Lank lewe Crito!

  • 3

Die wêreld het warempel nog nooit so iets gesien nie.

'n Kleinserige LitNet-rubriek van Bettina Wyngaard, die moord-en-doodslag-skrywer en prokureur, het sowaar – só het dit vir etlike dae geblyk – die gender-niebinêre kritikus van kritikusse, Crito die Groot Sluiper, die finale, nekknakkende gatslag toegedien.

'n Dag of wat ná Wyngaard se nogal dun stuk “Oor kritiek” die eerste glimmering van die internet gesien het, lei Crito se berugte rooi reghoekskakel (waarin ‘n swaard na regs punt) na ‘n wit blad in die niet waarop dié woorde dobber:

“This page isn’t working
blogs.litnet.co.za is currently unable to handle this request.
HTTP ERROR 500 …”

Nee, nie reeds die ewige vergetelheid nie! Nee. Waar, galbrakende Gehasi, is jy heen?

Deurgaans had ek egter moeite om Crito se saligerwees te glo. Die rubriekmatige moordwapen was darem maar net te stomp om werklik bloed te kon getrek het.

En, sowaar as wrintie, 'n dag of wat later herrys Crito soos 'n hedendaagse Lasarus uit die hiernamaals.

Waarom sê ek “stomp”?

Laat ek by die begin begin.

Wyngaard se betoog loop soos volg van stapel: “Dit beteken nie alle resensies moet positief wees nie. Reg benader kan selfs ʼn negatiewe resensie ʼn leerproses vir skrywer en leser wees. Maar soms vergeet ons wat die doel van ʼn resensie is. Dis nie om te wys hoe slim die resensent is nie. Dis nie om die skrywer op sy/haar plek te sit nie. Dis nie om deel van ʼn akademiese gesprek te wees nie. Dit gaan nie om ’n magstryd tussen skrywer en resensent, of tussen uitgewerye of verskillende publikasies nie. Of al meer, om ʼn magstryd tussen resensente nie.

“Die doel van ʼn resensie is om voornemende lesers in te lig oor ʼn boek. Wat is die tema? In watter genre val die teks? Watter lesers sal geïnteresseerd wees in die teks? Hoekom sal dit die leser prikkel? Is dit die moeite werd om die boek aan te skaf?” 

Met die eerste paragraaf se stellings gaan ek grootliks akkoord. Tog is dit darem seker voor die hand liggend dat nie alle resensies positief hoef te wees nie. Eweneens dat negatiewe resensies, reg benader, dikwels deugdelike dinge is. Ook is 'n resensie tog áltyd deel van 'n groter gesprek. Soms, in die loop van daardie gesprek, sal 'n resensie in 'n koerant tog 'n bewustheid van 'n naasliggende akademiese gesprek (moet) toon en in 'n sin deel daarvan word. As Wyngaard egter met haar stelling oor “’n akademiese gesprek” bedoel dat – sover dit aanslag, benadering en toon aangaan – 'n koerantresensent nie 'n akademiese resensent moet probeer wees of nadoen nie, het sy wel gelyk.

Wyngaard se tweede paragraaf bevat egter 'n aantal vals note. Natuurlik moet 'n resensent vinnig en beknop – of beter nog: by noodwendige implikasie – inligting weergee oor tema en genre.

Oor die kwessie van watter lesers 'n bepaalde boek sal interesseer, weet ek egter nie so mooi nie. Ek is maar skrikkerig vir die gedagte dat 'n resensent god moet speel en besluit watter “tipe” of “kategorie” leser van 'n boek sal hou. Bestaan sodanige tipes of kategorieë in die eerste plek?

Ook is dit moeilik om te sê waarom 'n boek iemand anders sal prikkel. Die resensent kan wel redes gee waarom die boek hom of haar – met eie eksentrieke leesgewoontes en -behoeftes – geprikkel het. Dááruit kan die leser dan self besluit of die boek hom of haar sal boei, inkatrol, slapelose nagte sal gee …

Is dit die moeite werd om 'n boek aan te skaf? Ook dít is nie iets waaroor die resensent 'n direkte uitspraak behoort te maak nie. Deur 'n stip persoonlike reaksie op 'n boek te formuleer behoort die resensent dit aan die potensiële leser self oor te laat om te besluit of die boek aangeskaf behoort te word of nie.

Wyngaard gaan voort: “Die fokus van die resensie behoort te alle tye die teks wees. Beslis behoort die resensie nie oor die resensent te gaan nie. Juis daarom vind ek die tendens die afgelope ruk, om resensente aan te val oor hul resensies, onrusbarend. Natuurlik sal mense verskil oor die gevolgtrekkings waartoe ʼn resensent kom. Resensies, vir soveel as wat dit veronderstel is om objektief te wees, is dit nie. Die resensent se subjektiewe mening gaan iewers deurskemer. Dis daarom dat een resensent ʼn teks sal ophemel, terwyl ʼn ander resensent dink dis swak geskryf. Mense verskil. Resensente verskil. In ʼn ideale wêreld sal elke teks minstens drie of vier resensies ontvang. Dan kan daar met redelike ewewigtigheid besin word oor die waarde van die teks.”

Soos ek hier bo sê, behoort 'n resensie altyd die resensent se persoonlike reaksie te wees (derhalwe is dit onvermydelik subjektief), maar in die uitbou van daardie persoonlike reaksie sal daar natuurlik op die teks en bewysmateriaal uit die teks gesteun word (derhalwe 'n objektiewe onderbou).

Waarom die feit dat 'n resensie op die teks fokus, 'n resensent teen kritiek sou beskerm, verstaan ek nie. Presies watter aanvalle op resensente Wyngaard in gedagte het, weet ek ook nie. Maar, as 'n resensent wat self al hier en daar, op hoofweë en op agterpaadjies, kritiekvolle reaksies op my resensies moes trotseer, sê ek: As 'n resensie 'n wyer gesprek oopknoop, is dit 'n goeie ding. As die resensent se argument en slotsom in die proses sinvol onder skoot kom (aangeval word?), is dit goed en 'n te verwagte onderdeel van dié proses. Dis juis so in 'n verskraalde wêreld waar bitter min resensies van elke nuwe Afrikaanse boek verskyn.

Dit behoef egter geen betoog nie dat 'n suiwer ad hominem-aanval (op die resensent se persoonlike eienskappe of persoonlikheid) irrasioneel en verwerplik is.

Die argument in “Oor kritiek” bevat dan hierdie bousteen: “Dis ʼn ongeskrewe reël dat ʼn skrywer nie ʼn resensent aanvat oor ʼn resensie nie. Natuurlik gebeur dit soms dat die resensent duidelik nie ʼn teks gelees het nie, en dan is dit nodig dat regstellings gemaak word.”

Ja, hierdie “ongeskrewe reël” is goed en stigtend. Die teendeel sou wees soos om 'n man oor sy onderbroek aan te spreek.

Maar dat dit “natuurlik” soms gebeur dat “die resensent duidelik nie 'n teks gelees het nie”, is vir my groot nuus. Regtig? Dat die resensent die boek wat onder die loep is, nie lees nie? En dat al wat dán nodig is, is “dat regstellings gemaak word”? Watwo. Die literêre ekwivalent van die outydse skavot is sekerlik meer geskik.

En dan skuif Wyngaard se visier na die werklike angel onder die buiteblare van haar rubriek: “Wat egter deesdae gebeur, is dat een resensent ʼn ander resensent aanval oor ʼn resensie.

“Dis ongesond. Dis onprofessioneel. Wanneer dit oor die kultus van die resensent se persoonlikheid gaan en nie meer oor die teks nie, is dit altyd die boek wat daaronder ly. Indien ʼn resensent verskil met die gevolgtrekking waartoe ʼn ander resensent kom, dan is dit tog sekerlik sy/haar reg om ʼn resensie uit te bring wat tot ʼn ander gevolgtrekking kom.”

Ook ek was al in die posisie waar 'n ander resensent, wat vroeër reeds dieselfde boek onder die resensievergrootglas gehad het, my voor stok kry.

Daar is natuurlik diegene wat voorstanders van 'n diepgesetelde ingetoënheid is: “Sannie, jy’t reeds 'n stewige wiggie tert in; gee die vriendelike seuntjie nou ook 'n ou snytjie …” Andersyds is daar diegene wat juis weens die faktore wat Wyngaard uitwys – vernaam die krimpende papierspasie wat aan boekresensies gewy word – as premisse sal gebruik vir die slotsom dat sulke wederwoorde juis geskik en heilsaam is.

'n Ander faktor wat Wyngaard nie noem nie, maar wat in dieselfde rigting dui, is die oper wordende gespreksruimte wat die internet bied. In die ou dae was 'n wederwoord dalk minder aanneemlik, maar as president Trump teen ontbyt al oor Twitter hoeveel lande met oorlog gedreig het, moet die Afrikaanse resensiewêreld nie ook maar 'n bietjie meer – ahem – heftigheid toelaat nie?

Solank, sal ek akkoord gaan, die Trumpiaanse swak vir persoonsaanvalle steeds vermy word.

En dan swaai Wyngaard haar swaard: “Die persoon wat onder die skuilnaam Crito skryf, het die kuns van venynige, bitsige sluipaanvalle op resensente, verskuil agter ʼn dun lagie intellektuele glans, skynbaar tot roeping verhef. Bitter min mense weet wie Crito is, en selfs of dit ʼn enkeling of groep persone is. Die literêre gemeenskap (en ek gebruik die term in die breedste moontlike sin) is só klein dat dit onmoontlik is dat Crito nie sommige van die mense wat hy/sy afkraak en verneder, persoonlik ken nie. Dis natuurlik die gerief van ʼn skuilnaam – jy hoef nie verantwoordelikheid te aanvaar vir die venyn wat jy versprei nie. Jy kan in die openbaar vriendelik wees en in die privaatheid en donkerte van jou rekenaarskerm jou gif versprei.”

Dis hiér waar Wyngaard en my paaie stomphoekig skei.

Laat ek eers my belange verklaar. Crito het my al heuning om die mond gekwas. Eweneens het Crito sekere van my resensies skerp gekritiseer. Soms het Crito se kritiek die pot misgesit. In so 'n mate dat ek vroeër vanjaar 'n repliek op Crito se kritiek op 'n klein puntjie in my resensie van Jaco Wolmarans se riller Bos die lig laat sien het.

Maar oor die afgelope langer as 'n dekade waarin Crito bedrywig is, het ek heel dikwels baie uit Crito se kommentaar geleer –uit die repliek op beide my én ander se resensies.

Die gebruik om kritiek onder 'n skuilnaam te lewer is natuurlik so oud soos die berge. Dis steeds 'n geykte gebruik op onder meer Fleetstraat, waar koerante en tydskrifte dikwels aan iemand (of 'n groepie iemande) tegelyk 'n masker en 'n gifpen gee. Hier te lande is die Mail & Guardian se Sergeant at the Bar, wat oor regsake skrywe, 'n goeie voorbeeld.

Sulke geheimhouding is sekerlik des te meer nodig in 'n literêre gemeenskap soos die Afrikaanse waar almal vir almal ken en al om die ander aand met mekaar skemerkelk.

Kyk byvoorbeeld na Naomi Meyer se onderhoud hier op LitNet met Erns Grundling, wat op 9 Oktober 2019 verskyn het – ná Marian van Wyk se skerp afwysende resensie van Grundling se boek in Rapport op 22 September 2019, en ná Crito se vingerraps van Marian op 23 September 2019. Grundling is sekerlik man genoeg om gevra te word wat hy van Van Wyk se argumente dink. Ingeligte lesers brand om te weet. Maar ons beleefdheidskultuur, waarvan die druk ek alte vertroud mee is, dwing Meyer se visier in 'n ander rigting.  

Natúúrlik behoort Crito sku te wees om resensente persoonlik aan te val, maar resensente wat van uitdeel weet, moet darem ook die houe kan vat. Neem eerder nie dié baantjie op as jy nie die heen-en-weerdery van openbare appels kan deurstaan nie. Skaf maar ook 'n volstruisvel aan.

Alle resensente is boonop ook nie aldag ewe op peil nie. 'n Berisping is soms broodnodig.

En die leespubliek vra, soos die Romeine van ouds, in al luider stemme: Wie hou andersins oor die sleutelswaaiers, oor die hekwagters en oor die Levietevoorlesers 'n wakende ogie?

Crito, die mens, die komitee, is nie heeldag, aldag 'n genie nie. Maar, gedorie, sonder Crito se flitsende tong is ons “dis lekker om jou weer te sien”- literêre wêreld nóg saaier.

Die koning van Katoren is nog in lewe. Lank lewe koning(in) Crito.

  • Weens 'n tegniese fout het LitNet se blogs kortstondig en vir 'n paar uur lank van die lug af verdwyn. Die saak is nou opgelos en alle blogs is weer beskikbaar om te lees. LitNet-redaksie

Lees Bettina Wyngaard se rubriek en Crito se reaksie daarop hier:

Oor kritiek

Crito reageer op Bettina Wyngaard

En lees ook Crito se blog hier:

http://blogs.litnet.co.za/crito/

  • 3

Kommentaar

  • Weens 'n tegniese fout het LitNet se blogs kortstondig en vir 'n paar uur lank van die lug af verdwyn. Die saak is nou opgelos en alle blogs is weer beskikbaar om te lees. LitNet-redaksie

  • Avatar
    Sandra Pretorius

    Bla-bla-bla. Much ado about nothing. Dit verstom my dat intellektuele en akademici so kan aangaan en aangaan en aangaan oor 'n ding wat eintlik nie eintlik eens van enige belang vir die mensdom is nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top