
Voor: Jana Cilliers, Koos Kombuis, Etienne van Heerden. Agter: Dirkie van Staden, Refentse, Johny Klein, Wilken Calitz.
Die ATKV-Kuns-en-boeke-oase by Innibos is vanjaar opnuut die toevlugsoord vir lesers en liefhebbers van die skone kunste ná ’n afwesigheid verlede jaar. Eweneens word die ATKV-Boeke-crawl ook weer op Kaapsehoop gehou, en dit is sommer swaargewigte in die skrywers- en musiekwêreld wat daaraan deelneem.
Verskeie boekgesprekke word elke dag by die ATKV-Boeke-crawl by Laerskool Nelspruit se kultuursentrum gehou. Etienne van Heerden kom vertel onder meer van die magiese gegewens in sy boek Gebeente, Leon van Nierop gesels oor sy pennevrug Droomjagter, en Amoré Bekker verklap as samesteller meer oor Ek het ’n engel gesien, wat bestaan uit 72 stories oor Suid-Afrikaners se ervaringe met hierdie hemelse wesens.

Danie Marais stel sy nuwe digbundel, Ek en jy bestaan nie, vanjaar by Innibos bekend.
Danie Marais stel sy nuwe digbundel, Ek en jy bestaan nie, bekend, en Danie du Toit van Spoegwolf-faam gaan met hom gesels. Hierdie bundel handel oor die menslike middelklastoestand en die unbearable whiteness of being wat dit waag om eerlik te praat oor die dinge waaroor mense liefs stilbly. Die debuutboek van Riaan Grobler, Geheime op Philadelphia, word bekendgestel. Grobler is ook bekend as sanger en radiopersoonlikheid.
Die kersie op die koek is ’n boekgesprek met Mathews Phosa, waartydens hy meer sal vertel van sy derde Afrikaanse digbundel waarmee hy besig is, asook twee geskiedenisboeke in wording. Mathews is ʼn stigterslid van die Innibos Kunstefees en het ’n boeiende verbintenis met die Afrikaanse kultuurlandskap.
Buiten die boekgesprekke is die amptelike Innibos-kunsuitstalling, Son of a shopfitter deur Luan Nel, in die uitstalsaal te sien. Nel is vanjaar die feeskunstenaar.

Etienne van Heerden sal uit Gebeente in die kapel voorlees, met atmosfeerryke musiek deur ULTRACoustic Duo.
Boeke en kuns gaan hand aan hand met rustige musiek en ’n lekker glasie wyn. Kunstenaars soos Coffee Snobs, Christof Berg, Alouise en Stix gaan hier optree, en daar is ’n wynproetafel.
Die baie gewilde ATKV-Boeke-crawl vind op Donderdag 27 Junie om 15:00 en 17:00 plaas, en die Buscor-busse na Kaapsehoop vertrek van NG Kerk Westergloed se parkeerterrein. Crawl-haltes in Kaapsehoop is onderskeidelik Bohemian Groove Café, die klein kapel by Silvermist Gastehuis, en Nagkantoor Kuierkroeg. Ingesluit by die prys van R350 is ’n regmakertjie of drie, ligte eetgoed en meer as genoeg pitkos vir die siel in die program.
Refentse en Johny Klein skop die program af met woord en lied oor alles wat met die liefde te doen het. Daarna lees Etienne van Heerden voor uit sy boek Gebeente in die kapel, met atmosfeerryke musiek deur ULTRACoustic Duo bestaande uit die musikante Wilken Calitz en Dirkie van Staden. Koos Kombuis en Jana Cilliers sluit af met voorlesings uit Koos se geskrifte deur Jana. Koos sing vanselfsprekend ook.
Die volledige program en tye is by innibos.co.za. Kaartjies is te koop by TicketPro (ticketpros.co.za of volg die skakel op Innibos se webwerf).

