Cliff-hanger: Déjà vu deur Chanette Paul

  • 0

Grafiese elemente geskep onder Canva se gratis lisensievoorwaardes: https://www.canva.com/policies/content-license-agreement/; boeksomslag: Penguin Random House/LAPA

  • Cliffordene Norton skryf gereelde boekrubrieke vir LitNet.

Déjà vu
Chanette Paul
LAPA
ISBN: 9781779860248

Sommige families erf grond. Ander erf geld. Die Sheldons erf iets moeiliker: die gevolge van hul pa’s se besluite.

Dit was my eerste gedagte toe ek Déjà vu klaar gelees het.

Zabeth Meyer is ’n navorser vir die bekende krimiskrywer Wilbur Sheldon en reis na Kronkelrivier om navorsing te doen vir sy volgende roman. Wilbur wil ’n boek skryf wat op sy eie familie gegrond is.

Sy opdrag plaas Zabeth egter in ’n ongemaklike posisie. Die Meyers – vrot én vroom – en die Sheldons is al dekades lank in ’n familievete gewikkel. Dit is ’n geskiedenis waarvan Zabeth weinig weet, omdat sy self nooit werklik haar ma se familie geken het nie.

Die aand toe sy op Kronkelrivier aankom, besluit die Stormkaap om weer sy naam gestand te doen. Haar aankoms verloop allesbehalwe glad, en toe haar bespreekte kamer reeds aan ’n ander gesin toegewys is, moet sy onverwags die boothuis met Liam Sheldon deel.

Op die tweede aand sterf die erfgenaam van die Sheldon-familie in ’n ongeluk. Met een dood word jare se geheime, skuld en ou wonde oopgekrap.

Wanneer die newekarakter die roman steel

Ek was ’n eerstejaarstudent in skryfkuns toe ’n dosent vertel dat Chanette Paul eens tydens ’n onderhoud gesê het dat haar newekarakters soms die storie probeer oorneem. In Déjà vu gebeur presies dit.

Ek het hierdie roman van 483 bladsye in drie dae gelees – en lesers doen dit gewoonlik net wanneer hulle eenvoudig nog nie gereed is om van die karakters afskeid te neem nie.

Daar is verskeie sterk karakters in die verhaal, maar vir my is dit die familiematriarg, Ethel Sheldon, wat almal oortref – selfs vir Zabeth.

Ethel voel eg Suid-Afrikaans, al dra sy haar Britse afkoms met trots. Sy is die spil waarom die familie draai: die een wat planne beraam, opofferings maak en dikwels meer van haarself gee as wat sy behoort te doen. Sy is nie foutloos nie, en juis daarom is sy so onvergeetlik.

Nadat ek die boek toegemaak het, was dit nie Zabeth of Liam wat nog by my gespook het nie, maar Ethel. Ek kon haar byna sien waar sy saam met Wilbur in die tuin sit en uiteindelik háár weergawe van die familiegeskiedenis vertel. Min skrywers slaag daarin om ’n newekarakter só volledig te laat leef.

Waarom ek die boek nie kon neersit nie

Die kort antwoord is eenvoudig: Chanette Paul se skryfstyl bly verslawend.

Die langer antwoord lê egter in haar vermoë om karakters se lewens só nou met mekaar te verweef dat elke antwoord bloot ’n nuwe vraag laat ontstaan. Elke onthulling maak die familie se geskiedenis meer ingewikkeld, eerder as eenvoudiger.

Wanneer Zabeth ontdek dat haar oorlede ma haar eintlik doelbewus na Kronkelrivier gestuur het om haar familiegeskiedenis te ontrafel, verander die roman subtiel van ’n spanningsverhaal na iets meer.

........
Wat ek besonder waardeer het, is dat die konflik nie met maklike gesprekke opgelos word nie. Elke nuwe waarheid bring nuwe ongemak. Familiegeheime verdwyn nie bloot omdat hulle uiteindelik uitgespreek word nie; hulle laat steeds letsels. Dit is ook waar die roman se grootste krag lê.
........

Wat ek besonder waardeer het, is dat die konflik nie met maklike gesprekke opgelos word nie. Elke nuwe waarheid bring nuwe ongemak. Familiegeheime verdwyn nie bloot omdat hulle uiteindelik uitgespreek word nie; hulle laat steeds letsels. Dit is ook waar die roman se grootste krag lê.

Die erfenis van oop gulpe

’n Deurlopende tema in die Sheldon-familie se geskiedenis is mans wat hulself aan kortstondige begeertes oorgee en vroue en kinders met die gevolge laat.

Veral Liam spreek hom sterk hierteen uit. Hy verwerp die patroon wat al geslagte lank in sy familie herhaal word en probeer doelbewus anders leef. Dit gee sy karakter ’n interessante spanning: Hy dra die Sheldon-naam, maar hy wil nie die Sheldon-erfenis herhaal nie.

Roer asseblief nog romanse in

Die enigste aspek van Déjà vu wat vir my effens kort skiet, is die liefdesverhaal.

Van die eerste ontmoeting af is daar geloofwaardige aantrekkingskrag tussen Zabeth en Liam. Vir ’n groot deel van die roman is daar ook goeie redes waarom hulle nie aan ’n verhouding kan bou nie. Juis daarom het ek uitgesien na die oomblik wanneer daardie hindernisse verdwyn.

Daardie emosionele beloning kom egter nooit heeltemal nie.

Wanneer die praktiese struikelblokke uit die weg geruim word, ontstaan daar nuwe redes waarom hulle nie saam kan wees nie, maar hierdie redes voel vaag en minder oortuigend as die vorige konflik. Ek sou graag nog ’n paar hoofstukke saam met hulle wou deurgebring het waarin die verhouding natuurlik kon ontwikkel.

’n Spanningsroman met ’n menslike hart

Déjà vu is ‘n sterk spanningsverhaal – die uitkomste van die moorde is so “unhinged” en lekker. Hierdie boek is ’n verhaal oor families; oor wat kinders by hul ouers erf; oor die patrone wat oor geslagte heen herhaal word; en oor die moed wat dit verg om uiteindelik te besluit die verhaal moet hier eindig.

Lees ook:

Cliff-hanger: Die fluisteraar deur Jacolet van den Berg – ’n skrywersonderhoud

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top