderhandelinge teruggee, of gaan Oekraïne op ’n manier vergoed word deur afstand te doen van die geografiese gebied? Wat ook al die uitkoms hiervan gaan wees, gaan ook op die Krimskiereiland betrekking hê, iets wat die Russe met alle mag en mening sal weerstaan.

Is Rusland in ’n hoek?

In enige vredesproses is dit ’n voorwaarde dat rolspelers se opsies beperk word en dat ’n vuurstaking en vredesproses ’n statige uitkoms aan die partye bied. Uit gesprekke wat die Afrika-missie met Poetin gehad het, asook uitsprake deur hom op ander platforms, klink dit nie of Rusland tans in ’n hoek verkeer nie. Ten spyte van omvangryke sanksies deur die Weste en verdere toepassing van sanksies op derde partye wat met Rusland handel dryf (Indië en Suid-Afrika?) wat deur beide die VSA en die Europese Unie afgekondig is, ontken Poetin enige druk op Rusland. Militêr gesproke maak die Russe ook nie vordering nie, maar hulle behou die gebiede wat reeds verower is. Daar is egter twee dimensies van die konflik wat baie sensitief is, naamlik die gebruik van die kernopsie as ’n soort verskuilde dreigement en die deurlopende bombardering van die burgerlike bevolking deur middel van missiele en hommeltuie. Ekonomies is daar beslis ook druk op Rusland en is die ekonomie steeds besig om in te krimp volgens data van die IMF en die Wêreldbank.

Kan Oekraïne militêr die oorhand kry?

Oekraïne is tans die ontvanger van enorme militêre en ekonomiese steun van veral die Europese Unie en die VSA, maar dit is te betwyfel of die Zelenksi-regering die vermoë het om die Russiese magte uit die beleërde Donesk-streek terug te druk. Die Russiese strategie om die infrastruktuur en burgerlike bevolkings gedurig onder skoot te hou het ’n baie nadelige uitwerking op die moreel in Oekraïne. Die terugvegpoging van Oekraïne is merkwaardig, maar nie volhoubaar sonder die deurlopende steun van Navo in die algemeen en die VSA en Europese Unie op ekonomiese en finansiële gebied nie. Die reaksie uit Kijif dui nie op ’n speler in die konflik wat besig is om te verloor nie, wel wetende dat die situasie baie sensitief is.

Suid-Afrika en paradoksale neutraliteit

Suid-Afrika het duidelik die inisiatief geneem met die Afrika-vredesending en is ondersteun deur ’n aantal Afrikalande. Is die inisiatief geneem om ons uit ’n polities-diplomatieke knyptang te kry? Dit is die groot vraag: Waarom het die Suid-Afrikaanse regering die inisiatief juis nou van stapel gestuur, terwyl nie Rusland óf Oekraïne gereed is vir vredesgesprekke nie? Deel van die antwoord is geleë in die “neutrale” posisie wat Suid-Afrika in die konflik ingeneem het sedert 2022. Suid-Afrika se dilemma met betrekking tot sy neutrale posisie is geleë in sy lidmaatskap van Brics, sy ekonomiese betrekkinge met die VSA en die Europese Unie en die persepsie dat Suid-Afrika besig is met ’n paradoksale neutraliteit. Hierdie teenstrydige posisie word veral gedemonstreer in verhoudinge met die VSA en met die Europese Unie, wat ’n groot rol speel in die ekonomiese heropbou van Suid-Afrika na die vernietigende ekonomiese uitwerking van Eskom, so kort op die hakke van COVID-19. Bewerings dat Suid-Afrika militêre handel dryf met die Russe, ten spyte van baie streng sanksies, het ook nie gehelp om Suid-Afrika se “neutrale” posisie te versterk nie. Dit het egter ook duidelik geword dat Ramaphosa ’n beter diplomaat is as wat hy ’n effektiewe en rigtinggewende politieke leier is. Dit is ook ’n situasie wat toenemend sy leierskap in Suid-Afrika bedreig.

Die pad vorentoe?

Die besoek aan Oekraïne en Rusland deur die Afrika-vredesmissie was futiel en het gelyktydig op twee plekke ontspoor: in Kijif en in Moskou. Beide glo dat hulle onderskeie militêr-stratgiese planne nog uitvoerbaar is. Die voorwaarde vir vredesgesprekke, naamlik dat een of meer spelers se opsies uitgeput is, bestaan nog nie in die konflik nie. Objektief gesproke is dit egter duidelik dat Rusland ekonomiese probleme ervaar en nie militêr-strategies suksesvol is nie, en dat Oekraïne nie ’n volhoubare teenstrategie kan loods sonder enorme steun van Navo nie. In die lig van laasgenoemde het die Afrika-vredesending tog waarde, in dié opsig dat beide Kijif en Moskou op dialoog as opsies gewys is, dat daar erkenning was vir die humanitêre posisie van Oekraïne, en dat die Russe indirek erken het dat hulle militêre optrede nie die sukses was wat in die vooruitsig gestel was nie.

Die Afrika-vredesinisiatief het die kontinent en president Ramaphosa vir twee dae internasionale blootstelling gegee, maar diplomatieke blapse en organisatoriese foute het meer blootstelling gekry as wat nodig was. Afrika gaan nie die konflik in Oekraïne besleg nie – dít sal net deur vyf ander rolspelers gedoen kan word. Aan die een kant van die onderhandelingstafel sal die Russe en die Chinese sit, en teenoor hulle sal Oekraïne en Navo en die Europese Unie sit. Die vyfde groep spelers om die tafel sal die onmiddellike belanghebbendes wees, soos Turkye en ander lande wat direk deur die konflik geraak word. Die Afrika-vredesmissie was op sy beste die veraf geslaan van tromme om die noodsaak vir ’n diplomatieke voorspel aan te kondig.

Lees ook:

Die Suid-Afrikaanse vredesmissiefiasko en Oekraïense reaksie

Suid-Afrika se diplomatieke herrie in Pole gaan in parlement draai

Nederland bevestig steun aan Oekraïne sowel as bande met Suid-Afrika

Waaroor het Ramaphosa en Poetin alles gesels?

  • 1

Kommentaar

  • Mens moet eenvoudig die taalgebruik regkry; hierdie is nié ’n “konflik” nie, dis ’n volskaalse oorlog wat rusland teen Oekraïne ontken het, en wat steeds in volle, brutale swang is. “Konflik” dui op ’n dispuut, maar daar is geen dispuut hier ter sprake nie. Rusland het ’n onafhanklike, soewereine land binnegeval met die doel om daardie land aan sy mag te onderwerp. Dit is, terloops, steeds die Kremlin se doelwit, dít en die vernietiging van die idee van ’n Oekraïense nasie. Eufemismes het as effek die verskansing van die waarheid. Om die werklike situasie onder die aandag van die buitewêreld te bring, is dit belangrik dat die ding by sy naam genoem word.

    Mens kan slegs dink dat poetin ’n “statige uitkoms” uit die situasie verdien as jy glo dat hier regtig ’n “konflik”, ’n “dispuut” ter sprake is, iets soos byvoorbeeld ’n grenskonflik. In werklikheid is poetin ’n leier waarvoor daar nou al ’n arrestasiebevel vir oorlogsmisdade uitgereik is. Hoe mens dit, as konkrete getuienis van die morele degradasie van rusland se optrede in en teen Oekraïne, moet versoen met die idee van ’n “statige uitkoms” is moeilik om te begryp. Sou daar ’n pleidooi tydens die Tweede Wêreldoorlog wees vir ’n “statige uitkoms” vir Hitler en Nazi-Duitsland?

    Die artikel beweer dat Pole doelbewus ’n tydvertraging bewerkstellig het deur nie die sekuriteitspersoneel toe te laat om van boord te gaan nie. Die redes vir die bewering is onlogies; dis glo omdat Pole baie Oekraïense vlugtelinge ingeneem het. Dat Pole kwansuis doelbewus ’n tydsvertraging bewerkstellig het, sluit die moontlikheid uit dat die papierwerk vir die twaalf kratte vol swaar wapens wat die sekuriteitspersoneel in Poland wou aflaai, dalk nié in orde was nie. Die leser kan self ’n verklaring kies.

    Die skrywer se prognose van die oorlog en die betrokke lande se ekonomieë gaan mank aan kennis van die militêre situasie, en berus op uitsprake deur poetin. Poetin se uitsprake dui glo nie aan dat rusland probleme ondervind nie, maar mens kan kwalik van poetin verwag om die waarheid omtrent rusland se posisie, ekonomies en militêr, te kenne te gee. Dis nou behalwe vir sy gewone, wêrelberugte verhouding met die waarheid.

    Vir die werklike toedrag van sake wat betref die russiese ekonomie sal kundige bronne geraadpleeg moet word. ’n Elfde sanksiepakket, wat ook derdepartylande wat sanksies omseil, teiken, is in die pyplyn. Dis dalk meer gepas om te vra hoe lank rusland die oorlog sal kan aanhou finansier. Rusland lei geweldige verliese op die slagveld, in terme van menselewens en toerusting. Hulle het al sover twee derdes van hulle tenkarsenaal verloor. Oekraïne gebruik die Westerse wapens wat hulle ontvang baie effektief. Verlede week is die Hontsjar-brug wat die Krim skiereiland met Oekraïne verbind, opgeblaas. Dit sny ’n belangrike toevoerlyn van die russiese weermag af. Langafstandwapens maak dit moontlik om militêre opslagplekke agter die frontlyn suksesvol aan te val.

    Om te soek vir positiewe punte van hierdie vredesmissie is soos om die pot se boom te skraap. Die missie het die moontlikheid van onderhandelling op die tafel gesit? Werklik. Niemand anders het daaraan gedink nie. Dis blykbaar al vergete dat daar verskeie pogings reg aan die begin van die oorlog was om te onderhandel. Zelenskiy het drie dae na die inval, om die bloedvergieting te stop, verklaar dat Oekraïne nooit ’n Navo-lid sal word nie. Dit het nie gehelp nie. Rusland wil onderhandel, maar volgens hulle reëls – die behoud van die besette gebied, wat ’n gevriesde konflik op Oekraïense grondgebeid sal meebring, soos in Georgië, Ossetië, Moldawië. Die Kijif-regering se standpunt is, ten regte, dat onderhandelings slegs kan plaasvind wanneer russiese magte uit Oekraïne vertrek.

    Mens is altyd verbaas dat artikels soos hierdie amper ’n soort parallelle wêreld skets waar die werklike toedrag van sake, ter wille van ’n strewe na “objektiwiteit”, nie bestaan nie. En dis eintlik die regte rede hoekom die vredesmissie futiel was; die draaiboek daarvoor bestaan uit tekens wat onderling na mekaar verwys, sonder dat die geheel buite die grense van die teks reik. Die SA regering, met sy leidende rol in die sending, se siening van rusland is verstar en neem nie verwikkelinge in daardie land tydens poetin se bewind van die afgelope twintig jaar in aanmerking nie. Dis tyd om te vra: wie is die SA regering se raadgewers betreffende rusland en die oorlog?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top