- Agtergrond
Beurtkrag het in die afgelope 15 jaar deel van die Suid-Afrikaanse samelewing geword, en die verwagting is dat dit nog vir ’n hele paar jaar deel van ons daaglikse bestaan sal wees.
Die hoofrede hiervoor is welbekend en tweeledig: Eerstens het Eskom in die afgelope twee dekades nagelaat om kragstasies se program van roetine- voorkomende instandhouding in stand te hou, en wanneer veral die stokou kragstasies dikwels breek, is onderdele nie meer beskikbaar nie. Tweedens het Eskom nagelaat om sy verouderde kragstasies – sommige meer as 60 jaar oud en lank verby hul ekonomiese lewensduur – stelselmatig te vervang. Die twee nuwe kragstasies, Kusile en Medupi, kon nog nie deurlopend hul totale opwekvermoë van 9,6 GW lewer nie, en hul voltooiing het dubbel die verwagte sewe jaar geneem.
Die totale nasionale spitsaanvraag van ongeveer 42 GW elektrisiteit oorskry dikwels die beskikbare opwekvermoë van Eskom, wat dan dele van die land se kragtoevoer moet afskakel (eufemisties “beurtkrag” genoem) ten einde die kragnetwerk te beveilig.
Dit duur ’n minimum van 6 tot 10 jaar om ’n nuwe steenkool- of kernkragstasie te bou voordat dit aan die nasionale kragnet verbind kan word. Tans is nog geen aankondiging gemaak oor die bou van nuwe kragstasies vir Eskom nie.
Die regering het so pas die perk vir spesiale lisensies vir privaat kragvoorsieners verhoog van 1 MW na 100 MW. Optimistiese voorspellings is dat genoeg private kragvoorsieners nou sal toetree om die beurtkragprobleem te verlig, maar die verwagting is dat die tekort nie binne ’n paar jaar volledig opgelos sal word nie. Suid-Afrikaners sal nog vir ’n paar jaar met beurtkrag moet saamleef.
.....
Wat kan die gewone elektrisiteitsverbruiker doen om kragonderbrekings te oorbrug, en hoe kan die gemiddelde huishouding beurtkragbestand gemaak word?
......
Die vraag is: Wat kan die gewone elektrisiteitsverbruiker doen om kragonderbrekings te oorbrug, en hoe kan die gemiddelde huishouding beurtkragbestand gemaak word?
In hierdie artikel sal uitsluitlik gefokus word op kleiner bystaanstelsels vir huishoudelike gebruik. Daar is ’n horde aanbiedings beskikbaar op die mark, en dit is onmoontlik om alle moontlikhede te dek. Ook maak intensiewe navorsing, veral op fotovoltaïese selle en batterytegnologie, gereeld nuwe deurbrake en produkte wat dit moeilik maak om by te hou by die ontwikkeling. Laasgenoemde bied egter die voordeel dat die prys van hierdie produkte in die afgelope dekade aansienlik gedaal het.
Daar is ’n groot verskeidenheid tegnologiese hulpmiddele wat verskillende grade van kragvoorsiening bevredig, afhangende van hoe groot jou beursie is. As dit groot genoeg is, kan dit vir jou totale onafhanklikheid van die kragnet bied, in Engels bekend as “getting off the grid”.
.......
As beurtkrag inskop en Eskom se kragtoevoer onderbreek word, hoef jy egter nie in die donker te sit nie.
.........
As beurtkrag inskop en Eskom se kragtoevoer onderbreek word, hoef jy egter nie in die donker te sit nie. Ons neem aan dat die meeste mense oor noodkerse, flitsligte en herlaaibare LED-lanterns beskik.
- Herlaaibare slimgloeilampe
Herlaaibare slimgloeilampe is LED-gloeilampe met ’n ingeboude litiumioonbattery wat gelaai word wanneer die lamp aangeskakel is; wanneer die krag onderbreek word, voorsien die battery krag aan die LED-lig. Die slimgloeilamp is beskikbaar met die gewone skroef- of bajonetsok en kan in die plek van die gewone termioniese gloeilamp ingedraai word, en dit is die goedkoopste opsie vir beurtkragbestandheid wat ligvoorsiening betref. Dit werk ongelukkig nie met ’n doofbare installasie nie. Wanneer ’n kragonderbreking voorkom en die ligskakelaar aan is, skakel die LED oor na interne batterykrag en kan dit 4–8 uur lank brand, afhangende daarvan of dit ’n laekrag-LED-lamp (tipies 5 watt) of hoëkrag-LED-lamp (tipies 12 watt) is.
Herlaaibare slimgloeilamp
Herlaaibare slimgloeilampe kan tipies vir 300–400 volledige siklusse van vollaai tot ontlaai gebruik word, waarna dit vervang moet word omdat die energiestoorvermoë mettertyd afneem. ’n Herlaaibare slimgloeilamp kos tipies van R30 tot R120 .
- Huishoudelike rugsteunkragstelsels
Huishoudelike rugsteunkragstelsels wat die hele huis, of ’n deel daarvan, van krag kan voorsien tydens onderbrekings, kan breedweg in twee kategorieë verdeel word, nl (a) kragopwekkers (petrol- of dieselaangedrewe) en (b) wisselrigter/batterygedrewe rugsteunstelsels (wat desverkiesende ook van sonpanele voorsien kan word). Meer gesofistikeerde stelsels val buite die finansiële vermoë van die gemiddelde middelklashuiseienaar.
Die kragleweringsvermoë van die rugsteunstelsel, en die koste daarvan, word bepaal deur watter toestelle ’n mens tydens kragonderbrekings wil gebruik.
Om 'n idee te gee van wat jy tuis sou benodig: 'n Tafelrekenaar gebruik ongeveer 200 watt en ’n skootrekenaar 100 watt. 'n 50 duim-platskerm-TV (127 cm) vereis tipies 'n maksimum van 250 watt. 'n Mikrogolfoond kan meer as 1 200 watt verbruik. LED-gloeilampe trek tipies van 6 tot 12 watt elk; ’n 60 watt-gloeidraadtipe-gloeilamp verbruik, soos die beskrywing daarvan te kenne gee, 60 watt.
Huishoudelike toestelle wat baie krag verbruik, is lugreëlaars (3 500 watt vir ’n 12 000 BTU-lugreëlaar), elektriese stoof (1 000 watt per plaat, 1 200 watt vir die oond), strykyster (1 200 watt), skottelgoedwasser (1 200–1 500 watt), elektriese verhitter (1 000–2000 watt), en broodrooster (850 watt). Daarteenoor verbruik ’n mediumgrootte-staan-yskas 100-250 watt. Sulke hoëverbruiktoestelle word normaalweg op ’n afsonderlike subnetwerk verbind en kan dan nie tydens kragonderbrekings gebruik word nie.
As basiese minimum sal ’n tipiese gereedstaanstelsel genoeg krag moet kan voorsien om die ligte te laat brand, die TV-stel en dekodeerder, rekenaarmodem, alarmstelsel en ’n tafelrekenaar aan te dryf, waarvoor ’n gereedstaanselsel van 1 kW-vermoë normaalweg voldoende is. Nie net die leweringsvermoë van die installasie nie (in watt, of kVA), maar ook hoeveel energie (in kWh, of Ah) dit kan lewer, is bepalende faktore. In enige sodanige installasie is dit nodig dat die huis se bedrading aangepas moet word deur ’n gekwalifiseerde elektrisiën om die toestelle wat tydens kragonderbrekings gebruik sal word, op ’n afsonderlike subnetwerk te verbind, sodat die huis twee subnetwerke sal hê: een wat van krag voorsien word tydens kragonderbrekings, en ’n tweede wat nie krag daartydens ontvang nie. Dit is ook wenslik om dadelik alle gloeidraadgloeilampe met lae-energie- of LED-gloeilampe te vervang.
Vir die doel van hierdie artikel sal die voorgaande minimumstelsel as die norm geneem word, en om veilig te wees behoort voorsiening gemaak te word vir ’n leweringsvermoë van 1–2 kW vir ’n tydperk van 3–4 uur, met ’n gemiddelde kapasiteit van ongeveer 3–4 kWh.
- Ononderbreekbare kragbron (OKB)
'n Ononderbreekbare kragbron (Engels: UPS = uninterruptable power source) is ’n los draagbare eenheid wat noodkrag vir ’n korter tydperk voorsien wanneer ’n kragonderbreking voorkom, en bied onmiddellike beskerming teen kragonderbrekings; dit bestaan uit ’n battery (as energiestoor) en wisselrigter-gelykrigter om soomloos 230 v WS te voorsien wanneer beurtkrag inskop. Dit is nie ontwerp om deurlopende krag te lewer nie, maar slegs vir 'n vensterperiode waarmee 'n rekenaar of ander gebruikers die werk kan afhandel en afskakel. Dit is ’n losstaande eenheid (en op wieletjies vir groter eenhede).
Die OKB word by ’n gewone 230 V-muursok ingedruk, en beskik oor een of meer WS-uittreesokke waar die toerusting wat dit moet beskerm, ingedruk word. Die battery word gelaai wanneer die kragnet aan is.
Ononderbreekbare kragbronne (OKB’s)
Die kragleweringsvermoë van die meeste OKB’s is betreklik min (tipies minder as 1 000 W) en die kragleweringstyd is kort (tipies ’n halfuur tot ’n uur), maar is voldoende om 'n bystandskragbron (bv kragopwekker) aan te skakel, of die beskermde toerusting behoorlik af te skakel. Dit verhoed net byvoorbeeld dat data verloor word op ’n rekenaar wat nog aangeskakel is wanneer ’n kragonderbreking voorkom.
'n OKB word gewoonlik gebruik om apparatuur soos rekenaars, datasentrums, telekommunikasietoerusting, mediese ondersteuningstoerusting, of ander elektriese toerusting te beskerm, waar 'n onverwagte kragonderbreking beserings, sterftes, ernstige ontwrigting van die besigheid of verlies aan data kan veroorsaak. OKB-eenhede wissel in grootte van eenhede wat ontwerp is om 'n enkele rekenaar te beskerm (ongeveer 200 watt), tot groot eenhede (enkele kW) wat hele datasentrums of geboue van krag voorsien, en die prys hang af van die kragleweringsvermoë, maar is tipies van R500 (vir ’n 360 W-eenheid) tot R2 000 (vir ’n 1200 W-eenheid).
- Kragopwekkers vir gereedstaankrag
Die belangrikste ding om te onthou as jy 'n kragopwekker koop, is dat hulle raas, gereeld van brandstof (petrol of diesel) voorsien moet word, giftige uitlaatgasse afgee, en nie almal gelyk is nie. Aan die onderkant van die prysskaal kan jy een vir ongeveer R1 500 (en selfs minder) koop, maar wees versigtig! Goedkoop koop is duurkoop. Moderne elektroniese toerusting is delikate apparate, en 'n goedkoop kragopwekker met spanningstuwings sal waarskynlik jou duur tafelrekenaar of die platskerm-HD-TV op jou muur uitbrand tydens sulke spanningstuwings (wat oa voorkom wanneer een toestel afgeskakel word).
Die twee hooftipes kragopwekkers is (a) gereedstaan(krag)opwekkers en (b) draagbare kragopwekkers. Gereedstaankragopwekkers is groot, duur, vas ingebou en skakel outomaties aan wanneer kragonderbrekings voorkom. Dit neem normaalweg ’n paar sekondes vir sulke kragopwekkers om krag te lewer.
Gereedstaan-opwekkerinstallasie
Vir die meeste van ons is die draagbare kragopwekker meer prakties en bekostigbaar. Pryse wissel van goedkoop tot duur digitaalbeheerde opwekkers, maar kom basies neer op 'n petrol- of dieselenjin met 'n opwekker en kontakprop aan die voorkant wat nominaal 230 volt WS opwek.
Draagbare kragopwekkers is dikwels nie waterdig nie, en kan nie binnenshuis bedryf word nie as gevolg van giftige uitlaatgasse en geraas. Sommige kragopwekkers het wel ’n uitlaatgaskoppelstuk wat toelaat dat ’n verlengpyp daaraan verbind kan word om by ’n venster uit te hang en die uitlaatgasse na buite te lei.
Draagbare kragopwekkers moet normaalweg met die hand aangesit word, ofskoon duurder modelle oor ’n outomatiese aansitter beskik. In elk geval sal daar ’n tyd verloop tussen die verlies aan elektrisiteit agv die kragonderbreking totdat die kragopwekker aangeskakel is en krag kan lewer nadat die omskakelaar met die hand omgeskakel is om slegs dié deel van die huisbedrading wat lae krag gebruik, daaraan te koppel.
'n Belangrike oorweging is die naatlose kragoordrag van die gereedstaanstelsel tydens kragonderbrekings, wat onmoontlik is om met 'n kragopwekker te bereik. Selfs met die vinnigste outomatiese kragopwekkeraansitter en omskakelaar sal daar altyd 'n paar sekondes vertraging wees voordat die noodkrag ten volle beskikbaar is. Teen daardie tyd het jy miskien al belangrike data op jou rekenaar verloor (of erger, jy het die plot van die sepie wat jy kyk, verloor!).
Die beste soort kragopwekker om spanningstuwings te verhoed is ’n wisselrigter-opwekker. Die stiller 900 watt-wisselrigter-opwekker van Kipor kos ongeveer R6 000, terwyl die Ryobi 1 600 watt-eenheid ongeveer R2 000 kos.
In 'n wisselrigter-kragopwekker word die WS (wisselstroom) wat deur die generator opgewek word, dmv ’n gelykrigter na gelykstroom (GS) omgeskakel. Die GS word dan na 'n elektroniese beheerder gevoer om ’n konstante GS-uittreespanning sonder stuwings te lewer, wat dan deur ’n wisselrigter weer omgesit word na ’n konstante wisselspanning sonder stuwings. Dit is ’n duurder installasie en nie so doeltreffend nie, maar is die ekstra koste werd en goedkoper as 'n nuwe TV of skootrekenaar.
- Wisselrigter-battery-rugsteunstelsels
Verreweg die gewildste rugsteunstelsels vir kragonderbrekings maak gebruik van batterye en wisselrigters (Engels inverters) om krag tydens kragonderbrekings te lewer. Die batterye word gelaai terwyl die kragnet aan is. In die meeste gevalle bied wisselrigter-battery- rugsteunstelsels uitstekende werkverrigting en aansienlike langtermynkostebesparings vergeleke met kragopwekkers. Die wisselrigter moet tydens kragonderbrekings die huisnetwerk van die kragnet kan isoleer en die GS-batterykrag omsit na WS vir die aandryf van die huishoudelike toestelle. Dit funksioneer net soos ’n OKB, maar is ’n installasie in plaas van ’n los draagbare eenheid.
Die batteryselle word in serie geskakel om ’n uittreespanning van 24 volt-GS, of (meer algemeen) 48 volt-GS, of soveel as 60 volt-GS te lewer. Dié spanning word dan deur die wisselrigter na die huishoudelike 230 volt-WS omgesit. Die hoër batteryspannings word verkies omdat die toevoerstroom van ’n 48 volt-GS-stelsel na die wisselrigter die helfte is van dié van ’n 24 volt-GS-stelsel.
Nie al die batterykapasiteit (gemeet in ampère-uur, oftewel Ah, of kilowattuur, oftewel kWh) is egter beskikbaar vir gebruik nie. Litiumioonbatterye (sogenaamde diepsiklusbatterye) kan gewoonlik tot 90% van hul beskikbare kapasiteit lewer, terwyl loodsuurbatterye gewoonlik net 40% tot 50% van hul totale kapasiteit kan lewer om die batterylewe te verleng.
Batterye word vir 'n tydperk van 20 uur gegradeer, wat beteken dat 'n 100 Ah-battery gedurende dié tydperk 5 ampère aaneenlopend kan lewer. Eenvoudig gestel, hoe meer Ah geïnstalleer word, hoe meer kapasiteit het jy en hoe langer sal jou stelsel krag lewer voordat die batterye leeg raak.
Daar is drie soorte batterye wat algemeen in gereedstaanselsels gebruik word: loodsuur-, litiumioon- en soutwaterbatterye. Van hierdie drie opsies het litiumioonbatterye die langste leeftyd. Die vuisreël wanneer dit by gereedstaanbatterye in Suid-Afrika kom, is dat hoe duurder die battery is, hoe hoër is die kapasiteit en/of lewensduur. ’n Meer onlangse ontwikkeling is litiumysterfosfaatbatterye (LiFePO4 of LFP) wat baie voordele vergeleke met loodsuurbatterye en ander litiumbatterye bied: ’n langer lewensduur, onderhoudsvrye werking, uiters veilig, liggewig, verbeterde laai- en ontlaai-doeltreffendheid, om maar net 'n paar te noem. LiFePO4-batterye is nie die goedkoopste in die mark nie, maar vanweë 'n lang lewensduur en nulonderhoud is dit op lang termyn een van die beste beleggings wat jy kan maak.
- Loodsuurbatterye
Loodsuurbatterye (ook bekend as natselle) is 'n goedkoper opsie, maar die lewensduur daarvan is nie optimaal nie. Die selle bevat swawelsuur, en die suurvlak moet gewoonlik maandeliks nagegaan en aangevul word, wat gereelde instandhouding vereis. Sulke batterye mag nie tot onder 50% ontlaai word nie, want dit sal die batterye se lewensduur en effektiwiteit verkort. Loodsuurbatterye moet ook slegs in omgewings gebruik word waar lekkasie geen gevaar inhou nie, gewoonlik in goedgeventileerde buitegeboue, of onder dak. ’n Tipiese loodsuurinstallasie sal tussen 700 en 2 000 laai-ontlaai-siklusse lewer voordat dit vervang moet word. Die tipiese lewensduur is 4–6 jaar. Dit is die gewildste keuse vir mense met ’n dun beursie.
Wisselrigter-battery-kragrugsteuninstallasie
’n Tipiese installasie van loodsuurbatterye van ongeveer 2–3 kW sal ongeveer R8 000–R15 000 kos. Tel hierby die koste van ’n 3 kW-wisselrigter-beheerder en installasiekoste, waarvoor ’n begroting van tussen R15 000 en R20 000 nodig sal wees.
Verseëlde loodsuurbatterye skakel die gereelde instandhouding uit, maar is duurder, het ’n korter lewensduur, maar kan gewoonlik tot 30% ontlaai word (dit is die sg diepsiklusbatterye). Twee soorte is beskikbaar: die JEL-tipe-batterye, en die AGM- (absorberendeglasmat-) batterye. Die meeste AGM-batterye het 'n lewensduur van ongeveer 400–500 siklusse tot 30% ontladingsdiepte (DOD, oftewel depth of discharge); die JEL-battery het 'n lewensduur van ongeveer 600–800 siklusse tot 30% ontladingsdiepte, maar die prys daarvan is betreklik hoog.
Die grootste faktor wat die batteryprys beïnvloed, is die lewensiklusgradering van die battery. JEL-batterye wat byvoorbeeld vir 600–800 siklusse tot 30% ontlading gegradeer is, se prys sal hoër wees as AGM-batterye vir 400–500 siklusse tot 30% ontlading.
’n Tipiese 48 volt-installasie van AGM-batterye van ongeveer 2–3 kW sal ongeveer R15 000–R20 000 kos. Voeg mens hierby die koste van ’n 3 kW-wisselrigter-beheerder en installasiekoste, moet ’n totale begroting van tussen R20 000 en R25 000 beskikbaar wees.
- Litiumioonbatterye
Litiumioonbatterye is van die mees doeltreffende batterye op die mark. Hulle is onderhoudsvry, ligter en kleiner, en hulle produseer nie soveel hitte as loodsuurbatterye nie, wat ideaal is vir opstellings met ruimtebeperkings. Dit kan binnehuis gehuisves word (tipies in die motorhuis), verkwis aansienlik minder krag tydens die laai- en ontlaaiproses, die ontlaaisiklus is dieper, en hulle het 'n langer lewensduur.
Litiumioonbatterye kos gewoonlik twee keer soveel as loodsuurbatterye vir dieselfde kWh kapasiteit, maar die prys daarvan het onlangs baie gedaal. Diepsiklus-litiumioonbatterye kan vir tot ongeveer 90% van hul totale kapasiteit ontlaai word sonder om skade aan te rig. Die totale lewensduur daarvan (10–15 jaar) is baie beter as dié van loodsuurbatterye, sodat dit minder gereeld vervang hoef te word, wat op die lang duur goedkoper is. ’n Litiumioonbatteryinstallasie sal tussen 4 000 en 6 000 laai-ontlaai-siklusse kan lewer voordat dit vervang moet word.
’n Tipiese installasie van 48 volt litium-ioonbatterye van ongeveer 3 kWh vermoë sal van die orde R15 000 tot R25 000 kos. Voeg hierby die koste van die wisselrigter-beheerder en installasiekoste, moet ’n begroting van tussen R25 000 en R30 000 beskikbaar wees.
- Sonpaneel-rugsteunstelsels
Baie huiseienaars begin met die installering van ’n basiese batteryrugsteunstelsel soos dié hier bo, en voeg dan later fotovoltaïese sonpanele by om die batterye vanaf laasgenoemde te laai. Die koste van fotovoltaïese sonpanele het beduidend gedaal in die afgelope tyd, en die stelsel kan homself afbetaal tydens die installasie se verwagte lewensduur. Met genoeg sonpanele is dit selfs moontlik om heeltemal onafhanklik van Eskomkrag te word – die sogenaamde “off the grid”-huishouding, oftewel “groen huis”.
Sonpaneel-kragrugsteuninstallasie
As huiseienaars dié roete wil volg, is dit wenslik om huishoudelike toerusting wat baie krag verbruik te minimeer. Begin deur die warmwaterstelsel om te skakel van een met ’n elektriese-verhitter-element na ’n installasie met warmwatersonpanele. Dit is veel meer logies om water direk met sonenergie te verhit as om die sonenergie na elektrisiteit om te skakel dmv fotovoltaïese sonpanele en die opgewekte elektrisiteit dan te gebruik om water met ’n verhitterelement warm te maak. Hierdeur kan die gemiddelde huishouding se totale elektriese verbruik met tot 50% verminder word. Skakel die elektriese stoof om na een wat met aardgas werk.
Indien ’n tweestap-proses gevolg word (aanvanklik net ’n batterygesteunde rugsteunstelsel, met latere uitbreiding om sonpanele te akkommodeer) is dit raadsaam om te verseker dat die wisselrigter-beheerder wat aan die begin geïnstalleer word, in staat sal wees om later sonpanele daaraan te laat koppel. Dit geld ook die vermoë (kW-lewering) van die wisselrigter.
Dit is teoreties selfs moontlik om gedurende die dag, wanneer die elektriese verbruik minder is, die “oormaat” elektrisiteit wat dmv die fotovoltaïese sonpanele opgewek word, aan die munisipaliteit te verkoop. (Dit word baie algemeen in Australië gedoen.) Nie alle plaaslike munisipaliteite laat dit egter toe nie, en jy sal by jou plaaslike munisipaliteit moet vasstel of dit moontlik is. Indien die huis se elektrisiteitsverbruik gemeet word dmv een van die ouer tipe draaiende-skyf-kWh-meters, sal die oormaat elektrisiteit wat aan die netwerk gelewer word, die skyf in die omgekeerde rigting laat draai, wat die totale gemete kWh-lesing laat afneem. Vanaand, wanneer die son nie skyn nie, kan jy dan elektriese krag vanaf die netwerk onttrek om die skyf in die gewone rigting te laat draai.
Wat die koste van ’n volledige fotovoltaïese sonpaneelrugsteunstelsel (sonpanele, wisselrigter, batterye, installering, elektriese sertifikate) sal beloop, hang af van vele faktore, en is so maklik as om ’n antwoord te gee op die vraag “Hoe lank is ’n stuk tou?” Vir ’n kleinerige huis van 80 m2 wat ’n elektriese verbruik van 2 kW benodig, sou dit ongeveer R65 000 kos om beurtkrag wat drie uur duur, die hoof te bied, volgens een plaaslike firma wat in sonkragsstelsels spesialiseer. 'n Groter stelsel van 5 kW vir 'n huis van 250 m2 sal R110 000 kos. Vir ’n groter stelsel van 10 kW neem die totale koste toe na R190 000.
- Ten slotte
.......
Die gebruik van hernubare bronne, en bepaald sonenergie om te voorsien in die elektriese behoeftes van die mensdom, is besig om teen ’n enorme tempo toe te neem.
.........
Die gebruik van hernubare bronne, en bepaald sonenergie om te voorsien in die elektriese behoeftes van die mensdom, is besig om teen ’n enorme tempo toe te neem. Danksy intensiewe navorsing oor batterye het nuwe batterytegnologie na vore gekom om die produksiekoste van batterye aansienlik te laat afneem en die lewensduur te verleng. Net so het navorsing oor fotovoltaïese selle nie net die benuttingsgraad van sonpanele verhoog nie, maar ook die vervaardigingskoste laat afneem.
Dit het tot gevolg dat die koste van elektrisiteit wat dmv hernubare bronne opgewek word, gedaal het tot minder as dié van byvoorbeeld steenkool- en kernkragstasies. Die vermoë van die gewone huiseienaar om self te voorsien in sy huishoudelike elektrisiteitsbehoeftes bied aan hom veel groter onafhanklikheid van die kragnet en kan hom bestand maak teen beurtkrag. Die aanvanklike kapitaalkoste wat benodig word om ’n huis grootliks onafhanklik van die kragnet te maak, moet gesien word as ’n langtermynbelegging wat oor die lewensduur van die stelsel ekonomiese sin sal maak.
Daar moet onthou word dat alle elektriese installasies van hierdie aard slegs deur ’n gesertifiseerde elektrisiën gedoen mag word en aan die voorskrifte van die plaaslike owerheid moet voldoen.
- Alle foto’s en grafika: Christo Viljoen
- Christo Viljoen is ’n afgetrede ingenieur, ’n voormalige lid van die Elektrisiteitsraad (tans die Eskom-direksie), en voormalige lid van die Elektrisiteitsbeheerraad (tans Nersa).
Lees ook:
Kommentaar
Uitstekend. Insiggewend. Gedetailleerd. MAAR kan ons asb 'n makliker verteerbare opsomming kry sodat ons binne dae 'n haglike situasie kan verbeter.
Ons bly in ’n klein dubbelverdiepinghuis en het die onderste vloer omskep in ’n gastehuis. Ons het onlangs vir onsself bo ’n inverter ingesit wat die televisie, WiFi, drukker en ’n paar lampe laat werk tydens beurtkrag. Vir die gaste (onder) het ons losstaande, herlaaibare ligte en ’n gasstoof. Gaan nou ’n klein UPS vir ongeveer R900 aanskaf vir hulle WiFi. Ek wil graag iets goedkoop kry om die 2 televisies onder te laat werk tydens beurtkrag. Het julle dalk vir my ’n maklike oplossing? Baie dankie.
Hierdie is ’n baie insiggewende artikel wat vir die gewone leser verduidelik hoe die elektriese sisteme werk.