
Boekomslag: LAPA Penguin Random House South Africa
- Cliffordene Norton skryf gereelde jeugboekrubrieke vir LitNet.
.........
Durf die storm aan of wag vir redding?
.........
Net na die storm, An-Mari do Carmo se derde boek, laat jou met aandag na die blou lug kyk.
Net na die storm vertel die storie van drie tieners – die hoofkarakter Chloe, wat mal is oor lees en snoesige videospeletjies speel; Mbali, wat glo in gesonde kos en oudste dogter-energie het; en Danté, wat obsessief is oor klimaatsverandering en glo ons gaan almal sterf – wat saam met hul twee onderwysers ’n wetenskap-ekspo in KwaZulu-Natal bywoon. Op pad daarheen begin dit reën, maar hulle arriveer veilig by die gastehuis.
Die volgende dag neem hulle deel aan die wetenskap-ekspo. Terwyl Chloe wag om haar eksperiment aan te bied, begin dit harder reën. Terwyl haar tegnologiese eksperiment beoordeel word, begin water op haar drup en die reën verander in ’n storm. Die ekspo word uitgestel en hulle kry ’n waarskuwing om die area te ontruim weens dreigende vloede en oorstromings.
Die drie leerlinge en hul onderwysers – meneer Theron en juffrou Siboto – probeer veilig by die huis kom. ’n Rit huis toe verander in ’n veg om oorlewing.
’n Drieluik
Hul rit huis toe vanaf die wetenskap-ekspo word bemoeilik, want almal vlug, oorstromings maak paaie moeilik en hulle neem die een pad wat nie gesluit word nie. Dan word hulle van ’n brug verspoel.
Hul jong onderwyser juffrou Siboto word ernstig beseer en hulle mini-bus word in die vloed na die rivier en waterval gesleep.
Chloe, Mbali en Danté het sterk punte wat by mekaar aansluit en hulle benut dit om planne te beraam om te oorleef. Die storie is ’n lekkerleesboek wat nooit voel asof dit onrealisties is nie. Die spanning werk juis, omdat elke gebeurtenis, elke slaggat wat hulle tref, moontlik voel.
Die jongste kind
Daar is baie stereotipes oor die jongste kind in die gesin: die prins/es, die wilde een, die een wat nie onafhanklik hoef te wees nie. Dis nie Chloe nie.
Chloe is die laatlamdogter wat grootgeword het met ouer broers wat in alles oortref en dus is sy vergete in hul skadu. Vir haar het haar ouers al hul ouerlike briljantheid op haar broers uitgestort en daar het baie min vir haar oorgebly.
Dit het gemaak dat sy op haarself staat maak – ’n eienskap wat haar handig te pas kom in hierdie krisis. Hoewel sy die jongste tussen haarself, Mbali en Danté is, is sy op gelyke voet met hulle.
Danté sorg vir komiese verligting, maar hy is nie ’n stereotipe nie. Sy passie vir en wrewel teen klimaatsverandering is gebaseer op ’n persoonlike en hartseer geskiedenis. Sy liefde vir eet – ’n twispunt met Mbali – het my bekommerd gehad vir hul inkopiesbegroting.
Die gesondheidsbewuste Mbali is ’n tipiese ouer suster in die boek. Sy is die een wat uit die mini-bus klim, en as die dogter van twee dokters, het sy die meeste mediese kennis.
Tegnologie – vriend en vyand
Een van die sleuteltemas wat vir my in hierdie storie na vore gekom het, is hoe afhanklik ons van tegnologie geword het. In krisistye – veral wanneer die krisis ’n storm is – kan tegnologie ons maklik faal.
Chloe, Mbali en Danté gebruik hul selfone om deur sosiale media op hoogte te bly oor die storm, om alternatiewe roetes te vind, maar water beskadig hul selfone, hulle verloor sein soos wat die storm woed en selfs wanneer daar ’n werkende selfoon oorbly, verloor dit batterykrag. Hulle word afgesny van die buitewêreld.
En tog maak die tegnologie ’n groot verskil.
Wanneer is dit tyd om te gaan?
Wanneer hulle uit die mini-bus ontsnap, kry hulle skuiling in ’n stappershuisie en dink hulle sal slegs vir die aand daar wees. Die volgende oggend besef hulle, hulle is deur die water vasgekeer. Met net ’n paar blikkies kos (Mbali se wetenskaptaak), ’n gelukskoot met ’n donkie en geen werkende selfone nie.
“Daar sal ’n tyd kom wanneer dit gevaarliker is om te bly, as om te gaan,” meen Chloe. Soos dinge erger en erger word, moet hulle die besluit maak: Durf die storm aan of wag vir redding?
Wanneer hulle die besluit neem, byt jy jou naels dalk deur, terwyl jy saam met hulle stap en moet uitvind wat gebeur. Net na die storm is ’n lekkerleesstorie wat jy en jou kind in een sitting kan lees.
Lees ook:

