Donderdag kondig die Staatspresident in sy staatsrede aan dat Eskom in die bek geruk gaan word.
Sondag word fase 2-beurtkrag aangekondig. Maandag word dit opgestoot na fase 4. Toeval? Noodlot? Ek dink nie so nie. As dit nie toevallig is nie, ontstaan die vraag dan: Wie het dit georkestreer? Tot wie se voordeel is dit om die land lam te lê?
Die maklike antwoord is sekerlik om dit voor die vakbonde se deur te lê. As Eskom meer effektief bestuur moet word, sal daar noodwendig afleggings gebeur. Dis nie nuwe nuus dat Eskom te veel werkers teen te hoë salarisse vir te min poste het nie. Almal weet dat die oorgrote gedeelte van elke prysstyging wat aangevra word, uiteindelik in salarisse ingepomp word en nie in verbetering van fasiliteite nie. Afleggings beteken noodwendig minder ledegelde vir die vakbonde, wat natuurlik ook ʼn impak op hul eie sakke het – die beste aansporing om te verseker dat poste nie beëindig word nie.
Maar die maklike antwoord is nie noodwendig die regte antwoord nie. Indien die vakbonde hieragter sit, wen hulle net lede se goedkeuring deur verantwoordelikheid te aanvaar vir die kragonderbrekings. Dit maak boonop nie sin om in een sektor vuis te bal en mag te vertoon op ʼn manier wat werkers in feitlik elke ander sektor benadeel nie. Dis nie hoe vakbonde werk nie. Hulle sal eers baie deeglik seker maak hulle het lede se ondersteuning voordat hulle dit doen. Daar was nie sulke vergaderings nie.
Nee, die vakbonde sal waarskynlik veel eerder wag om te sien wat die President se volgende skuif is voordat hulle hulle skuif maak – en dan sal dit waarskynlik grootskaalse stakings wees eerder as “lost generating capacity”.
Dis nie in werkers se belang om die ekonomie langtermyn lam te lë nie – nie sonder baie goeie rede nie. En daai rede bestaan nog nie.
Niemand het regtig aan die pen gery vir die betalings aan die Guptas vir steenkool wat nooit gelewer is nie. Die persone wat daarvoor verantwoordelik was, of persone wat om watter rede ook al lojaal aan hulle is, sit nog stewig in die saal by die kragverskaffer.
Dis vir hulle belangrik dat Ramaphosa se magsbasis verswak word. Wat is sy sterkste oorredingspunt? Buitelandse beleggings, wat ʼn sterker ekonomie en meer welvaart versprei onder meer mense beteken. As die kragtoevoer vir veel langer onbestendig bly, gaan voornemende beleggers kleinkoppie begin trek. So kort voor die verkiesing kan die Ramaphosa-faksie, wat ten minste nog ʼn funksionele regering probeer behou, nie daardie verliese bekostig nie. Ramaphosa het ʼn oortuigende, beslissende oorwinning in die verkiesing nodig om die ander faksie, die korrupte faksie, finaal hok te slaan. Skakel die ligte af, ontmoedig beleggers deur industriële aksie, geweld, swak infrastruktuur en voilà, ons is terug in 2016-toestande. Wie wen? Die varke met die snoet in die trog.
Almal – behalwe die regerende party skynbaar – weet die volgende: Eskom het nie ʼn probleem nie, Eskom is die probleem.
Eskom is egter net deel van die probleem. Elke staatsdepartement, elke semistaatsinstelling, elke munisipaliteit is oorlaai met persone wat meer belangstel daarin om hulle eie sakke vol te stop as om die land te help bou. Te veel mense is vir te lank aangestel in posisies waar hulle geen kennis het nie, en waar daar ook nooit druk op hulle geplaas was om kennis op te doen nie. Die teendeel is eerder waar. Dis immers makliker om mense te manipuleer wanneer hulle nie verstaan (of omgee) wat aangaan nie.
Vir te lank is mense in niepolitieke poste aangestel op grond van hul politieke credentials, terwyl kundiges aktief uitgewerk is. Nou moet daardie kundiges as konsultante ten duurste betaal word om die gemors wat ontstaan, skoon te maak. Die kaders bly sit gemaklik agteroor. Hulle struggle is verby, hulle pensioen word verdien in lekker lonende poste. Maak nie saak dat die land reg rondom hulle brand nie.
Wat staan gewone burgers te doen?
Die impuls is om die ANC by die stembus te straf. Wie wil in elk geval stem vir ʼn party wat oor en oor bewys het, en steeds bewys, dat hulle nie ons beste belange op die hart dra nie. Maar wie anders is daar?
Die DA se skoon oudits is aantreklik, maar ek woon in ʼn DA-beheerde munisipaliteit. Ek weet dat dinge wat goed op papier lyk, nie noodwendig ewe goed in die praktyk uitwerk nie. Die DA kan nie eens die plaaslike biblioteek oophou en die paaie heelmaak nie. As hulle nie getrou is in die klein dingetjies nie, hoe kan ek hulle met die groot goed vertrou?
Kan hulle regtig vertrou word om die land se ligte aan te hou? Hulle sal dit in koalisie moet doen. As ek vir Julius in beheer wil hê, kan ek mos maar direk vir hom stem.
Daar is nog drie maande voor die verkiesing. Genoeg tyd om te besluit vir watter party om te stem.
Intussen, koop maar genoeg kerse en paraffien en gas. Belê in kragopwekkers. Gebruik sonkrag. Koop hout aan.
“Winter is coming” is nie meer net ʼn Game of Thrones-sêding nie.
Kommentaar
Ek stem saam, iemand baat hierby. En ek vermoed dit is groter magte as die ANC. Rusland dalk? Om 'n kernkragstasie te bou om die 'probleem' op te los? Nog 'n Gupta-agtige groep wat die regering reeds in die sak het en die geleentheid wil gebruik om oor te neem en skatryk te word uit ons verliese?
Dit is verstommend hoe ons Desember so gepeper kon word met beurtkrag - en toe is die ligte die hele tyd, tot hierdie week, aan. Waar was die probleem die afgelope twee maande?
Ek sal met beurtkrag kan saamleef as dit regverdig toegepas word. As ek gewaarsku word. As my buurt op die skedules is en ek ten minste weet wanneer om wat te doen sodat ek my goed ook kan doen. Maar, in my geval, is ek net ewe skielik sonder krag. En ewe skielik is daar ure later weer krag. Dieselfde vinger wat die knoppie druk dat ek sonder krag is, en elke maand sorg dat ek vir die gebruik van my krag betaal, het geen benul daarvan dat my buurt nie op enige van die skedules voorkom nie. En verstaan nie die frustrasie wat daarmee gepaard gaan nie! Ek moet die tuinier byvoorbeeld betaal vir 'n diens wat hy nie kan lewer nie omdat hier nie krag is om die gras te sny nie!
Wat mens verder dwars in die krop steek, is dat die kantoorgeboue rondom ons blink van al die liggies wat snags brand, met geen mens in sig nie. En ons, wat die krag nodig het om ons gesinne te voed, moet maar sit en kyk hoe krag vermors word. Wat mens ook dwars in die krop steek, is die gedagte dat die ministers heel waarskynlik nie aan beurtkrag blootgestel word nie. As hulle was, sou hulle die hardste kapsie gemaak het. Dit terwyl mense in hospitale in Johannesburg sterf terwyl die krag skielik afgaan en lewensondersteunende masjiene nie meer werk nie.
Voorstelle: 1) geen krag aan mense wat nie betaal nie, hulle kan maar steel wanneer daar in oorvloed is; 2) swaar boetes aan winkeleienaars en eienaars van kantoorblokke waar die krag kwistig vermors word terwyl die mense wat dit nodig het, moet sit en toekyk, 3) geen krag aan buurstate nie, daar is nie eens genoeg vir ons eie land nie. Of ten minste, beurtkrag vir dié lande wat ons krag nodig het.
Indien die eenvoudige voorstelle nie gevolg word nie, is dit baie duidelik dat iets anders agter die skielike beurtkrag is.
Bettina
Om 'n enkele biblioteek wat nie werk nie, as onmag van die DA af te maak, glo ek is onregverdig. Wie anders as die DA is tot 'n mate 'n teenvoeter vir die ANC?
Tog seer sekerlik nie die VF+ met minder as 1% van die stemme nie.
Wat my opval is dat die beurtkrag van korte duur was. In Desember en in Februarie. Die iritasie van beurtkrag is net te kort om huishoudings en besighede te oortuig om 'n ernstige belegging te maak in alternatiewe energiebronne. Net voor die huishouding besluit om ipv 'n nuwe motor of plasmaskerm dalk te belê in sonpanele, batterye en wisselrigters, dan is die beurtkrag weer verby. Dan wen die motor en die plasmaskerms weer. Daar is baie min huishoudings wat eers na hulle bure se huis moet gaan kyk om te weet of daar beurtkrag is.
Geagte Bettina,
Korrupsie floreer want daar is weens vrotsige leierskap nie 'n kultuur van professionele dokumentasie- en konfigurasiebestuur in die staatsdiens nie - derhalwe is daar haas nie 'n behoorlike dokumentasiespoor ("paper trail") om na te speur hoe die projek afgeloop het nie. En die kriminele weet dit.
Doen jouself gerus 'n guns en lees die artikel van Steven Boykey Sidley van 15 Februarie 2019 getiteld "Eskom and the unseen spider web" te https://www.msn.com/en-za/money/news/eskom-and-the-unseen-spider-web/ar-BBTBRsT?ocid=se.
Die "vierde industriële revolusie" Wat is dit? Hoe suksesvol is Eskom om die eerste en tweede industriële revolusies se uitvindings doeltreffend en effektief te kan implementeer?
Bettina, "Daar is nog drie maande voor die verkiesing. Genoeg tyd om te besluit vir watter party om te stem.
Intussen, koop maar genoeg kerse en paraffien en gas. Belê in kragopwekkers. Gebruik sonkrag. Koop hout aan."
Ja, en Suid-Afrika omhels nou die vierde industriële revolusie! Hopelik gaan die ANC nog voor die algemene verkiesing 'n vierde industriële revolusie Eskom Merk 4IR ontwerp en bou! En dan, whalla, al ons kragprobleme is verby! Ha-ha-ha!