
Die vuur huil
Allen Grootboom
Tafelberg
ISBN: 9780624093152
Lessons from my father
Melinda Ferguson, Steve Anderson
Melinda Ferguson Books
ISBN: 9781037085611
- Deborah Steinmair skryf gereelde boekrubrieke vir LitNet.
Die vuur huil
Grootboom se roman is ’n reis, ’n hellevaart, ’n pelgrimstog. Soos die soeker in Die pelgrim se reis is Jakob Koetaan op soek na verlossing en na ’n tuiste. Tafelberg is vir hom soos die Berg Sion en Kaapstad die beloofde land. Op pad versink hy in die moeras van moedeloosheid, kom hy karakters teë wat hom help, bemoedig of verrinneweer en in die versoeking lei. Dis soos Die swart pelgrim, behalwe dat die reisiger sogenaamd "coloured" is en sy eie en sy voormense se storie vertel.
Koetaan is min of meer Griekwa. Sy ma se pa was Duits en hulle is lig van gelaat. Sy pa se familie het al in die vorige eeu plasies in die Oos-Kaap gekoop. Sy pa en ooms was grondbesitters en flukse boere, maar met erfbelasting en allerhande ander “teks” (belasting) moes hulle al meer van hul grond verkoop om aan die gang te bly. Toe begin die naburige wit boere met begerige oë na hulle plasie, Towerwater, kyk. Ene Ferreira noem dit ’n swart vlek in hulle midde. Die grond is afgevat. Sy pa het manalleen geveg en briewe aan die goewerment geskryf, maar die regering se woord was wet.
Sy hardwerkende pa koop van wit mense ’n huis in Middelburg, maar die Groepsgebiedewet word van krag en hulle moet uit, lokasie toe. Jakob en sy sussie Elize is die paradys kwyt. Nou is dit elkeen vir sikselwers, soos sy oom gesê het. Hy bly altyd terughunker: “Hy verlang na die reuk van vars miskoeke in die vroegoggend, hoe dit na gras ruik. Hy smag na die son wat koes-koes deur die blare ritsel soos die dag groei; na vinke wat kwetterend opvlieg as hulle rus verstoor word deur die kinders wat ramanas voor skool moet uittrek; na die dam op Johan-hulle se plaas; na die reuk van appels en die vars klammigheid van die bergklowe.”
In die lokasie loop riool by die strate af en maer kinders en honde snuffel deur brandende vullis op soek na kos.
Hy en sy sussie gaan woon en werk in Port Elizabeth. Sy vorder fluks en hy word ’n bestuurder in ’n fabriek. Sy kyk vorentoe en wil ’n beter lewe vir haarself skep, maar hy is wrokkig oor die grond wat hulle verloor het en die wreedheid waarvan hy getuie was. Hy beland per ongeluk in die struggle toe hy in die OK in hegtenis geneem word tydens ’n optog. In die tronk bearbei die comrades hom en hy raak teen sy beterwete betrokke. Êrens moet hy tuishoort. Hy besef gou dat hy gebruik word, maar is vasgevang in die momentum van die stryd.
Eintlik voel hy dat die Xhosa die eerste imperialiste was: Hulle het van die noorde gekom en met die Khoi en San saamgespan teen die Zoeloes. Toe vat hulle die Khoi se grond en vermeng hulle taal met hulle s’n. Toe vat hulle die San se godsdiens en voeg die San se gebruike by hulle s’n. Later neem die Khoi die gewoontes van die wit mense aan.
Hy beland weer in die tronk en in ’n gestig. Hy bly glo dat hy in Kaapstad beter sal kan lewe. Die eerste hoofstuk is die einde van die storie. Daarna word die roman chronologies vertel met terugflitse. Hoofstukke word ingelei deur aanhalings uit gedigte. Van CJ Langenhoven tot NP Van Wyk Louw, James Matthews en Diana Ferrus kom aan die woord.
Dis ’n koorsdroom van ’n roman vol vertwyfeling, woede en die soeke na tuishoort. Dis digterlik en ongetem soos herinnering.
........
Dis ’n koorsdroom van ’n roman vol vertwyfeling, woede en die soeke na tuishoort. Dis digterlik en ongetem soos herinnering.
........
Lessons from my father
Wat het jou pa jou geleer? Myne het nooit oor gevoelens gepraat nie. Eendag toe ek as tiener in ’n donker kamer lê en huil, het hy op die puntjie van my bed kom sit en gesê: “Toe ek jonk was, was ek ook baie eensaam.” Ek het dit nooit vergeet nie en besef nou dat ek soveel van hom geleer het oor hoe om die lewe te navigeer.
Steve Anderson en Melinda Ferguson het ’n aantal prominente Suid-Afrikaners gevra watter lesse hulle by hul pa’s geleer het. Steve se pa het gestoei met geestesgesondheid en moes sterk medikasie neem sodat hy soms aan die slaap geraak het terwyl Steve aan sport deelneem. Melinda se pa is dood toe sy vier was, voor haar oë. Sy glo dis die rede waarom sy op nege begin drink het, op 15 begin dagga rook en op 23 heroïen begin gebruik het.
Lindiwe Hani onthou haar pa, Chris, wat in sy oprit afgemaai is. Hy klink onweerstaanbaar; bont truie, uncool danspassies en ’n ongefundeerde selfvertroue in die kombuis. As iets nie smaaklik is nie, het hy dit reggetoor met Aromat. Hy was nie perfek nie, maar altyd ten volle teenwoordig.
Ons almal onthou Chad le Clos se pa in die uitbundige videoclip waar hy oor en oor “Unbelievable!” uitroep. Chad was glad nie skaam daaroor nie, maar trots dat mense kon sien wie sy pa is: spontaan en vreeslik trots op hom.
Sipho Hotstix Mabuse se pa was ’n outodidak wat iets van homself gemaak het deur harde werk en dryfkrag. Hy het die eerste Chevrolet in die straat besit. Hulle was baie trots daarop. Hy het die regte fondasie gelê, sodat, toe hy hom later oorgee aan drank en ’n ander mens word, Sipho hom tot die einde bygestaan het.
Outeur, diplomaat en restaurateur Costa Ayiotis se pa het onder een dak saam met sy vrou, sy suster en sy ma geleef: “It was a tempestuos triangle and he only had himself to blame.” Sy pa was altyd in ’n vars wit katoenhemp, ’n grys broek van fyn wol en blinkgepoetste skoene geklee. Sy eenvoudige filosofie was om ’n goeie mens te wees. Hy het geen vyande gehad nie.
Lew Geffen, eiendomsmagnaat, se pa was eenvoudig onweerstaanbaar, met ’n dobbelprobleem. Toe Lew begin eiendomme verkoop, probeer hy tevergeefs om ’n alleenmandaat vir ’n sekere eiendom te kry. Sy pa gaan saam met hom na die eienaar en komplimenteer dié oor sy aalwyne en gesels vir ’n kwartier oor aalwyne – en die alleenmandaat was Lew s’n.
Dit wil voorkom asof die meeste Suid-Afrikaners se pa’s, soos myne, mans van min woorde was. Hulle voorbeeld het egter boekdele gespreek en staande gebly.
Lees ook:
Boekevat met Deborah: Skimme en spoorsoekers deur Martin Steyn en Kolam deur Fourie Botha

