Die Hessequa Harmonie-fees 2026: ’n onderhoud met Niël Rademan

  • 0

Feesplakkaat: Hessequa Harmonie; foto van Niël Rademan: ©Johan Botha, 2026

Christiaan J de Swardt praat met Niël Rademan, stigter en feesbestuurder van die Hessequa Harmonie-fees, oor vanjaar se fees.

Die Hessequa Harmonie-kultuurfees word vanjaar die negende keer in Heidelberg in die Wes-Kaap aangebied. Die feesprogram skitter met musiek, teater, letterkunde en kuns wat liefde, medemenslikheid en eenheid vier. Van simfoniese musiek en skrywersgesprekke tot huldeblyke aan ikoniese kunstenaars en skrywers, beloof die fees weer ’n besondere kulturele ervaring op die platteland – die klein fees met die groot hart.

Dié fees bring die room van die Suid-Afrikaanse kunstelandskap na die Hessequa-streek op pad na die Tuinroete. Hessequa sluit die dorpe Albertinia, Stilbaai, Riversdal, Witsand – én Heidelberg – in.

Die aanbod is vanjaar weer opwindend en uiteenlopend – met veral klem op klassieke musiek, boekbesprekings, kunsuitstallings, rondleidings, slypskole en ’n rits gratis aanbiedinge.

Nege is ’n spirituele getal en simboliseer universele liefde, medemenslikheid, vrygewigheid en wysheid. En dit is presies wat hierdie jaar se Hessequa Harmonie beloof om te wees. September is Erfenismaand en die fees vier fees juis om die eenheid wat die kunste in ons land kan bring, te huldig.

Op vanjaar se program is daar oudergewoonte ’n groot simfoniese blaasorkes, met ’n verskeidenheid van soliste en ’n reuse-massakoor. Die gevierde sopraan Lynelle Kenned speel in ’n splinternuwe Vivaldi-produksie met teks deur Riana Scheepers. Daar is groot opgewondenheid om ook klawesimbelmusiek in hierdie program te gebruik. ’n Klavierskouspel met drie klaviere word vanjaar vir die eerste keer by die fees aangebied. Verwag Mozart, movies en maestro’s. Ook André Schwartz se Any dream will do: my pad met Webber, die openingskonsert Spiritual songs, die musikale reis Van Holland tot Heidelberg – én die gesogte ATKV-galakonsert.

’n Reeks skrywersgesprekke, gelei deur Riana Scheepers, word by die historiese Doornboom-opstal (Fouriehuis) aangebied. Ook daar is ’n nuwe inisiatief, Kleur en klank, waar bekende akteurs hul gunstelinggedigte sal voordra. Tussen die hoogtepunte is die 90ste herdenking van die ikoon Adam Small se geboortejaar. Dean Balie doen ’n program oor sy lewe. Die skrywer MER kom ook onder die loep. Bettie Kemp vertel haar verhaal in TaMiem van Swellendam.

Die groot feesdag, ter afsluiting van Hessequa Harmonie 2026, vind weer by Dasjesdrift, buite die dorp, plaas met die aanbied van drie produksies: ’n skrywersontbyt, ’n musiekdrama en die vlytige klawers van die flambojante pianis Rocco de Villiers.

Twee vertonings is reeds uitverkoop en ’n rits ander amper vol! Hier doen iemand iets rég!

Hy is Niël Rademan, die stigter en feesbestuurder.

Hy is ’n dinamiese teaterpraktisyn. Hy het sy MDram in regie (met ’n fokus op die sang- en spraakstem) van die Universiteit Stellenbosch met die produksie Die hamer van die hekse (André P Brink) verwerf. Hiervoor ontvang hy die Mark Graham-prys wat toegeken word aan die beste nagraadse regiestudent.

Hy vervaardig en regisseer The South African sopranos – wat bekroon is met ’n Kanna-toekenning en ook benoem is vir ’n Fiësta-toekenning vir beste klassieke musiekproduksie by ’n kunstefees. Hy is ook self benoem as gewilde Fiësta-aanbieder. Hy behartig die regie en musikale verwerking van ’n jeugmusiekspel Die avonture van Wilde Willemientjie (Riana Scheepers). Die rolverdeling van die produksie word bekroon met ’n KKNK Kanna-toekenning hiervoor. Hy regisseer onder meer Die jakkalsstreke van Scapino (Molière), West side story (Bernstein), Sound of music (Rodgers en Hammerstein) en behartig die assistentregie van La Bohème (Puccini) en The pearl fishers (Bizet) by die Artscape/Kunstekaap Operahuis.

Hy het al saam met die grootste kunstenaars in Suid-Afrika opgetree en maak gereeld sy buiging in Europa (Engeland, Frankryk, Nederland, Oostenryk, Switserland). Hy het reeds vier CD’s opgeneem wat in afsonderlike hoedanigheid vir ’n Tempo- en ’n Ghoema-toekenning benoem is.

Dié Heidelberg-boorling is in eie reg ’n veelsydige vertolker en spog met ’n ryk baritonstem. Hy het sowat 20 jaar gelede gedebuteer met herinterpretasies van liedere soos Jan Pohl se Sawends en Danie Bosman se Boereseun. Hy is bekend vir sy internasionale kabaretklank met klavier, trekklavier en mondfluitjie, waarin hy Afrikaanse volksmusiek met Europese liedere vervleg.

Ná sy uittrede as direkteur van die Suidoosterfees in 2018 het hy besluit om terug te gee aan sy geboortedorp en het die Hessequa Harmonie op die been gebring. Oudergewoonte tree hy vanjaar weer in ’n aantal produksies op.

Hy kén die hart van uitvoering en die siel van ’n kunstenaar.

Ons gesels toekomsgerig.

“Die klein fees met die groot hart” is nou ’n handelsmerk. Hoe beskerm jy intimiteit terwyl die aanvraag en program groei?

Die hoeveelheid gaste wat die gebeurlikheid kan bywoon, is beperk. Ons hou die gehore doelbewus intiem.

Dit is nege jaar later: As jy die fees vanjaar met 2018 se eerste droom vergelyk, wat het groter geword as wat jy beplan het, en wat het jy doelbewus klein gehou?

Die fees het gegroei van vyf tot 30 aanbiedings. Ek glo in kwaliteit en nie kwantiteit nie, hoewel dit mooi gegroei het. Dit gaan wel nie groter word nie. Ek glo die programaanbod is nou in ’n versadigingsfase. Ons bou verder slegs op gehalte.

Die opgeknapte Congregational Kerk is vanjaar vir die eerste keer ’n venue. Watter nuwe ruimtes of onverwagse plekke in Heidelberg sien jy vir die volgende dekade?

Die intieme Banketsaal sal van vanjaar af as Kuierkamer aangewend word. Chardonnay Deli is ’n pragtige nuwe plek waar daar definitief in 2027 leefstylaanbiedings sal plaasvind. Verder is die hoeveelheid lokale net reg en voldoende.

Kuns, kultuur, letterkunde en veral klassieke musiek sukkel wêreldwyd met volhoubaarheid. Hoe bou Hessequa Harmonie ’n jonger gehoor sonder om sy kern te verloor?

Ons het ’n koorinisiatief Voor innie koor wat elke jaar suksesvol aangebied word. Ons stel dan ook ’n jonger gehoor nie net aan koorsang bekend nie, maar laat hulle saam met ’n groot orkes en gesiene soliste optree.

Jy bied ruim gesprekke oor boeke, kos en erfenis naas musiek. Is die toekoms van die fees multidissiplinêr, of bly klassieke musiek die anker?

Klassieke musiek sal altyd die anker bly, hoewel die fees iets vir alle fynproewers en kunsliefhebbers bied.

Volhoubaarheid: Hoe lyk die befondsingsmodel vir ’n plattelandse fees in 2026 – wat werk, wat is broos en wat sou jy anders doen as jy weer begin?

Volhoubaarheid lê in beplanning. Ek sou niks anders gedoen het nie. Ons het borge en feesvriende wat ons al nege jaar lank help om die kunste na die platteland te bring. Danksy hulle, hoef Heidelberg vir niemand terug te staan nie. Ek het ’n ontsettende kreatiewe en toegewyde span wat agter die skerms werk om hierdie fees suksesvol en volhoubaar te maak.

Hessequa, wat “mense van die bome” beteken, was al ’n kuratoriale tema. Hoe kan die fees die streek se Khoi-, landbou-, taal-, kuns- en kultuurgeskiedenis dieper toekomstig vertel?

Ons het elke jaar ’n landbougesprek wat enkele van hierdie aspekte aanraak. Dit sal ook in die toekoms selfs meer aandag geniet.

Heidelberg is nie Stellenbosch of Kaapstad nie. Watter voordeel gee daardie plattelandse ligging vir kunstenaars en gehore wat ’n metropool nie kan bied nie?

Atmosfeer, ruimte, speelruimte en vryheid.

Tegnologie: stroming, opnames, digitale argiewe vorentoe. Hoe kan Hessequa Harmonie jaarliks ná September verder leef?

Ek is ’n puris en daarby nog ouderwets ook. Ons oorweeg geen stroming of noodwendige opnames nie. Kom beleef kuns in die volle swang wat slegs ’n lewende optrede jou kan bied.

Is jy ’n perfeksionis?

Ag, nee wat. Daarvoor is daar al te veel water onder die brug.

Hoe definieer jy gehalte teenoor vermaak?

Integriteit is die wagwoord. Niks fout met goeie vermaak nie, inteendeel. Vermaak is vir my bitter noodsaaklik wanneer dit by die kunste kom. Dis juis daar waar baie vervaardigers en kunstenaars die fout maak ...

Hoe hanteer jy kritiek versus toekennings?

Kritiek is nie ’n maklike ding nie. Ek is nie goed daarmee nie, omdat ek altyd probeer om my bes te doen. Toekennings is lieflik en nodig. Maar om iemand bloot op die skouer te klop, kos niks. Dis belangrik. Ek glo daaraan om mense te prys.

Naas hoogtepunte, was daar laagtepunte ook?

Geen. Ek sien ’n geleentheid in amper alles.

Wat wil jy graag nog met die fees bereik?

Ek glo ons is op die regte plek met die fees. Ek en my span werk al jare aan wat daar nou is. Ek sal wel steeds elke jaar die gehore effe wil vergroot en mense wil oortuig dat gesofistikeerde (nie-doef-doef-) musiek en podiumkuns geweldig stimulerend is.

As jy 10 jaar vorentoe kyk na Hessequa Harmonie, wat sal vir jou sê: Dit was die moeite werd – in terme van nalatenskap vir Heidelberg, nie net applous nie?

’n Fees wat deur die volgende 10 jaar wel steeds bestaansreg het: Dit sal vir my ’n pluimpie wees.

Waarop is jy veral trots – as feesdirekteur en jy as ’n bekwame uitvoerende kunstenaar in eie reg, en as mens?

Ek is trots op die kameraderie wat die Hessequa Harmonie deur die jare tussen kunstenaars en ook plaaslike kunstenaars gevestig het. Almal hou nie altyd van saamspeel nie, maar saamsing en konsert hou – dit kan ons wel.

Wat verskaf jou oneindige, uitbundige vreugde?

Ongelooflike mooi musiek. Selfs ook ligter musiek, hoor.

Wat ontstel jou ergerlik en maak jou uiters moerig?

Ongeskikte, ongepoetsde, onopgevoede mense.

Jy beplan nou al inderdaad nege jaar lank aan die tiende aanbieding aanstaande jaar. Wat kan gehore verwag?

O, dit sal ons maar moet wag en sien ... Intussen, kom vier vanjaar die kunste met liefde, medemenslikheid, vrygewigheid en wysheid.

  • Nog inligting is hier beskikbaar. Bespreek by webtickets.co.za of koop jou kaartjies by Karee Tree in Heidelberg oorkant die munisipaliteit. Skakel ook gerus Lindi Smit by 084 446 3200.

DIE FEESPROGRAM

GESPREK

Boere Brekfis

Dinsdag 22 September

9:00 | Die Skeerhok Padstal | 120 min | R300

Aangebied deur LandbouBurger-redakteur Samantha van den Berg in gesprek met Theo Kleynhans oor moderne boerdery en sy skuif van akademikus na landboupraktisyn.

 

KLASSIEK

Bulgarian Brunch
Dinsdag 22 September
11:30 | Proeviand | 60 min | R220

Miroslav Chakaryan (viool), Susan Mouton (tjello), Elna van der Merwe (klavier). Haydn, Brahms, Mendelssohn en tradisionele Bulgaarse musiek.

 

KLASSIEK

Openingskonsert – Spiritual Songs
Dinsdag 22 September

19:00 | Stadsaal | 90 min | R220

Paulina Malefane (sopraan), Niël Rademan (bariton), Miroslav Chakaryan (viool), Susan Mouton (tjello), Elna van der Merwe (klavier) en die RUK-koor (olv Pam de Goede). Spirituele keuses soos Amazing grace, Danny boy en I’ll walk with God.

 

LEEFSTYL

VRL Kuierkamer (Kaas en wyn)

Dinsdag 22 September

20:15 | Banketsaal | 60 min | R150

Bestel vooraf ’n bordjie eetgoed en ’n glas wyn om ná die konsert te geniet. Slegs op bespreking.

 

GESPREK

Scheepers en skrywers

Woensdag 23 September

9:00 | Fouriehuis | 60 min | R150

Riana Scheepers en PJO Jonker (landbouer, Renaissance-man en skrywer).

Twee gesoute skrywers gesels oor Jonker se debuutroman, Die onsigbare.

Koffie en tee beskikbaar.

 

KLASSIEK

Van Holland tot Heidelberg
Woensdag 23 September

11:30 | Proeviand | 60 min | R220

Kaat Vanhaverbeke (akkordeon) en Josie McClure (saksofoon) – NorthSouth Duo. Lewendige, kultureel diverse werke: Roemeense, Spaanse, Hollandse, Poolse, Balkan- en Suid-Afrikaanse musiek.

 

SLYPSKOOL

Handwerk-slypskool 1

Woensdag 23 September

14:00 | Fouriehuis | 3 uur | R250

Slow stitching: Kom dans stadig met lappies en garing.

Aangebied deur Esther Snyman van die Sleeping Beauty Kwilters.

 

SLYPSKOOL

Organiese klei-slypskool

Woensdag 23 September
14:00 | Proeviand | 3 uur | R550

Kom speel met Moeder Aarde se klei tussen jou vingers.

Ons ets en druk organiese materiale in klei en ontdek hoe elke merk, tekstuur en afdruk deur die klei teruggespieël word. Skep jou eie bak of kruik en beleef die rustige, tasbare proses van handewerk met natuurlike elemente. Jou stuk word daarna twee keer in ’n pottebakkersoond teen 1100 °C gebak en met glasuur afgewerk, sodat dit funksioneel in jou kombuis gebruik kan word. Werke sal ongeveer ’n week later by Proeviand afgehaal kan word. Met Dina Grobler. 

 

WOORDKUNS

TaMiem van Swellendam
met Bettie Kemp

Woensdag 23 September

15:00 | Congregational Kerkie | 60 min | R220

’n Reis deur die lewe van een van Suid-Afrika se mees merkwaardige vroue: MER.

 

BASAAR

Dagmark

Woensdag 23 September

16:00 | NG Kerksaal | 120 min | GRATIS

Lekker eetgoed, unieke handgemaakte items en gesellige atmosfeer. 

 

KLASSIEK

ATKV-Galakonsert

Woensdag 23 September

18:00 | NG Kerk | 75 min | R160

Minette du Toit Pearce (mezzo), Paulina Malefane (sopraan), Corneil Muller (bariton), Elna van der Merwe (orrel/klavier), Windworx Simfoniese Blaasorkes (olv Pamela Kierman en Riaan van Wyk) en feeskoor (olv Betsie Ryke en Ravic Fielies).

 

BASAAR

Nagmark

Woensdag 23 September

19:15 | NGK Saal | 120 min | GRATIS

Lekker eetgoed, unieke handgemaakte items en gesellige atmosfeer.

 

GESPREK

Scheepers en skrywers

Donderdag 24 September

9:00 | Fouriehuis | 60 min | R150

Met Riana Scheepers en Steward van Wyk. ADAM SMALL: 90 jaar.

Koffie en tee beskikbaar.

 

ERFENISKOS

Bobotie en Pinotage-kombinasie

Donderdag 24 September

11:30 | Proeviand | 120 min | R300

Musiek: Melodika met Irene Sutherland, Merinda Uys, Christelle Gildenhuys (fluit/tjello/klavier). Heerlike bobotie word bedien saam met wyne van Meerendal en Bellevue.

 

SLYPSKOOL

Handwerk-slypskool 2

Donderdag 24 September

14:00 | Fouriehuis | 3 uur | R150

Kreatiewe klets en kuier saam met Hilda Steyn, ontwerper van hekel- en breiwerk, skrywer en destyds verantwoordelik vir Vrouekeur se kreatiewe bladsye. 

 

WOORDKUNS

Adam Small: die viering van ’n vol lewe

Donderdag 24 September

15:00 | Congregational Kerkie | 60 min | R220

Dean Balie lees en sing Adam Small se gunstelingwerke. Small, ’n skrywer, digter en akademikus, het sy lewe aan Kaapse poësie en drama gewy en bly ’n lewende stem.

 

LEEFSTYL

Happies & Bierproe

Donderdag 24 September

16:30 | Chardonnay Deli | 90 min | R200

Vyf klein biertjies bedien met happies wat dit komplementeer.

 

KLASSIEK

3 Klaviere: Mozart, Movies en Maestro’s

Donderdag 24 September

19:00 | Stadsaal | 60 min | R220

Elna van der Merwe, José Dias en Mario Nel.

 

LEEFSTYL

VRL Kuierkamer (Kaas en wyn)

Donderdag 24 September

20:15 | Banketsaal | 60 min | R150

Bestel vooraf ’n bordjie eetgoed en ’n glas wyn vir ná die konsert. Slegs op bespreking.

 

GESPREK

Scheepers en skrywers

Vrydag 25 September

9:00 | Fouriehuis | 120 min | R150

Riana Scheepers en Theo Kemp. Theo is die skrywer van Skool (2011) en Strafjaart (2019), wat in 2020 die Jan Rabie-Rapport-prys gewen het. Sy nuutste boek Klein konings verskyn in 2025. Hy is uitvoerende hoof van die Jakes Gerwel Stigting en werk met jong skrywers by Paulet Huis in Somerset-Oos. 

Koffie en tee beskikbaar.

 

KLASSIEK

Brahms en Blomme
Vrydag 25 September
11:30 | Proeviand | 60 min | R220

Met José Dias (klavier) en Johanna Roos (viool). ’n Blomsiklus deur Niel van der Watt en ’n reeks vioolwerke deur Brahms. Blomrangskikkings deur Diederik Geldenhuys.

 

SLYPSKOOL

Handwerk-slypskool 3

Vrydag 25 September

14:00 | Fouriehuis | 3 uur | R150

Ons wolerfenis in Suid-Afrika. Weef- en spindemonstrasie.

 

WOORDKUNS

Oulap se Rooi

Vrydag 25 September

15:00 | Congregational Kerkie | 60 min | R220

Lee-Ann van Rooi lees haar gunstelinggedigte: Jolyn Phillips, Ronelda Kamfer, Bibi Slippers en Veronique Jephtas. Sy vereer ook die ontslape digter en ikoon Diana Ferrus.

 

LEEFSTYL

Happies & Wynproe

Vrydag 25 September

16:30 | Chardonnay Deli | 90 min | R200

Vyf verskillende wyn tipes, bedien met happies wat dit komplementeer.

 

LIGTE(R) MUSIEK

André Schwartz: Any dream will do: my pad met Webber

Vrydag 25 September

19:00 | Stadsaal | 75 min | R250

’n Reis deur die landskap van Andrew Lloyd Webber se musiekblyspele.

 

LEEFSTYL

VRL Kuierkamer (Kaas en wyn)

Vrydag 25 September

20:15 | Banketsaal | 60 min | R150

Bestel vooraf ’n bordjie eetgoed en ’n glas wyn om ná die konsert te geniet.

Slegs op bespreking.

 

UITSTALLING

Handwerk-Markdag

Saterdag 26 September

09:00 tot 15:00 | Fouriehuis | Gratis

Pragtige hekelwerk, wolspeelgoed, naaldwerk, smokwerk, sakke, gehekelde klere en komberse te koop. Heerlike eetgoed is ook reg deur die dag te koop.

 

GESPREK

Scheepers en skrywers

Saterdag 26 September

11:00 | Dasjesdrift | 120 min | R250

Riana Scheepers en Chanette Paul. Heerlike vonkelontbyt ingesluit. Chanette Paul woon in Groot Brakrivier en skryf al 30 jaar in verskeie genres. As romantikus glo sy in liefde, maar skryf ook misdaad. Déjà vu is haar 51ste boek.

 

MUSIEKDRAMA

Vivaldi en die Vondeling

Saterdag 26 September
14:00 | Dasjesdrift | 60 min | R220

Lynelle Kenned (sopraan/aktrise), Johanna Roos (viool), Mario Nell (klavesimbel). Teks: Riana Scheepers | Regie: Niël Rademan | Ontwerp: Lindi Heila Smit

Anna Maria della Pietà was Venesië se wonderkind. Reeds op agtjarige ouderdom was sy violis, komponis en op twaalf die jongste eerste violis van die Ospedale della Pietà se beroemde kloosterorkes. As vondeling was sy, kind van ’n prostituut, klein genoeg om deur die kinderpoort van die klooster gedruk te word – en dit te oorleef. Haar musiekmeester was die briljante, eksentrieke Maestro Antonio Vivaldi.

In hierdie klein meesterwerk van musiek en verhaal word die lewe van Antonio Vivaldi se mees suksesvolle leerling uitgebeeld. Anna Maria se fenomenale ontwikkeling van weerlose vondeling tot gesogte Maestra di Violino én Maestra di Coro.

 

LIGTE(R) MUSIEK

Rocco de Villiers (pianis)

Saterdag 26 September

16:00 | Dasjesdrift | 60 min | R250

Nostalgiese en moderne musiek, en ’n splinternuwe boek.

Lees ook:

Persvrystelling: Hessequa Harmonie beloof ’n simfonie vir die sintuie in September

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top