Commendatio: Jan Rabie-Rapportprys vir debuut en tweede prosawerke 2025

  • 0

Jan Rabie-Rapportprys vir debuut en tweede prosawerke 2025
Wenner: Nathan Trantraal vir Die man wattie kinnes vang (Kwela)
Commendatio: Jolyn Phillips en Bibi Slippers 

Nathan Trantraal is ’n skrywer wat homself oor ’n groot verskeidenheid genres en dissiplines laat geld: poësie, niefiksie, vertaling, meningstukke en strokiesprente. In die grafiese roman Die man wattie kinnes vang word die omvang en kwaliteit van sy kunstenaarskap opnuut bewys, en tot nuwe hoogtes gedryf.

Dit is ’n werk wat getuig van narratiewe kompleksiteit, meesterskap van visuele én literêre verteltegnieke, en besondere toewyding. Enige iemand met kennis van die skeppingsproses van grafiese romans sou dink dat dit ’n hele span geverg het om die boek te maak, maar Die man wattie kinnes vang is ’n titaniese poging deur één man, wat self die tekeninge, inkwerk, kleurwerk en uitleg gedoen het, en die storie geskryf het. En wat ’n storie is dit nie, een waarin literêre tegnieke versterk word deur visuele elemente, om ’n werk van intense diepte voort te bring.

Trantraal werk met die basiese bestanddele vir ’n speurverhaal, maar Die man wattie kinnes vang word as geheel veel méér as daardie basiese bestanddele. Dis ’n gelaagde meta-narratief wat ’n stuk geskiedenis fiksionaliseer terwyl dit indringende vrae vra oor skrywerskap, persoonlike en kollektiewe trauma en gemeenskap. Trantraal vermy die gesensasionaliseerde reeksmoordenaarverhaal: sy werklike fokus is die massiewe hoeveelheid alledaagse geweld wat kinders omring, en wat dit aan ’n mens doen.

Die sosio-politieke kommentaar is skreiend, en word oorgedra in die uitbeelding van karakters wat ’n mens onkant vang met hulle kompleksiteit, gegewe die relatief kort bestek waarbinne ons hulle leer ken. Die karaktertekening, in woord en beeld, is ’n prestasie, en Trantraal bewerkstellig dit deur byna filmies te werk te gaan, deur tonele te kies wat die essensie van karakters blootlê, en dit met sensitiwiteit en in fyn besonderhede vas te vang. 

Die grafiese roman is letterkunde wat ’n addisionele medium van uitdrukking aanwend, en die potensiaal om die visuele elemente te gebruik vir verdieping en om addisionele lae betekenis te skep, word ten volle deur Trantraal ontgin. Die manier waarop visuele metafore aangewend word om temas uit te brei en te versterk, waarop hy bladuitleg gebruik om die ritme van die storie te beheer, en die manier waarop ruimte simbolies gebruik word, dra alles by tot ’n ryk leeservaring.

Trantraal se uitvoering ontbloot die verrottende onderbuik van die Kaapse Vlakte, gemeenskappe wat geïgnoreer en onsigbaar gemaak word, selfs terwyl misdade openlik plaasvind, sonder enige besorgdheid oor die slagoffers. Dit is ’n letterlike sigbaarmaking, die leser word dinge gewys, en die sorg waarmee daar omgegaan word om ’n realiteit bloot te lê lei daartoe dat die leser nie onaangeraak kan bly nie.  Dit is ’n werk wat ondraaglike temas ondersoek en in die proses ook die toestand van ’n demokratiese land wat teen homself oorlog voer vasvang. 

Die grafiese roman is vir lesers ’n toeganklike kunsvorm, maar dit moet nie om daardie rede geringgeskat word nie. Die literêre meriete daarvan word op grond van ’n addisionele stel kriteria bepaal, terwyl dit steeds aan die eise moet voldoen wat deur ’n roman gestel word: kunstenaarskap, diepte en die kapasiteit om lesers aan te raak, uit te daag en te transformeer. Die man wattie kinnes vang doen al hierdie werk en meer. Dit is ’n uitsonderlike boek: verpletterend én lieflik, vol harde werklikheid én hart.

Lees ook:

Persverklaring: Netwerk24 kykNET Rapport-pryse 2025

Die man wattie kinnes vang: ’n onderhoud met Nathan Trantraal

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top