Die grondgeitjie roep deur Emmie Bedeker: ’n lesersindruk

  • 0

Titel: Die grondgeitjie roep
Skrywer: Emmie Bedeker
Uitgewer: Turksvy Publikasies
ISBN: 9780639772196

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.  

Die grondgeitjie roep is die digtersdebuut van Emmie Bedeker. Die bundel bevat 46 meestal kort gedigte wat nie in afdelings verdeel is nie. Daar is ook ’n sewetal foto’s uit die digter se versameling in die boek opgeneem. Uit die kort lewenskets wat op die laaste bladsy van hierdie bundel geplaas is, weet ons dat die digter in Prins Albert gebore is en tans saam met haar gesin in Khorixas in Damaraland woon. Terwyl hierdie aardse verblyf bedoel was om slegs vir drie jaar te duur, het die natuurskoon en eenvoud van die plek hulle in hierdie landstreek gehou.

In “tuin” (p 54) lees ons in die openingstrofe:

ek is verplant
uit die Boland
in ’n wye, droë wêreld

Haar nuwe woonplek is ’n harde landskap, blootgestel aan die elemente. Dit is ’n wêreld waarin die mens sy plek en die sin van sy bestaan moet vind:

die wind verskrompel
verdroog, verstof alles
dwing my algaande
om te kniel
by die lewende waters
wat wegraak in ’n klipkraak
om dit weer te vind
in ’n enkel rooi tamatie                         

Water as lewegewende element en ’n simbool van geestelike lewe dreig om te verdwyn in hierdie barre landskap, maar die digter vind dit weer in ’n enkele rooi tamatie wat sy in ’n tuin in hierdie landstreek aan die gang kry (“tuin” p 54).

Die landskap waarin baie van die gedigte in hierdie bundel geplaas is, is Namibië, soos blyk uit die plasing van Daniel Hugo se “Namibië IV” (uit Hanekraai van 2012) wat voor die inhoudsopgawe van Bedeker se bundel afgedruk is en daarom as ’t ware as ’n soort motto funksioneer:

Namibië IV

land waar dinge steeds verskuif:
halfmaanduine en die horison

land waar dinge doodstil stol:
sandriviere en die middagson

gelyktydig leeg én vol
is jy ’n onuitputlike bron
vir die talentloses wat wil skryf

Die digter verkeer in ’n landskap wat roep om woorde, een wat ’n onuitputlike bron bied vir talentloses wat wil skryf.

’n Terugkerende motief in hierdie bundel is dié van die grondgeitjie. Dit is ’n baie ou spesie wat daarin geslaag het om in die harde landskap te bly bestaan. Uit die indrukwekkende openingsgedig (waaraan hierdie versversameling sy titel ontneem) is dit duidelik dat dit vir die digter ’n assosiasie met die liefde het, waar ’n man en ’n vrou ’n verdrag sluit om nooit op te hou om na mekaar te roep nie.

die grondgeitjie roep

die skemer versag
die plooie van ’n oerlandskap
hier waar die aarde
haar binneste blootlê

die hitte vlug voor die westewind
en ons kom tot rus
ná ’n dag van swerf
tussen versteende woude en sferuliete

met die laaste lig
breek ’n grondgeitjie die stilte
klik-klik-klik-klik, antwoord sy maat

en rondom ’n vuur
sluit ek en jy ’n verdrag
om nooit op te hou roep
na mekaar

ná ons sterwe sal ons
wat van sterre afstam
hier tussen lawa en rots
weer tot rus kom
vir altyd

Die mens sal uiteindelik na die aarde terugkeer na ’n rus wat vir altyd duur. Die rus ná ’n dag van swerf waarvan daar in die tweede strofe sprake is, is ’n voorspel vir die ewige rus vir sterflinge (ons wat van sterre afstam) in die laaste strofe.

In die harde landskap is daar ook plekke van verkwikking, soos blyk uit die gedig “Die plaas Fonteine”. (p 13). Dit is ’n plek waar die Skeppergod sy arms sprei, waar bokke, olifante, leeus saam bestaan en waar vroue lag en hul lywe was.

In “Johanna Rhyn (née Beukes) 16/5/1927” (p 15) maak die leser kennis met die bakens in hierdie vrou se lewe. Sy is een van die onbemindes wat deur die optrede van maghebbers ontheem is en teen haar sin verskuif is omdat sy en haar mense “swart kolle op ’n wit laken” was. Die gedig word visueel aangevul deur die foto van ’n bejaarde vrou met ’n kopdoek teen die agtergrond van ’n baksteenmuur met ’n toiletpyp en ’n drein. Deur die loop van die gedig maak die leser kennis met die roete van haar swerftog  tot sy eindelik ’n tuiste gevind het in die hittige woestyn. Die slotstrofe (met sy streektalige vermelding van “bok en skaap”) bied enigsins vertroosting en perspektief op haar lewensloop:

nou loop sy agter haar eie bok en skaap
sing by die water van haar plaas Fonteine
hier waar die hemel reeds is
sal sy haar oë toemaak

Die aarde word voorgestel as ons moeder wie se blyplek die stilte is. By “Gaiafontein” (p 17) is dit klipstil en waai die wind oor die ruïnes. By plekke van vestiging en verval is die omtes “oud en vol geheime”. Snags raak die spore rondom ’n troebel fontein los van die modder en stap sag in die sterlig tussen klip. “Die voorgeeste dwaal weg en draai weer om, / want Gaia is die plek van hulle begin.” Die mens vertoef in ’n geanimeerde wêreld.

In “Langstranddroom” (p 19) speel ’n kind digby die woestyn met haar vingers tussen sand en water en aanskou in die blou gety sonstrale wat breek tot ’n diamant. In “Google Earth” (p 21) dwaal die spreker tussen ravyn en klip en stol die landskap tussen fossiel en klip. Daar word geswyg oor ’n begin en einde, terwyl die landskap ná soveel eeue blootgelê word, voordat die spreker deur die roep van ’n kind na die hier en nou teruggeroep word.

Dit is opvallend hoe sterk die oerelemente van grond, wind, water en vuur in hierdie bundel figureer. In “die warrelte” (p 22) kom ’n naamlose wind in ’n mooi klankryke strofe op:

lig later sy kop ’n bietjie op
rapat deur ’n vrou se hare
kotiljons haar kakelbont romp

“Skedelkus” (p 38) met sy opnoem van skeepswrakke wat langs die Weskus van Namibië aan die vergaan is, toon aan hoe dit wat die mens tot stand bring, aan verwering blootgestel is. Die slotsom: “al wat bly / is die weeklag van die wind.”

In “Diep-suide sneeu” (p 25) word die hardheid van die landskap versag deur die onwaarskynlike neersif van die sneeu. Dit bring die mens daartoe om ’n heildronk op die landskap te drink. Die kontraste word mooi versoen in die slotreël van hierdie kort gedig: “Vir ’n wyle die ongenaakbare aarde, sag.”

Daar kom enkele bekoorlike tersines (eintlik haikoes met ’n opskrif daarby) in hierdie versversameling voor, waarvan hierdie leser “uit die bloute” (p 27) met sy fyn klankstruktuur die treffendste vind:

jakarandas blom
douvoordag sien ek die son
uit die blou opkom

In sommige gedigte is daar ’n terughunkering na die verlede te bespeur, veral ’n verlange na haar pa wat nie meer daar is nie. In “lemoen” is daar ’n onthou van hoe hy die soetheid van ’n lemoen as ’n sonoffer aan elk van sy geliefdes uitgedeel het. Wat hierdie “sonoffer” so treffend maak, is dat hierdie vonds die woord “soenoffer” oproep maar ook dui op ‘n ikoniese verbinding tussen die lemoen en die son. In “vaderhuis” (p 32) stoot die spreker die voordeur van haar grootwordhuis oop en hoor sy die stemme van geliefdes. Alhoewel haar oë na hom soek om hom te eien en te groet, kry sy dit nie reg nie. Haar broer sit nou op die ontslapene se plek. Die verlede is nie agterhaalbaar nie. In “Karoo-Kersfees” (p 43) is daar ’n besef van menslike onvolkomenheid en dat dinge anders verloop as waarop mense gehoop het:

my broer breek die brood
ons bely by die krip
broosheid, boosheid
mislukking en onbegrip

In “om te sterf” (p 30) word die begeerte uitgespreek om “stil soos ’n blaar” heen te gaan wanneer die tyd vir sterwe aanbreek. Die slotstrofe vat dit goed saam:

Rol my toe in doek,
plant my regop in ryk, donker grond:
daar sal ek knus wees
en mettertyd
sel ná sel
die heelal in groei.

Daar is ’n paar mooi liefdesverse in Die grondgeitjie roep, onder meer “mangoliefde” (p 40):

die mango smaak soos see
ek duik diep
tot by die pit
kom smakkend op vir lug
jy lag
vee my mond af met ’n lap
en soen my

Eweneens treffend is “Namibiese seënbede” (p 42) wat ook op die agterplat van die bundel afgedruk is:

Mag die reën jou sambreel wees
die hele somer lank in hierdie dorre land,
’n mopanievuur ’n lamp vir jou voet,
die Melkweg ’n dak vir jou kop
en mag daar ’n Toyota-bakkie wees
vir al jou goed.

Al is daar in die titel- en openingsgedig sprake van ’n verdrag wat tussen geliefdes gesluit is om nooit op te hou om na mekaar te roep nie, wil dit voorkom of daar later in die bundel aanduidings van geskeidenheid is, soos in “afskeid” (p 44) en in “die gas” (p 46) waar die spreker steeds vier borde uithaal, al is hulle nou net drie nadat “die gas” sonder om te groet verkas het. In “Tankwa” (p 47) lees ons hoe reën in die woestyn die spreker se hart van blydskap laat spring, maar:

binne bly die dors
omdat jy weggegaan het
te ver om die reën te ruik

In “alleen” (p 49) en “Deurnagradio” (p 50) met sy treffende slotkoeplet waar die omroeperstem soos ’n kers gesnuit word, figureer die eensaamheid.

Verskeie van die motiewe waarna daar hierbo verwys is, trek saam in “Huab-nag” (p 48) waar die kosmiese en die lokale versmelt:

Ek hoor die grondgeitjie roep
daar waar die Melkweg en die Huabrivier saamloop.
In annabome het sterre vasgespoel.
Hoor jy ook die grondgeitjie roep?

’n Mopanievuur maak ek vir jou
om jou pad hierheen terug te vind.
Luister tog na die grondgeitjie se verlang
hier waar die Melkweg in die Huab loop.

Die beste gedigte in hierdie bundel tref deur hul eenvoud en helderheid en deur die plasing van die mens binne die landskap. Hieronder tel “die grondgeitjie roep”, “mangoliefde”, “Namibiese seënbede”, “Huab-nag”. Ook  die slotgedig “vyfde seisoen” (p 62) is knap. Nie al die gedigte wat in die versversameling opgeneem is, is van hierdie allooi nie en die weglating van verse soos die enigsins gefabriseerde “Sonder sonnet” (p 58) sou die bundel ten goede gekom het.

Die grondgeitjie roep is netjies uitgegee met ’n mooi omslag deur Diek Grobler. Dit bevat genoeg gedigte wat blyke van ’n vaardige digtershand gee en wat ’n eie kyk op die mens se leefwêreld bied.

Lees ook:

’n Lesersindruk van die belewenisse van ’n latinis deur Jan Swanepoel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top