Die blou huis deur Erika Murray-Theron: ’n onderhoud

  • 0

Voorblad van Die blou huis: The Talking Table; foto van Erika Murray-Theron deur Frederik de Jager en verskyn met sy toestemming ©2026 Frederik de Jager

Titel: Die blou huis
Skrywer: Erika Murray-Theron 
Uitgewer: The Talking Table

Carla van der Spuy:

Op byna 85 het Erika Murray-Theron – skrywer van 12 boeke waaronder nege romans, nie-fiksie en kortverhale – haar eerste kinderboek, Die blou huis, bekend gestel. Dis dan ook nie juis ’n verrassing nie, want sy is die ouma van 10 kleinkinders!

Die storie van Die blou huis gaan oor Jeannie en Katryn wat by Oupa en Ouma in die blou huis by die see agterbly vir nog ’n bietjie somervakansie.

Die twee niggies speel, verf, swem en pak ’n legkaart. Hul vakansiedae herinner sterk aan dié van vorige geslagte met die “Sorg dat jy tuis is voor dit donker word”-opdrag en talle buitelugaktiwiteite. Dan kom hulle agter ’n geheimsinnige figuur pak verder aan die legkaart wanneer hulle nie sien nie.

Hulle betrap die vreemdeling op heterdaad en wonder waar die meisiekind vandaan kom. Nuuskierigheid kry die oorhand en dan vind hulle op waaghalsige wyse uit, maar dinge loop ietwat skeef. Gelukkig is daar ’n wyse ouma, wat ook maar haar eie bekommernisse oor Oupa het, in die huis.

Die niggies leer oor vriendskap en familie, oor waar mens behoort en oor grootword, lui die teks op die agterblad.

Ons het met Erika gesels oor hierdie boek wat op lesers van nege tot 12 jaar gemik is.

Oor die feit dat hierdie veelsydige skrywer nou eers haar hand aan kinderfiksie gewaag het en of haar oumaskap iets daarmee te make het, sê sy: “Ek het sekerlik met my kleinkinders in gedagte die storie geskryf. Dit was vir húlle wat ek dit wou vertel! Maar ek onthou nie ’n geïsoleerde, aanleidende prikkel nie.

“Ek het wel amper soos die ouma in die storie in ons eie blou strandhuis vir twee kleindogters wat baie groot maats was, gevra om vir my neer te skryf wat hulle alles by die see doen.

“Later het ander kinders die familietal aangevul. Die oudste raak aan 30, die jongste lammetjie wat in Slowakye woon, is ’n jaar oud. Die storie het lank onvoltooid op my rekenaar gelê.

“Na my man, Gideon, oorlede is, het ek geweet ek móés weer my tande in ’n stuk skryfwerk kry om in daardie moeilike tyd weer kreatief te begin funksioneer. Ek het by ’n slypskool ingeskakel om myself te dwing om te begin werk, en al manuskrip tot my beskikking was die halfklaar kinderstorie.”

Oor die moontlike invloed van werklike gebeure in haar eie lewe op hierdie kinderverhaal, vertel sy Die blou huis en sy gees bestaan werklik. Haar skoondogter, Dalena Theron, het die omslag van die boek geskilder.

“Die uitbeelding van die kunstenaar-ouma in die boek is sekerlik verwant aan my eie werk en die soort goed wat ek raaksien en wat my verbeelding prikkel, maar ek is geen skilder nie. Die lewensbeginsels wat die ouma aan haar kleinkinders oordra, is my eie, en dit wat ek graag met my kleinkinders sou wou deel terwyl ek self nog leef.”

Gevra of die kleinkinders trots op hierdie boek is, antwoord sy dat die jonger kinders die herkenbare aspekte van die storie geniet en dat dit vir hulle báie opwindend was om hul name voor in die boek te lees, ook dat die boek aan hulle opgedra word. Maar dié storie is nou vir alle kleinkinders van ander oumas en oupas wat dit lees.

Oor die feit dat soveel mense dink kinderboeke moet ’n prekie of lewensles insluit, sê sy: “Ek self het wel ’n persoonlike hekel aan morele, prekerige storietjies vir kinders. Ek het probeer om humor en perspektief te behou en om nie ’n moralistiese pyn van ’n boek te skryf nie!

“Van die grappies in die boek was met myself. Een van my gunstelingtonele is dié waar die welmenende hospitaalverpleegster die oupa se hare oor sy bles gekam het, en dan die ouma se droë opmerking daaroor wanneer sy normale ‘haarstyl’ weer herstel word.”

Sy benadruk dit egter dat die storie- en spanningslyn in Die blou huis, anders as die geval met die soort grootouer-kleinkindverhouding in die boek, geheel en al fiktief is.

Sy aanvaar egter dat kinders se verskeurdheid tussen hul twee ouers wat van mekaar verwyderd is soos in die geval van die karaktertjie, Elf, sekerlik algemeen in die werklike lewe voorkom.

“Maar ek wil dit beklemtoon dat die boek glad nie op enige werklike persone, lewend of dood, gebaseer is nie.”

Oor die rol wat haar uitgewer, Frederik de Jager (ook ’n bekende skrywer) van The Talking Table, in die skryfproses vertolk het, vertel sy dat hy voorheen met vier van haar romans die uitgewersredakteur was en só haar skrywerskap help vorm het. Sy het ook een van sy slypskole bygewoon.

“Dié werksverhouding het gelei tot ’n vriendskap wat nou al drie dekades lank duur. In die proses het ek intussen behoorlik kennis gemaak met hoe uitdagend die kinderverhaal as genre is. Ek sal dit nooit vlak kyk nie. Eenvoud beteken nie eenvoudigheid nie. Jy durf nie na kinders afskryf nie. En kinders kry te kampe met komplekse, dikwels gruwelike en allesbehalwe ‘kinderlike’ situasies. Soos die beroemde kinderboekskrywer, Erich Kästner, hieroor geskryf het: Hulle is dikwels die direkte rolspelers in situasies wat in boeke of rolprente ’n streng ouderdomsbeperking het. Wanneer jy noodwendig so iets in ’n kinderboek moet hanteer, kos dit uiterste sensitiwiteit en fyn, fyn trap,” sê sy.

Oor hoe haar skryfstyl verskil van dié van kinderverhaalskrywers soos Jaco Jacobs en De Wet Hugo, sê sy: “Ek weet nie eens of ek myself as ’n ‘kinderverhaalskrywer’ moet beskou nie. Hierdie storie sal waarskynlik ook die enigste wees. Ek weet nie in hierdie stadium of ek ’n opvolg gaan skryf nie. Ek het ’n kinderverhaal aangedurf, omdat ek iets gehad het wat ek vir kinders wou sê, nie om doelbewus nou ‘’n ander genre te betree’ nie.

“Ek moes dit so goed as wat ek kon, vanuit my eie skryfgeskiedenis en ervaring en my eie styl en aanslag doen. Dit was ’n groot, maar uiteindelik wel ’n baie lekker uitdaging.

“Om die storie te kon skryf, was dit nodig om op ’n geloofwaardige manier eers die moderne elektroniese tydverdrywe van kinders wat gedrenk is in moderne fantasie-leesstof en rekenaarspeletjies, weg te stroop. Dié dinge wou ek nie afkraak nie. Al is ek weens my ouderdom nie in daardie wêreld tuis nie, weet ek tot in my murg dat verandering deur alle eeue onafwendbaar deel van en noodsaaklik vir die mens se kultuur is.

“Dit is dwaas om dit te probeer teenhou. Maar ek wou egter hopelik by ’n paar wesenlike en, dit glo ek vas, stééds geldige menslike kwessies uitkom.”

Erika sê hul familie kuier steeds jaarliks saam by húl blou huis. “Daar is sommer baie plek vir mak skape in ons kraal, maar ons is nou al saam met al die latere aanhangsels soveel dat ons maar moet beurte maak. Of kampplek byhuur.

“By ons eie strandhuis is daar inderdaad geen TV nie. Die ontvangs was aanvanklik nie watwonders nie, maar die algemene gevoel in die familie was van die begin af dat dit ’n plek is waar mense by mekaar en by hulself uitkom, waar ons liewer saans om ’n vuur kuier en waar interaksie, verhoudings en werklike rus belangriker is as skerms en kunsmatige vermaak.”

Sy stem saam dat die onderliggende waardestelsel wat Die blou huis betref, naamlik empatie, ook die belangrikste waarde is wat ’n kind juis binne die algemene kultuur van “elke mens vir homself” moet aanleer.

“Nog ’n waarde wat vir myself belangrik is en wat die ouma in die storie probeer uitleef, is dié van eerlike kommunikasie en van direktheid tussen mense. Ook die nodigheid om nie van werklikhede weg te skram nie, maar dit reguit in die oë te kyk, dit te erken en aan te durf.”

........
Oor die rol wat grootouers in ’n kind se lewe vertolk, dink sy dis enorm belangrik, juis in ons kultuur, waar mense deesdae kleiner gesinne het en dan – veral nou die ma ook – weer vroeg terugkeer na die werksplek nadat die kind gebore is. Die versorgersrol val dus dikwels weer op die grootouers se skouers.
........

Oor die rol wat grootouers in ’n kind se lewe vertolk, dink sy dis enorm belangrik, juis in ons kultuur, waar mense deesdae kleiner gesinne het en dan – veral nou die ma ook – weer vroeg terugkeer na die werksplek nadat die kind gebore is. Die versorgersrol val dus dikwels weer op die grootouers se skouers.

“So word hulle dié bron van sekuriteit en emosionele warmte vir die kinders. Hulle bly, soos deur die eeue, die bewaarders en oordraers van die familieverhaal en -geskiedenis en ook die oordraers van die betrokke kultuur. Ek glo dat ’n mens daardie band moet koester en dat jy as bejaarde dikwels maar die uitreikwerk moet doen.

“Dis nie altyd so maklik nie, omdat jongmense se leefwêreld soveel van joune verskil. Jy moet soek na gemene delers en bereid wees om moeite te doen en selfs nuwe belangstellings te ontwikkel. Maar jou kinders as ouers het ook in die bou en instandhou van bande tussen hul kinders en hul grootouers ’n belangrike plig.”

Soos die geval met talle grootouers is, beleef sy ook die uitwerking van die diaspora op die verhouding tussen kleinkinders en grootouers.

“Gelukkig is daar planne en truuks en wonderlike kommunikasiemetodes wat voorheen nie bestaan het nie. As die wil bestaan om kontak te behou, kan jy só baie ver kom, maar dit kos ook bereidwilligheid om moeite te doen. Van die uitdagende belemmerings is tydverskille as jy bel, taalverskille en grootouers wat soms bereid moet wees om in ’n taal wat nie hul eie is nie, met hul kleinkinders te kommunikeer. Dan is daar die uiters hoë koste van reis, asook veroudering wat ’n lang reis om verskillende redes vir grootouers moeilik maak.

“En soos iemand der jare gelede al gesê het: ‘Jy kan nie ’n drukkie e-pos nie.’ Vir ware intimiteit is gereelde kontak amper ononderhandelbaar.

“Ek self het ’n jaaroue Slowaakse kleinkind, met ouers wat besluit het hul kindjie sal in haar Afrikaanse ouma se lewe bly figureer en andersom. En hulle kry dit tot dusver met al wat ’n truuk is, baie goed reg.

“Natuurlik is dit vir my as ouer en grootouer moeilik. Maar ek is hulle baie dankbaar.”

As skrywer is Erika ook baie lief vir lees.

“Ek lees wyd en oor genres heen. Meestal eerder fiksie met iets om die lyf, en nie verstrooiingslektuur nie. Blockbusters is gewoonlik nie my ding nie. Ek het groot respek vir woorde, maar onnodige veelwoordigheid irriteer my. Dis dalk waarom ek meer van die Britse as van die onsubtiele Amerikaanse letterkunde hou. Ek behoort aan meer as een leeskring en hul verpligte leeslyste hou my ‘by’ en op my tone. Dit dwing my ook om Nederlands te lees en soms ’n bietjie Duits. Ek lees ook graag poësie.”

Hoe voel sy oor die toekoms van Afrikaanse boeke?

“Ek is soos almal wat regtig omgee, maar ’n bietjie bekommerd. Tog het daar die afgelope jare verstommend baie nuwe Afrikaanse boeke verskyn. Afrikaanse mense het hul ‘taalstryder-arrogansie’ verloor, maar die Afrikaanse leeskultuur het bly floreer. Dalk juis begin floreer. Dit maak my opgewonde dat daar al hoe meer werk van voorheen ongehoorde kultuurgroepe en ook in variante van Afrikaans verskyn. Al is ek dalk diep in my hart nog iets van ’n taalhandhawer, dink ek nie ’n mens kan die noodsaaklike gang van die geskiedenis terughou nie.”

  • Lokfilm deur The Talking Table verskaf.

Lees ook:

Elders gesien: Die blou huis is Erika Murray-Theron se debuutkinderboek op ouderdom 85

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top