Boekevat met Deborah: Skadumeisie deur Anita Venter van Niekerk en Die Serwiër deur Carel van der Merwe

  • 0

  • Deborah Steinmair skryf gereelde boekrubrieke vir LitNet.

Skadumeisie
Anita Venter van Niekerk
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781776393183 

Sekere romans is eenmaal ’n gemoedsbevuiling – dit kan nie anders nie. Menswees is morsig en sommige mense se lewens is eindeloos ellendig en droef. Die trane die rol oor jou, bokkie.

Hier is ’n mens, ’n dapper, moedige mens wat haar eie storie verhaal. Die subtitel is: “’n Verhaal van oorlewing en genade”. Dis skrywer vertel haar lewensverhaal om aan ander hoop te bring. Haar persoonlike narratief word blykbaar wyd gebruik as gevallestudie van langdurige trauma.

Anita of Nita was nege jaar toe sy eendag op die plasie waar hulle gewoon het – in die leë sementdam wat altyd haar toevlug was uit ’n haglike gesinslewe – wreed verkrag word deur twee ouer swart seuns. Die modder en bloed moes sy wegsteek van haar ma, wat haar vroeg en laat verskree en uitgekryt het van alles wat sleg is, wat haar “klein poes” of “die misbaksel” genoem het. Toe sy helder oordag in die bad gaan sit om haar af te was, skree haar ma: “Sit af die fokken water!” Sy het lank gebloei en lewenslank fisieke, sowel as geestelike letsels gedra. Sy het nooit vir iemand daarvan vertel nie tot sy begin skryf het in ’n poging om heel te word.

Soms wonder die leser wat die ergste was: die verkragting of die daaglikse mishandeling en vernedering deur haar ma. Sy was lief vir haar pa wat die impak van haar ma se gemoedsversteuring probeer verlig het, wat lief en goed was vir haar ma. Ongelukkig het hy sy toevlug in drank gesoek. Hy was nie ’n gemene dronklap nie; sy gedrag en persoonlikheid het skaars verander terwyl hy ’n bottel brandewyn per dag en een per nag gedrink het. Natuurlik het hy nie oud geword nie: Hy is op 39 oorlede en die vier kinders was aangewese op hul ma se gebrek aan genade. Haar vernaamste teiken was Anita.

Haar ma het weer getrou, met ’n wonderlike man wat haar geïnspireer het om sagter op te tree en op te hou vloek. Ongelukkig het hy ook die bottel geslaan, maar op ’n dag heeltemal opgehou. Hy was goed vir die kinders. Daar was dus ligpunte, maar Nita het die skandvlek en woede met haar saamgedra en dit het alles gekleur.

Sy het self ’n wonderlike man ontmoet en met hom getrou. Hy het haar op die hande gedra en altyd die voordeel van die twyfel gegee. Hier het ek ’n probleem: Dis soms duidelik dat die skrywer nog onervare is. Karakters is óf bose drake soos haar ma óf heilige engele soos haar man. Tot hy op ’n dag aan pornografie verslaaf raak. Die tydlyne is ook nie altyd duidelik nie. Het sy begin drink nadat hy ’n pornoverslaafde geword het, of voor dit? Sy het net soveel soos haar pa gedrink en ongelukkig was sy nie ’n liewe dronkie nie. Haar twee kinders moes haar gereeld in die kroeg gaan haal en die kots en ontlasting van haar afwas.

Jy moet self lees hoe sy skoon en ligter geword het. Dis ’n grusame verhaal en anders as in fiksie, is daar nie ’n bevredigende ontknoping nie. Ons weet nooit wat in haar ma se lewe gebeur het om haar so ondraaglik te maak nie. Ons weet nie wat haar diagnose was nie.

’n Mens kan jou oë nie wegskeur van die teks nie en voel vir dae daarna beswaard. En darem ook beïndruk met die krag van die menslike gees en die dinge wat mense kan oorkom.

Die Serwiër
Carel van der Merwe
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795803239

Aanvanklik het ek langtand gelees aan ’n berig van oorlogvoering in ’n ver land – Serwië – lank gelede. Kameraadskap en dood. Faksies en komplotte. Maar dan verskuif die toneel na die hede, in Kaapstad. Bekende landmerke en bakens, onse mense, steek kop uit.

Die vuil onderrok van Kaapstad word verken, die bendebedrywighede en nagklubs in Langstraat teenoor die obsene rykdom van regeringsamptenare, polisiehoofde en bendebase. Ons land van kontraste.

Majoor Victor Vesić, oorlogsheld wat ons in die eerste hoofstuk op die slagveld in Serwië ontmoet het, is intussen werksaam by Staatsveiligheid. Hy word Kaapstad toe gestuur om ondersoek in te stel na die moord op ’n Serwiese geheime agent. Dit het op straat gebeur, voor ’n nagklub. Daar was een getuie, maar hy swyg en die Suid-Afrikaanse polisie haal hul skouers op en beskou dit as ’n gewone roof. Die SAP is in die sak van die bendes wat die nagklubs bedryf en dwelms daar verkoop, en van hulle verskaffers, gevaarlike Serwiërs wat onder die radar vlieg. Die vermoorde agent was op hulle spoor.

Nou betrek Victor ’n woonstel in die Gardens-sentrum en raak danig met sy aanvallige buurvrou. Dit kompliseer natuurlik sake, maar ’n knippie romanse lig altyd die resep. Victor is gou op die spoor van Damian Davids, uitgeslape bendebaas. Maar wie se vuilwerk het hy eintlik gedoen? Die dwelmsindikate se tentakels strek diep en wyd.

Daar is interessante karakters wat aan die Suid-Afrikaanse leser bekend voel, soos generaal-majoor Enoch Vilakazi, hoof van Wes-Kaapse misdaadintelligensie, met sy boepens en dubbelken in ’n blink pak. Beki Khoza, spesiale raadgewer van minister Simon Ndlovu. Almal sit aan by die fees van die ongenooides en eet hulle dik en almal het duur gewoontes en veeleisende skelmpies.

Dan is daar Victor se ou nemesis Darko wat in Suid-Afrika as Saul Sofer bekend staan en by onwettighede betrokke is met sy kameraad en minnaar Milan. Hulle is deel van Grupa Evropa, wat dwelms by Suid-Amerikaanse produsente koop en aan ander sindikate in Europa lewer.

Dis duidelik dat die begaafde alleenloper Victor met gemak vir die Suid-Afrikaanse polisiediens gaan ore aansit, maar gaan hy seëvier teen sy mede-Serwiërs wat die trom slaan op die plaaslike misdaadtoneel?

Die skryfstyl is heerlik gestroop, die karakters duidelik en die landskap pikaresk. Dis grinterig en uiters spannend. Ons mooi en geknelde land bied ryke stof vir misdaadskrywers. Watter wonderlike krimiskrywers het ons nie in Afrikaans nie? Die veelsydige en bekroonde Carel van der Merwe het hom stewig in hulle geledere gevestig. Ek beveel sy boek hoog aan.

Lees ook:

Die Serwiër: ’n onderhoud met Carel van der Merwe

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top