"Die dramagogga het my gebyt"

  • 0

......

“Ek het gou besef dat drama gaan oor die storie en hoe jy dit vertel, nie oor hoeveel woorde jy het nie.”

......

Brutney Singrew is ’n jong opkomende aktrise wat in die teaterproduksies Ek, Eva en Wat’s oppie menu by vanjaar se Zabalaza-fees by die Baxter-teater opgetree het. Cliffordene Norton gesels met haar oor haar loopbaan en toekomsdrome. 

Hierdie produksie (Ek, Eva) is baie na aan my hart, want die produksie gaan oor vroue wat oorlewendes is en nie slagoffers nie.

Vanwaar jou liefde vir die kunste? Watter akteur/aktrise of teaterstuk het jou liefde vir die opvoerende kunste geïnspireer?

Ek het nog altyd ’n liefde vir die kunste gehad. Ek was eintlik ’n danser vir my hele skoolloopbaan. Om eerlik te wees, drama was nie deel van my beplanning vir my toekoms nie. Maar soos altyd beplan die mens, maar God bepaal.

......

“Iemand baie na aan my hart het eenkeer gesê: ‘As jy nie senuwees ervaar voordat jy optree nie, het jy nie ’n liefde vir wat jy doen nie’.”

......

Na skool, in 2016, het ’n goeie vriend, Samuel Jumat, my genader en gevra om deel te wees van sy dramagroep/produksie waarin ek die rol van ’n pop moes speel wat slegs dans. Ek het daarna die toekenning ontvang vir beste aktrise. Ek was in ekstase, want ek was onder die indruk dat jy woorde moet hê om so ’n toekenning te ontvang.

Uit Wat’s oppie menu: Hierdie produksie is een van die mees uitdagende produksies ooit. Maar ek geniet uitdagings – so dis oukei. Ek het die rol van ’n jong dogter gespeel wat ly aan fantasy prone personality (FPP). Sy leef elke dag in haar eie verbeelding en probeer almal rondom haar oortuig dat sy in ’n ander plek is.

Maar ek het gou besef dat drama gaan oor die storie en hoe jy dit vertel, nie oor hoeveel woorde jy het nie. Dis seker voor die hand liggend dat die dramagogga my gebyt het.

Ervaar jy ooit vrees of senuwees voor ’n opvoering? Indien wel, hoe hanteer jy dit?

Ja, altyd. Ek het begin wonder wanneer ek ontslae gaan word van die vlinders op my maag voordat ek optree, min wetend dat die senuwees die rede vir elke goeie optrede is. Iemand baie na aan my hart het eenkeer gesê: “As jy nie senuwees ervaar voordat jy optree nie, het jy nie ’n liefde vir wat jy doen nie.” Vanaf daardie dag gee ek elke vlinder op my maag die reg om te dans op die musiek van my hartklop.

Brutney het die Zabalaza-prys vir beste ondersteunende aktrise in Ek, Eva ontvang.

Watter uitdagings staar jou as aktrise in die gesig?

Een van my grootste uitdagings is om in twee verskillende produksies te speel. Mens raak nooit gewoond aan die druk nie, maar dit is ook een van die lekkerste ervaringe. Die moeilikste is ook om al die repetisies by te woon terwyl ek ’n student is. Die twee produksies se repetisies vind op verskillende plekke plaas.

Llewellyn Bond, Brutney Singrew en Marveen Charles in Wat’s oppie menu.

Ek woon in George en ek studeer hier. Ek, Eva se repetisies vind plaas in Stellenbosch en Wat’s oppie menu s’n vind plaas in Knysna. Ek sal ook sê dat die karakters wat ek speel, baie verskillend is van wie ek is. Maar ek moet onthou om myself in daardie karakter se skoene sit om te kan verstaan hoe sy voel en wat sy sou doen in ’n spesifieke situasie. Dis altyd lekker om myself in situasies te sit waar ek uitgedaag word om ’n beter aktrise te word.

Jy het onlangs ’n Zabalaza-toekenning vir beste opkomende aktrise gewen. Wat was jou reaksie toe jou naam gelees is?

Tot op hierdie oomblik weet ek nog steeds nie hoe om te voel nie. Vir my gaan dit nooit oor die toekenning nie, maar oor die storie wat ek kon vertel. Die toekenning is net ’n bonus. Ek sal definitief sê ek is bevoorreg om daardie toekenning te kon ontvang en dankbaar dat my harde werk raakgesien word.

Wat hou die toekoms vir jou in?

Drama is definitief hierdie keer deel van my beplanning vir die toekoms. Ek wil nog teaterproduksies doen in die toekoms.

  • Foto’s: verskaf

Lees ook

2020 Zabalaza-toekennings: "Jy weet nooit waarheen dié fees jou kan lei nie"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top