Naomi Meyer praat met Danie Marais oor Boekmerk, die program wat hy oor leeskringe op kykNET aanbied.
Danie, ek wil jou vra oor die program Boekmerk – waar kom die gedagte daarvoor vandaan?
Die saadjie is deur Antjie Krog geplant. Sy het twee, drie jaar gelede in die media gekla oor die feit dat kykNET nie ’n boekprogram het nie. En daarop het Wicus Pretorius, wat die medevervaardiger van die reeks is en ook teksskrywer en navorser saam met my, vir Waldemar Pelser en kykNET geskryf en gevra kan ons nie ’n plan maak met ’n boekprogram nie? En toe het dit min of meer drie jaar se beplanning en fondssoek gekos voor ons nou uiteindelik die program op TV het. Maar ja, ons sê vir Antjie en kykNET baie, baie dankie.
Vir die doeleindes van die reeks het jy baie leeskringe besoek. Deel asseblief jou gedagtes oor wat jy van lees in Afrikaans wysgeword het. Is dit ’n lewendige aktiwiteit; is dit ’n sosiale gebeurtenis; hoe werk die meeste groepe se byeenkomste – gaan dit oor lees of oor kuier, of albei?
Ek besoek graag en gereeld leeskringe. Ek dink wat ook al met die wêreld fout is, is nie leeskringe se skuld nie, inteendeel. En ek geniet altyd ook ’n melktert en ’n lekker stukkie koek. Met die maak van Boekmerk het ek nou ’n groot klomp nuwe leeskringe leer ken – dwarsoor die land. Dit is ’n baie lewendige kulturele aktiwiteit en ek dink op baie maniere ’n soort hoeksteen van ons leeskultuur. Met die besoek aan die leeskringe was daar ook dikwels gasskrywers en al die skrywers met wie ons gepraat het, is dit eens oor hoe belangrik leeskringe vir hulle is om hulle werk met lesers te deel en om terugvoer te kry. Gerda Taljaard het byvoorbeeld gesê dikwels na die publikasie van ’n boek is dit asof die boek iewers in die niet verdwyn het. En dan kom jy by ’n leeskring en skielik is daar lesers en daar is erkenning en waardering en jy word self dinge oor jou skryfwerk wys en kry die geleentheid om oor jou werk te praat.
Ek dink daar’s omtrent twee modelle, het ek agtergekom, en ook twee instellings teenoor leeskringe. Daar’s ’n paar mense wat ’n duidelike verskil tussen ’n leeskring en ’n boekklub maak. Iemand in Pretoria het vir my gesê: ’n Leeskring is iets waaraan my ma en ouma behoort; ons is ’n boekklub. Dit is ’n baie meer informele gedaante. Party van die leeskringe, byvoorbeeld die Rondebosch-studieleeskring wat al baie oud is, neem dinge regtig ernstig op. Mense moet verkieslik die boek vooraf lees en daar word sprekers gereël en dan is daar ’n gesprek en ’n analise van die boek. Dit is eintlik die een ander groot verskil. Sommige mense is in leeskringe en daar word dikwels ’n jaar vooruit besluit watter boeke gaan ons lees en dan is daar een boek per sessie en lede is veronderstel om die boek te lees.
Ander leeskringe hou daarvan meer informeel en hulle lede is dan eintlik almal soos verkenners. Die mense kom dan bymekaar en gesels oor die boeke wat hulle in die tussentyd gelees het, doen verslag en sê vir wie hulle dink dit sou geskik wees. Sommige leeskringe is baie adamant daaroor dat hulle nie ’n boek-en-koekklub is nie en by verskeie ander is die sosiale komponent ook belangrik vir mense om te gesels oor hul lewens en wat intussen gebeur het. Dikwels gesels hulle ook rondom die temas van die boeke oor dinge, maar almal sal vir jou sê dit gaan in die eerste plek oor die boeke, maar daar is ’n groot verskeidenheid van benaderings tot hierdie byeenkomste.
Hoe het jy besluit watter leeskringe om te nader – of ken jy maar net so baie boekmense dat dit nie moeilik was om hulle op te spoor nie? Vertel hier en daar ’n staaltjie van hoe ’n groep oor jou pad gekom het.
Ek ken verskeie leeskringe in die Wes-Kaap-omgewing en ons het dan ook daar begin en aangeklop om te hoor hoe hulle programme lyk en of hulle ons op die spoor van ander leeskringe kan plaas. En veral Marizanne van Aswegen het omtrent rondgebel om leeskringe te soek ook in ander dele van die land, Pretoria en Bloemfontein, byvoorbeeld. Ons was ook by een in Johannesburg.
Dit was nie regtig moeilik om boekklubs of leeskringe op te spoor nie, maar wat wel ’n uitdaging was, is omdat leeskringe se programme so lank voor die tyd beplan is, oorvleuel die behoeftes van wat jy graag wil dek in die program; nie noodwendig met wat die betrokke leeskring of boekklub nou wil bespreek nie. So daar was verskeie leeskringe of boekklubs wat ons ter wille was en gesê het maar wil julle nie dalk oor hierdie boek praat nie, dan kan ons die skrywer vir julle reël. En dit het lekker gewerk en ons het ook in twee boekklubs die lede verras waar dan net die voorsitter geweet het daar is ’n skrywer wat gaan kom en hulle gaan besoek oor die boek waaroor hulle praat.
Dit het baie lekker gewerk met die Boeksusters in Pretoria. Hulle is ’n leeskring wat dan ook volgens die tema van die boek kosmaak en ook die dekor vir die etenstafel inrig. En daar het Marieta Carrick hulle kom verras en dit was amper so ’n bietjie van ’n Halloween-atmosfeer daar gewees.
En dan een wonderlike boekkring wat oor my pad gekom het, die Belhar-boekklub. Op besoek aan die Rondebosch-studieleeskring het iemand my gevra het of ek van die Belhar-leeskring weet. En dit is ’n baie besonderse een waar ons toe op die ou end besoek afgelê het en ek is baie bly dat ons dit kon doen. Ons het daar gesels met Theolla Langenhoven oor haar debuutroman Soetroos van Saron en sy is ook ’n inwoner van Belhar en iemand wat lank reeds ’n lid van die leeskring is.

https://www.youtube.com/watch?v=LhiV0Wsz49A
Bestaan daar baie leeskringe in die land en is daar ruimte vir nog meer? Dink jy mense wat die program kyk, sal dit lus voel om hul eie leeskring op die been te bring, of in te skakel by groepe wat daar reeds bestaan? Hoe gaan hulle te werk as hulle self met een wil afskop; het jy voorstelle nadat jy met so baie groepe gepraat het?
Ek is aangenaam verras deur hoeveel leeskringe daar in die land is en verskeie leeskringe het ook vir ons gesê kom kuier by ons. As daar ooit weer ’n reeks sou wees, is daar baie ander plekke waar ons kan besoek aflê. Ek dink daar’s altyd ruimte vir meer. Ek dink lesers en boeke maak die samelewing ’n sagter plek en kweek begrip – wederkerig ook vir mense.
........
Ek dink lesers en boeke maak die samelewing ’n sagter plek en kweek begrip – wederkerig ook vir mense.
..........
As jy een wil begin, lyk dit vir my is dit dikwels so dat ’n vriendekring besluit hulle het ’n behoefte aan ’n leeskring en dan kring die leeskring as ‘t ware uit rondom hierdie vriendekring. Party mense wil besluit dat dit nie te groot moet wees nie. Hulle wil met sewe of agt goeie vriende kuier en bymekaarkom. Ander mense, byvoorbeeld die bibliofiele in Johannesburg, in Linden, het op sosiale media vir lede geadverteer en dit het ook goed gewerk.
So ek dink dikwels ’n goeie idee is om te begin óf by ’n vriendekring óf om mense te nooi om lid te word wat graag om boeke bymekaar wil kom, en dikwels dink ek ontstaan dit ook uit instansies waar mense sê nou maar saam gewerk het. Dit is ook ’n goeie idee. Ons het reeds een; daar was reeds een brief in Die Burger en op Netwerk24 van iemand wat gesê het hy het nog altyd die behoefte aan ’n boekklub gehad en noudat hy van die episodes gekyk het, wil hy ook plan maak om een te stig.
Zelda Bezuidenhout het ook gesê sy dink by leeskringe ontstaan word-of-mouth-reklame vir boeke en dat dit baie belangrik vir boekverkope is.
Wie het die titel uitgedink? Ek dink dis ’n dubbelsinnige woord, want nou moet ons lesers onthou dat hulle hul plek moet hou om die program te kyk – wanneer word dit uitgesaai en is dit beskikbaar om later weer te kyk?
Die wording van die naam van die program Boekmerk was ’n spanpoging gewees. Ek en Marizanne van der Walt, wat die reeksregisseur en ook medevervaardiger is, en Wicus Pretorius, wat ook medevervaardiger is en gehelp het met navorsing en teksskryf, het geweldig baie bymekaargekom rondom die konsep en inhoud van die program. En dit is tydens een van hierdie dinkskrums wat die titel gebore is. Ek het vir Marizanne en Wicus gevra en nie een van ons kan onthou wie nou spesifiek daarmee vorendag gekom het nie, maar ons het al drie baie van die titel gehou, omdat dit kort en saaklik is en nie te oulik probeer wees nie en juis daardie dubbelsinnigheid het waarvan jy praat.
- Boekmerk word Woensdagaande om 21:00 uitgesaai op kykNET, DStv-kanaal 144, en dit is ook beskikbaar op DStv Stream waar jy nou na al die episodes wat reeds uitgesaai is, kan kyk. Dit is ook op Catch Up beskikbaar.
Lees ook:


Kommentaar
Ek voel nogal moerse sterk daaroor dat die woord "adamant" nooit in die nabyheid van ’n smorgasbord, tafereel, boekklub of leeskring geuiter mag word nie.
En nooit, onder geen omstandighede (ek kan dit nie genoeg benadruk nie) mag die woord Adam Ant in 'n lesersindruk of resensie verskyn nie.
Nee. Dis net nee.