Boekevat met Deborah: ’n Saak van liefde en dood deur Owen Salmon en Vreemde vos deur Carel van Rooyen

  • 0

Grafiese elemente geskep onder Cava se gratis lisensievoorwaardes; boekomslae met erkenning aan Jonathan Ball en die selfpubliseerder.

  • Deborah Steinmair skryf gereelde boekrubrieke vir LitNet.

’n Saak van liefde en dood
Owen Salmon, vertaal deur Frederik de Jager
Uitgewer: Owen Salmon
ISBN: 9781049278308

Owen Salmon is ’n senior advokaat by die Johannesburgse balie, en het al regsboeke gepubliseer. Hierdie boek is fiksie, ’n sielkundige riller en hofdrama. Waarom ’n Engelse boek in Afrikaans vertaal, vra jy? Wel, Afrikaanse boeke trek veel meer aandag as plaaslike Engelse boeke. Daar is ’n lojale leserskare van Afrikaanse misdaadfiksie. Soos ’n mens sou verwag van De Jager, is dit in keurige, verbeeldingryke Afrikaans vertaal.

Die verteller, Peter Truman, is ’n hoogs suksesvolle Kaapse advokaat wie se bynaam Peter Perfek is. Hy is aantreklik, welgesteld en gelukkig getroud met ’n beeldskone oudballerina. Hy is ’n fiksheidsfanatikus en weldoener. ’n Dikwels afwesige maar toegewydfe pa. Dan ontspoor sy lewe wanneer sy vrou kanker kry en hy ’n au pair aanstel om haar en sy dogter rond te ry en by te staan. Hy werk dag en nag. Die au pair is van Ysland. Haar naam is Morgan en sy straal selfvertroue uit. Sy is jonk, sexy en tuis in haar lyf. Sy flankeer skaamteloos met Peter en wen sy vrou en dogter se vertroue. Die leser word die toeskouer van ’n treinramp.

Die boek begin waar Morgan dood is in haar slaapkamer, naak. Peter is by haar; radeloos, kaalvoet en sonder hemp. Die polisie daag op en neem haar lyk weg.

Nou volg die hofsaak. Peter het uit die huis getrek en woon in ’n woonstel in Tamboerskloof. Hy glo dis net tydelik. Hy is rustig en oortuig dat Morgan aan natuurlike oorsake dood is en hy kwytgeskeld sal word. Sy het immers ’n hartkondisie gehad. Intussen vertel hy hoe dinge tot op daardie punt uitgerafel het. Dis asof hy met elke leser persoonlik praat.

Ek het gesukkel om Peter te plaas. Ja, hy hou nogal van homself en is lief vir sy eie stem, maar hy is ook lojaal en pligsgetrou met ’n hart vir onderdruktes. Lief vir sy vrou en kind, ’n redelike en gewilde werkgewer en kollega.

Die skrywer bou stukkie vir stukkie aan die legkaart. Die leser ervaar ’n intelligente, redelike man se aftuimeling na waansin, hoedat hy in die greep van manopouse heeltemal kop verloor. Die sekstonele is onstuimig en destruktief met die malse verlokking van verbode vrugte, die maagsinkende gewaarwording van risiko van dobbel.

Gaandeweg verloor die leser tot ’n mate simpatie met Peter. Hy blameer sy liefdelose ouers en sy moeilike kinderjare vir die verhouding. Hy beskou homself as ’n slagoffer, ’n hulpelose pion van hormone en biologie. Sy beste vriend en suster verskil met hom. “Sê net ‘nee’,” raai hulle aan. Maar so eenvoudig is dit natuurlik nie en al die skakerings en grys areas van moraliteit en morsige menslikheid word ontgin.

Die roman kulmineer in sy hofsaak, wat selfs met ons plaaslike regstelsel boeiende leesstof is wanneer die skrywer ’n kenner daarvan is. Die leser is steeds nie seker wat gebeur het nie. Getuies word geroep en die spanning bou op na Peter se eie getuienis.

Dis ’n gevoelvolle verkenning van die skadu’s in die menslike psiges, van begeerte, vrye wil en verantwoordelikheid. Van ’n gesiene man in vryval, sonder impulsbeheer. Van Kaapstad in al haar verslete glorie. Dis uiters dramaties en onneersitbaar, en die einde het ek nie sien kom nie.

Vreemde vos
Carel van Rooyen
Jonathan Ball
SKU 9780798186162

Daar is eggo’s van Die klein prinsie, en dis nie net die jakkals nie – daar is ’n ondertoon van verlies en droefheid, van die soeke na sin. Van verwondering.

Die verteller, Timotheus, is 13 jaar oud – ’n jong 13. Hy is, soos elke geliefde jeugfiksiekarakter, ’n aleenloper, ’n randfiguur. Hy is slim en sensitief, ’n bibliofiel met net een goeie maat. Daar is ’n meisie wat Tim boelie by die skool, maar daaroor bly hy stil. Hy is besonder geheg aan sy pa. Sy liefde vir sy pa herinner aan dié van ’n gay verteller in A home at the end of the world – dis amper sensueel.

Sy ma is ’n ander storie. Sy is meer gekompliseerd. Die aard van die verwydering tussen sy ouers word nooit uitgespel nie, maar tussen die reëls raai die leser dat sy ma een van daardie mense is wat nooit vergenoeg is nie, moontlik ’n depressielyer. Iemand wat alleen wil wees en nie skuldig wil voel oor haar emosionele ontoeganklikheid nie.

Dan plof sy lewe in. Ná ’n bergklimuitstappie saam met sy pa hardloop ’n jakkals in die nag, in die reën, voor die motor in. Sy pa rem en swaai uit. In die ongeluk word Tim se hand verbrysel en dit moet geamputeer word. Hy kry ’n prostese en sukkel vir die eerste keer met depressie.

In die hospitaal gewaar hy die vos die eerste keer. Dis ’n Europese rooivos, nie ’n soort jakkals wat in Suid-Afrika voorkom nie, maar ja, diere word ingevoer en pas aan. Nogtans is dit seker onwaarskynlik dat ’n wilde dier daardie kliniese omgewing sou kon binnedring. Vir Tim is die jakkals werkliker as enigiets anders en dit verskaf hom troos. Dit laat sy ouers twyfel aan sy geestesgesteldheid en hy moet ’n sielkundige gaan spreek.

Tim se lewe rafel verder uit wanneer sy ouers besluit om te skei. Nou sien hy sy pa, sy persoon, net oor naweke. En dis nie die einde van sy beproewings nie.

Dis ’n verhaal wat bekoor en aangryp, vertel deur ’n slim seun, sonder mooiskrywery of tierlantyntjies. Die kind se stem oortuig; dis vars en pittig. Ek lees in ’n onderhoud dat Tim gebaseer is op ’n jonger weergawe van die skrywer. Dit maak sin.

Soos alle goeie jeugfiksie herinner hierdie roman my aan die slaggate en gapende afgronde in die ongekarteerde landskap van puberteit. Die onsekerheid en weerloosheid. Dis nie magiese realisme nie, net die vertelling van ’n verbeeldingryke kind wat sy onskuld verloor en sy plek in die wêreld moet vind. Dis donker en grinterig en sal jou bybly soos ’n sprokie. Dis daardie twee towerwoorde: tydloos en universeel.

Lees ook:

Boekevat met Deborah: My skaduwee loop los deur Zirk van den Berg en Donkerhart deur Henda Olivier

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top