
Grafiese elemente geskep onder Cava se gratis lisensievoorwaardes; boekomslae met erkenning aan Jonathan Ball.
- Deborah Steinmair skryf gereelde boekrubrieke vir LitNet.
My skaduwee loop los
Zirk van den Berg
Jonathan Ball
SKU: 9780795803376
Zirk van den Berg is ’n interessante skrywer – miskien omdat hy reeds lank in die buiteland woon. Daar is iets anders, iets universeel aan sy gedagtes en sy romans, hoewel dit hier afspeel. ’n Manier van kyk na die wêreld, ’n gekantelde blik wat die werklikheid op sy kop laat staan.
Ons het op skool ’n Nederlandse kortverhaal gelees oor ’n man wat chronies vir ’n sekere ander man aangesien is, tot hy uiteindelik handdoek ingegooi en daardie identiteit aangeneem het. My skaduwee loop los herinner my daaraan.
André Verreyne vind op sy ma se begrafnis uit dat sy pa nie sy biologiese pa is nie en dat hy ’n tweelingbroer het. Dit moet onthutsend wees om te weet jou spieëlbeeld, jou skaduwee, loop êrens rond, onbewus van jou, soos jy van hom.
Nou begin dit sin maak, die feit dat mense in die Kaap hom gereeld met iemand anders verwar. Hy is onaansienlik met onpaar ore. Hy het geglo hy het maar net ’n algemene gesig, maar die mense noem hom op sy naam, André. Hy woon al lank in Nieu-Seeland en het huis toe gekom vir sy ma se laaste siekbed.
Op die begrafnis vertel ’n tante hom dat sy ma voorheen getroud was en tweelingseuns gehad het. Toe sy en haar man skei, het hy een baba saamgeneem Nieu-Seeland toe en een by haar gelos. Daar was verwarring, sodat elk geglo het hulle het André en nie Arend nie.
Nou begin hy soek na sy skaduwee, en wat hy uitvind, is nie goed vir sy selfbeeld nie. Skynbaar het die ander André die lewe (aanvanklik) baie beter baasgeraak. Hy was nie so stil op skool nie, het uitgeblink en was gewild onder die meisies. Op universiteit was hy ’n soort ghoeroe en filosoof en steeds ’n magneet vir vroue. Hy het vele dinge aangepak en dikwels ’n sukses daarvan gemaak. Hy is ’n goeie skilder.
Ons André voel oorskadu, asof hy nooit sy volle potensiaal bereik het nie. Hy is wel gelukkig getroud en sien dit as sy een groot prestasie of sukses. Professioneel kon hy nog nooit sy voete vind nie en hy glo hy is redelik gemiddeld.
Dis ’n fassinerende roman van idees wat my laat nadink het oor oorerflikheid en omgewing, oor selfvertroue en wat sukses werklik beteken.
Die spanning word volgehou met dié dat sy soektog stadig ontplooi en hy geleidelik meer leidrade kry soos wat hy vriende en ekse van sy tweelingbroer ondervra. Dis ook ’n wedloop teen tyd: Hy moet terugvlieg vir sy dogter se troue.
Dis ’n verkenning van identiteit en selfbeeld:
’n Gedagte woel hom los: Elke gesig wat jy teëkom, is die gesig wat iemand sien wanneer hulle in die spieël kyk – Koos Knopneus, Piet Poedinggesig of Flippie Flap-ore. Ten aanskoue van sy weerkaatsing draai selfs die onaansienlikste mens sy gesig half skuins en besluit: Aitsa, só lyk ek op my beste. Elkeen droom van aanvaarding of sukses. Elkeen is skaam oor iets, wroeg oor iets, koester ’n kokon van herinneringe waarin donker drange wring. Elkeen maak stories op waarin hulle die held is. Soos ek ook immers.
Van den Berg het ’n interessante kop, en die kleinerige romans wat hy skryf, het groot slaankrag.
Donkerhart
Henda Olivier
Jonathan Ball
SKU: 9780798186209
Van hierdie skrywer het ek Onder water gelees en dit belowend gevind. Donkerhart het my aangegryp. Daar is eggo’s van We need to talk about Kevin, maar dié steek eers later in die roman kop uit.
Tilla Hart se tweejarige dogtertjie, Mia, het jare gelede spoorloos verdwyn. Van Tilla het net ’n dop oorgebly. Sy lag nie meer nie, drink saans brandewyn en werk bedags as veearts. Sy het haar man en hul oudste dogtertjie, Petra, in Johannesburg gelos en teruggegaan na haar pa se plaas naby Bremel, op die grens tussen die Vrystaat en Noordwes. Dis waar haar kind weggeraak het. Sy voel as sy nie Mia se ma kan wees nie, kan sy niemand se ma wees nie. Aanvanklik is dit moeilik om haar nie te oordeel as ma nie, maar algaande word alles duideliker.
Jonker Cloete is ’n jong filmmaker wat van Nieu-Seeland teruggekom het na sy tuisdorp, op die spoor van die tragedie. Hy was as kind aan die rand daarvan teenwoordig, en hy weet iets wat hy vir Tilla wil vertel. Hy wil ’n dokumentêr daaroor maak. Soos toe hy ’n kind was, wil niemand na hom luister of hom glo nie. Hy raak verlief op die beeldskone kroegmeisie, Donna.
Uiteindelik praat Tilla met Jonker en die leser kry meer begrip vir ’n jong ma wat aan postnatale depressie gely het, met ’n beherende man wat haar gaslight en altyd kant kies vir hul briljante oudste dogtertjie met wie daar iets skeel; ’n kind wat empatie kortkom. “Hoekom maak mense asof hulle voel?” wil sy van haar ma weet. Ek wonder oor hierdie sin. Sal ’n kind nie eerder iets vra soos “Waarom maak mense of hulle seerkry as ander mense seerkry?” nie? Maar, nou ja, sy is ’n uitsonderlike kind.
Dis huishoudelike noir, een van my gunsteling-genres, en ek was vasgenael. Olivier weet hoe om ’n storie te vertel. Dis atmosferies en onheilspellend en die leser identifiseer sterk met Tilla se wanhoop en gebrokenheid, haar desperate poging om die regte ding te doen, om haar kind lief te hê en ’n goeie vrou vir haar man te wees. Wat swyg oor soveel dinge:
Trauma lewe in die lyf, onthou sy haar berader se woorde. Wanneer jou brein nie die narratief verstaan nie, reageer jou lyf. Hoofpyne, bewerasies, haarverlies, geheueprobleme en haar gloeiende gesig was destyds alles deel van haar liggaam se manier om die trauma te probeer vergeet. Of dalk eerder ’n poging om dit te onthou.
Allerlei vrae ontspring, soos oor die oorsprong van wat ons vroeër psigopatie genoem het en nou antisosiale persoonlikheidsversteuring noem.
Meer as dit kan ek nie verklap nie, maar die leser is in vaardige hande en weet die raaisel sal nie in die lug bly hang nie. Die einde is verrassend en oortuigend. Ek beveel dit hoog aan vir misdaadvrate en lesers wat van sielkundige rillers hou.

