Die ATKV-boeke-oase by Innibosfees 2024: ’n onderhoud met Sandra Jacobs en Annemarie van der Walt

  • 0

Bo: Leon van Nierop en Danie Marais; onder: Riaan Grobler en Coffee Snobs by vanjaar se ATKV-boeke-oase by Innibos, 2024.

Sandra Jacobs, op Innibos se bestuur en portefeulje: bemarking, en Annemarie van der Walt, een van Innibos se projekbestuurders, praat met Naomi Meyer oor Innibos se ATKV-boeke-oase by vanjaar se Innibosfees (27 tot 29 Junie 2024).

Sandra en Annemarie, dis die maand van Wêreldboekedag en dis goeie nuus dat Innibos ’n stewige boekeprogram aanbied. Waarom is juis boeke en die geskrewe woord vir julle belangrik op jul feesprogram? 

Die woord is die kern waaruit alles ontstaan: lirieke, dramas, komedie. In die geskrewe woord word kreatiewe denke vasgevang. Dit is vandag, meer as ooit tevore, belangrik om die geskrewe woord ’n prominente plek in die program te gee, want mense lees al minder en dit is die taak van feeste soos Innibos om boeke en skrywers hul plekkie in die kollig te gee. Dit is ’n belangrike bestanddeel in ons feesresep.

Die ATKV is ook weer betrokke by jul boeke-oase. Wat beteken hierdie sinergie vir julle – die samewerking met die ATKV? 

Ons is baie dankbaar vir die  ATKV, wat Innibos deur die jare  ondersteun het, selfs in moeilike tye. Hierdie ondersteuning maak dit vir ons moontlik om vir die feesgangers ’n interessante boekeprogram aan te bied. Die ATKV ondersteun ook die storie-uur wat elke dag van die fees by ons kindervenue, Spar Woelwaters, aangebied word, asook ons nisfees, die Innibos Boekenaweek, wat van 30 Augustus tot 2 September in Kaapsehoop plaasvind.

Boekebekendstellings en -gesprekke by vanjaar se Innibosfees: Droomjagter deur Leon van Nierop; ek en jy bestaan nie deur Danie Marais; en Geheime op Philadelphia deur Riaan Grobler.

 

Ek sien daar is uiteenlopende  skrywers en digters op die program vanjaar. Vertel asseblief vir ons lesers wie is daar? Wie is die ou bekendes, wie is nuut, wie se werke is nog in wording? 

Leon van Nierop se Droomjagter is in wording, en omdat hy ’n Laevelder is met noue bande met Innibos, is dit vir ons lekker om sy boek hier bekend te stel. Ons poog ook om die boekeaanbieding toeganglik vir feesgangers te maak. Danie du Toit van Spoegwolf gaan met Danie Marais oor sy nuwe digbundel, Ek en jy bestaan nie, gesels. Dit beloof om lekker nuut en vars te wees. Mathews Phosa is besig met sy derde digbundel in Afrikaans, en ons gaan ook met hom gesels oor hierdie werk en twee ander geskiedkundige boeke waarmee hy besig is.

Ons het oor die hele spektrum gekies: ’n lekkerleesroman soos Riaan Grobler se Geheime op Philadelphia, maar ook swaargewigte soos Etienne van Heerden is op die spyskaart. Dan het ons natuurlik ons gewilde ATKV-Boeke-crawl, waar daar rondom boeke en woorde gekuier gaan word, hetsy ’n greep uit ’n roman, ’n kortverhaal of ’n trefseker gedig.

Lees ook:

Persverklaring: Innibos bied ’n oase vir boeke en kuns

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top