Terugblik op vyftig veelbewoë jare

  • 1

Bettina Wyngaard (Foto: Izak de Vries)

Geskiedenis is weird. Dis maklik om, wanneer mens ná die tyd van ’n gebeurtenis hoor, te onthou dat dit ook maar gewone mense net soos ons is wat dit deurgemaak het. Geskiedenis is groter as enige individu of groep, maar terseldertyd is die impak daarvan soms so verskillend van persoon tot persoon dat groepsgebondenheid nie regtig ter sake is nie.

Dieselfde omgewingsnellers het verskillende gevolge in verskillende lande, maar elke tydvak het sy eie zeitgeist.

Die halfeeu tussen 1970 en 2020, die era waarin ek lewe en verstand gekry het, is veral deur twee goed gekenmerk: radikale regimeveranderings en snelveranderende tegnologie.

Die tyd van wêreldoorloë is vir eers op die agterbaan geplaas. Konflik was veel meer intern, binne lande eerder as tussen lande. Natuurlik was daar ook heelwat oorloë tussen lande, maar die mees ingrypende veranderinge het gebeur as gevolg van interne konflik.

Gedenktekens aan die slagoffers by die Berlynse Muur (Foto: Wikipedia, CC BY-SA 3.0)

In hierdie tyd het die Berlynse Muur geval en die reünifikasie van Oos- en Wes-Duitsland is bewerkstellig. Die apartheidsregime is uit die stoele gelig, en ’n Suid-Afrikaanse demokrasie met meerderheidsregering is ingestel. Die Troubles in Noord-Ierland het na dekades tot ’n einde gekom.

Die Koue Oorlog tussen die VSA en die Verenigde Sowjetrepubliek is vreedsaam beeindig, en daarmee saam, vir ’n tyd, kommunisme. Die VSA het uit die oorlog met Viëtnam getree, en ’n nuwe oorlog met Afghanistan begin.

Khmer Rouge saai verwoesting in Kambodja. In Bosnië en Rwanda sorg volksmoord in die naam van etniese reiniging vir van die wreedste gruweldade van hierdie eeu. Die Internasionale Strafhof word in hierdie tyd gestig met die mandaat om misdade deur staatsakteurs te ondersoek. In een van hulle vroegste sake, die Rwandese volksmoord, maak hulle ’n beslissing, met gedeeltelike bevestiging in die Bosnië-saak, dat verkragting as oorlogswapen ’n crime against humanity is. Dis die eerste keer in menslike geskiedenis dat die impak van oorlog op vroue as ’n groep selfs oorweeg word.

Boko Haram en ISIL word huishoudelike name sinoniem met geloofsgebaseerde terreur.

Die gekoördineerde terreuraanvalle op 9 September 2001 op Amerikaanse grond lui ’n nuwe era in. Tot op hierdie stadium was oorlog nog altyd tussen groepe of nasies. Vir die eerste keer word oorlog teen ’n konsep verklaar. Die oorlog teen terreur duur steeds voort. Dan is daar die voortslepende Meksikaanse oorlog teen dwelms.

Sommige konflikte hou net eenvoudig nie op nie. In 1972, in wat later sou bekend staan as die Swart September-aanval, word Israeli-atlete tydens die Olimpiese Spele in München vermoor. Vandag duur die konflik tussen Israel en Palestinië steeds voort, ten spyte van verskeie vredesverdragte wat gesluit is.

Dis ’n tydperk gekenmerk deur opstande, wat soms tot regimeveranderings aanleiding gee. Dis ook die eerste keer in die geskiedenis dat beelde en inligting meer geredelik gedeel word. Media, televisie, die internet dra als by tot die snelle verspreiding van inligting.

Wie sal ooit die beeld van die protesteerder voor die oorlogtenk in Tiananmen-plein vergeet? Of die sukses van die Arabiese Lente wat soos ’n veldbrand versprei het nadat beelde van ’n Tunisiese winkelier wat homself aan die brand gesteek het uit protes, bekend geword het? ’n Ouer beeld is dié van die slap liggaam van Hector Pietersen wat in Suid-Afrika tydens die Soweto-opstande weggedra word.

’n Oorlogsbeeld wat my ook lank sal bybly, is die een van die Viëtnamese dogtertjie wat nakend weghardloop na ’n napalmaanval haar met erge brandwonde op haar rug gelaat het.

Dan is daar die rampe, natuurlik en mensgemaak. Tsjernobil en Challenger ontplof in dieselfde jaar. Vigs, die SARS-virus, H1N1-varkgriep en nou die Coronavirus sorg vir verskrikking. Die verwoestende brande in Australië en die Amasone duur sedert 2019 en sleep steeds voort.

Veldbrand in die Orroral-vallei in Australië op 28 Januarie 2020 (Foto: Wikipedia, CC BY-SA 4.0)

Natuurrampe soos orkane, vulkaanuitbarstings, tsunami’s, droogtes, vloede, aardverwarming, die uitwissing van dierespesies kenmerk hierdie halfeeu. Die grootste vergelykbare vernietigende ramp wat Suid-Afrika tref, is Jacob Zuma. Hy kry kwaai kompetisie van Thabo Mbeki se Vigsontkenningsveldtog wat derduisende voorkombare sterftes veroorsaak het.

Maar dis nie als doom and gloom nie.

Billie Jean King wat die chauvinis Bobby Riggs in ’n tenniswedstryd op sy baadjie gee, sorg nie net vir groot vermaak nie, maar is ook een van die eerste sarsies in die genderoorlog waar vroue vir gelykheid veg. Halley se komeet is sigbaar in die Suidelike Halfrond. In die 2010’s kry natuurrampe die eerste keer ook mansname. Protesoptogte teen seksuele teistering, met hutsmerke soos #TimesUp en #MeToo, verander die gesig van feministiese bewegings.

Billie Jean King en Bobby Riggs in 1973

Suid-Afrika kry televisie. Tegnologie soos rekenaars, die internet, CD’s, DVD’s, GPS, selfone en slimfone word algemeen gebruik. Dis amper ondenkbaar dat dit so onlangs as 30 jaar gelede nie bestaan het nie.

Sosiale media is waarskynlik een van die grootste game changers van die afgelope 50 jaar. Facebook. Twitter. WhatsApp. Instagram. Messenger. Facetime. Proteste word hier gekoördineer, moorde word beplan, romanses ontstaan, verkiesings word gekaap. Die Arabiese Lente sou heel moontlik nie die helfte so suksesvol gewees het sonder die gebruik van sosiale media nie. Universiteite protesteer. Vroue protesteer. Daar word teen Wall Street en teen mans in magsposisies geprotesteer.

Nuwe geldeenhede, waarvan die euro en kripto sekerlik die wydste impak het, word ingestel. Twee van slegs drie Amerikaanse presidente wat ooit in ’n staat van beskuldiging gestaan het, is in die laaste 20 jaar aan bewind.

Inligtingskandale soos Watergate en Wikileaks gebeur in hierdie tyd.

Mediese deurbrake geskied. Dolly die skaap word gekloon. In vitro-bevrugtingstegnologie word ontwikkel, en is deesdae alledaags. Die Bobbitt, nadat Lorena Bobbitt haar man se penis afgesny en dit suksesvol weer aangeheg is, word vir ’n ruk deel van die algemene spreektaal.

Al groter fokus word op menseregte geplaas. Terselfdertyd neem menseregtevergrype toe in omvang en intensiteit.

Michael Jackson in 1993 (Foto: Wikipedia, CC BY-SA 4.0)

En in populêre kultuur? Elvis Presley. Michael Jackson. Madonna. Whitney Houston. Queen. Taylor Swift. Beyonce. Rihanna. JLo. Harry Potter. Jaws. The Matrix. Star Wars. Oprah. Ellen. JR met sy rooi telefoon. Niks meer as die naam is nodig om helder beelde op te roep nie.

John Hickley se obsessie met Jodie Foster. John Lennon se moord. Dan is daar die sluipmoorde. Osama bin Ladin. Indira Gandhi. Anwar Sadat. Om maar net ’n paar te noem.

Daar is oorloë en gerugte van oorloë. Daar is coups d’etat. Onafhanklikwordings. Ekonomieë wat in duie stort. Ander wat tot nuwe prominensie verrys.

Die verstommendste? Hierdie lys van gebeure en persoonlikhede oor die afgelope 50 jaar is nie eens die oortjie van die seekoei nie.

En ek het deur dit als geleef.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top