
Titel: The price of mercy
Skrywer: Sean Davison
ISBN: 9781990973505
Uitgewer: Melinda Ferguson Books
Koop die boek by Graffiti.
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
...
’n Mens sal ’n fout maak om te dink dat hierdie onderwerp een is waarby jy geen belang het nie. Die mens se lewe kan in ’n oogwink verander na aanleiding van ’n motorongeluk, ’n diagnose, of wat ook al die geval mag wees.
...
Hoe is die lewe vir iemand wat nie meer beheer het oor hulle liggaamlike funksies nie? Wat nie meer kan opstaan en self rondbeweeg om hulle basiese behoeftes te onderhou nie? Vir die meeste van ons is so ’n lewe ondenkbaar. So ondenkbaar, dat weinig van ons enige aandag aan die gedagte skenk, indien enige. En ’n mens kan verder gaan en vra, hoe is die lewe vir iemand wat moet toekyk hoe een van hulle dierbare geliefdes in totale afhanklikheid verval? Hulle wil om te leef wat wegkwyn saam met die liggaamlike vermoëns? Dit moet hartverskeurend wees. En die derde, miskien die moeilikste vraag van die drie, waar lê die lyn tussen moord en medemenslikheid? Die mensdom weet duidelik nog nie presies nie, en in die proses wend een na die ander desperate mens hulle na mense soos Sean Davison.
The price of mercy is nie Davison se eerste boek nie. In 2012 publiseer hy Before we say goodbye, wat in 2015 opgevolg word met The last waltz, love, death & betrayal. Ek het nie een van dié twee boeke gelees nie. Trouens, van Davison en sy doen en late was ek net vaagweg bewus, en had lank die behoefte om meer oor sy “werk” en aktivisme te lees. Werk word hier in aanhalings geskryf, want hoewel Davison ’n formele werk het in die vorm van akademikus, is dit sy aktiwiteite buite die akademie wat die aandag van die wêreld op hom laat vestig, alhoewel hy ook in sy akademiese navorsing die onderwerp van selfdood ondersoek. Davison is gebore in Nieu-Seeland in 1962, waar hy ’n doktorsgraad in mikrobiologie aan die Universiteit van Otago behaal het. Hy verhuis na Suid-Afrika in die vroeë 1990’s, waar hy eers verbonde is aan die Universiteit van Kaapstad, en later die Universiteit van Wes-Kaapland.
In 2006 is sy moeder dr Patricia Ferguson terminaal siek weens kanker. Dit is hier waar die omstredenheid begin. Davison het teruggekeer na Nieu-Seeland om vir sy moeder te sorg. Na afloop van Ferguson se heengaan is Davison uiteindelik aangekla van poging tot moord ingevolge Nieu-Seelandse wetgewing en is hy na afloop van ’n pleitooreenkoms gevonnis tot 5 maande huisarres nadat hy skuldig gepleit het op ’n klag van geassisteerde selfdood. Die gebeure het Davison oornag verander in ’n aktivis vir die wêreldwye wettiging van geassisteerde selfdood.
In The price of mercy hervat die verhaal van Davison in 2018, waar hy in Kaapstad gearresteer word op aanklag vir die moord van sy vriend dr Anrich Burger (1970–2013). Die boek is dus ’n dokumentasie van Davison se regstryd, wat ingesluit het verdere aanklagte van moord, asook die uitkoms van die regsproses en wat daarop volg (laasgenoemde vorm ’n belangrike deel van die verhaal, maar die details word weerhou vir lesers wat nie vooraf als wil weet nie). Die boek bevat egter ook menige ander details, onder meer inligting oor Davison se aktivisme, sy pogings om die publiek te beskerm teen gewetenlose smouse wat desperate lede van die publiek oor die internet probeer uitbuit, asook Davison se verhoudinge met sy geliefdes, sy gesin en al sy ondersteuners en vreemdelinge wat hom dikwels probeer nader en kontak vir hulp.
Davison se geval het die interessante gevolg gehad dat hoe strenger die owerhede in Suid-Afrika of Nieu-Seeland teen hom opgetree het in die verlede, hoe groter was die kritiese reaksie vanaf die publiek en die media. Sy pogings om mense te help kom egter teen ’n reuserisiko en prys – dit bedreig sy vryheid en plaas ook sy gesin in ’n moeilike posisie.
Maar hoekom presies is die wêreld so stadig om formeel die wetgewing ten opsigte van geassisteerde selfdood te verander? Daar bestaan duidelik wydverspreide simpatie en ondersteuning vir die reg tot geassisteerde selfdood. Davison bespreek hierdie vrae net rakelings en in die verbygang. Dit sou byvoorbeeld gerieflik wees om die kriminalisering van geassisteerde selfdood eenvoudig aan godsdienstige oortuiginge te wil toeskryf, en godsdiens speel miskien wel ’n sterk rol, veral histories. Davison sonder byvoorbeeld die Katolieke weerstand uit in Dunedin, waar hy verhoor is, maar daar bestaan ook onder gelowige mense diverse opinies en baie simpatie vir die saak van geassisteerde selfdood. Ten opsigte van Islam wat prominent in Kaapstad voorkom, vertel Davison ’n staaltjie van hoe daar ook binne die Islamitiese gemeenskap diverse opinies rondom geassisteerde selfdood bestaan.
Die stryd vir die wettiging van geassisteerde selfdood is nog lank nie verby nie, nie in Suid-Afrika of menige ander lande nie. Dit is noodsaaklik dat wetgewing ontwikkel word wat mense se reg beskerm om deur middel van geassisteerde selfdood hulle lewens te termineer in gevalle waar dit die enigste manier is wat oorbly om waardigheid tydens die proses van dood te verskaf. ’n Mens sal ’n fout maak om te dink dat hierdie onderwerp een is waarby jy geen belang het nie. Die mens se lewe kan in ’n oogwink verander na aanleiding van ’n motorongeluk, ’n diagnose, of wat ook al die geval mag wees. Dit is inderdaad wat met talle mense gebeur het wie se stories in hierdie boek gedokumenteer word. Dit mag vandag vir ’n mens vreemdelinge op die bladsye van ’n boek wees, maar enige mens se lewe kan blitsvinnig dieselfde koers inslaan.
Davison se boek is ’n boeiende vertelling en bied ’n fassinerende venster in sy ervaringe, sy aktivisme en sy toewyding tot die bevordering van menslike waardigheid. Hy skryf met deernis en empatie oor ’n omstrede kwessie waarvan hy waarskynlik as die voorste internasionale deskundige beskou kan word.



