
Frederik de Jager skryf op Facebook:
Van my durendste vriendskappe is gebou op boeke. My langerige leeftyd as boekeredakteur en later uitgewer het my ’n rykdom aan sulke verbintenisse gegee. Toe ek jonger was, het ek my dikwels verwonder oor hoe mense wat ouer as ek is – soms heelwat ouer – hulle nie net kan verlaat op die literêre sorg van ’n jonger mens nie, maar hulleself ook kan gee in vriendskap.
Onder die groot aantal skrywers wat oor mens se pad kom terwyl hul werk op jou lessenaar land, het daar in my ervaring mense van jong akademikus tot professor gevorder en later geëmeriteer. Of van jong regsgeleerde tot advokaat tot regter. Ander het skrywers gebly en almaardeur groter meesters van hul vak geword. Twee van my dieptste langtermynvriendskappe was met Klaas Steytler en Chris Barnard. Hulle twee, soos heelwat ander, het ons intussen ontval.
Op enkeles na is Erika Murray-Theron die skrywer met wie ek die langste saam aankom.
My destydse baas by Tafelberg-Uitgewers, oorlede Charles Fryer, het sardonies opgemerk dat mens vriende van jou skrywers kan maak, maar nie skrywers van jou vriende nie. Ervaring het geleer hy was reg. Dit was Charles wat ’n manuskrip van Erika Murray-Theron op my tafel geplaas het. Dit was haar tweede roman, Die toubrug, van 1992. (Wie is jy, Elizabeth? van 1989 was haar eerste.) Daarna sou Vlegsel (1995) en later Die Mezzanine-klub (1998) volg. Met haar agt ander boeke was sy in ander hande. Onder hulle tel die allerlieflike Sê, Maria van 1991, waarmee sy die ATKV Prosaprys gewen het, en ’n Tappisserie met klein diere, wat die wenner was van Tafelberg, Sanlam en Insig se Groot Romandwedstryd in 2008, en wat ook in Nederland uitgegee is.
Die toubrug was ’n dubbele liefde met die intrapslag. Eerste vir die ragfyn, sensitiewe prosa, die simpatieke en tog skerp ingefokusde kyk van hierdie skrywer op haar karakters en die fyn, fyn net van haar verhale. En toe ek haar van Kaapstad af in Pretoria gaan opsoek, was daar ook, nou ja, nie liefde op dáárdie manier nie, maar as ek my nie te veel verstout nie, spontaan ’n wedersydse toegeneentheid. Ek het oor verdere besoeke met die jare die gesin ontmoet, haar vyf kinders, haar man, Tom, in hulle groot, onpretensieuse gesinshuis waar ek soos ’n familievriend ontvang is en minstens een keer oorgeslaap het.
Familie, kan jy sê, is ’n sleutelwoord in haar oeuvre. En die tweede wat hiermee gelykstaan, is vriendskap. En die derde wat ook hiermee gelykstaan, is oorbrugging. Groot verskille tussen mense, soos jy veral in ons land kry, noop hierdie skrywer om woord vir woord brug te slaan. Die titel van haar tweede roman, Die toubrug, is geen toeval nie.
Ek het ná Die Mezzanine-klub op ander plekke gaan wei – in Griekeland, in die TV-bedryf, later by die akademiese en Engelse uitgewerswese. Erika het haar skrywersloopbaan boek vir boek verruim en verdiep. Benewens die romans is daar kortverhale en outobiografiese nie-fiksie. Onder laasgenoemde tel, aangrypend, Kom ons loop weg, van 2021. Dit gaan oor Tom se Parkinsonsiekte, waaraan hy later oorlede is.
Werksgewys was ons op verskillende spore, maar ons het, ten spyte van lang tussenpose, in voeling gebly. Ek het geweet dat sy weer, en baie gelukkig, getroud was, en wéér weduwee geword het nie baie lank gelede nie. Toe kom sy na een van die skryfskole wat ons in Stilbaai gehou het. Ons, synde The Talking Table, die onderneminkie in opvoedkundige toerisme wat ek en Douw vir ’n paar jaar in Griekeland en op beperkte skaal in Stilbaai bedryf het. Die manuskrip waaraan sy kom werk het, was haar eerste kinderboek. Dit was weer soos in die ou dae met die werk aan ’n boek van Erika, met die bykomende moeilikheidsgraad van kinderliteratuur. Wat ’n taai ding is om reg te kry. Waarin sy uitgemunt het.
Uitgewers wou egter nie uitgee nie. Ek verkwalik hulle dit nie. Ek skat kontemporêre kinderliteratuur het ’n kosmopolitiese ekosisteem en leksikon van sy eie. Erika se storie, Die blou huis, is allesbehalwe nié kontemporêr nie, maar daardie pivotale, verbyvlietende oomblik in die lewe van die drie dogtertjies in haar storie vra vir fyn lees. En die aard van andersheid, waarheen sy weer eens vir haar karakters ’n brug help sien, word nie uitgetrompetter nie. Dis nie ’n boek wat maklik bo die geklater van die lewe in 2026 gehoor kan word nie, of een wat sonder mooi kyk verby die snelvuur van visuele kultuur gesien kan word nie.
Toen zei ik maar kom ek help haar om dit self uit te gee. Ek, wat ’n loopbaanlange voorstander is van uitgee by gevestigde uitgewerye, met rede die waarde van die druknaam op jou boek, die (meesal) rigoreuse seleksieproses, die versorging van sowel die inhoudelike as die fisieke elemente van jou boek, en les bes hulle bemarkingskragte. Oor die algemeen gesproke, die toepassing van beste praktyk – en hebbende gewerk by internasionale groepe én plaaslike uitgewers, kan ek getuig dat ons eie op hulle beste nie terugstaan vir die Penguins en die Macmillans en die Simon & Schusters van die wêreld nie. En ja, ek weet dit dien die middel meer as die eksentrieke briljantheid wat jy aan die some kry, maar selfgepubliseerde boeke sukkel partykeers om te ontsnap aan ’n smeerseltjie bedenklikheid. Jou selfseleksie kan daarvan verdink word dat dit nie aan dieselfde mate van kritiek onderwerp is nie (en vry dikwels is dit kennelik nie). Die taalversorging laat byna altyd te wense oor. Boeke is onoordeelkundig ontwerp of swak geset of wankelrig gebind.
But I digress. Een ding het gelei tot die ander, en die uiteinde is dat ons The Talking Table as druknaam gebruik en die redigering, produksie en verkope aanlyn behartig van Erika Murray-Theron se debuut-kinderboek op ouderdom 85. Ons toets ’n vennootskapsmodel met die skrywer. Douw, my vennoot in werk en lewe, is ’n baie goeie bemarker. Die leiding met manuskripontwikkeling en die redaksionele versorging deur die uwe was intensief. Ek het hoë standaarde vir die produksie gestel. Die eerste drukoplaag is pas afgelewer, en ek is nie skaam daarvoor nie. Heel groots daarop, trouens. En dit is vir my lekker om weer uitgewer te speel, al is dit op mikroskopiese skaal.
120 bladsye, R200 plus verpakking en versending. Douw Steyn ontvang bestellings by talkingtable.pub@gmail.com. Jy kan ook na hierdie adres skryf vir meer inligting oor die boek.

