Cliff-hanger: Die fluisteraar deur Jacolet van den Berg – ’n skrywersonderhoud

  • 0

Die grafika van hierdie prent is afkomstig van Canva en is onder gratis lisensievoorwaardes beskikbaar: https://www.canva.com/; die boekomslag is afkomstig van LAPA se webwerf.

Jacolet van den Berg se Die fluisteraar was ’n naaswenner vir  die 2025 LAPA Uitgewers Jeugromankompetisie.

Cliffordene Norton het die manuskrip gelees en gesels met Jacolet oor navorsingsgewoontes, karakters, en haar skryfproses.

Cliffordene: Die fluisteraar was die naaswenner in die 2025 LAPA Uitgewers Jeugromankompetisie. Baie geluk! Wat ’n ongelooflike verhaal! Wat het jou gemotiveer om in te skryf?

Daar was meer as een rede. Ek was een lentedag in die tuin en ’n skoenlapper het so om my gefladder, ek kry toe ’n gedagte aan iemand met ’n noue konneksie met die natuur om wie die skoenlappers so draai. Amper soos ’n perde- of dierefluisteraar. Dit was die eerste vonk vir die storie.

Ek is baie bewus van die belangrikheid van bewaring en is ’n aanhanger van David Attenborough se lewenswerk oor die planeet en hoe kritiek dit is om die wildernisse te bewaar, daarom het dit so natuurlik deel van die storie geword.

’n Ware storie wat ek raakgelees het oor ’n orka wat nie haar dooie baba wou laat gaan nie, het die walvisnavorsingsentrum deel van hierdie storie laat word.

Wat was die eerste toneel wat jy vir Die Fluisteraar geskryf het en is dit in die gepubliseerde boek ingesluit?

Ja, dis ingesluit! Dis die eerste toneel in die eerste hoofstuk waar Kato aan die dor, gebarste grond raak.

Ek is mal oor jou karakters. Twee karakters wat my beïndruk het, is die hoofkarakter, Kato, en Mir. Wie en wat is die inspirasie vir hierdie karakters?

Dit was meer ’n gedagte aan hoe die karakter moet wees wat my inspireer het. ’n Seunshoofkarakter het natuurlik gevoel vir die storie. Daarom het ek Kato gekies. Dit moes iemand sterk wees wat lief vir die buitelewe is, al was die omstandighede daarvoor moeilik, maar ook hardkoppig en nie lus vir “side shows” soos my tieners sal sê nie. 

Mir se karakter het saam met die storie gegroei. Daar is nog baie in hom wat ek nie wil verklap nie, maar al kom hy uit ’n donker verlede, het ek van die begin af geweet daar moet iets goed in hom wees. Kato is tipies tiener en het iemand met “bietjie versteekte” empatie nodig gehad. 

Watter karakter was die lekkerste en uitdagendste om te skep? Watter karakter het jou die meeste verras deur iets te doen wat jy nie oorspronklik beplan het nie?

Al die karakters het goed gedoen wat ek nie beplan het nie. Dis maar hoe ek skryf, maar Mir het taamlik ontvou in iets anders as wat ek beplan het. Eso het ook impulsief opgetree toe sy Kato vergesel het. Dit het sommer net gebeur omdat Kato hulp nodig gehad het en Eso toe beskikbaar was. Winter het ook in ’n onbeplande lewenslyn ontaard.

As jy ’n opvolgboek vanuit die perspektief van ’n sekondêre karakter moes skryf, wie sou dit wees?

Ek is mal oor Mir se storie.

Indien jy eendag as ’n fluisteraar wakker sou word, watter magiese krag sou jy wou hê?

Ek hou van herstel – ek sou Kato se krag wou hê.

Met watter karakter / aspek van jou boek identifiseer jy en hoekom?

Dalk ’n klein ietsie by almal. Winter se nuuskierigheid. Eso se verwondering oor die natuur. Amon se pligsbesef. Kato se liefde vir sy gesin en huis. Kato se ma se huis vol plante. Ek sou nogal Winter se ma se werk by die walvisnavorsing sentrum geniet het.

Jy woon op ’n pragtige plaas in die Paarl. Vind jy dat jou skryfomgewing die boek beïnvloed het?

Ek is ’n buitemens. Dis dalk hoekom ’n groot deel van my stories altyd in die natuur afspeel. Ek het ’n paar keer in die berg gaan kyk, luister en voel hoe dit is om in ’n woud of bos te wees. Dit het gehelp om die gevoel van die blaredak, die grond, die slote en stroompies te gaan kry.

Wat het jou die meeste oor die skryfproses verras?

Ek is maar altyd verras hoe die storie uiteindelik ontwikkel en uitwerk. Dis selde hoe ek aan die begin dink dit gaan wees.

Wat is die beste tyd van die dag vir jou om te skryf?

Soggens. Net omdat ek ’n besige huis het. Rustigheid is goed vir my gedagtes.

Wat is die vreemdste ding wat jy moes google of navors om die besonderhede reg te kry vir Die fluisteraar?

Ek het so baie goed gegoogle, van die spoed van vuur en wind tot gorillas en dierelewe in Uganda, orkas se gewoontes en hoe 2075 kan lyk. Egiptiese en Ugandese name en woorde. Uganda se hoofstad, Kampala, die woude daar, ens.

Ek het baie boeke en tydskrifte ook hiervoor gebruik. Google en die tydskrifte was permanent oop langs my! Ek het 2075 spesifiek gekies omdat dit min of meer die voorspelde tydperk is wat die planeet baie geaffekteer gaan wees as daar geen omkeer in menslike verbruik is nie.

Watter toneel, karakter of subplot moes jy uitredigeer waaroor jy steeds hartseer is?

Dit kan ek nie spesifiek onthou nie. Ek moes 5 000 woorde sny, wat nogal moeilik was vir my, want ek het heelwat uitgehaal wat ek graag sou wou gelos het. Die proloog het in die proses baie verkort, maar nou is ek baie bly daaroor. Dit werk beter so.

Wat het jou, as ’n ervare skrywer, geïnspireer om aan hierdie kompetisie deel te neem?

Dis altyd lekker om die terugvoer van so ’n kompetisie te kry, en natuurlik is dit ’n eer om ’n LAPA-kompetisie-stempel op jou voorblad te kan hê. Dit motiveer my altyd om die volgende storie aan te pak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top