
’n Artikel oor katte wat glo goed is vir die mens se gesondheid, het nog meer stories oor troeteldiere daaruit laat voortspruit. Daar is ook geskryf oor honde en konyne (sien heel onder). Hier volg nog ’n LitNet-bydraer, Elzanne Coetzee, se verhaal oor haar pad met haar troeteldiere.
Ek is die hoof van ’n vyf-kat-een-mens-huishouding – beslis ’n verrykende en uitdagende ervaring. Hier is ons storie.
Ek was nog altyd gaande oor diere en die natuur oor die algemeen, en het ook grootgeword in ’n huis waar daar altyd ’n hond, ’n kat en ’n papegaai of drie was. Dit het nog altyd gevoel asof diere eenvoudig deel vorm van wat ’n “gesin” is en vir my as kind was dit amper half vreemd as iemand sou sê dat hulle nie diere in hulle huis het nie – bloot omdat ek dit my nie kon indink nie.
Vir ’n tydperk in my kinderlewe het ek ook vas geglo ek kan telepaties met diere kommunikeer. Ek onthou een besonder hartseer toneel nadat een van ons honde raakgery is en ek lank by hom gesit en “gesels” het om hom gerus te stel, maar die veearts het ons meegedeel dat sy wonde te ernstig is en dat hy geen kans op herstel het nie. Maar dis deel daarvan om diere in jou lewe te hê – ongelukkig gebeur dit min dat hulle langer as ons leef. In elk geval, dit daar gelaat. Kom ek begin by die begin.
Die grootste en vroegste invloed in my lewe wat diere betref, is beslis die wyse waarop beide my ouers oor diere dink en voel. Ek was in die laerskool toe my ouers na ’n kleinhoewe verhuis het. Hier was ek nou werklik ómring deur diere. Glo my as ek sê my ma het nie op haar laat wag toe die groter stukkie grond beskikbaar raak nie. Hoenders, ganse, volstruise, bokke, bergskilpaaie, kalkoene, poue ... Noem maar op. Elkeen het ’n naam en ’n plek by die Coetzee-huis. My pa weer het die geleentheid gesien om ’n paar skape en beeste aan te skaf.
.....
Die grootste en vroegste invloed in my lewe wat diere betref, is beslis die wyse waarop beide my ouers oor diere dink en voel.
.....
Uitstappies en vakansies saam met die gesin is altyd rondom die diere se behoeftes beplan. Ons kan nie te lank weg wees van die huis af nie, want dou voor dag kry elke diersoort op die werf ontbyt, en stiptelik om 17:00 word aandete uitgedeel. Die koeie moet gemelk word en die melk moet gebottel word vir die dag se bestellings. Die pluimvee (elke groepie in ’n aparte kampie volgens die spesifieke spesie en/of subspesie) moet kos kry en hulle waterbakke moet uitgewas en weer volgemaak word. Dieselfde geld vir die vee. Die katte in die huis se kosbakke moet volgemaak word. Elkeen van die honde (daar is tans vyf: ’n skaaphond, twee Jack Russells en twee welfare-wollies – een steekbaard en een foksterriëragtig) kry ook hulle afgemete porsies. En so word dieselfde roetine elke oggend en elke aand herhaal.
Dit is byna vanselfsprekend dat een van die eerste goed wat ek wou doen toe ek Stellenbosch toe trek uit my ouerhuis, was om ’n diertjie aan te neem. Ek wou met alle mag en geweld ’n hondemaat aanneem wat saam met my sou kon gaan stap en in die aande – of op koue winterdae – by my sou kom inkruip en my forever companion sou wees. Wat ek nie besef het nie, is dat my ware forever companion(s) eerstens sommer net self by my huis sou opdaag, en tweedens toe nou minder hondagtig en meer katagtig sou wees.
Ek het vyf katte: Khaleesi, Stoffel, Buttons, Shiva en Buddha, waarvan slegs die laaste twee nie self by my opgedaag en ingetrek het nie. Elkeen oneindig kosbaar en absoluut uniek uit eie reg.
Khaleesi

Khaleesi. Foto verskaf.
Khaleesi (ook Khalees of Khaliesel) was die eerste selfopgelegde intrekker van die vyf. Sy is ’n kleinerige kalikokat en het boonop twee babakatjies by haar gehad toe sy by my ingetrek het. Die vorige bure oorkant die pad van my huis was eers haar eienaars, maar hulle het haar gereeld uitgesluit uit die huis, en toe haar babas eers daar is, is hulle al drie weggejaag. Khalees het vir ’n geruime tyd op die straat geleef en haarself en haar kinders uit die vullisdromme in die kompleks gevoer. As sy ’n stukkie vleis of ’n hoenderbeen êrens kon opspoor, sou sy haar kinders met ’n lang miaau roep en dan die vonds tussen hulle deel. Haar mense het teen die einde van daardie selfde jaar as wat haar babas gebore is, verhuis en hulle al drie agtergelos.
.....
Uiteindelik het sy die kans waargeneem en een middag deur my sitkamervenster die huis binnegetree. Ná ’n paar besoeke waartydens sy net vinnig sou eet en dan weer die huis uit is, het sy een middag saam met een van haar seuns by my opgedaag. Dié is Katastrofe gedoop en as jy hom geken het, sou dit nie eens nodig wees om die naam te verduidelik nie.
.....
Uiteindelik het sy die kans waargeneem en een middag deur my sitkamervenster die huis binnegetree. Ná ’n paar besoeke waartydens sy net vinnig sou eet en dan weer die huis uit is, het sy een middag saam met een van haar seuns by my opgedaag. Dié is Katastrofe gedoop en as jy hom geken het, sou dit nie eens nodig wees om die naam te verduidelik nie. Hy was werklik die beliggaming van ’n “katastrofe”. ’n Paar weke het verbygegaan met Khalees en Katastroof in die huis voordat die derde musketier veilig genoeg gevoel het om ook sy plekkie in die huishouding in te neem. Hy het Salvador as naam gekry – natuurlik vernoem na die bekende outsider-kunstenaar Salvador Dalí.
Van die drie is slegs Khaleesi steeds deel van my gesinnetjie. Salvador het mettertyd by my buurman ingetrek en die twee het dik tjommies geraak, so toe buurman trek, is Salvador sak en pak saam. Katastrofe is raakgery. Hy het dit oorleef, alhoewel sy heupbeen heeltemal versplinter is, maar ná baie trane en hy wat homself weer leer loop het op sy eie manier, het hy eendag net nie weer huis toe gekom nie. My vermoede is dat hy dalk weer deur ’n motor getref is.
Vandag is Khaleesi ’n volwaardige huiskat. Sy gaan buitentoe bloot om die bure se hond (wat bang is vir katte) te terroriseer en om ’n bietjie son op my stoep te vang. Andersins bestuur sy die ganske huishouding, en hoewel sy die kleinste van die lot is, is die ander katte maar op hulle hoede vir haar. In haar vrye tyd kruip sy graag weg om hoekies en maak die ander katte skrik of vang die paar mensvoete wat niksvermoedende by haar verbystap. Sy is ook vreeslik lief daarvoor om ’n groot bohaai op te skop as een van die ander katte net in haar rigting kyk, met die wete dat die onskuldige bystander moontlik raas sal kry as haar gekerm oortuigend genoeg is. Afgesien van hierdie geniepsige terggeeseienskap waaroor sy beskik, is sy ook die eerste een van al die katte wat weet as iets nie pluis is nie. En sy troos graag met ’n diep spin en ’n knuffel. ’n Ware volksmoeder – sy vat nie nonsens nie, maar sy het darem ook nie ’n hart van klip nie.
Stoffel
Die volgende kat wat sy opwagting by my gemaak het, is die grote Stoffel (Toffelien, Stoffelsina of Stoffie word ook aanvaar). Hy is die groot seun wat my bewus gemaak het van ’n selfs groter probleem in die kompleks. Khaleesi en haar twee rakkers is nie die enigste katte wat agtergelaat is deur hulle mense nie; inteendeel, dit is iets wat heel dikwels in die kompleks gebeur. So het Stoffel ook straatkatstatus verkry, en dieselfde geld vir Buttons.
.....
Op ’n stappie deur die kompleks tydens die grendeltydperk het Stoffel my raakgesien voordat ek hom gesien het. Hy het reguit na my toe aangeloop gekom toe ons oogkontak maak en ek my oë stadig vir hom knip – die katmanier om te wys jy is vriendelik.
.....
Op ’n stappie deur die kompleks tydens die grendeltydperk het Stoffel my raakgesien voordat ek hom gesien het. Hy het reguit na my toe aangeloop gekom toe ons oogkontak maak en ek my oë stadig vir hom knip – die katmanier om te wys jy is vriendelik. As ek moet raai, sou ek sê hy het lank voor daardie dag al bewus geword van my. Ek het elke dag tot onder in die kompleks gestap net om ’n bietjie uit die huis uit te kom. Elke dag verby die bruggie wat oor die rivier loop, waar ek toe later uitvind hy onder geslaap het. My Stoffel, die brugtrol.
Sy pels was in ’n besonder swak toestand en hy was vol bosluise met ons eerste ontmoeting. Vir ’n paar dae het ek klokslag besoek afgelê by Stof se brug, hom kos gegee, liefies gegee, totdat hy op ’n dag besluit het om saam terug te loop na my huis. Ná behandeling vir die bosluise en ontwurming het sy pels binne etlike dae begin blink en ’n paar weke daarna het ’n bykans hele nuwe pels gegroei. Hy het die sagste, rustigste geaardheid, en hy is op sy gelukkigste as hy net naby jou kan wees. Vryfies het ’n kwota, maar teenwoordigheid is altyd welkom. Dat enigeen hom kon agterlos, gaan my verstand te bowe. Ek kan my my lewe nie sonder hom indink nie.
Buttons

Buttons. Foto verskaf.
Buttons is die kat met die meeste misterie rondom waar presies hy vandaan kom. Oor die afgelope Desembervakansie het ek vir tien dae by my ouers gaan kuier, en met my terugkoms by die huis was daar ’n vreemde swart gesiggie met wit snorre op my sitkamerbank. Ek weet nie wie van ons twee groter geskrik het toe ek die sitkamer inloop nie, maar Meneer Swartkat is daar inderhaas weg en ek het aangeneem ek sal hom nie weer sien nie.
.....
Oor die afgelope Desembervakansie het ek vir tien dae by my ouers gaan kuier, en met my terugkoms by die huis was daar ’n vreemde swart gesiggie met wit snorre op my sitkamerbank.
.....
Totdat ek een aand wakker word van ’n vreemde geraas in die sitkamer. Nog half aan die slaap, loop ek stadig sitkamer toe. Stel jou dit voor: ’n uitbundige Buttons wat al die katspeelgoed oor die vloer versprei het en van die een na die ander hardloop om daarmee te speel. Hierdie roetine het lank aangehou, met Buttons wat laataand kom kuier terwyl ek duidelik al slaap, en in die oggende die slagveld van speelgoed as bewys dat hy wel daar was.
Nadat Buttons begin vriende maak het met die ander katte, het hy meer gereeld deur die dag kom kuier, en uiteindelik het hy ook ’n permanente inwoner geword. Hy is een groot liefie. Hy weier nooit die kans om ’n lekker pot hard-to-get te speel met enige van sy katsibbe nie; hy kan nie genoeg kry van aandag nie; hy hou van ’n skootlê; hy’s gek oor drukkies; en hy skuur graag teen en vleg tussendeur jou bene. Bygesê, ek moes hom onlangs veearts toe neem (diagnose: IBS) en hy besluit nog of hy my daarvoor sal vergewe. Ek hou duim vas dat die verhouding sal herstel en dat ek sy vertroue sal kan terugwen.
Buddha

Buddha. Foto verskaf.
Die laaste twee, Buddha en Shiva, is boetie- en sussiekatte wat een aand laat tydens ’n storm in die Weskus langs die pad gesit het toe ’n vriend hulle gewaar. Hy het onmiddellik afgetrek, hulle gevang en later vir my gebring. Hulle was piepklein en wild toe ek hulle vir die eerste keer ontmoet het. Ek vermoed hulle is nie te lank voor daardie stormnag gebore nie en is op die een of ander wyse van hulle ma geskei. Dankie tog vir formulemelk! Vir die eerste week of wat vandat hulle in my sorg geplaas is, was hulle so klein dat ek hulle met ’n spuitnaald moes melk gee. Dit was egter nie vir lank die geval nie. Teen die einde van die eerste maand op formulemelk het eers Buddha, en kort ná hom Shiva, se grootte byna verdriedubbel.
.....
Die laaste twee, Buddha en Shiva, is boetie- en sussiekatte wat een aand laat tydens ’n storm in die Weskus langs die pad gesit het toe ’n vriend hulle gewaar. [...] Ek vermoed hulle is nie te lank voor daardie stormnag gebore nie en is op die een of ander wyse van hulle ma geskei. Dankie tog vir formulemelk!
.....
Vandag is Buddha ’n langeraatkat wat soos ’n sneeuluiperd lyk, en die gedrag pas beslis by die voorkoms – skugter, berekend, sensitief, geslepe – maar met ’n grootse liefde vir sy sussie. Sy moet gereeld gewas en gepamperlang word as hy in die omtrek is. As sy dit toelaat, slaap hy amper bo-op haar, en moenie dat hy haar hoor grom of blaas omdat sy bedreig voel nie – hy is binne oomblikke daar om enigeen reg te sien wat dink hulle kan vir Shiva intimideer.
Shiva

Shiva. Foto verskaf.
Shiva (alias Skiewies of Skiewel Keniewel), daarenteen, is meer ingestel op mense-aandag. Sy raak dikwels geïrriteerd met haar oorbeskermende boetie, en hoewel hy omtrent dubbeld haar grootte is, is sy nie bang om hom te laat weet daarvan nie. Shiva se gunstelingaktiwiteite sluit in slaap (ja, dit is in volgorde van belangrikheid) en om opgetel te word en op my een hand te balanseer terwyl ons in die tuin rondloop. Shiva spioeneer ook graag op die bure, ’n stokperdjie wat sy met beide Khaleesi en Stoffel deel. Haar spioenasietegniek is wel uniek, omdat sy begin grom as die bure enigiets doen waarvan sy nie hou nie – dit sluit basies enige oortollige beweging en harde geluide in. Aardjie na sy vaartjie wat laasgenoemde betref.
.....
Ek sal selfs sê elkeen het op sy eie manier en op sy eie tyd my lewe gered.
.....
As iemand ’n dekade gelede vir my sou gesê het ek sal eendag vyf katte hê, sou ek hulle waarskynlik nie geglo het nie. It’s a lot. Maar elkeen van hierdie diertjies het op so ’n spesifieke tyd oor my pad gekom. Ek sal selfs sê elkeen het op sy eie manier en op sy eie tyd my lewe gered. Soos ek reeds genoem het, het ek met diere in die huis grootgeword en het ek nog altyd ’n toegeneentheid teenoor diere gehad, maar om ’n diertjie persoonlik te ken, te weet wat hom of haar uniek maak, te weet dat hulle kiés om die verskeie fasette van hulle persoonlikhede met my te deel, is iets waarop ’n mens nie voorbereid kan wees nie. Khaleesi, Stoffel, Buttons, Buddha en Shiva het my lewe handomkeer verander.
Ter afsluiting, ’n paar kosbare lesse wat die katte my geleer het:
- Wees jouself.
- Wees teenwoordig, lewe in die nou, en wees dankbaar vir elke oomblik – jy weet nooit wanneer is dit die laaste nie.
- Hou jou oë oop vir en waardeer die klein goedjies in die lewe. Enigiets kan vermaak verskaf.
- Maak tyd om stil te sit en waar te neem en/of te mediteer.
- Wees spesifiek oor die konneksies wat jy in jou lewe toelaat – dis immers jóú lewe.
- Dit is oukei om persoonlike grense te hê en hulle aan ander te kommunikeer.
- Elke keuse het sy gevolge; dink daarom mooi voordat jy doen.
- Wees bewus van en aanvaar sover moontlik die dood, die onafwendbare einde.
- Beweeg aan en laat vaar die verlede; dit is wat dit is. Om te tob gaan jou nêrens bring nie.
Mag daar nog vele gelukkige jare vol katmanewales wees wat voorlê.
Lees ook:


Kommentaar
Trane in my oe gebring Dit was so mooi geskryf
Katte-liefde is die beste-mooiste-eerlikste! Hulle is die beste karakterpolieste! My lewe is verryk deur hierdie wollerige liefdesbondeltjies.
Dankie vir jou vertel en liefde ❣️