Chase Rhys (1989–)

  • 0

Gebore en getoë

Chase Rhys is op 29 Mei 1989 in Ocean View op die Kaapse Vlakte gebore en het daar grootgeword. In hulle bedankings agter in die debuutwerk Kinnes, skryf Chase: “My ma en my pa was sestien toe ek gebore is; om ’n kind van kinnes te wies was moeilik. Deur alles wat ôs deurgaan, sê my ma altyd vi my: ‘It’s all for your book.’” (Netwerk24, 11 November 2018)

Chase se geboortenaam was Chad, vertel hulle1 in ’n onderhoud aan Kabous Meiring, maar toe hul 16 jaar oud was, het hul besluit om dit wettiglik te verander na Chase, want daar was te veel Chads in die skool. En hulle het gevoel dat hul nie Chad is nie. Omdat Chase in die hoërskool nog gemeen het hulle gaan ’n akteur wees, het hulle ook gedink dat Chase meer “actorish” is.

Op my vraag aan Chase oor hul grootwordjare het hul dit só beskryf: “Ek was ’n baie stil kind. Ek het nie baie gepraat nie en het meestal net binne-in my huis gebly om te teken en te lees.

“Die wêreld, my omgewing het nie baie sin gemaak nie. Die domestic violence in my huis was excessive en het so gereeld gebeur, die polisie het al geweet wie ek is sonder om my naam te sê wanneer ek hulle gebel het vir help. Ek het geweet die geweld en armoedigheid was verkeerd. Ek onthou hoe desperaat ek was om te leer hoe om te lees, want ek’t geglo dat al die antwoorde vir die lewe in woorde lê. Ek het tantrums gegooi vir ’n ‘You can read’ cassette en boek series, maar het dit nooit gekry nie.

“My ma is mal oor lees. Sy’t my geleer hoe om te lees en ek het dit baie vinnag opgetel. Ek kon op 3 jaar oud al lees. Ek kon goed lees en daarvoor het ek skool vroeg begin.”

Oor hul verhouding met hul pa vertel Chase aan Meiring dat hul nie ’n verhouding met hul pa het nie. Hulle verduidelik aan Veronique Jephtas (Klyntji, 8 Oktober 2022): “Mense, soes my pa, is vi my heeltemal bizaaarrrre! Ek is darem forgiving wan ek wiet hulle gan dee ’n hele ‘wees ’n man’-conditioning process waa hulle, hulle kak gedagtes kry. I mean, ek het dee dieselle conditioning gegan maa it hettie by my gevatie. Maa ja, soms act hulle yt ignorance yt, soms issit nettie conditioning wat hulle parrot en soms is hulle aspris. Either way, ek sny net af. Een van my grootste gifts is dat it baie makkies vi my is om sukke mense yt te blok, nie net op social media nie, maa heeltemal van my lewe en gedagtes af. Ek vat forgive and forget very literally.” 

Oor hulle skooljare vertel Chase meer uitvoerig: “Ek was 5 jaar oud in graad 1 / Sub A by Kommetjie primêre skool. Die skool was hesitant om my te accept, want ek was jonk, maar ek het al die assessment toetse geslaag, dit sou ’n waste gewees het om nog twee jaar in die crèche te bly. My familie en die skool het besluit ek kan maar vroeg begin.

“Ek het goed in skool gedoen, gereeld top merke gekry, maar ek is outisties en het met die sosiale aspek van skool gesukkel. My klasmaats was twee jaar ouer as ek, en ek was ook een van die eerste nie-wit studente by die skool.

“Mees van my klasmaats het in Kommetjie gebly, ’n whites only area in apartheid tye. Ek het gesien hoe my klasmaats leef; die mansions wat hulle in bly, die groot properties, die skoon strate, hoe hulle strand toe kon loop, die fancy karre wat hulle ouers gery het om hulle na skool op te tel. Dit was ’n heeltemal ander wêreld as my gemeenskap Ocean View, met ons blokke en maisonettes waar ons bo op mekaar leef, met die strate wat nie gereeld skoon gemaak is nie en net taxi’s en busse as die main vorm van transport – ek het taxi skool toe gevat.

“Ek was vyf jaar oud toe ek besef het dat ek twee verskillende wêrelde occupy en moet myself in twee split om in te pas.

“Ek het ’n speech impediment, in my case, ’n erg lisp plus ’n ‘coloured accent’ wat my onderwysers gesukkel het om te verstaan. Ek het speech training in graad 2 / Sub B begin. Dit het my gelei na drama klasse, wat dan ’n special interest geword het wat ek van daai tyd gestudeer het tot ek my diploma in teater en acting by UCT ontvang het.

“Ek was in my laaste paar jaar van laerskool toe my ouma, ’n paar dae na haar 50ste, gesterf het. Sy was my main caregiver want my ouers was sestien/sewentien jaar oud toe ek gebore was. My ouma se dood het my en my gesin se hele wêreld omgedraai. Die matriarch was nie meer daar nie, die familie het implode en toe nooit weer recover nie.”

Chase het ook meer vertel oor hul hoërskooljare en die begin van hul loopbaan as akteur en dramaturg: “Ek was in Vishoek Middelskool en Vishoek Hoërskool. Ek was convinced dat ek ’n akteur gaan wees en het al my energie daarin gesit. Ek het enige kans gevat om op die verhoog te wees. Ek het naam vir myself gemaak as die skool se akteur; ek het elke speech kompetisie gewen en het in elke show verskyn. Ek het ook my eie shows ontwikkel, monoloë vir variety concerts en dramaklas geskryf, dit was die begin van my skryfproses.

“My drama onderwyser mev Louw (later mev Seymour) was die grootste invloed en motivator. Ek sal nooit vergeet hoe sy gehuil het nadat ek my matric monoloog vir die eerste keer gewys het. Ek het die stuk self geskryf en dit was die eerste keer wat ek besef het hoeveel krag my woorde het. Daardie monoloog het my in by UCT dramaskool gekry.”

Nota

1 Chase Rhys verduidelik die gebruik van hy/hulle aan LitNet: “Ek is non-binêr en in plaas van hy/sy gebruik ek: they/them/hulle/hul. Maar nie JULLE nie, want jy/jou is nie gendered nie, so dit is 100% fine. Die voornaamwoord bepaal op die individu se preference. Som non-binary mense gebryk allie pronouns, bv. een persoon kan sy, hy en hulle wees (plus anders soos ‘xe’). Som van ons kies om ’n gendered en ’n gender-neutral pronoun te het, bv. hy en hulle. Maar ek is net hulle/hul.” 

Verdere studie en werk

Ná skool is Chase na die Universiteit van Kaapstad se Dramaskool: “Ek was 17 jaar oud in my eerste jaar by UCT. Daai was die tyd toe ek opgehou het om te skryf want daar moet jy kies of jy ’n theatre maker of ’n akteur (my keuse) wil wees. Akteurs kry nie kans om te skryf nie,” vertel Chase aan LitNet.

Hulle wou altyd op die verhoog wees en hulle het toe ná skool in 2010 ’n diploma in Theatre and Performance aan die Universiteit van Kaapstad verwerf: “Ek wou ’n akteur wees en ek wou raakgesien word en beroemd,” brei hul verder uit teenoor Mariana Malan. (Die Burger, 12 April 2018) “Ek het gou gesien op die verhoog gaan dit nie werk nie. Ek dink ek is as dramaturg nou op die plek waar ek moet wees. Dis asof ek al klaar my drome bewaarheid het.”

Chase is ’n stigterslid van Borderlands, ’n gemeenskapsprojek wat in 2015 begin is om kuns te gebruik om letterlike en figuurlike grense tussen gemeenskappe te oorbrug. Hulle het nie gehou van die manier hoe ongelykheid in die gemeenskap gedryf word nie.

In Oktober 2019 is Chase vir drie weke na die Paulet Huis van Jakes Gerwel op Somerset-Oos vir ’n skrywersresidensie saam met Miriam van Hee en Rachida Lamrabet, twee Vlaamse skrywers, en ook saam met die dramaturg en taalaktivis Denver Breda. Dit was die eerste keer dat skrywers van buite Suid-Afrika die Huis besoek het. Chase het ook in 2019 by die Open Book Festival in Kaapstad opgetree.

Chase het in Augustus 2019 verder aan Carla Lever en Nal’ibali verduidelik: “I live in the hyper-segregated Cape Peninsula, where there have been no efforts to integrate communities segregated by apartheid spatial planning. So I collaborated with a group of artists to create Borderlands. We use the border/buffer zones that were designed to separate areas – roads, mountains, valleys – as neutral spaces for people from different communities to come together and encounter each other. We use public art in the space as a way of addressing issues of land, race, inequality and peace.”

Chase se eerste skryfwerk wat mense laat regop sit het, is hul drama Kinnes, wat tydens 2018 se KKNK en Woordfees opgevoer is en daarna ook ’n draai in die Kunstekaap gaan maak het.

Hul vertel aan Mariana Malan (Die Burger, 12 April 2018) dat hulle die teks vir die drama op die laaste minuut geskryf het: “Ek het omtrent ’n dag voor die tyd gehoor van ’n nuwe tekskompetisie – die eerste Adam en Rosalie Small-kompetisie vir debuuttekste.

“Adam Small is vir my ’n rolmodel vandat ek die eerste keer met sy werk kennis gemaak het. Ek het besluit dis net die regte plek vir my verhaal en het dit ingeskryf. Toe wen ek. Dit het my hele lewe verander.”

Chase het die toneelstuk in 2016 geskryf, vertel hul aan Mercy Kannemeyer op LitNet: “Maar twie vannie karakters, Ahnie Brandt en Rolanda Fisher, het ek al tien jaar gelede create as ’n performative parody van Die Antwoord. Ek’s ’n character-driven skrywer, ek gebruik tegnieke om ’n karakter te skryf en inhabit, dan vertel hulle soema self hul stories.

“Toe ek Kinnes skryf, wassit my ou favourite, Rolanda, wat onverwags eerste uitgestiek et – sy’t die story begin met ‘Yoh, I really lus for ’n entjie.’ Van daai een lyn vloei Kinnes se wêreld, die storie ennie karakters vinnig na my toe.”

Hulle woon steeds in Ocean View waar hul grootgeword het en hoewel hul karakters nie op spesifieke persone gebaseer is nie, is dit tog mense wat hulle elke dag sien, gaan hulle voort teenoor Malan: “En daar is iets van myself in elke karakter. As jy my nie ken nie, sal jy nie weet nie, maar my familie weet.”

Daar is vyf karakters in Kinnes. Naas die vier jong mense – vertolk deur Dustin Beck, Shannon Williams, Lindsey Abrahams en Dean John Smith – is daar ook die ouer karakter van die ma wat deur Lee-Ann van Rooi vertolk word. Die stuk beeld die wêreld uit van die mense wat op die Kaapse Vlakte woon. Dit is ’n wêreld waar almal bekendheid en rykdom nastreef, maar terselfdertyd omring word deur armoed en bendebedrywighede.

Hennie Van Greunen van Wordsmith’s Theatre Factory was een van die beoordelaars van die kompetisie en sy mening was dat Kinnes die beste debuutteks is naas Rachelle Greeff se Die naaimasjien wat hy al teengekom het: “Aanmoediging is wonderlik. Dit was vir my ook wonderlik dat mense by die KKNK opgestaan en hande geklap het ná afloop van ’n opvoering.”

Oor die toekenning van die Adam en Rosalie Small-toekenning het Chase aan The Cape Towner gesê:Winning this competition is an exceptional achievement, particularly because it affords me the opportunity to use this platform to share the stories of those who have been voiceless in the past.”

Chase het sommer ook dadelik weggespring met die verwerking van Kinnes tot ’n roman: “Ek wil stories skryf vir die toekoms. Ek dink ons is nou al lank genoeg vasgevang in die verlede.”

In 2018 publiseer Kwela die roman Kinnes en in 2019 loop dit met twee pryse weg – die kykNET-Rapport-prys in die rolprentkategorie en SALA se K Sello Duiker-prys, nadat dit die Adam en Rosalie Small-prys vir debuuttekste in 2017 verower het. Die K Sello Duiker-prys is deel van die SALA-pryse wat ten doel het om verdienstelike Suid-Afrikaanse skrywers te vereer vir hulle werk en die bydrae wat hulle ten opsigte van die Suid-Afrikaanse letterkunde in sy geheel maak, asook om literêre uitnemendheid te huldig.

Kinnes was in 2019 op die kortlys vir die ATKV-prosaprys saam met Die dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis en Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé.

Herman Binge was een van die beoordelaars vir die kykNET-prys in die rolprentkategorie wat in hulle commendatio as volg geskryf het: “Die wenroman van vanjaar se filmprys het die beoordelaars opgewonde gemaak met sy vars aanslag, literêre meriete, ’n relevante eietydse storie en opwindende visuele moontlikhede wat vir enige vaardige filmmaker ’n heerlike en uitdagende speelveld bied. Daarby speel dit af in ’n interessante milieu vol verskillende strukture en teksture wat tot nou toe afgeskeep is deur die Afrikaanse filmbedryf.

“Die vier hoofkarakters van Kinnes is fyn geteken en met groot deernis gestalte gegee. Hulle staan op die rand van volwassenheid. Elkeen het sy eie individuele aksent wat die verskillende vorms van Afrikaaps, soos Rhys sy taal noem, op ’n interessante manier illustreer en grootliks help met karakterisering. Hulle word met soveel sterk visuele en emosionele verwysings uitgebeeld dat enige draaiboekskrywer sy hoed sal agterna gooi om dié draaiboek met sy inspirerende rolverdeling op papier te kry.

“Met ’n Afrikaanse hip-hop-klankbaan hoor ek reeds die Overbergse sanger Frazer Barry se rapliedjie: ‘Hy was op pad na die skool, hy wou ’n dokter word, maar die koeël van ’n gangster het sy lewe verkort. Hoor die stemme van ons mense wat huil, oor die onnodige grafte oppi Vlakte.’

Kinnes is ’n onversuikerde, universele verhaal en ’n waardige, opwindende wenner van die kykNET-Rapport-filmprys vir 2019.” (Netwerk24, 15 September 2019)

Nadat Chase die kykNET-Rapport-filmprys ontvang het, het Netwerk24 (15 September 2019) hulle gevra hoe hul die “vakmanskap van skryf” sien en hoekom hulle hierdie “talent” spesifiek in Afrikaans wil slyp. Chase het as volg hierop gereageer: “Vi my is skryf tydreis. Ek skryf mettie kennis dat my woorde, my stem, oor tyd strek. Skryf isse kunsvorm waarmee ek allien en direk met mense kan praat. Wanne jy my woorde lees, hoor jy my stem in jou kop. My woorde gaan langer lewe as ek, soe ek’s bewus daarvan dat my werk my ‘life after death’ is.

“Ek skryf sjarme oppie blaai – dit klink ’n bietjie witchy, maa my impuls om te skryf is instinktief en voorvaderlik. Die magic is dat ek met swart woorde oppe wit blaai heel en kleurvolle wêrelde kan skep.

“Ek skryf om te bevry. Ek skryf sodat ek myself kan herken. Ek skryf sodat jy kan wiet wie jy is. Die way ek dit sien, het ek net twie stories om te vertel: Een isse storie van wie en wat jy eintlik is (dis amper onmoontlik om hierdie een te skryf); die anne een issie storie van dit wat in jou pad staan, die dinge wat jou block van die kennis van wie jy is. In die twiede verhaal is daar veel mee plek vi konflik en metafoor, soe dis die storie wat ek gereeld vertel. Maar innie einde vat al twie tipe stories vir die leser (en my karakters) na dieselfde plek toe: ’n herkenning van self.”

Oor die reaksie van die lesers omdat hulle Kinnes in Kaaps geskryf het, vertel Chase aan Carla Lever dat hulle nie verbaas was dat die uitgewers voorbehoude gehad het oor die Kaaps wat hul gebruik het nie, maar gelukkig was Kwela Uitgewers bereid om dié risiko te loop en dit was deur en deur die moeite werd: “Readers took to the work and Kinnes continues to exceed all my expectations. I could never have imagined that this Kaaps book would be studied in Afrikaans departments at universities across SA.

“I think people enjoy reading Kaaps because it can be a multisensory experience. At first the words look unfamiliar, so you start sounding them out loud and instantly you hear Kaaps – its rhythm, its people, the place and its energy.”

Op LitNet (29 Oktober 2018) is Mercy Kannemeyer die resensent van Kinnes: “‘Die kinnes van vedag dink rêrag hulle’s in ’n movie, nuh,’ sê ma Mary na aanleiding van die dramatiese gebeure wat die jongmense in die verhaal moet deurmaak. En dit is hoe die lees van die boek ook voel. Rhys se skryfwerk is gedetailleerd en die beelde wat hy oproep, word glashelder in die leser se brein vergestalt.

“Anwaar Peter Brandt, beter bekend as Ahnie Brandt, en sy vriende, wat almal deel is van die Butcher Boys, word gevra om ekstras te wees in ’n internasionale fliek, GangStar. Nadat hulle populariteit begin groei, begin hulle hul eie flieks maak en dis op hierdie punt waar realiteit en fiksie begin vervleg. Ahnie bly by sy ma, Mary, wat hom alleen grootgemaak het. Sy sal enigiets vir haar kind doen. Nicole Lamb is die slim en stil meisie in die skool. Derick Delcarme gaan sit langs haar in die wiskundeklas en kort voor lank raak dié twee verlief en Nicole word swanger. Rolanda Fisher, die mooi en gewilde meisie wat elke jaar die modeparade by die skool wen, wil graag ’n Cape Kardashian wees. Sy roem haar op haar mooi voorkoms en dra uiteraard die groot ironie wat aan die einde van die storie ontvou.”

Daar is etlike temas wat in die boek aangeroer word, gaan Kannemeyer verder. Party van hulle is om jonk te wees en uitgelewer aan jou omstandighede; dat dit menslik is om verkeerde besluite te neem; die rol wat ouers in ’n kind se lewe speel – of hulle teenwoordig is of nie – en dan ook die rol wat die pa in die familieverband speel.

“Die jongmense in die storie, die ‘kinnes’ gaan elk deur hul eie krisis en moet met alle mag probeer om te oorleef,” skryf Kannemeyer verder. “Rhys kry dit reg om deur middel van die karakters se lewens die lewe en realiteite van talle ander op die Kaapse Vlakte te ontbloot. Hy doen dit egter met soveel empatie en deernis dat die leser toegelaat word om met elke karakter te simpatiseer. Tydens die lees van die novelle het ek konstant gewonder hoekom elke karakter optree soos wat hulle optree. Die kinnes is vasgevang in ’n fisiese sowel as geestelike ruimte wat moeilik is om uit te ontsnap. Die fisiese ruimte word al hoe moeiliker om in te leef, deur faktore soos dwelmmisbruik en geweld, terwyl die geestelike ruimte maak dat hul uitkyk op die lewe as gevolg daarvan, swaar daaronder begin ly.

“Binne die werklikheid van die menslikheid van verkeerde besluite neem, kry die leser insig in die werklikheid van menswees sowel as wat dit beteken wanneer iemand deur hul omstandighede gedwing word om sekere besluite te neem.”

Vir Kannemeyer slaag Rhys daarin om ’n snaakse, dog eerlike en menslike verhaal te vertel wat aanklank sal vind by mense van verskillende agtergronde en areas. “Die storie is nog meer belangrik omdat die kwessies eg is. Die werklikheid word op so ’n manier uitgebeeld dat ’n mens nie anders kan as om met die karakters te simpatiseer nie. ‘Ons kannie meer onse kinnes verloor nie …’ sê Nicole, en dié woorde resoneer diep met wat in ons land aan die gebeur is. Te veel jongmense word slagoffers van ’n onregverdige bestel, en met Kinnes skyn Rhys lig daarop dat dinge nie langer so kan aanhou nie. Verandering is nodig.

“Jongmense wat uitgelewer word aan hul omstandighede, het ongelukkig so algemeen geraak dat ’n mens geneig kan word daartoe om onsensitief daarmee om te gaan. Nadat Ahnie in groot moeilikheid beland en sy ma die een is wat na hom uitreik, sê sy: ‘Anwaar is mos oek ieman se kind.’ En dit skakel weer met die menslikheid wat Rhys op so ’n deernisvolle manier in die storie verwoord. Alhoewel al hierdie vreeslike onregte aan die gebeur is, is dit belangrik om in ag te neem dat almal iewers behoort. En dan kan ’n mens net hoop dat die lewe se dobbelsteen in jou guns sal reg val.

“Voor in die boek skryf Rhys die boek is ‘Vi ôs’, en hy kry dit reg dat die ‘ons’ in die storie ’n universele ons word. Die kwessies in Kinnes raak ons almal, soos dit behoort.”

Valda Jansen skryf in haar resensie van Kinnes in Rapport (11 November 2018): “Die Kaapse Afrikaans waarvoor Adam Small, Nathan Trantraal en nou Chase Rhys bekend is, beleef tans ’n bloeitydperk op verskeie platforms – van boeke en flieks tot TV-reekse. Hierdie ‘aura van toegeneentheid en verdraagsaamheid’ gee die taal én die skrywers die selfvertroue om nóg werk te produseer en die boksie waarin Kaaps dekades lank ingeperk is, stadig maar seker van binne af oop te trap. Trouens, met Kinnes skop Rhys dit sommer met méning oop. (…)

“Rhys gebruik die biografiese gegewe van sy geboorte as die basis van die storie wat om vier hoofkarakters – die kinders van die titel – ontvou. Tussendeur die storie van hierdie vier vleg die skrywer verskeie ander aspekte van die ongenaakbare bestaan op die Kaapse Vlakte.

Kinnes speel af binne dié wêreld (van bendes, dwelmverslawing, misdaad, afwesige pa’s) met ironies mooiklinkende name soos Ocean View en Lavender Hill. Hierop lewer Rhys wrang kommentaar deur dit in sy novelle tot Jurassic Park te herdoop.

“Die boek is kreatief en slim geskryf en die karakters praat direk met die leser. Aan die begin lag jy vir die storie wat ontvou, maar gaandeweg kom ’n gevoel van naderende onheil. Wat gaan gebeur? Ongeveer in die middel van die novelle verskuif die leser se empatie weg van Ahnie en sy omstandighede na sy slagoffers. (…)

“Rhys het by die bekendstelling van die boek Ahnie se omkeer só beskryf: ‘Aan die begin praat Ahnie ’n beskaafde Afrikaans, maar sy taal verword soos hý verword; hy word monsteragtig. Die boek se slotwoorde waarmee hy vroue attack en die matriarchal society aanval, kom as ’n skok vir die leser.’ (…)

“Nie almal wat in Kaaps skryf, is goeie skrywers nie, maar Chase Rhys is een van die uitsonderings. Hy hoef in niemand se skaduwee te staan nie; hy staan in sy eie waarheid en sy eie lig. Vir my is dit asof Adam Small oor sy skouer loer, maar nié om toesig te hou nie. Small is in die skaduwee; hy het die fakkel aangegee en hierdie talentvolle jong skrywer lóóp daarmee. (…)

Kinnes is goed afgerond, weldeurdag, hartseer, snaaks, onthutsend. Ek hoop van harte hierdie boek word vir hoërskoolleerlinge voorgeskryf.

“Net met die skrýf van Kanna en sy ander werke – met die audacity daarvan – het Adam Small die fakkel aangegee, net soos Rhys met die skryf van Kinnes óók die fakkel aangee. Dit is ’n fakkel wat sê: Wees jouself. Skryf oor jouself. Kyk om jou en wees die skrywer wat jy graag wil wees,” sluit Jansen haar resensie af.

In Vrouekeur (30 Maart 2019) is Willie Burger die resensent: “Chase Rhys se debuutwerk, Kinnes, bied ’n noodsaaklike alternatief op die statistiek van geweld waarmee Suid-Afrikaners daagliks gekonfronteer word. Die leser word by die lewens van individue betrek wat in ’n gemeenskap leef waarin dit bitter moeilik is om selfrespek te hê.

“Die verhaal van Derek en Nicole se liefde word met die verhaal van Ahnie Brandt, leier van die Butcher Boys, verweef. Ahnie kry die respek van die gemeenskap deur ’n klein rol as byspeler in ’n Hollywood-fliek oor bendegeweld te vertolk. Maar mense vergeet gou en hy moet opnuut respek verdien. Hy maak sy eie video’s: video’s van die Butcher Boys se geweld. En die mag wat hy deur die vrees verkry, is die enigste respek wat hy vind.

“Sy ma, Mary, veg ook vir respek, op alle maniere denkbaar. Dan is daar nog, Rolanda, wat probeer om met haar skoonheid die gemeenskap se respek te verdien.

“Elk van die karakters kom herhaaldelik aan die woord om sy of haar stukkie van die verhaal verder te vertel. Al die vertellings loop uiteindelik op een gebeurtenis af, waar almal se verhale kruis. (…)

“Rhys hanteer die verskillende vertellers baie vaardig. Al is hulle stereotipes, kry elkeen tog ’n eie stem en kompleksiteit. Elkeen se bedoelings, maar ook die onbedoelde effek van hul handelinge op hulself en op mekaar, word belig. Hierdie beklemtoning van die gaping tussen bedoelings en die effek van die handelings, tussen ideale en die werklikheid, is die sterk punt van Kinnes. Nie slegs die karakters se werklikheid oorstyg hul beste bedoelings nie, die leser se hoopvolle verwagtings van die verhaal stuit ook op ’n werklikheid wat teen alle hoop indruis.

“Die verhaal is nie net somber nie; daar is ook humor wat vir afwisseling sorg. Baie van die situasies is snaaks, en soms lê die humor in die taalgebruik, die kwinkslae. Maar meestal is die humor ’n bietjie wrang en mens wil nie regtig lag nie.

Kinnes bied vir ’n groot deel van die kopers en lesers van Afrikaanse boeke, die wit middelklas, ’n kompliserende blik op ’n wêreld waaroor hulle dikwels slegs in die vorm van statistiek dink. Die verhaal betrek mens by mense se lewens, eerder as by syfers, en bied ’n ervaring van hoe mag en respek in ’n vernederde omgewing werk. Maar Kinnes bied ook vir ’n groot deel van Afrikaanse lesers ’n bekende verhaal in ’n taal en in ’n ruimte waarmee hulle kan identifiseer.”

Chase se pen bly besig. Hulle het ’n nuwe kortverhaal “Andy” geskryf wat opgeneem is in Die nuwe Afrikaanse prosaboek (saamgestel deur Sonja Loots en Steward van Wyk), asook “Blue tea and the beast” wat opgeneem is in They called me queer (saamgestel deur Kim Windvogel en Kelly-Eve Koopman).
Oor laasgenoemde bydrae wou Carla Lever weet hoekom identiteit en die sigbaarheid van queer-wees so belangrik is. Chase antwoord: “I always knew I was queer and it was my greatest source of shame as a child. Growing up in the 90’s I don’t remember seeing many positive representations of queer people of colour – right now I can only recall the hairdresser from ‘Streaks’ on SABC1. I imagine that if I’d grown up in a world where I saw people celebrated for their diversity, I would have had relief from all the unnecessary self-hatred.”
Lever wou ook by Chase weet hoe hul die vertel van stories wat mense se lewens kan verander en ’n verskil kan maak, ervaar. Hierop het hulle geantwoord: “I used to be haunted by my past. Then one day, while writing about my painful experiences, I discovered that there was a difference between my stories and who I am. I could use fiction to play with my stories; I have the power to reimagine my memory, change what happened and write my ideal endings. Fiction took away the sting of my past. Storytelling is the reason I am no longer disturbed by my memories.”
Vanaf 2020 is Chase ’n rubriekskrywer vir die Sondagkoerant Rapport, onder die titel “Suikewate”. In 2022 word die rubrieke deur Kwela Uitgewers gebundel onder die titel Misfits: stories vannie anne kant.
Oor die ontstaan van Misfits vertel Chase aan Veronique Jephtas (Klyntji, 8 Oktober 2022) dat ’n rubriek in ’n koerant vir hulle so “disposable” is – iets wat jy lees en dat dit dan na die “recycling” toe gaan: “Vandat ek my career as ’n columnist begin it, het ek gewiet dat daa genoeg juice innie wêk is om klompie veskillende forms te vat. ’n Boek is een van ai vorme. Plus, ’n rubriek in ’n koerant het limitations in terme vannie word count. Ek moes elke kee dinge ytsny sodat it in my column kon pas. Mettie boek is daa niks woordrestrictions ie en ek kon allie dinge trugsit. Mees vannie stories in Misfit is oorspronklik innie Rapport gepublisee, maa virrie boek het ek elke een rework.”

Jephtas wou ook by Chase weet of hul eers die stories vir die bundel geskryf het en dan vir hul rubriek of andersom: “Rapport het dysende lesers elke wiek, my mind sukkel ommie idee dat soeveel mense my woorde lees, te process. Innie begin was ek baie bekommed oorie tipe stories wat ek virrie koerant skryf, because ek’t gedink die lesers issie nodwendig my audience nie. Toe ek niewe rubrieke virrie Misfit-boek skryf, het ek gevoel, okay, nou kan ek oo my goed skryf – oo sex, gender, drugs, queerness, ens. Een wiek het ek toe ’n kans gevat om een vannie boekrubrieke innie koerant te sit. It was ‘Chapelle-hel’, ’n stuk oo transphobia en comedy – punching up/down. 

“Vannie miniet wat ek it narie Rapport-editors gestuurit totie Sondag wanne hulle it ge-publishit, was ek op my nerves. Ek’t alle tipe vrees gehad oo hoe ie lesers ga respond, maarie feedback wat ek gekry it, was net positief. Ná dai Sondag was daa niks mee veskil tussen ie Misfit-boekrubrieke ennie Rapport-koerantrubrieke nie, wan ek’t besef ammel is eintlik ‘my audience’. 

“Ek’t even publicly innie koerant ytgekô as gender non-conforming toe ek skryf oo my they/them/hulle-pronouns. Die response vi dai rubriek was soe positive, ek’t dai aan deu my DM’s gegan en getjank soes ek deu allie supportive boodskape gan van mense wat dankbaa is virrie perspective shift en vannie jong, queer misfits wat hulself en gender neutral pronouns soe innie koerant virrie eeste kee sien.”

Elodi Troskie is die resensent van Misfit op LitNet (31 Augustus 2022) en sy skryf: “In hulle jongste boek, Misfit (Kwela, 2022), bied Chase Rhys ’n stem aan menigte karakters wat hulleself op die kantlyne van die samelewing bevind. Rhys lewer ook kommentaar oor ’n magdom kwessies waaroor daar gerus meer gepraat kan word in Afrikaans: gentrifisering, kulturele toe-eiening, en halfhartige pogings om die media meer divers te maak. Dit is egter die tema van gender – oftewel die uitdaag van gendernorme – in hierdie versameling wat my die langste sal bybly. Reeds voor die eerste verhaal stel die skrywer die leser bekend aan die rol wat vooropgestelde geslagsnorme in die boek speel. Die motto ‘A very strange, enchanted boy’ is ’n aanhaling van Nat King Cole wat Rhys tipografies aangepas het as aanduiding van die verwerping van gendergebaseerde benamings.

“Die stories is kort, maar elkeen tref soos ’n vuishou. Die meeste van die stories in Misfit is oorspronklik in Rapport se Suikewate-rubriek gepubliseer. Getroue lesers van Rhys se weeklikse rubriek sal dit geniet om die (dikwels verlengde) stories nou in ’n boekformaat te kan binge-lees. Diegene wat nog nie met Rhys se skryfwerk kennis gemaak het nie, sal vind dat hulle gemaklike, toeganklike skryfstyl jou aandag onmiddellik vasvang en jou iets gee om oor na te dink sonder om jou uit te put. (…)

“Die verteller verstaan wel dat gender performatief is. Hulle beskryf hulle pa se ekstreme reaksie op hulle pienk klere en juwele as ’n ‘theatrical ritueel’ en ‘act’ wat waarskynlik veronderstel is om hulle te laat verstaan dat enige uitdrukking van vroulikheid verkeerd is (bl 169). Dit is opmerkings soos hier bo aangehaal wat die stories in Misfit so uitsonderlik maak. Die idee van manlikheid teenoor vroulikheid is ’n konsep wat geheel en al uitgedink is. Deur nie aan die vooropgestelde idees te voldoen van hoe manlikheid en vroulikheid onderskeidelik vertoon nie, of deur nie inherent met enige van die twee binêre klassifikasies van gender te identifiseer nie, behoort iemand daarom nie as Ander geëtiketteer te word nie. Tog is dit steeds die geval in menigte sosiale en kulturele ruimtes, en daarom is dit dikwels so te sê onmoontlik om die vooropgestelde gendernorme te ontsnap wat aan geslag verbind word.

“Die boek sluit die voordeur oop en nooi jou in die verteller se lewe in, laat jou lag, en laat jou dikwels stilstaan om ’n paragraaf oor en oor te lees omdat jy nie heeltemal kan uitpluis waar dit jou so diep tref nie. Misfit, en Rhys as skrywer, lewer ’n onvervangbare bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Een ding is seker: Jy het nog nie voorheen só iets gelees nie.”

Een van Chase se kortverhale “Die een” is in 2021 opgeneem in die bundel Ingonyama en ander maats met leeueharte: ’n kortverhaalbundel (Best Books).

Naomi Meyer het hulle op LitNet (1 September 2021) meer uitgevra oor die verhaal: “Die verhaal handel oor ’n jong persoon wat teen sy boelie opstaan. Sy beslyt om homself te beskerm, wôd met nog mee geweld ontmoet, wat aanvanklik die vrees vannie karakter vehoog. Hierdie negatiwiteit laat hom yteindlik vermoëns ontdek wat hy nie gewiet et hy hettie. Hy ontwikkel oek ’n waardering vi diegene wat voo hom gekô et en hy laat hulle wysheid en kennis hom lei. Hy leer dat hy nodig is, en dat hy in staat is om homself en sy omgewing te verbeter.”

Die inspirasie agter die skryf van “Die een” was die fantasieboeke wat hul as kind gelees het om weg te beweeg van die “hopelose omgewing” waarin hulle grootgeword het. “Daai escapism was nodig. Ek wou ’n verhaal skryf waarin ’n jongmens die negatiwiteit wat hulle in hul omgewing sien en moet verduur, transendeer deur hul innerlike krag te vind.”

Oor die gebruik van Kaaps in klaskamers op skool en die opname van boeke in Kaaps in die kurrikulum laat Rhys hul as volg uit: “Vi leerders wat wel Kaaps praat, gloe ek dattie ontmoeting van hul hystaal innie klaskamer ’n geleentheid bied vi heelheid en alignment. Ek hoep dat it hulle laat besef dat hulle tys sowel as op skool hul outentieke self kan wies. Dat hulle nie mee voel dat hulle hulself in twie moet verdeel en hulself moet ytput met code-switching ie. Om te verstaan dattie manier waarop hulle tys praat, geldig is ennie verkeerd issie, kan net ’n positiewe sielkundige ytwerking op hulle hê.

“Vi leerders wattie tys Kaaps praatie, maak blootstelling aan hierdie taal hul gedagtes oep. It gie hulle mee geleentheid om bewus te wôd vannie diversiteit vannie Afrikaanse taal en allie verskillende mense wat it praat. Onderwysers moet nou al opgewonde begin raak oo Kaaps innie klaskamer, wan it gaan net mee algemeen word.”

Veronique Jephtas wou by Chase weet oor die spreker wat in Misfit die stories vertel. Sy wou weet of sy maar kan aanneem dat dit Chase is wat oor hulself vertel: “Ja,” antwoord Chase, “ek is dai ‘ek’. Dai 1ste person sit vi my ennie lesers in alignment, they become me, hulle sien wat ek sien, voel wat ek voel. Mettie bewustheid dat ek ennie leser one is, moet ek oek consider dattie leser nie noodwendig ’n misfit issie en dattie rubriek miskien hulle eerste encounter met ’n misfit-perspektief of concept is. Soe soms issie ‘ek’ innie verhaal ’n body-double virrie leser – dai ‘ekke’ issie soe jaded soes ek ie, en bly ge-shock deurie dinge wat ek sien/oo skryf. Is nogals ’n delicate balance ommit soe reg te kry, dat ammel hulself innie storie kan herken.” (Klyntji, 8 Oktober 2022)

Jephtas wou ook weet of hierdie manier van omgang met die “creationproses” makliker is omdat daar nie ’n tradisionele raamwerk is waarin hulle skep nie: “As ek dai traditional frames volg, sal it tog maklike wies wan die formula is al reeds daa, ek moet it net volg. My process maak dinge mee moeilik. It sal makkies wies ommie stories in ’n journalistic, matter-of-fact way te skryf, maa my metode involve storytelling wat ’n literêre value het, wat humour gebryk en emosies evoke. Dan is daa my spesifieke karakteriseringmethod. Dan moet ekkit nog in Kaaps skryf, ’n complex, heightened taal. Alles dai moet in ’n paar honnerd woorde inpas. Is ’n science, my way is moeilike, maa it sallie soe sublime wies as ek it annes doen nie.”

Veronique Jephtas wil weet: “Watter treasures, wat jy bereid is om te deel yt jou journey, het jy virrie misfits wat worstel mettie feit dat hulle nie ‘inpassie’ en wat hulle voete in ’n baie judgerage wêreld try vind?”

Hierop antwoord Chase: “Die dedication in Misfit lees: ‘virrie babies’. Toe ek die afgeloepe jare my rubrieke geskryfit, was daa tye wanne ek gesukkelit wan issie ’n maklike ding om te doenie. Ek onthou daa was ’n dag toe ek wou opgie, die hele skryfbiesagheid quit, maa toe kry ek ’n boodskap en ek vat toe ’n stick-it note en skryf twie woorde daarop: ‘The Babies.’ 

“Wanne ek voo my computer gesit en sukkelit het ek net na dai note gekyk en wee die energie gekry om aan te skryf. Die Babies is my muses wat my aanmoedig ommie wêk te doen. Ek wiettie wie die Babies issie. Miskien is hulle kinnes wat nog moet kô? Of miskien is die Babies die inner child binne ôs ammel? Either way, ek voel met my wêk los ek breadcrumbs virrie kinnes. Die Misfit-boek is tools virrie babies. Die stories is ’n guide virrie misfits, it wys hulle ’n anne way ommie wêreld te navigate. Issie maklikste ding innie wêreld om ’n misfit en hulle contribution innie wêreld te erase, veral as dai misfit Coloured, queer, gender non-conforming, neurodiverse en/of disabled is. Soe die boek is oek ’n nodige historical document soedat future misfits kan wiet dat (en hoe) ôs in hierdie tyd geleefit. Is ’n warning vi misfits oo hoe ie samelewing is. Maa ultimately issit ’n salf vi misfits, is proof dat ôs onsself innie wêreld kan wies. 

Hierie nuwe taal is eintlik ie vi my onthalwe nie, is vi anne mense om my bietere te vestaan. (‘Misfit’, bl.174)”

En tot nou is Chase se hoop wanneer die leser Misfit toemaak: “Ek wil hê die leser moet verstaan dat hulle nie allien issie.” (Klyntji, 8 Oktober 2022)

Publikasies:

Publikasie

Kinnes

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780795708763 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • 2017 Adam en Rosalie Small-prys vir debuutdrama Kinnes
  • 2019 K Sello Duiker-prys
  • 2019 kykNET-Rapport-prys in die rolprentkategorie

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Misfit: stories vannie anne kant

Publikasiedatum

2022

ISBN

9780795710520 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Rubrieke en kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Artikels oor Chase Rhys

Artikels deur Chase Rhys

  • Afstand laat Braaimaster se worries snaakser lyk [Suikewate]. Rapport, 10 Januarie 2021
  • AI en Uncle Victor: hy behoort aan “Amandarr” [Suikewate]. Rapport, 22 Augustus 2021
  • Antie Nessie se seen toe ampe sy ma kwyt [Suikewate]. Rapport, 30 Mei 2021
  • As jy ’n bitch oppie TV speel, moet jy reg wies vir war toe gaan [Suikewate]. Rapport, 1 November 2020
  • By Ed se salon seëvier daa ’n anner soort broederskap [Suikewate]. Rapport, 13 Desember 2020
  • Darem gee ie taxi strike inspirasie oek [Suikewate]. Rapport, 25 Julie 2021
  • Dave Chappelle hoefie te worry oor ’n taai klap [Suikewate]. Rapport, 17 Oktober 2021
  • Die Great Resignation gebee ook hie by ôs wan “die lewe is te kort” [Suikewate]. Rapport, 31 Oktober 2021
  • Die rangers kommie trug nie, maar die bobbies wel [Suikewate]. Rapport, 6 September 2020
  • Ek gloe ammel moet dra wat hulle wil al is it lelik [Suikewate]. Rapport, 3 April 2022
  • Ek wag virre klap, maa hy gie my nogge druk [Suikewate]. Rapport, 16 Mei 2021
  • Ek was vyf jaa oud toe ek myself in twee split [Suikewate]. Rapport, 5 September 2021
  • “Ek’t gesê ons gebruik nie pronouns hier nie.” [Suikewate]. Rapport, 10 Julie 2022
  • ’n Game dums laat magic vi ’n change smile oo sy vrou [Suikewate]. Rapport, 7 Februarie 2021
  • Gimbas se gaze soes ’n gift, maar dissie kossie [Suikewate]. Rapport, 6 Maart 2022
  • G’n plek vir jou labels wanneer die berg se stilte hardste praat [Suikewate]. Rapport, 28 Junie 2020
  • ’n Groen tennisbal is my real-life nagmerrie [Suikewate]. Rapport, 21 Februarie 2021
  • Hoe bring die pandemic my vervreemde gesin tesame … [Suikewate]. Rapport, 26 Julie 2020
  • Hoe slegte it gaan, hoe mee wôd my dankies [Suikewate]. Rapport, 24 Januarie 2021
  • “Hulle” het altyd die beste advice, selfs in slegte droeme [Suikewate]. Rapport, 6 Februarie 2022
  • “Ironic”: ’n Skrywer wat allergic is vi boeke [Suikewate]. Rapport, 8 Augustus 2021
  • Is te laat vi blomme, veral as krag af slaat [Suikewate]. Rapport, 13 Junie 2021
  • Ja nay, jy’t my groen vinges geërf, sê my oupa. [Suikewate]. Rapport, 20 Februarie 2022
  • Julle wêk issie net iets wat julle doenie, dis wie julle is [Suikewate]. Rapport, 21 Maart 2021
  • Jy kan jou misgis as jy net agte jou neus aanloep [Suikewate]. Rapport, 2 Mei 2021
  • Kon ons maa al die fights stop deur lekke bekkie te skiet [Suikewate]. Rapport, 15 November 2020
  • Lyk altyd smart vir wanne’ jou geluk kom [Suikewate]. Rapport, 19 September 2021
  • Meneer wat ’n verskil wil maak, bly toe liewer stil [Suikewate]. Rapport, 23 Januarie 2022
  • Middag saam Bernie by Home Affairs [Suikewate]. Rapport, 7 Maart 2021
  • Moenie so soekie mat dié wat nou pwasa [Suikewate]. Rapport,18 April 2021
  • My fabulous notebook create instant goodwill [Suikewate]. Rapport, 27 Junie 2021
  • Nana se handgeskrewe brief packs a punch [Suikewate]. Rapport, 11 Julie 2021
  • Nana se timing biete én sy’s mother of the year [Suikewate]. Rapport, 12 Desember 2001
  • Om saam ’n nar te leef, raak nogals uitputtend [Stroopsoet]. Rapport, 9 Augustus 2020
  • Omme siklus te briek, verg dapperheid [Suikewate]. Rapport, 19 April 2020
  • Ommie karakters se stemme te vind. PEN Afrikaans, 3 Junie 2021
  • Probee erge trauma ma ignore, ma it kom wee [Suikewate]. Rapport, 29 November 2020
  • Sexy eyes is terug, maa in ons straat is niks mee dieselle nie [Suikewate]. Rapport, 28 November 2021
  • Soe rol onse Patty nou, haa bodu is beautiful! [Suikewate]. Rapport, 9 Januarie 2022
  • ’n Soentjie oorie wate vi see se “oupa” [Suikewate]. Rapport, 20 September 2020
  • Spinners en “matadors” soes interaktiewe teater [Suikewate]. Rapport, 3 Oktober 2021
  • Stemme. Rapport
  • Toe gun-skote klap, vegiet Sandy skoon van haa sale [Suikewate]. Rapport, 4 Oktober 2020
  • Tracksuit essential as Grantie ook innie hunt is [Suikewate]. Rapport, 4 April 2021
  • Vibracrete confessions vannie ou tannie mettie borsie [Suikewate]. Rapport, 5 April 2021
  • Wanne dinge te makkies raak, val mens annie slaap [Suikewate]. Rapport, 12 Julie 2020
  • Wys vi my jou playlist en ek sal jou vertel wie jy is [Suikewate]. Rapport, 27 Desember 2020

Bogenoemde titels is nie ’n volledige lys van die rubrieke wat onder “Suikewate” geplaas is nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top