Cliff-hanger: Op lig deur Thilde Nel

  • 0

Boekomslag: Boekdiva Uitgewers

  • Cliffordene Norton skryf gereelde boekrubrieke vir LitNet.

’n Verhaal vol onverwagse draaie.

Dit is hoe ek Thilde Nel se Op lig sal beskryf. Vanaf bladsy een tot bladsy 108 het my mening so baie verander dat ek nie geweet het wat om volgende te verwag nie. Maar kom ons begin by die begin.

’n Alledaagse begin

Een Sondag wil die hoofkarakter, Nina, haar en haar man van 20 jaar, Willem, se wasgoed was. Sy en haar viervoetkind Bobby is besig in die waskamer toe haar lewe verander. In haar man se broeksak vind sy ’n kaartjie met twee woorde, Forever yours, wat haar hele verhouding met haar man herskryf.

Skielik besef sy hoe groot die gaping tussen haar en haar man onlangs geword het. Hulle leef verby mekaar en selfs wanneer hy by haar sit, voel hy ver. Is hierdie verandering wat sy dink dit is? Of is daar ’n goeie verduideliking?

Maar hierdie storie fokus nie net op Nina en Willem nie; dit vertel ook van hul vriendekring – vriende wat al dekades lank in mekaar se lewe is. Haar beste vriendin, Annemieke, is besig om te sterf en dit beteken vroegoggende uit die bed spring en hospitaal toe jaag.

Nina se grootste vrees

Die kaartjie in haar man se broeksak krap die roof vanaf Nina se grootste vrees: om met ’n man met ’n dwalende oog getroud te wees. ’n Man soos haar pa. Nina se pa het met die flouste verskonings op aarde gaan brood koop in ander vroue se beddens en haar te-goed-vir-my-gemoed-ma het anderpad gekyk.

Nadat sy die kaartjie gevind het, gaan sy vir ’n rukkie normaal voort: Sy gaan kuier by vriende, sy bestuur haar restaurant en sy is subtiel aggressief met haar man. Iets wat hy direk aanspreek, en vermy tog die gesprek wat hulle moet hê.

Waarom bly sekere vroue? Nina weet nie, want sy gaan beslis nie bly nie.

........
Een van Op lig se sterk punte is dat karakters kompleks en frustrerend menslik is.
........

Simpatie en treurmares

Een van Op lig se sterk punte is dat karakters kompleks en frustrerend menslik is. Die storie word gedeeltelik deur Willem se perspektief vertel en dit gee die leser kans om vir Willem te beleef. Hy is nie ’n likeable karakter nie – nie in die minste nie – maar hy is ook nie so walglik soos wat ek verwag het om hom te vind nie.

By tye het ek amper die boek teen die muur gegooi, want sy gedrag verstom my. Ek het een keer hardop gevra: “Regtig, dude – jou vrou wat jy verneuk het, is die skouer waarop jy wil gaan huil?”

Ander tye het ek sy sin vir humor en praktiese aanslag waardeer. Hierdie dele van hom het die roman in die alledaagse kommer van rekeninge, blyplek en ’n loopbaan gegrawe, en tog was sy gedrag teen Nina afstootlik. Hy ondermyn haar gevoelens, ignoreer haar vrae en laat haar mal voel. Hy stel ook nie belang om dieper en eerliker na sy foute te kyk nie. Hy wil dit uitpraat, want “uitpraat” en “verwerk” stap dieselfde pad in sy boek.

’n Ander sterk karakter is Mareli, die vrou van Willem se vennoot. Nina hou nie van haar nie en beskryf haar as “bot en [daar is iets] ongemakliks aan Mareli se manier van kommunikeer”. Willem beskryf haar as iemand wat vuil baklei en bande sny.

Hierdie karakter is selde op blad teenwoordig, maar haar impak is voelbaar. Sy is die karakter wat my laat voel het asof ek op ’n pendulum rondswaai. Ek het beweeg van “oe, ek hou van haar” tot “dalk nie” tot “ek is bly ek het haar nog net in fiksie ontmoet”.

Die kommunikasie van die ongesêde

Nina se vriendekring bestaan uit mense wat mekaar al dekades ken – en tog nie ken nie. Haar beste vriendin is besig om te sterf en hoewel hulle ’n leërskaar om haar trek, voel dit by tye asof hierdie vriende mekaar verloor, want hulle vra nie uit nie. Nie die diep omgee-vrae wat vriende mekaar vra nie. Praat nie oor opmerkings wat duidelik sal kommer wek nie. Of oor gebeure wat plaasvind nie.

Dit kan soos respek lyk, maar by tye voel dit soos mense wat bang is om die waarheid te hoor. Mense kan op verskillende wyses kommunikeer, en Nina en haar vriende kommunikeer deur dinge ongesê te laat.

My een punt op verbetering

Die pas van hierdie boek is rustig. Lesers wat hou van ’n vinnige pas, sal diep moet asemhaal, want hierdie boek vra jou om te sit met die ongemak. En daar is baie ongemak, maar Op lig is ’n goeie debuut en lekker vrouefiksie. ’n Boek wat slaag, omdat jy saam met die karakters veg, huil en tot ’n mate vergewe (behalwe vir een).

Lees ook:

Cliff-hanger: Net na die storm deur An-Mari do Carmo

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top