Persverklaring: Rooiwarm Kaapse jazz by vanjaar se Hermanus FynArts – 6 tot 16 Junie 2025

  • 0

Ramon Alexander en die Maties Jazz Society (foto: verskaf)

Teks deur Linza de Jager

As ou joernalis het Linza de Jager onlangs ’n musikale Rubicon oorgesteek. Sy het van jazz begin hou, en meer spesifiek, van Kaapse jazz. Sy het die bekroonde jazz musikant en musikale direkteur Ramon Alexander daaroor uitgevra.

Volgens Ramon, wat ook die musikale direkteur van Kaapse Kabaret en We hear music is wat Junie na FynArts kom, kan “almal van jazz hou. Dis soos goeie kos.” Dis ook soos ’n ui, om spesifiek te wees. Nie almal hou outomaties van ’n ui nie. Dit hang net af hoe dit gebruik word. Die kosvergelyking is net verrassend as mens nie weet dat Ramon as wynmaker gekwalifiseer het.

Kaapse jazz is “volksmusiek, streeksmusiek” vertel Ramon. Dit het ’n lang geskiedenis, ene wat sy wortels het in die Wes-Kaap. Die slawe het ’n ghoema (trommetjie) gemaak uit ou wynvate en oorgetrek met beesvel. Daar is ’n deel van Ghoema musiek wat amper soos Boeremusiek klink, en daar is ’n Afrika ritme. Die musiek weerspeel ’n hele spektrum van emosies. En al is daar ’n element van swaarkry, is die musiek baie vrolik, mens kan op dit beweeg. “Dit kom uit plekke waar mens musiek hoor. Uit ons kerke, uit ons moskee, uit sosiale byeenkomste,” vertel Ramon. Musiek grotes soos Robbie Jansen en Abdullah Ibrahim het hierdie volksmusiek in die groot konsertsale van die wêreld opgevoer. Moenie hierdie spesiale opvoerings misloop nie.

Kaapse Kabaret het ’n Woordtrofee gewen en dis benoem vir ’n Kanna toekenning. Die ensemble bestaan uit Ramon Alexander (klavier), Dylan Tabisher (kontrabas), Annemie Nel (tromme) en Leslie Kleinsmith (stem).

We hear music gooi die musikale net wyer oor Suid-Afrika. Die ensemble is groter en op aandrang van die feesdirekteur Mary Faure bevat dit ook ’n verskeidenheid van ongewone instrumente. Ramon Alexander en sy trio tree op saam met die Maties Jazz Society, asook Leslie Kleinsmith, Penelope Radsma, Nic Miso (stemme) Pedro Espi-Sanchis (verskeie Afrika instrumente) en penniefluitspeler Jack Lerole Jnr, seun van “Big Voice Jack” Lerole wat mede-stigter was van Mango Groove.

Beide Kaapse Kabaret op 12 Junie en We hear music op 14 Junie is by die Nederduits Gereformeerde Kerk, Hermanus.

Die feesprogram is beskikbaar by www.hermanusfynarts.co.za

Kaartjies is beskikbaar by webticketshermanusfynarts.co.za of epos admin@hermanusfynarts.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top