
Prent: Webtickets
Met: Jennie Reznek, Mwenya Kabwe, Azola Mkhabile, Buhle Stefane, Emmanuel Nkosiphendule Ntsamba, Karabo Hope Banda, Lusanda Soboyise, Melusi Molefe, Sanele Phillip, Yvonne Mesebenzi en Mihlali Bele
Sangers: Zolina Ngejane en Luvo Rasemeni
Musikante: Lungiswa Plaatjies en Sibusiso Matsimela
Komposisie: Neo Muyanga
Ontwerp: Craig Leo
Beligting: Mark Fleishman en Themba Stewart
Choreografie: Ina Wichterich
Skrywers: Jennie Reznek en Mwenya Kabwe
Regisseur: Mark Fleishman
Baxterteater, Rondebosch
Die verlede is ’n ingewikkelde ding. Hoe verder terug die geskiedenis gaan, hoe meer voel ons dat dit niks betrekking op die huidige stand van sake het nie. Hoe nader mens gaan kyk na die spore en paaie van die dinge wat was, hoe meer besef jy dat dit nie altyd soveel anders is nie.
Dis juis wat die kragtige span van Magnet Teater so goed begryp: dat ons eers die verlede moet ondersoek, voor ons kan aanbeweeg. En nie met voorspelbare metodes nie, maar met unieke benaderings en op eiesoortige manier – soos hier met ’n sprankel van herkenbaarheid, maar ook met die opwindende gevoel van vars en verfrissende benaderings.
Manje! Manje (an epic) is nes Magnet Teater se vorige mitologiese verwerkings, Antigone (not quite/quiet) en Oedipus at Colonus: #aftersophocles, fragmentaries in aard met komplekse storielyne, so hou maar kop terwyl ek dit so goed moontlik probeer verduidelik.
Die toneelstuk begin met Shepherd / Announcer (Mwenya Kabwe) wat ons met ’n kalm stem die stormagtige verhaal inlei. ’n Verhaal wat begin met Zeus, wat in die Griekse tyd god van alle gode was, wat malverlief word op Europa (Lusanda Soboyise), ’n Fenisiese prinses. Zeus vermom hom dan as ’n sneeuwit bul wat haar bekoor met sy skoonheid en uiteindelik met haar wegswem na Crete, waar hy haar verkrag.
Europa besluit later om haar troon in Crete vir een van haar seuns te gee.
Een van hulle, naamlik Minos (Emmanuel Nkosiphendule Ntsamba), glo dat die gode hom soek as koning. Hy bid tot Poseidon vir ’n teken om te wys dat hy die gunsteling is. Poseidon stuur dan vir hom niks anders nie as ’n wit bul, maar belowe hom ook om die bul te vernietig in ruil vir die troon.
Minos se gebede word verhoor en die mense kies hom as hul koning. Hy is egter so meegevoer deur die wit bul se skoonheid dat hy dit wegsteek en ’n ander bul in sy plek slag.
Dan ontmoet ons vir Daedalus (Jennie Reznek), ’n bekende argitek en ingenieur, wat verban is uit Athene ná Daedalus sy nefie, Perdix, vermoor het. Meestal oor jaloesie (’n geliefde tema van opera en Griekse tragedies), oor Perdix se skeppings meer aandag as sy eie ontvang het. Toe stoot hy vir Perdix van die dak van Athena se tempel af. Athena verander dan vir Perdix in ’n patrys. Daedalus kom soek dan skuiling by koning Minos in Crete.
Minos trou met Pasiphae (Karabo Hope Banda), wat Poseidon gebruik om Minos terug te kry vir sy ongehoorsaamheid deur ’n lus in Pasiphae wakker te maak vir die wit bul. Daedalus word opdrag gegee om te help en ontwerp en bou vir haar ’n leë houtkoei, waarin Pasiphae kan inklim en ontslae raak van haar giere vir die bul. Kort hierna gee sy geboorte, tot die groot skaamte van die gemeenskap, aan Minotaur (Azola Mkhabile), ’n halfman-halfbul.
Soos Minotaur grootword, word hy ook al meer opstandig en onmoontlik. Weer eens word die te-slim-vir-sy-eie-beswil Daedalus ingespan om te help, wat ’n labirint bou waarin Minotaur kan gevange gehou word.
Een van Minos se seuns word in Athene vermoor. Om wraak te neem beveel Minos dat Athena elke nege jaar sewe jong seuns en sewe jong meisies stuur as prooi vir Minotaur.
Toe besluit een van Aegeus, ’n Atheense koning, se seuns, Theseus (Buhle Thembisile Stefane), om hom beskikbaar te stel om een van hierdie sewe te wees, met die doel om Minotaur te kom vermoor. Toe hy egter in Athene aankom, word Ariadne (Mihlali Bele), Pasiphae en Minos se dogter, hals oor kop verlief op Theseus en stem in om hom te help as hy belowe om met haar te trou.
Daedalus gee vir haar ’n bol rooi wol wat Theseus loslaat soos hy die labirint binnestap. Hy vermoor uiteindelik die ongoddelike Minotaur en volg die rooi wol om sy pad uit te kry. Hierna verlaat hy en Ariadne Crete, net vir hom om haar op die eiland, Naxos, agter te los waar die hedonistiese god, Dionysus, haar as sy vrou opeis.
Arme Daedalus kry ook nie ’n blaaskans nie, want kort voor lank smyt Minos hom en sy seun, Icarus (Melusi Molefe), in die labirint. Hulle span kragte saam om te ontsnap met vlerke wat Daedalus gebou het van was en vere, maar arme Icarus vlieg te naby aan die son, wat maak dat die vlerke smelt en hy uiteindelik tot sy dood toe val in die oseaan.
In Sicily eindig Daedalus op waar hy leef onder die beskerming van koning Cocalus. Minos sal egter nie rus voor hy Daedalus in die hande kry nie.
Hierdie epiese spel is gevul met ryk simboliek en politiese allegorie. Jennie Reznek en Mwenya Kabwe het hier ’n beeldskone teks bymekaargesit, wat by tye meer samehangend kon wees en verkort kon word, maar uiteindelik glad vloei saam met die beeldskone choreografie van Ina Wichterich en die visionêre regie van Fleishman.
Die komposisie van Neo Muyanga sal nog lank na die kyk hiervan spook by jou. Die musiek, so ook die ontwerp deur Craig Leo, klim onder jou vel in – en op ’n goeie manier. Dit doen meer as net vermaak; dit dring deur tot elkeen wat kyk.
Verder sal ek ook graag vir Karabo Hope Banda en Buhle Thembisile Stefane wil uitlig, want al is die hele geselskap bitter sterk, vaardig en veelsydig, is dit hierdie twee spelers wat my na my asem laat snak het.
Banda neem jou as kyker op ’n helse rit as Pasiphae, wat moet boet vir haar man se dade. Soos die sweet en trane van haar afdrup, is haar smaad so tasbaar; die skaamte, die lus, met puik gebruik van haar hele lyf, stem en gees. Banda is waarlik ’n speler om dop te hou.
Dan ook Stefane wat regdeur die intensiteit aangee soos ’n fakkel. Foutloos beweeg hy van koor na karakter en is uiteindelik die een wat mens se hart steel as die sjarmante, slinkse, tog teer Theseus, met sy beeldskone duet saam met Mihlali Bele.
Hierdie toneelstuk is nie een wat ek vir gehoorlede sal aanbeveel wat iets ligs en lekkers wil kyk nie. Dit verg dinkwerk, voelwerk en vatwerk.
Jenny Reznek en Mark Fleishman maak binne- en buitewêrelde vir die jong mense oop saam met wie hulle werk en verbreed kennis van kop en lyf, maar nie net vir die performers nie, vir ons ook.
Die essensie van hierdie werk t!kam / kleef nog aan mens vas soos jy die teater verlaat en herinner jou opnuut om anders na die verlede te kyk.
- mAnJE! MaNJe (an epic) was aan die einde van April by die Baxterteater in Kaapstad op die planke.

