Carmen by die Kunstekaap: ’n onderhoud met Van Wyk Venter

  • 0

Foto: Kunstekaap

Van Wyk Venter praat met Naomi Meyer oor die rol wat hy binnekort in die opera Carmen by die Kunstekaap vertolk.

Van Wyk, jy sing binnekort in die Carmen-opera. Maar is jy nie eintlik ’n rugbyspeler nie? Vertel ons lesers van jou agtergrond.

Ja, Naomi, dis eintlik ’n snaakse storie. Al was musiek nog altyd ’n groot deel van my lewe, het my diep liefde vir rugby begin tydens my tyd by die Drakensberg-seunskoor – van alle plekke! Soveel dat dit my droom geword het om eendag vir die Springbokke uit te draf, en boonop ons lieflike volkslied te sing. ’n Besering op hoërskool het daai droom kortgeknip, en toe het musiek maar weer sy plek gevat as my grootste liefde.

Ná skool het ek ’n BMus met spesialisering in sang by die Universiteit Stellenbosch gaan swot. Vir die afgelope vyf jaar leef ek my droom uit op die verhoog – van opera tot musiekteater. Dis lekker om elke aand ’n bietjie drama en ’n hele klomp hoë note met die gehoor te deel!

Deesdae leef ek my liefde vir rugby uit deur ons wêreldkampioene te ondersteun, maar die droom om die volkslied voor ’n Springbok-wedstryd te sing, bly nog!

Ek sluit nie sport uit as ek van kuns praat nie – sport kan ook ’n kuns wees! Maar vertel my vandag van die opera waarin jy binnekort aan te hoor is. Dis net so opwindend soos die drama op ’n rugbyveld. Daar is mos ook smokkelary, aksie en selfs ’n moord. Watter rol vertolk jy in die opera? Wie is jou karakter?

Ja, jy’s reg, Naomi, opera is eintlik net rugby met meer kostuums en beter sang! Die een waarin ek binnekort te sien is, is, soos jy gesê het, Carmen – en glo my, dit het alles: smokkelary in die berge, ’n driehoeksdrama, en ja, selfs ’n moord aan die einde. 

Ek speel Le Remendado, een van die smokkelaars. Dink aan hom as die span se losskakel wat nie altyd die bal reg vang nie, maar nogal oortuig is hy’s die brein agter elke plan. Hy en sy maat/baas Dancaïro probeer heeltyd vir Carmen en die res van die bende lei om goedere oor die grens te kry. Hy’s glad nie ’n slegte ou nie (of so glo hy) – net ’n bietjie skelm, ’n bietjie senuweeagtig, en heeltemal onopgewasse daarvoor wanneer Carmen besluit om haar eie kop te volg. Dis ’n kleiner rol, maar ’n heerlike een.

Foto van Van Wyk Venter: Talana Smith

Wat is jou gunstelinglied om te sing, een waarna jy met elke vertoning uitsien?

Dis beslis die “Smokkelaarskwintet” in die tweede bedryf. Ons vyf smokkelaars staan en beplan hoe ons die goed oor die berge gaan kry, en die musiek is net pure speelsheid. Dis ongelooflik lekker om te sing – en daar is niks so lekker soos wanneer ons vyf op ’n musikale vlak saamsmelt nie.

Mense dink soms opera gaan net oor een sanger wat in die kollig staan, maar dikwels is daar baie spanwerk betrokke.

As mens betrokke is by ’n opera, gebeur dinge nie soos met kunsmatige intelligensie, sommer net so met die druk van ’n knoppie en daar is iets sintenties geskep nie. Dis harde werk. Dis ook werklik en tasbaar. Wat is vir jou die beste gedeelte van lewende teater?

Jy slaan die spyker op die kop, Naomi. Opera is nie ’n druk-van-’n-knoppie-storie nie. Dis ure in die repetisielokaal, met seer lywe en moeë stemme aan die einde van die dag. Niks kunsmatig daaraan nie.

Vir my is die beste deel van lewende teater die opregte menslike verbintenis wat jy met jou mede-akteurs deel. Opera is die kuns van storievertelling deur die medium van musiek, en dit vereis dat al die kunstenaars hulle rolle getrou vertolk.

........
Vir my is die beste deel van lewende teater die opregte menslike verbintenis wat jy met jou mede-akteurs deel. Opera is die kuns van storievertelling deur die medium van musiek, en dit vereis dat al die kunstenaars hulle rolle getrou vertolk.
.........

Anders as ’n opname, kan jy niks terugspoel of oordoen nie. As Le Remendado sy hoë noot vat, is dit nou of nooit. As die musiek kliek, voel jy al die stemme, ’n orkes en die gehoor letterlik saam vibreer in die saal. Dis eg, dis effens gevaarlik, en dis hoekom ons dit doen.

Daai oomblik wanneer jy ná die laaste noot in ’n doodse stilte staan – en dan breek die applous los? Dis tasbaar. Dis menslik. Jy kan dit nie aflaai nie, jy moet daar wees.

Waarom sou jy mense aanraai om Carmen by die Kunstekaap te kom kyk? Waarom móét mense dit sien?

Kom ons begin by die ooglopendste rede. Die musiek in Carmen is van die bekendste operamusiek wat bestaan. Carmen se “Habanera” is sonder twyfel die bekendste aria vir mezzosopraan, terwyl Escamillo se “Toreador”-aria een van die bekendste baritonarias is – en die musiek wat dalk minder bekend is, is net so mooi en opwindend.

Dan, op ’n dieper vlak, soos ek vroeër genoem het: Opera is die kuns van stories vertel, en hierdie spesifieke opera is ’n tuimeltrein van emosies wat die gehoor saamneem op ’n reis deur Spanje en die gevaarlike, maar opwindende, wêreld van die smokkelaars. Of jy nou kom vir die musiek, die storie, of albei, jy sal vir seker verstaan hoekom Carmen een van die wêreld se bekendste operas is!

Koop kaartjies by Webtickets – die vertoning is slegs van 19 tot 31 Mei 2026 op die planke.

Lees ook:

mAnJE! MaNJe (an epic) is dinkwerk, voelwerk en vatwerk

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top