
- Titel: Die dogters van Casalina
- Skrywer: Rina Cilliers
- Uitgewer: Luca
- ISBN 9781779880963
Die dogters van Casalina is ’n stunning verhaal oor die mag van familie. Dit word vertel van Ciska Luckhoff se perspektief.
Wanneer die leser vir Ciska ontmoet, het sy drie groot verliese agter haar blad: Sy het haar pa, haar man en haar ma kort na mekaar verloor. Gedurende haar man se siekte het sy onbetaalde verlof geneem om hom te versorg en het as manuskripontleder en skrywer gewerk om kos op die tafel te plaas.
Dit was die tweede ding van hierdie boek wat my getref het: Die werklikheid word eerlik weergegee.
Op bladsy 10 word Ciska se daaglikse verantwoordelikheid beskryf:
In dieselfde kamer waar Liam gesukkel het om asem te kry, kon sy op ander maniere probeer geld verdien en terselfdertyd toesien dat sy suurstofsilinder beheer word.
Die werksaanbod wat alles begin
Op aanbeveling van haar ma se sielkundige en haar vriendin, Isobelle Verwey, aanvaar Ciska ’n pos as memoiresskrywer vir die bejaarde kunstenaar, Francina Bernardi. Ek was mal oor die grappe wat Ciska maak oor mense wat hul memoires geskryf wil hê. Elke skrywer het al die aanbod gekry om iemand se lewensverhaal te skryf.
Sy vertrek na Casalina en gebruik haar reis na die drietoringhuis naby Knysna om haar verlies vol in die gesig te staar. Op Hermanus strooi sy Liam se as uit en huil haar rou traan vir traan uit. Die ontwikkeling van die dorp tref haar ook tussen die oë en dit voel asof die lewe tydens haar geliefde se siekte aangegaan het.
Die stories teen die mure
In die ronding van die groot portaal waar sy voor hulle instap, vergeet sy van haar nonchalante houding. Sy is so oorweldig dat sy impulsief haar hart vasgryp. “Dis asof die mure stories vertel!” (53)
In die voorportaal van Casalina maak sy kennis met Daniel, die butler, en die Bernardi-verhaal wat teen die mure van die voorportaal deur Francina geskets is. Die sketse is wonderlik vir haar, maar Francina wil nie hê sy moet die sketse bestudeer nie. Sy wil nie hê Ciska moet iets in die sketse sien en die storie vooruit loop nie, maar eerder ervaar soos wat Francina dit vertel.
’n Tweede kans op familie
Na Daniel is Mateo, Francina se kleinseun, die tweede persoon wat Ciska ontmoet. Sy het met hom reëlings op die telefoon getref en hulle het op die verkeerde voet afgeskop. Met hul eerste ontmoeting is hulle ’n verrassing vir mekaar.
Ciska ontmoet ook vir Francina; haar man, Nardus, een van my gunstelingkarakters; en Vera, Francina se versorger. Francina is ’n interessante karakter – vol humor, erns en hartseer. Sy is nie heilig en sonder foute soos wat matriarge gewoonlik uitgebeeld word nie.
Tydens die vertel van die Bernardi-verhaal ontdek Ciska hoe haar lewe, haar ouers s’n en Isobelle se lewe by die familie van Casalina s’n ingeweef is. Sy vind ’n tweede familie en ’n tweede liefde.
Ciska en Mateo se liefdesverhaal is nie oordadig nie, maar sag en aards. Aan die einde van die boek is hul verhaal geloofwaardig en kan die leser hul lewe verby die laaste bladsy verbeel.
Die opoffering van die versorger
’n Sterk punt van Die dogters van Casalina is dat Ciska nie haar rol en die impak daarvan romantiseer nie. Die opoffering wat in liefde gemaak word, het ’n impak en dis hoekom sy gaan aanklop by Isobelle, op aandrang van haar ma.
........
’n Sterk punt van Die dogters van Casalina is dat Ciska nie haar rol en die impak daarvan romantiseer nie. Die opoffering wat in liefde gemaak word, het ’n impak en dis hoekom sy gaan aanklop by Isobelle, op aandrang van haar ma.
.........
Ciska beskryf die ervaring van hoe dit is om na ’n lang siekebed ’n begrafnis te probeer beplan en weer by die lewe aan te sluit. Dit is nie ’n maklike stap wat Ciska neem om aan te beweeg nie, en sy benader dit met die erns wat dit vereis.
Bekende bloudruk
Iets aan Die dogters van Casalina voel bekend. Dit word vertel in die styl van Susanna M Lingua en Ena Murray. Die verhaal voel asof dit voldoen aan die tradisie van Afrikaanse liefdesverhale.
My een kritiek is die wyse waarop Vera, die versorger, uitgebeeld word. Vera werk met Francina, doen oefening en versorg haar. Sy is ’n professionele vrou en tog met tye is sy kinderagtig en venynig. Dit was ’n geleentheid om weg te breek van die stereotipe dat jong professionele vroue altyd verlief raak op die jong man in die huis.
Die dogters van Casalina weef die verlede en die hede saam en skep ’n verhaal wat mooi is. ’n Verhaal van genade en menslikheid.
Lees ook:

