’n Simfonie vir al die sintuie wag op inwoners en besoekers wanneer die sesde Hessequa Harmonie van 19 tot 23 September in Heidelberg, Wes-Kaap, aangebied word. Met musiek uit die boonste rakke, kunsuitstallings, boekbesprekings, toneelkuns, ’n kosdemonstrasie, heerlike wyne om te proe en selfs kunswerkswinkels beloof dit om ’n unieke viering van musiek, kuns en plaaslike talent gedurende Erfenismaand te wees.

Hessequa Harmonie is ’n fokusfees met klassieke musiek as vertrekpunt en ’n fyn uitgesoekte progam van woordkuns en teaterervaringe om kuns van hoogstaande gehalte toeganklik te maak op die platteland. “Ons is opgewonde om groot name van ons land se musiek-, teater- en boekekringe by vanjaar se fees te verwelkom en die pragtige dorp en omgewing as verhoog te gebruik om mense deur middel van musiek en kuns saam te bring en te inspireer.” sê die uitvoerende hoof, Niël Rademan.

Veronica Bell
Op vanjaar se spyskaart is klassieke musiek deur onder andere die Charl du Plessis Trio, die violis Veronica Bell en akkordeonspeler Stanislav Angelov wat saam met die Pinotage-koning Beyers Truter op die verhoog gaan wees, musiek uit die Romantiese tydperk, met onder andere die fluitsolis Bridget Rennie-Salonen, aangebied in die pragtige Heidelberg Stadsaal en die ATKV galakonsert in die NG kerkgebou met ’n strykorkes van Stellenbosch, orrelis Winand Grundling, pianis Elna van der Merwe, soprane Anina Wasserman, Lynelle Kenned en Zanne Stapelberg, mezzosopraan Minette du Toit-Pearce, baritons Corneil Muller en Niël Rademan asook ’n gemeenskapskoor onder leiding van Betsie Ryke.

Die gewilde boekbesprekings, aangebied deur Elsabé Daneel, word vanjaar uitgebrei met ’n ekstra praatjie op Saterdag 23 September in die historiese Doornboom opstal. Daar word ook vir die eerste keer ’n Boeke brekfis in die NG Kerksaal aangebied om meer sitplekke beskikbaar te maak vir die ontbytbespreking met die gewilde skrywer Marita van der Vyver as gas.

Antoinette Kellermann in Teen wil en dank
Van Suid-Afrika se voorste vroue van die toneelkuns, Antoinette Kellermann en Amanda Strydom, bring elkeen ’n keur van die hoogtepunte uit hulle afsondelike loopbane na die verhoog, terwyl Athol Fugard se beroemde Boesman en Lena as ’n steeds relevante verhaal vir ’n nuwe generasie aangebied word.
TV-persoonlikhede Herman Lensing en Lynelle Kenned gesels en maak saam kos met mooi musiek as tussengang by die VIA Kook en Klassiek. Daar word ook ’n straatpartytjie beplan met ’n langtafel wat vir 100 gaste langs die stadsaal gedek gaan word.
Die fees bring nie net ervare en gevierde skrywers en kunstenaars na die Suid-Kaap nie, maar bied ook ’n uitsonderlike geleentheid om plaaslike talent te ontgin en ten toon te stel. Betsie Ryke gaan tussen Augustus en September koorwerkswinkels in die Hessequa-streek aanbied om weer ’n feeskoor uit plaaslike inwoners saam te stel wat Vrydag 22 September saam met professionele musici by die galakonsert gaan optree. Plaaslike kore en sanggroepe wat belangstel om deel te neem, word uitgenooi om Betsie te kontak by betsie@ruralarts.co.za.
Daar is ook weer gratis aanbiedinge om kuns en musiek onder kinders te bevorder. Die Marimba Makietie word Vrydag 22 September gratis by Hoërskool Heidelberg aangebied. Die HSQA Kunsroete kinderkunskompetisie word tussen Julie en September gehou onder die tema Simfonie. Belangstellendes kan Louise Kluyts kontak by louise@starnationart.co.za Werke van kinders uit die streek sal dan gekies word vir die installing in Heidelberg se dorpsbiblioteek van Dinsdag 19 September tot Vrydag 22 September.
Kaartjies is aanlyn beskikbaar by webtickets.co.za of kan kontant gekoop word by Karee Tree in Heidelberg.
Besoek hessequaharmonie.co.za vir meer inligting en die volle program.

