
Fiona Ramsey in Blonde poison (foto: verskaf)
Fiona Ramsay blink uit in die eenvrou-drama Blonde poison. Ramsay vertolk die rol van Stella Goldschlag, ’n vrou wat jag gemaak het op haar mede-Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog. Aanvanklik het sy egter ander planne gehad. Stella wou ’n jazz-sanger word. Weens omstandighede het sy egter ’n Greifer (jagter) geword van Jode wat in Berlyn geskuil het. Sy het na beraming tussen 600 en 3000 Jode na hulle dood gestuur.
Die dramaturg Gail Louw vertel dat Stella “glad nie ’n Ortodokse Jood was nie. Sy was so mooi, sy was die Marilyn Monroe van haar skool. Sy het glad nie geïdentifiseer as ’n Jood nie. Skielik het die feit dat sy ’n Jood was die belangrikste ding in haar lewe geword. Nadat Stella in hegtenis geneem is en gemartel is, het sy voor ’n keuse gestaan. Sy kon ’n Greifer word, of toesien hoe haar geliefde ouers na ’n konsentrasiekamp gestuur word. Op hierdie punt het haar lewe heeltemal verander. Louw sê, “Sy het dit beslis vir haar ouers gedoen.”

Fiona Ramsey (foto: verskaf)
Louw beskryf Stella as “monsteragtig.” Sy het van haar te hore gekom tydens ’n lesing deur die Britse geskiedkundige Roger Moorhouse. Hy het onder meer U-boats, soos wat die Jode genoem is wat geskuil het in Berlyn, bespreek, en ook vir Stella Goldschlag. Hier was een van die komplekse karakters wat Louw so goed herskep vir die verhoog.
Dis moeilik om mens in te dink in Louw se skoene. Haar ouma en oupa aan moederskant het gesterf in die konsentrasiekampe. Volgens haar het die Holocaust haar ma se lewe gevorm, syself het dit geïnternaliseer tydens haar kinderjare in Suid-Afrika. Blonde Poison is egter so ’n kragtoer dat gehore empatie voel vir die hoofkarakter. Hulle vra hulself af, “Wat sal jy doen as jy in ’n soortgelyke situasie is?” Teaterliefhebbers kan vir hulself besluit wanneer hulle die drama bywoon.
Fiona Ramsay se optrede word beskryf as “een van die kragtigste optredes op die verhoog, ene wat mens laat nadink … dis iets wat mens bybly lank nadat mens die teater verlaat het.”
Lees ook:
Persverklaring: Rooiwarm Kaapse jazz by vanjaar se Hermanus FynArts – 6 tot 16 Junie 2025

