Die energiekrisis na 11 jaar herbesoek

  • 4

Prent: https://pixabay.com/illustrations/light-bulbs-light-idea-energy-lamp-1125016/

  • Koos Holtzhausen is ’n professionele ingenieur en het ’n PhD in ingenieurswese. Hy is ’n oud-werknemer van Eskom.

In 2011 het ek ’n artikel op LitNet geskryf (“Die energiekrisis: hernubare oplossings vir energieverbruik ’n noodsaak1) na aanleiding van ’n artikel deur Francois Durand, “Prometheus se vloek” (By, 4 Desember 2010). Prometheus was ’n figuur in die Griekse mitologie wat deur Zeus gestraf is omdat hy vuur van die gode gesteel en dit aan die mensdom gegee het en dit sodoende vir die mens moontlik gemaak het om die natuur te beheer.

Durand het in sy artikel ’n negatiewe prentjie geskep oor hoe die aarde en sy atmosfeer uiteindelik deur oorbenutting ten gronde sal gaan. Ek het in my artikel beskryf hoe die tegnologiese ontwikkelings tot stand gekom het en aangetoon watter voordele én nadele daaruit voortgespruit het. Een deurslaggewende  ontwikkeling wat tydens die Industriële Rewolusie beslag gekry het, was elektrisiteit. Ek het verskeie faktore beklemtoon wat my in ’n mate met Durand laat saamstem het:

  • Die massas wêreldwyd wat strewe na elektrisiteit en ’n moderne leefstyl, wat hulle nog nie beskore is nie.
  • Dit is moeilik vir elektrisiteitsvoorsiening om tred te hou met bevolkingsgroei. Navorsing toon dat in beide ontwikkelde en onontwikkelde lande die geboortesyfer deur die sterftesyfer gebalanseer word. In ontwikkelende lande (soos Suid-Afrika) oortref die geboortesyfer die sterftesyfer.
  • Daar was groot uitbreidings in kragvoorsiening gedurende die sestiger- en sewentigerjare van die vorige eeu en dié toerusting is oud en moet onderhou en vervang word.

Ek het die artikel egter op ’n positiewe noot afgesluit en die hoop uitgespreek dat ingenieurs en wetenskaplikes met vernuwende hernubare oplossings na vore sou kom om die saak te verbeter.

Hoe het ons gedurende die afgelope 11 jaar gevorder?

In die oorspronklike artikel het ek die per kapita-energieverbruik vir 2007 in verskeie lande in ’n tabel vergelyk. In Tabel 1  hier onder word die data vir 2020  vir ’n geselekteerde groep lande gegee, saam met die data van 2007 uit die vorige publikasie. Die data is gerangskik in stygende volgorde, volgens die drywingverbruik (in watt) per kapita.

Uit die tabel kan die volgende interessante afleidings gemaak word:

Die toenemende gebruik van hernubare energie

Opvallend is die hoë persentasies in die % Hernubaar-kolom. Die swaai na hernubare energie is gedryf deur die bewustheid van klimaatsverandering en ook deur die afskaling van kernkrag. Verder het ontwikkelings in tegnologie vir veral goedkoop sonpanele gesorg sodat huishoudings daarby baat kon vind.

  • Die meeste van Uganda (98%) se elektrisiteit is blykbaar hidrokrag, wat hernubaar is.
  • Denemarke (85%) maak gebruik van windgenerators (op land en op seeplatforms), terwyl Switserland hoofsaaklik op hidrokrag staatmaak.
  • Die VK (47%) maak gebruik van wind- en sonkrag en bio-energie. Natuurlike gas voorsien die res. 2020 was dit die eerste keer in die geskiedenis dat die meeste energie nie deur fossielbrandstof voorsien is nie.
  • In Swede (69%) word hidrokrag saam met wind- en kernkrag gebruik.
  • Duitsland (48%) het impetus aan die hernubare-energie-beweging verleen toe Angela Merkel in 2011 besluit het om nie kernkragkontrakte voort te sit nie en kernaanlegte met verdrag te sluit. Die Foekoesjima-ramp van 2011 het die besluite vergemaklik.
  • In Frankryk (24%) is die hoofbron kernkrag, aangevul deur hidro- en windkrag.
  • Die kragstelsels van die Europese lande is verbind en krag kan uit- en ingevoer word wanneer nodig.
  • Die VSA (20,65%) en China (29,21%) bly nog die groot “besoedelaars” van die wêreld, alhoewel hernubare krag aan die toeneem is.

Die steeds hoë per kapita-elektrisiteitsverbruik in die Westerse lande

..........
Die syfers in Tabel 1 spreek boekdele oor die lande se lewenswyses. Die VSA (6 701 W/kapita)  is by verre die grootste verbruiker van elektrisiteit en word gevolg deur Swede (4 305 W/kapita).
...........

Die syfers in Tabel 1 spreek boekdele oor die lande se lewenswyses. Die VSA (6 701 W/kapita)  is by verre die grootste verbruiker van elektrisiteit en word gevolg deur Swede (4 305 W/kapita). In die vorige artikel is verwys na sommige Switsers se begeerte om minder as 2 000 W/kapita te gebruik. Dit blyk dat dit nie so maklik is nie, want hulle is tans by 2 650. Versagtend kan gesê word dat lande met ’n hoë hernubare persentasie minder skade aan die omgewing aanrig as hulle energieverbruik hoog is.

Tabel 1: Elektrisiteitsopwekking en bevolking van verskeie lande 2,3

Hoe staan sake in die RSA?

Kragvoorsiening in die RSA is sinoniem met Eskom. Op papier is die RSA se posisie nie te sleg nie. Die geïnstalleerde vermoë wat in Tabel 1 getoon word (62 728 MW), steek  nie sleg af by die Verenigde Koninkryk (84 500 MW) nie.  

Die saak word egter in perspektief geplaas deur aankondigings soos dié op Eskom se webblad: “Ons het tans 3 349 MW wat nie beskikbaar is nie as gevolg van beplande onderhoud, terwyl ’n verdere 16 865 MW nie beskikbaar is nie as gevolg van faling (“breakdowns”).4 Van die 62 728 MW is dus slegs 42 514 MW beskikbaar.

Die erns van die saak word duidelik as besef word dat die geïnstalleerde vermoë in 1990  reeds 40 000 MW was.

............
Die vraag is natuurlik wie of wat ons moet blameer. Benewens die bekende onlangse geskiedenis van korrupsie en stroping van hulpbronne dra die versuim om betyds te beplan ook by tot die huidige krisis.
.............

Die vraag is natuurlik wie of wat ons moet blameer. Benewens die bekende onlangse geskiedenis van korrupsie en stroping van hulpbronne dra die versuim om betyds te beplan ook by tot die huidige krisis. Volgens Anton Eberhardt, ’n energienavorser aan die Universiteit Kaapstad, het die regering Eskom tussen 2001 en 2004 verbied om nuwe projekte te beplan, in afwagting van privatiseringsplanne, waarvan niks gekom het nie (Cape Times, 13 Maart 2008). Groot kragvoorsieners in Frankryk en Amerika is as moontlike bieërs beskou, maar hulle het nie belang gestel nie, omdat ons elektrisiteitsprys te laag vir ’n winsgewende bedryf was.

............
Toe uiteindelik besluit is om die twee reuse, Medupi en Kusile, te bou,  het dit skeefgeloop, deels as gevolg van korrupsie. As hulle betyds en betroubaar voltooi was, sou ons nou minder probleme gehad het.
...........

Toe uiteindelik besluit is om die twee reuse, Medupi en Kusile, te bou,  het dit skeefgeloop, deels as gevolg van korrupsie. As hulle betyds en betroubaar voltooi was, sou ons nou minder probleme gehad het.

Eskom se kragmengsel word in Tabel 2 getoon.

Tabel 2: Eskom se kragmengsel

Beurtkrag

’n Kragstelsel is soos ’n span osse wat ’n wa teen ’n helling uittrek. Eerstens moet daar genoeg osse wees om die vrag te trek en die osse moet gesond en sterk wees. Gewoonlik moet daar meer osse in die span wees as wat nodig is, sodat daar reserwekrag is. As een os uitval, kom ’n mens dit nie eers agter nie.

..........
Eskom is in die posisie van ’n trekboer met te min osse om die hele vrag te trek. Daarom word van die vrag afgegooi (“loadshedding”). As hy dit nie doen nie, sal hy die hele span ooreis en sal die hele span inmekaarsak. In die geval van ’n kragstelsel raak dit onstabiel en skakel af.
.............

Eskom is in die posisie van ’n trekboer met te min osse om die hele vrag te trek. Daarom word van die vrag afgegooi (“loadshedding”). As hy dit nie doen nie, sal hy die hele span ooreis en sal die hele span inmekaarsak. In die geval van ’n kragstelsel raak dit onstabiel en skakel af.

Volgens Andre de Ruyter benodig Eskom ’n ekstra 6 000 MW om die stelsel stabiel te hou. Hy vestig sy hoop op privaat projekte in die orde van 100 MW elk. Intussen moet ons met beurtkrag saamleef. Die besluit om beurtkrag toe te pas is so maklik as om vrag van die wa te gooi. As daar ’n tekort van 1 000 MW is, stel hulle fase 1 in; met 2 000 MW is dit fase 2, ens, tot by fase 8 vir ’n tekort van 8 000 MW.

Tydens beurtkrag maak Eskom gebruik van gasturbines wat met diesel werk. Die krag wat so opgewek word, is duur. Eskom se pompopgaarskemas is ook goud werd in hierdie tye. Onder normale omstandighede word water gedurende die nag en oor naweke vanaf die onderste dam na bo gepomp. Tydens piektye word die water losgelaat en vloei dit na onder en wek krag op. Eskom het twee pompskemas in die Drakensberge: Drakensberg-kragstasie (1 000 MW) en Ingula-kragstasie (1 300 MW), en in die Wes-Kaap is daar Palmiet-kragstasie (400 MW).

Ten slotte

...........
“As ’n aartsoptimis en tegnofiel glo ek dat dié ingenieurs en wetenskaplikes wat ’n man op die maan geplaas het en rekenaars en selfone ontwerp het, met hernubare oplossings vorendag sal kom en selfs eendag die son se fusieproses sal namaak. Intussen moet ons maar ons energietande laat trek ...”
..............

Ek het die vorige artikel só afgesluit: “As ’n aartsoptimis en tegnofiel glo ek dat dié ingenieurs en wetenskaplikes wat ’n man op die maan geplaas het en rekenaars en selfone ontwerp het, met hernubare oplossings vorendag sal kom en selfs eendag die son se fusieproses sal namaak. Intussen moet ons maar ons energietande laat trek ...”

Miskien moet ek maar daarmee volstaan.

Eindnotas

1 Koos Holtzhausen  Die energiekrisis: hernubare oplossings vir energieverbruik ’n noodsaak. LitNet (23 Maart 2011). https://argief.litnet.co.za/article.php?news_id=100624.

2 https://countryeconomy.com/energy-and-environment/electricity-generation (11 Julie 2022 geraadpleeg).

3 https://worldpopulationreview.com (11 Julie 2022 geraadpleeg).

4 https://www.eskom.co.za/stage-4-loadshedding-will-be-implemented-throughout-the-day-on-friday-thereafter-reducing-to-lower-stages-over-the-weekend (11 Julie 2022 geraadpleeg).

 

Lees ook:

Beurtkrag het verwoestende uitwerking op die ekonomie

Het die nag vir Suid-Afrika aangebreek?

Sonkrag: Kan Suid-Afrikaners wegkom van die Eskom-netwerk?

Wie wen wanneer Eskom die ligte afsit?

Gereedstaan-rugsteunkragstelsels: ’n Eenvoudige inleiding tot immuniteit teen beurtkrag

Hallo, donkerte, my ou vriend: ’n onderhoud oor die effek van beurtkrag op die menslike psige

  • 4

Kommentaar

  • Annora Eksteen

    Dankie! Interessant.

    Ja jinne. Amerikaners is in somersklere binnenshuis as die temperature buite by 0 is en die sneeu val. Hulle draai net die verwarmers oop! Vuurwarm.

    Elk geval wat ek ondervind het in Boston Massachusetts in 1993.

    Om in lae aan te trek, help.

  • Bernhard Scheffler

    ’n Puik artikel met – soos sy voorganger – belangrike insigte in die noodsaak om al hoe meer op skoon, klimaatsvriendelike en deesdae hoogs bekostigbare hernubare energie (en energie-doeltreffendheid) te fokus.

    Maar daar is enkele punte wat maklik reggestel kan word. Swede en Ysland oortref albei die VSA wat betref kragvermoë per kapita.

  • Koos Holtzhausen

    Ek moet die VSA om verskoning vra. As gevolg van ’n vingerglips van my word hulle W/kapita verkeerdelik aangedui as 6701, ipv 3453,975831 (afgerond 3454) W/kapita.

    Hulle is dus in die tweede posisie en word dus oortref deur die Swede.

    Jammer hieroor.

  • Bernhard Scheffler

    Amerika en Swede word albei ver oortref deur Ysland, wat egter ’n minimale koolstof-spoor het – sy elektrisiteit kom 99.98% uit hernubare hidro-, geotermiese en windkrag. Ook Swede se krag kom grootliks uit skoon hidro- en kernkrag.

    So Amerika en China is die groot besoedelaars – minstens wat koolsuurgas betref.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top