2020 Zabalaza-toekennings: "Jy weet nooit waarheen dié fees jou kan lei nie"

  • 0

..........

“Ek voel altyd sleg om toekennings uit te deel, want meeste van die deelnemers het baie hard gewerk en almal is wenners. Aan almal, gebruik hierdie geleentheid. Jy weet nooit waarheen dié fees jou kan lei nie.” – Mdu Kweyama

..........

Op Saterdag 14 Maart 2020 is die Zabalaza-toekenningsgeleentheid by die Baxter-teater in Kaapstad gehou. Die Zabalaza-teaterfees het van 7 tot 13 Maart plaasgevind en ongeveer 40 produksies is opgevoer.

Baxter-teater (Foto: Rotsee [CC BY-SA 3.0], via Wikimedia Commons)

Zabalaza, wat vanjaar tien jaar oud is, is ’n ontwikkelingsprogram van die Baxter-teatersentrum wat teaterpraktisyns van in en om die Wes-Kaap ontwikkel deur opvoeringsgeleenthede te voorsien sodat hulle hul kreatiewe konsepte kan verwesenlik. Die geleenthede word geskep deur minifeeste in teikengemeenskappe, draaiboeklesings en ’n jaarlikse fees wat in Maart by die Baxter-teater gehou word. Die volle naam, Zabalaza Intsika eBaxter-teater, verwys na die fees as ’n pilaar van die Baxter-teatersentrum. Dit beteken ook om te streef na sukses.

Tydens die geleentheid is toekennings vir die beste draaiboek, akteur en aktrise, beste vernuwende produksie en vele meer uitgedeel. Dit was ’n feestelike geleentheid met The Collective wat bekende liedjies soos “Pata Pata” gespeel het.

Dit was duidelik dat die deelnemers ’n gemeenskap is wat vir mekaar omgee. Daar was dikwels tydens die seremonie ’n gespot en gemaklike verhouding. Ongeag wie as wenners aangekondig is, is daar uitbundig gevier.

Mdu Kweyama, artistieke direkteur van die fees en kurator, het begin deur oor die koronavirus te praat. “Die virus is nie ’n grap nie. Ek weet ons maak grappe – dis oukei. Dis ons manier om as Suid-Afrikaners hierdie goed te hanteer. Lees op oor die virus, voed jouself op, en was jou hande.

..........

Wat’s oppie menu het ook die prys vir mees belowende produksie gewen. Zabalaza werk jaarliks saam met die Woordfees en Vryfees, en die produksie wat met dié prys wegstap, word die volgende jaar by een van dié feeste opgevoer.”

..........

“Ek voel altyd sleg om toekennings uit te deel, want meeste van die deelnemers het baie hard gewerk en almal is wenners,” het hy voortgegaan. “Aan almal, gebruik hierdie geleentheid. Jy weet nooit waarheen dié fees jou kan lei nie.”

Die eerste toekenning wat uitgedeel is, was vir beste ensemble. Umzila, wat deur Sonwabo Mphandle geskryf en regisseer is, het met hierdie prys weggestap. Dié produksie, wat in Xhosa en Engels opgevoer is, kyk na hoe jong mans opkyk na hul vaders en tog hul eie paadjie wil stap.

A nightingale resolve het met die prys vir die beste draaiboek weggestap. In hierdie produksie word Mzuvukile gediagnoseer met ’n terminale siekte, voor hy finansiële vryheid sou bereik. Hy beplan sy dood om die polisgeld te ontvang, maar ’n korrupte polisieman ontdek sy plan en pers hom af.

Ek, Eva, het die prys vir beste vernuwende produksie gewen. Dit handel oor drie vroue wat baie verskil van mekaar, maar tog ’n konneksie het. Hulle almal word in ’n wrede tydperk op proef gestel, en moet praat oor wat hulle vashou en terughou in hul lewens. Brutney Singrew het ook die Zabalaza-prys vir beste ondersteunende aktrise in Ek, Eva ontvang.

Ek, Eva (Foto: verskaf deur KKNK)

Lihle Qobongoshe van First accused het die prys vir beste ondersteunende akteur ontvang. Die prys vir die beste akteur en aktrise is deur Vuyiseka Skeyi vir Waiting en Williams Adams vir Hart-Kopseer ontvang.

..........

“Die laaste prys vir die dag, vir beste produksie, is aan First accused toegeken. Die aktuele produksie kyk hoe slagoffers van geslagsgeweld deur die Suid-Afrikaanse regsisteem in die steek gelaat word.”

..........

Samuel Jumat het die prys vir beste regisseur ontvang vir Wat’s oppie menu. Hierdie produksie gaan oor ’n familie wat in die agterjaart van ’n sjebien woon. Hulle is drie maande laat met hul huurgeld, en die eienaar wil nie loop sonder sy huurgeld nie. Hulle hoop om hom met ’n goeie ete te betaal, maar wat kan hulle bedien?

Samuel Jumat ontvang die prys vir beste regisseur van Nwabisa Plaatjie. (Foto: Fahiem Stellenboom)

Wat’s oppie menu het ook die prys vir mees belowende produksie gewen. Zabalaza werk jaarliks saam met die Woordfees en Vryfees, en die produksie wat met dié prys wegstap, word die volgende jaar by een van dié feeste opgevoer.

Die span van Wat’s oppie menu met Mdu Kweyama. Van links: Thabiso Newman, Samuel Jumat, Marveen Charles, Brutney Singrew, Llewellyn Bond, en Mdu Kweyama. (Foto: Fahiem Stellenboom)

Die laaste prys vir die dag, vir beste produksie, is aan First accused toegeken. Die aktuele produksie kyk hoe slagoffers van geslagsgeweld deur die Suid-Afrikaanse regsisteem in die steek gelaat word.

Mdu Kweyama het die dekaan van Geesteswetenskappe aan Universiteit van Kaapstad, Shose Kessi, voorgestel. Sy het aangekondig dat elk van vanjaar se deelnemers ’n kans het om ’n beurs by Universiteit van Kaapstad te wen. Die wenner van die beurs kan vir drie jaar by die universiteit studeer en die prys is geskep nadat verskeie belanggroepe gevra het: Wat gebeur na die Zabalaza-fees?

Lees ook 

"Die maskers word afgehaal en kwesbaarheid word voor die gehoor neergelê"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top