...
Dink aan ’n blokketting as ’n reeks outydse bokslêers wat elkeen met duur slotte toegesluit is. Elkeen bevat ’n dokument – van daardie dokumente is eintlik net ’n stempel. Al hierdie bokslêers is met ’n swaar ketting aan mekaar vasgemaak.
...
Die wêreld word elke dag meer virtueel. Geld ook. Maar is Bitcoin werklik ons voorland?
Nie noodwendig nie, maar daar is geleerdes wat beweer gewone mense se toekoms lê in blokkettings en kriptogeld.
Is dit waar?
Soms moet ’n mens baie mooi tussen die lyne lees.
Campbell Harvey, ’n hoogleraar aan die Duke-universiteit se Fuqua School of Business, het in Januarie sy bevindinge met die Harvard Law School se forum oor korporatiewe bestuur gedeel.
While the popular media focuses on Bitcoin reaching record highs, there is something else happening in the crypto space that is largely under the radar screen. It is called DeFi or Decentralized Finance, and we examine its structure, opportunities and risks in our recent paper.
Gemelde “recent paper” is ’n openbare, akademiese publikasie getiteld “DeFi and the future of finance”. Dit is geskryf deur Campbell Harvey, Ashwin Ramachandran en Joey Santoro en is laas April 2021 bygewerk. Daarin verklaar hulle:
Our legacy financial infrastructure has both limited growth opportunities and contributed to the inequality of opportunities. Around the world, 1.7 billion [people] are unbanked. Small businesses, even those with a banking relationship, often must rely on high-cost financing, such as credit cards, because traditional banking excludes them from loan financing.
Die skrywers blameer die hoë finanskostes en sentrale regulering vir lae investeringsvlakke en gepaardgaande vertraagde ekonomiese groei, iets wat ons maar te goed ken in Suid-Afrika.
Wat is hulle oplossing? Desentralisasie, beweer hulle, is die toekoms van ekonomiese groei. Verwyder die regeringsinmenging en sentrale banke, dan gaan ons groei sien.
Decentralized finance, or DeFi, poses a challenge to the current system and offers a number of potential solutions to the problems inherent in the traditional financial infrastructure. While there are many fintech initiatives, we argue that the ones that embrace the current banking infrastructure are likely to be fleeting. We argue those initiatives that use decentralized methods - in particular blockchain technology - have the best chance to define the future of finance.
Die artikel was ’n openbare dokument, maar was skynbaar nie deur die gewone prosesse van ewekniebeoordeling nie.
Dit is belangrik.
Die dokument is intussen bygewerk en die finale produk is op Amazon en elders te koop.
Moet Jan en San Alleman hulle aan dié lot steur? Is dit bloot praatjies om die boek te laat verkoop?
Johan Fourie, ’n hoogleraar in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch en skrywer van Our long walk to economic freedom: Lessons from 100 000 years of human history, het hulle belangrik genoeg geag om ’n baie kort opsomming van hulle bevindings in finweek te publiseer. Fourie se slotsom was dat hierdie gedesentraliseerde manier van doen “mettertyd dalk tot die ontstaan van ’n nuwe finansiële stelsel [sal] lei”.
Die kruks van Fourie se boodskap lê waarskynlik in die woorde “mettertyd dalk”.
Hy het Harvey en kie belangrik genoeg geag om daaroor te skryf, maar let mooi op die omsigtigheid waarmee hy die saak benader.
Toe Fourie genader is vir kommentaar, het hy gewoon gesê daar is mense wat meer weet oor hierdie kwessie as hy.
- Laat jy die kans glip?
Daar is verskeie maatskappye wat Suid-Afrikaners aanmoedig om in Bitcoin en ander kripto-eenhede te belê.
Hierdie artikel is glad nie daarop gemik om beleggingsadvies te gee nie, maar dalk help dit om van die terme in hierdie vreemde wêreld van gedesentraliseerde finansies, of DeFi, te verstaan. Al is dit bloot om te weet wanneer om nee te sê vir al rondborstige meisies en vroom godsdienstiges wat jou vriende wil word op Instagram met boodskappe soos “God Fir$t” en “$uper Trader”.
Want, wees gewaarsku, daar is baie mense wat vir jou gaan sê: “As jy nie nou belê nie, gaan jy nog verder agter raak.”
Wees egter versigtig en bespreek alle beleggings met ’n gekwalifiseerde persoon.
- Blokkettings, slimkontrakte en desentralisasie
Harvey en kie se vreeslike lang artikel, nou ’n boek, praat oor “decentralized methods – in particular blockchain technology” en voorspel hierdie middels “have the best chance to define the future of finance”.
2.1 Desentralisasie via ’n P2P-netwerk
Die kruks van DeFi is dat gebruikers die middelman uitsny.
Lenings, verkope, beleggings, alles kan gedoen word sonder banke, sonder prokureurs en soms, dalk, sonder dat die staat daarvan weet. Anonimiteit is ’n belangrike deel van sommige kriptotransaksies.
Hoe doen jy dit?
- Al wat jy nodig het, is ’n enorme klomp rekenaars wat aan mekaar gekoppel is, in Engels bekend as ’n Peer-to-peer- of P2P-netwerk.
- ’n P2P-netwerk kan ook beskou word as ’n eksklusiewe klub. Jy moet iets betaal om daaraan deel te neem.
- Op hierdie P2P-netwerk skep die DeFi-wêreld blokkettings.
...
’n Blokketting is niks minder of niks meer nie as ’n aantal registers wat op ’n baie spesiale maniere deur enkripsie beskerm word. ’n Blokketting is jou kontrak, jou betaalstaat, jou bewys van betaling, alles in een.
...
2.2 Blokkettings
Blokkettings vorm die kruks van DeFi.
’n Blokketting is niks minder of niks meer nie as ’n aantal registers wat op ’n baie spesiale manier deur enkripsie beskerm word.
’n Blokketting is jou kontrak, jou betaalstaat, jou bewys van betaling, alles in een.
2.2.1 Hoe werk ’n blokketting?
Kom ons sê ’n baie ryk belegger X wil ’n Van Gogh koop.
- Hy sal ’n P2P-netwerk nader en ’n blokketting begin. Hoe? Deur te sê: Ek het geld. Ek wil ’n Van Gogh koop.
- Nou word daardie versoek oor die hele P2P-netwerk versprei.
- Belegger Y soek daardie geld en laat weet: “Jy kan myne kry.”
- X en Y gesels nou oor ’n prys.
- Hulle kom ooreen op ’n prys.
- Y stuur die skildery.
- X erken ontvangs en die geld word outomaties oorbetaal.
Dit klink soos ’n WhatsApp-groep, nie waar nie? Dalk, ja, maar daar is ’n paar groot verskille.
- Nie een van hierdie stappe kan plaasvind sonder dat minstens een ander rekenaar die stap verifieer nie.
- Elkeen van die sewe stappe hier bo is ’n blok in die ketting.
- Elke keer dat iemand anders op die P2P-netwerk ’n blok verifieer, skep dit ’n volgende blok in die ketting.
- Meer nog, elke blok word deur kriptografie gesluit.
- Elke blok kry ook ’n datum- en tydstempel.
- Die hele ketting word op verskillende plekke in die netwerk gestoor.
- Jy kan altyd blokke by die ketting voeg, maar nooit een verwyder nie.
- Aangesien daar baie kopieë van dieselfde ketting is, kan jy byna nie hierdie ketting vervals nie.
Dink aan ’n blokketting as ’n reeks outydse bokslêers wat elkeen met duur slotte toegesluit is. Elkeen bevat ’n dokument – van daardie dokumente is eintlik net ’n stempel. Al hierdie bokslêers is met ’n swaar ketting aan mekaar vasgemaak.
Dis ’n blokketting.
Jou outydse bloklêer kan egter met ’n vuurhoutjie verwoes word, terwyl daar van die elektroniese weergawe honderde kopieë op verskillende rekenaarnodusse gestoor word.
2.2.2 Wie waarborg en onderhou hierdie blokkettings?
Blokkettings word onderhou deur die groep gebruikers op die gekose P2P-netwerk. Die groep doen die volgende:
- Hulle bewaar die registers van alle transaksies op talle verskillende plekke in die netwerk. As een bewaarplek vernietig sou word, sal die inligting steeds op talle ander steeds beskikbaar wees.
- Hulle waarborg die integriteit van die data.
- Hulle waarborg deursigtigheid – aan die res van die groep, nie noodwendig na buite nie.
- Elke blok het boonop twee sleutels. Die een sleutel laat die eienaars toe om al die inligting binne-in die boks te sien. Die ander een laat die medeadministrateurs toe om al die datumstempels en openbare inligting te sien. Jou inligting is dus veilig en verifieerbaar tegelyk.
- Die lede van die groep is, teoreties, glad nie verbonde aan enige wetlike instansie nie; die integriteit van die groep word dus deur die hele groep bestuur.
Die laaste punt is besig om te verander.
2.3 Die blokketting as slimkontrak
Die vader van kriptogeld en blokkettings is Nick Szabo. Hy is ’n kriptograaf wat rekenaarwese gestudeer het en later ook ’n graad in die regte behaal het.
- Sy droom was om aanlyn kontrakte te sluit wat sekuur sou wees, verkieslik geen prokureurs sou nodig hê nie, en outomaties betalings sou kon maak wanneer die bepalings van die kontrak uitgevoer is.
- Szabo het as betalingsmiddel ’n kripto-eenheid voorgestel, genaamd Bit Gold.
- Bit Gold sou geskep en onderhou word deur ’n netwerk van kriptograwe wat die waarde van die Bit Gold sou erken en onderhou deur komplekse rekenaarprobleme op te los. Dié netwerk van kriptograwe sou dan ’n register hou van al die Bit Gold, maar ook seker maak dat die stelsel nie misbruik word nie.
Bit Gold is nooit geïmplementeer nie, maar Bitcoin is ’n duidelike uitvloeisel van Szabo se idees. Die blokkettings wat vandag gebruik word, is ongetwyfeld ook ’n uitvloeisel van Szabo se navorsing.
- Is anargie die wortel van die blokketting?
Vir die finansiële wêreld beteken blokkettings skynbaar die volgende:
- Banke word uitgeskakel.
- P2P-netwerke erken geen landsgrense nie, so sentrale banke en valutabeheer het geen plek in hierdie wêreld nie.
- Talle gebruikers van P2P-netwerke is anoniem.
- Regerings en belastingowerhede weet dikwels nie wat op ’n P2P-netwerk aangaan nie.
Daardie anonieme sakeman wat die Van Gogh wou koop, sou dalk probleme kon ervaar met die owerhede as hy tradisionele kanale gevolg het, want sommige lande hou nie daarvan as skatte van een land na ’n ander gaan nie.
Wat meer is, daar is belastingimplikasies tydens groot transaksies – sal blokkettings mens kan help om belasting te ontduik? Dit is moontlik, daarom is die owerhede besig om fyn na hierdie stelsel te kyk.
Die Europese Unie het in Mei 2018 ’n dokument uitgereik waarin hulle die risiko’s uiteensit dat die kriptogeld gebruik kan word om terrorisme te befonds.
This study, commissioned by the European Parliament’s Policy Department for Citizens’ Rights and Constitutional Affairs at the request of the TERR Committee, explores the terrorist financing (TF) risks of virtual currencies (VCs), including cryptocurrencies such as Bitcoin. It describes the features of VCs that present TF risks, and reviews the open source literature on terrorist use of virtual currencies to understand the current state and likely future manifestation of the risk. It then reviews the regulatory and law enforcement response in the EU and beyond, assessing the effectiveness of measures taken to date. Finally, it provides recommendations for EU policymakers and other relevant stakeholders for ensuring the TF risks of VCs are adequately mitigated.
Met ander woorde: Big Brother hou jou dop.
3.1 TANSTAAFL
Ek het baie jare gelede ekonomie geneem op universiteit en een van die eerste dinge wat ons geleer het, was TANSTAAFL, oftewel There ain’t no such thing as a free lunch.
Onderliggend aan enige stelsel is die feit dat min mense ander sal dien sonder om iets terug te kry.
Waarom dan aan ’n P2P-netwerk deelneem? Hierdie rekenaarstelsels is duur en verg enorme verwerkingskrag. Ons praat van verskeie gekoppelde hoofraamrekenaars, nie ’n aantal skootrekenaars nie.
Wat laat mense in hierdie enorme rekenaars belê?
Kommissie.
Hulle noem dit nie kommissie nie, maar elke keer wanneer ’n blok geverifieer word, verwissel daar ’n aantal kripto-eenhede van eienaars.
Die wêreld se tweede grootste kriptoplatform, Ethereum, vra deesdae boonop openlik fooie. Hulle noem dit “gas” – die Amerikaanse woord vir petrol. Sonder petrol gaan jou kar nie veel doen nie, en sonder om baie goeie dollars in “gas” te betaal, gaan jy g’n niks regkry op Ethereum nie.
’n Deel van Harvey en kie se groot aanspraak, naamlik dat DeFi bankfooie uitskakel, begin dus minder aanloklik klink.
...
Die kanse is dus baie, baie goed dat die toekoms van e-handel sal afhang van die beginsels wat blokkettings onderlê, maar die droom van ’n gedesentraliseerde omgewing waar banke en regerings nie betrokke is nie, lyk al hoe minder moontlik.
...
3.2 If it is too good to be true, it is too good to be true
Op 12 Augustus 2021 is aangekondig dat $VSA600 miljoen gesteel is van Poly Network, ’n P2P-netwerk wat as finansplatform dien. Gaan daar eise kom? Gaan prokureurs betrek word? Onder watter jurisdiksie gaan die saak verhoor word?
Die steler het, terloops, die geld weer teruggee, maar op sekere “voorwaardes”.
Google gewoon police arrest crypto theft ... Eina. Die lys is lank.
Die vraag is: Wie sal verantwoordelik gehou word as iemand jou kripto sou steel?
Verskeie owerhede is ook besig om te kyk na maniere om kriptotransaksies te belas op dieselfde wyse as wat enige ander valutatransaksies belas sal word.
Dit beteken glad nie blokkettings is slegte dinge nie. Glad nie. Talle banke begin daaraan dink om hulle eie platforms te skep.
Die Sweedse sentrale bank sê: “An inquiry is under way into the state’s role in the payment market and the need for central bank digital currency.”
Dit is eintlik die punt. Banke en regerings koop nou in, so die Sweedse regering het enkele dae gelede die eKrona geskep. Dit is die eerste kriptomunt wat deur ’n regering se sentrale bank onderskryf word. Maar ... is dit nie presies wat Campbell Harvey met DeFi probeer systap nie?
Die kanse is dus baie, baie goed dat die toekoms van e-handel sal afhang van die beginsels wat blokkettings onderlê, maar die droom van ’n gedesentraliseerde omgewing waar banke en regerings nie betrokke is nie, lyk al hoe minder moontlik. Die toekoms van blokkettings sal dalk juis deel wees van die formele fiskale omgewing. In die woorde van Johan Fourie: “Mettertyd dalk.”
3.3 Gaan die 1,7 miljard ongebankte mense kripto koop?
In hulle inleiding verwys Harvey et al na die 1,7 miljard mense wat nie bankrekeninge het nie.
Dit is ’n edele gebaar, maar slegs ’n klein persentasie van daardie mense gaan by ‘n P2P-netwerk aansluit, kripto koop en blokkettings begin skep.
In ’n onlangse onderhoud met Freek Robinson het Gerrie Fourie, die uitvoerende hoof van Capitec, verduidelik hoe hulle te werk gaan om soveel mense as moontlik bankrekeninge te laat kry en hoe hard hulle probeer om Suid-Afrikaners se swaar steun op kontantgeld weg te lei na elektroniese betaalmiddels. Fourie noem toe dat iets soos Apple Pay, wat maar eers onlangs in Suid-Afrika vrygestel is, vir die bank ’n bedreiging inhou, want gebruikers kan dit as ’n alternatief sien.
Hy is reg. Afrika het vir jare reeds gewys dat selfone die groot alternatief vir kontant is. Daar is talle selfoontoepassings waarmee geld van punt A na punt B gestuur kan word. Zapper en SnapScan is die bekendstes onder die Suid-Afrikaans middelklas, maar Slide is ’n toepassing wat al jare lank in Suid-Afrika beskikbaar is en boonop hier ontwikkel is. Dit werk op Android en Apple.
Slide is egter maar een van talle sulke toepassings wat reeds in Afrika gebruik word.
- Die droom van ’n samelewing sonder kontant
Luister gerus weer na die Robinson-onderhoud en let op na die probleme wat kontant aan die bankwese besorg. Dink dan ook aan die toue en toue mense wat elke maand op Sassa-uitbetalings wag.
’n Alternatief vir kontant is nodig. Blokkettings en kriptogeld is egter maar een opsie.
In ’n volgende artikel sal ons in meer besonderhede kyk na Bitcoin en hoe Bitcoin gemyn word.
Daar is egter honderde ander kriptomunte te koop, dus sal ons ook kyk na die stabielemunte of stablecoins.
Daar is vier soorte, wat onderskei word op grond daarvan dat hulle aan een van die volgende gekoppel word:
- ’n fiat
- ’n kommoditeit
- ander kripto-eenhede
- ’n muntloon.